Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Een wagwoord minder

Donderdag, Mei 12th, 2016

Ons het goeie nuus as jy moeg is om daagliks ʼn stroom wagwoorde te probeer onthou. Binnekort is daar een minder wanneer ons die AIS/Tera Term aantekenmetode vergemaklik. 

Die aanpassing van die aantekenproses beteken dat jy voortaan met jou gewone netwerkgebruikersnaam en -wagwoord sal kan aanteken by sun022, die stelsel wat, onder andere, Tera Term huisves. 

Die eerste fase van die proses is ʼn “soft roll-out”, waar SSO (Same Sign On) implementeer word. Gedurende hierdie tydperk sal jy met jou netwerk of steeds met jou bestaande AIS gebruikersnaam, totdat dit verval, kan aanteken. Indien jou AIS wagwoord verval, sal dit nie deur die IT Dienstoonbank-agente herset kan word nie en jy sal jou netwerkgebruikersnaam en -wagwoord moet begin gebruik. 

Huidige AIS gebruikers (met meer as een AIS gebruikersnaam) se primêre AIS-gebruikersnaam sal gekoppel word aan hulle netwerkgebruikersnaam.

Nadat SSO implementeer is, sal nuutgeskepte AIS gebruikers se gebruikersname programaties gestel word na hul US nommer. Dit impliseer ook dat AIS gebruikername, -rolle en -funksies nie hergebruik sal kan word nie. 

Neem kennis dat wagwoorde vir hierdie funksies nie gedeel mag word tussen personeel nie en dat indien dit wel gedoen word, dit die Elektroniese Kommunikasiebeleid oortree. Die SSO-benadering beteken ook dat een wagwoord toegang gee tot jou private Menslike Hulpbronne inligting. Indien jy dus jou wagwoord deel, deel jy ook jou persoonlike inligting.

Nuwe addisionele identiteite moet eerder op SUNiD geskep word.  

Vir enige verdere navrae, kontak gerus die IT Dienstoonbank by 808 4367.

 

Emoji jy?

Maandag, April 25th, 2016

nerdMediamaatskappy Sony, het verlede week aangekondig dat hulle in Augustus, 2017, ʼn fliek oor emojis, gaan vrystel. Ons weet teen die tyd dat Hollywood enige verskoning sal gebruik om ʼn fliek te maak, maar emojis? Is hierdie klein simbooltjies so ʼn groot deel van ons lewens en die aanlyn-kultuur dat dit ʼn behoorlike fliek verdien? 

Nie te lank gelede nie, toe aanlyn kletskamers en smse posgevat het, het mense hul emosies uitgedruk met basiese simbole wat bestaan het uit leestekens, byvoorbeeld :) :( of :P. Hierdie tekens is emotikons genoem en volgens Mental Floss het hulle die eerste keer reeds in 1881  in ʼn tydskrif verskyn.  

Emojis is in 1998 deur Shigetaka Kurita, ʼn Japanese ekonomie-student wat vir ʼn selfoonmaatskappy gewerk het, geskep. Die woord “emoji” het niks met “emotikons” te doen nie. Die “e” beteken “beeld” en “moji” kan vertaal word as “karakter”.

Aan die begin het hierdie simbole ongelukkig nie dieselfde gelyk op alle platforms en toestelle nie. In 2007 het Google emojis begin ondersteun en omdat dit dieselfde kodepunte gehad het, het dit oral dieselfde gelyk, op watter platform of toestel jy dit ook al gebruik het. 

 

Vanaf 2010 is sommige emoji karakterstelle ingelyf by Unicode, ʼn standaard-stelsel wat gebruik word om karakters te indekseer. Gevolglik was dit moontlik om die karakters buite Japan te kan gebruik en te standaardiseer sodat dit oor verskeie bedryfstelsels gebruik kan word. ʼn Maatskappy met die naam Unicode Consortium is tans verantwoordelik vir die regulasie van emojis en vir die goedkeuring van nuwes.

In 2015 het die Oxford Dictionary 😂 as Woord-van-die-jaar aangewys. Dit het ook daarop gewys dat daar ʼn redelike toename in die gebruik van die woord “emoji” was en die impak daarvan op populêre kultuur benadruk. 

Volgens Digiday, ʼn maatskappy wat spesialiseer in digitale media, word daagliks ongeveer ses biljoen emojis word op boodskap-toepassings gestuur. (http://www.cbc.ca) As jy nogsteeds wonder of emojis relevant is in aanlynkultuur, behoort dit ʼn goeie aanduiding te wees. 

Soek jy nog emojis om te gebruik? Probeer www.iemoji.com of www.getemoji.com.

[BRONNE: www.wikipedia.org, www.nerdist.com]

 

Die (ro)botte is hier

Vrydag, April 15th, 2016

 

Wetenskapfiksie vertel al vir jare dat robotte die wêreld gaan oorneem. Ons hoef nog nie gereed te maak vir ʼn robot-oorlog nie, maar botte is reeds deel van ons lewens. Ons besef dit net nie. 

robot

Bots is die afgelope tyd gereeld in die nuus. Sommiges, soos Tay, om die verkeerde redes. Maar hoekom ewe skielik die ophef? 

Een van die redes is die eensklapse vordering in die kunsmatige intelligensie tegnologie wat hierdie botte dryf. Sleutelfigure in Silicon Valley, soos Facebook, Google en Telegram is aan die voorgrond van die ontwikkelinge. Facebook het Woensdag op hulle F8-konferensie aangekondig dat hulle verskeie botte, onder andere ʼn CNN-bot, by hul Messenger-toepassing voeg.

Die meeste van ons weet nie regtig wat ʼn bot is of wat dit doen nie. ʼn Bot is nie iets wat die wêreld gaan oorneem nie (wel, nog nie). Dis doodgewoon sagteware wat ontwerp is om eenvoudige, herhalende take wat jy gewoonlik self sou verrig, te outomatiseer en voltooi. Dit kan byvoorbeeld afsprake op jou kalender voeg, besprekings maak of kos bestel. As jy in Amerika gewoon het, kon jy die Taco Bell bot gebruik het om jou tacos te bestel en betaal.

Chatterbots of chatbots word hoofsaaklik gebruik in boodskap-toepassings om gesprekke te simuleer deur ouditoriese en tekstuele metodes. Hulle is ontwerp om eenvoudige gesprekke te voer en behoort die persoon aan die ander kant te oortuig dat hulle `n persoon is.

Groot internasionale maatskappye soos Lloyds Banking Group, Royal Bank van Skotland, Renault en Citroën gebruik almal outomatiseerde chatterbots. Die botte word gebruik word om basiese kliënte navrae te hanteer wat ʼn dienstoonbank normaalweg sou beantwoord, of om inligting te bekom.

Ander botte kan jou help om vergaderings per e-pos te skeduleer. Die bot word bygevoeg in die e-posgesprek en neem oor by jou sodra die skedulering van ʼn vergadering gedoen moet word.

Ongelukkig kan botte ook kwaadwillig gebruik, byvoorbeeld om gebruikers in geselskamers te oortuig om hul persoonlike inligting uit te gee. Hierdie botte kan gevind word in Yahoo! Messenger, Windows Live Messenger, AOL Instant Messenger en ook ander kitsboodskap protokolle.

Volgende keer as jy met iemand by ʼn dienstoonbank gesels, onthou, jy praat dalk met Amy die bot, nie met Amy die mens nie. Ons kan darem wel bevestig dat, as jy die IT Dienstoonbank skakel, al ons agente steeds 100% mens is.

Meer onlangse artikels oor botte (en selfs robotte!)

Shopify acquires Kit, the artificially intelligent marketing bot
Hitachi’s cute new customer service robot seeks out lost customers
Fear the future: Donalddrumpfbot coming to Facebook Messenger 
Facebook’s David Marcus explains how bots are going to change Messenger
This personal shopping startup just launched one of the first Facebook Messenger bots
Facebook launches Messenger platform with chatbots
Microsoft created a bot to auto-caption photos and it’s going hilariously wrong

[BRONNE: http://www.recode.net, http://www.wikipedia.org]

US integrasie met jou ORCID iD

Woensdag, Februarie 17th, 2016

Die Open Researcher and Contributor ID (ORCID) verskaf ‘n permanente 16-syfer numeriese identifikasienommer (bv. http://orcid.org/0000-0001-5109-3700) om sodoende jouself van alle ander navorsers te onderskei.

Indien jy al tevore gepubliseer het, het jy heel moontlik ‘n ReseacherID of Scopus Author ID, of selfs publikasies wat in CrossRef geïndekseer word. ORCID laat jou toe om hierdie inligting van ander stelsels na een aanlynidentiteit in te trek. Die identifikasienommers word in ‘n sentrale register gestoor.

Universiteit Stellenbosch (US) het in 2015  ’n lid van ORCID geword en is nou op die punt om universiteitsrekords met die ORCID register te integreer. Alle akademiese personeel, navorsers en nagraadse studente sal teen einde Februarie per e-pos genooi word om ’n ORCID iD te skep en dit met hul universiteitsrekord te skakel. Diegene wat reeds oor ‘n ORCID iD beskik, sal gevra word om hul iDs met hul universiteitsrekord te skakel en hul US affiliasie te bevestig.

Ons wil graag alle navorsers en akademiese personeel aanmoedig om vir ‘n ORCID iD te registreer indien hulle nog nie oor een beskik nie. Verdere ontwikkelings sal ons in staat stel om iDs te integreer met navorsingsinligtingstelsels, die institusionele navorsingsbewaarplek (SUNScholar), befondsing en kontrakte en MH-stelsels. ‘n ORCID skakel is ook reeds beskikbaar op die InfoEd stelsel waar jy jou ORCID iD kan skakel en die Nasionale Navorsingstigting het ook onlangs as lid aangesluit en beplan om ORCID in hul nasionale CV stelsel te integreer. Lees hier meer oor befondsers en ander platforms waar die gebruik van ORCID vereis word.

Meer inligting is beskikbaar op die biblioteekgids, ORCID and other researcher identifiers. Almal is ook welkom om te registreer vir die ORCID werkswinkel wat op 24 Februarie aangebied word.

Kontak asseblief vir Marié Roux, tel.: 021-8082623 of jou fakulteitsbibliotekaris vir enige navrae of om ‘n afspraak te maak vir ‘n kort inligtingsessie by jou departement.

Wat doen ons?

Vrydag, Februarie 5th, 2016

Wanneer IT se naam gedurende `n gesprek opduik, wat is jou eerste assosiasie? Dink jy dadelik aan die IT Dienstoonbank wat jy gereeld bel as jou wagwoord verander, of beskou jy IT as die mense wat sorg dat die internet altyd werk?

Die IT-afdeling word oor die algemeen gesien as ʼn  diensleweringsorganisasie – en soms eenvoudig as ʼn “nuttigheid”. Aangesien IT hoofsaaklik `n geskiedenis het om kantoor en administratiewe stelsels te ondersteun, mag dit as `n verrassing kom dat ons doelwitte deesdae in lyn is met die universiteit se kernfunksies – navorsing, leer, onderrig en gemeenskapsinteraksie.

Die term “IT-afdeling” verwys slegs na die afdeling, wat die sentrale, verantwoordbare gesag is vir die institusionele inligting- en kommunikasietegnologie funksie binne die universiteit.

Die IT-afdeling bestuur, bou, voorsien, dryf en onderhou kuber-infrastruktuur (onder andere netwerke, sentrale rekenaarbedieners, identiteitsbestuur en e-pos en telekommunikasiestelsels) en ook `n wye reeks sagtewaretoepassings, inligtingstelsels en -platforms, en dienste wat noodsaaklik is vir die universiteit se kern akademiese en administratiewe funksies en, in samewerking met desentraliseerde groepe, ook gebruikers ondersteun in die effektiewe gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie (IKT)

Die sentrale Informasietegnologie afdeling, wanneer dit op volle kapasiteit funksioneer, bestaan uit 140 personeellede wat ondersteuningstegnici, hulptoonbankagente, stelseladministrateurs, ingenieurs, sagteware ontwikkelaars, stelselanaliste, databasis administrateurs, projekbestuurders, argitekte en besigheidsanaliste insluit.

Oor tyd het ʼn  magdom organisatoriese entiteite wat IKT ondersteuningsdienste, infrastrukture, sagtewaretoepassings en -stelsels bestuur, sowel as die sekuriteit en integriteit van inligting onderhou, binne die universiteit ontstaan. Dikwels, maar nie altyd nie, werk hierdie entiteite saam met die sentrale IT-afdeling, alhoewel hulle aan die dekane van fakulteite, skole en ander afdelings rapporteer.  Ons verwys na hierdie verspreide groep entiteite as die “IT-organisasie”.  

Baie van die verspreide IKT-entiteite het ook geleidelik vervorm in rekenaargebruiksareas of rekenaarlaboratoria met die doel om ondersteuning en advies te bied aan studente en akademiese gebruikers in hul omgewings.

Die IKT-funksie by Universiteit Stellenbosch bestaan uit die volgende:

• Die IT-organisasie en sy mense, bevoegdhede, kennisgrondslag en vaardighede;

• Die prosesse en vermoëns nodig om die dienste en infrastruktuur wat deur onderstaande IKT-domeine omvang word, te beplan, bestuur, bou en dryf sodat die universiteit se kern akademiese, gemeenskapsinteraksie en administratiewe prosesse ondersteun en aktiveer kan word. 

o ICT ondersteuningsdienste,
o onderrig-tegnologie dienste,
o navorsingsverwerkingsdienste,
o verwerkingsinfrastruktuur dienste,
o kommunikasie-infrastruktuur dienste,
o inligtingsekuriteit en
o inligtingstelsels en -toepassings;

• Die IKT bates, insluitende tegnologieë, hardeware, sagteware en inligting.

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.