Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Die “Internet of Things”

Vrydag, November 20th, 2015

“The internet of things” — `n taamlike flou manier om iets vreeslik omvangryk te beskryf.  Wat was Kevin Ashton bedoel daarmee toe hy dit vir die eerste keer in 1995 gebruik het?

Wat is dit?

Die Internet of Things (IoT) verwys na enige toestelle wat verbind is aan mekaar en met masjien-tot-masjien (M2M) kommunikasie werk, met behulp van van virtuele, mobiele en onmiddellike verbindings.

Hierdie netwerk van fisiese toestelle is toegerus met elektronika, sagteware, sensors en netwerkverbindings wat hulle in staat stel om data uit te ruil en te versamel.

Toestelle kan enigiets insluit wat toegerus is met die regte tegnologie en aan die internet kan verbind. Byvoorbeeld, huishoudelike toestelle, vervoermiddele, toestelle in winkels, vervaardigingsmasjienerie, landbou-masjinerie, sowel as toestelle gebruik in gesondheidsorg. Bestaande M2M toepassings sluit slim meterlesings, monitering van pasiënte, CCTV-toesig, voertuig-opsporing, sekure ATMs en digitale kennisgewingborde in.

network-782707_640Wat is die nut daarvan?

Die grootste voordele van The Internet of Things is verhoogde produktiwiteit, effektiwiteit en organisasie van hulpbronne, masjinerie en mense.
 
In gesondheidsorg kan siektes kan monitor en analiseer word om nuwe behandelings te ontwikkel en op die lang duur, siektes te kan voorkom.
 
In vervaardigingsomgewings, soos landbou, word sensors aan gewasse en vee vasgemaak om produksie te verhoog en troppe na te speur.
 
Tuis kan sekuriteitstelsels en huishoudelike toestelle monitor en beheer word. In die toekoms sal jou yskas jou laat weet as die melk op is en dit moontlik vir jou aanlyn bestel. Jy sal jou koffiemasjien kan aktiveer met jou selfoon sodat daar ʼn koppie vars koffie wag as jy by die voordeur instap.
 
LG het onlangs LG Homechat, ʼn toepassing wat jou in staat stel om enige van jou LG huishoudelike toestelle te SMS, bekendgestel. En ja, hulle antwoord terug. Ongelukkig is dié nuutjie nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar dit word reeds oorsee gebruik. 
 
Hierdie is net die ysberg se punt. Die impak van IoT strek veel wyer. Om ʼn idee te kry van wat alles moontlik is, kyk gerus na hierdie informatiewe webtoepassing.
  
Is dit veilig?
 
Die grootste bekommernis, veral in die vroeë stadium van ontwikkeling, is sekuriteit sekuriteit en privaatheid. Om optimaal te kan funksioneer, het hierdie toestelle jou persoonlike data nodig. Dit moet ook verbind wees aan ander toestelle d.m.v. die cloud of maatskappye se databasisse. Indien streng sekuriteit nie in plek is nie, sal persoonlike inligting toeganklik kan wees vir enigiemand wat dit wil misbruik.
 
Gesondheidsorg bied die hoogste risiko indien daar met data gepeuter of dit uitgelek word.  Sensitiewe inligting wat uitgevee word, byvoorbeeld bloedgroep inligting, kan noodlottige resultate hê. (Meer hieroor in die Guardian)
 
Deskundiges beweer dat dit relatief veilig is, maar daar is geen waarborg nie.
  
 
 
 

 

Lewe in 3D

Vrydag, November 20th, 2015

cardboard“Kom nou, regtig?” sou ʼn geldige eerste reaksie wees op Google se jongste uitvindsel. Grotendeels gemaak uit karton, lyk dit soos iets waarmee jy gespeel het op laerskool.

Google Cardboard beloof nie enigiets revolusionêr nie. Dis ʼn virtuele realiteit kopstuk wat jou in staat stel om 3D beelde en video’s met jou slimfoon te kyk.

Die eenvoud en toeganklikheid van hierdie stukkie karton is egter die groot pluspunt.

Die kopstuk is gemaak van riffelkarton, Velcro en ʼn paar goedkoop, plastiek lense – die belangrikste part aangesien hulle gaan help om die plat beeld op jou foon in 3D om te tower. 

Hoewel Cardboard deur Google ontwikkel is, is daar nie ʼn amptelike vervaardiger of verkoper nie. ʼn Lys van die parte en instruksies is beskikbaar op Google se webwerf. Met ʼn paar basiese items kan jy jou eie VR-kyker saamflans. Voeg jou selfoon by, laai die Google Cardboard toepassing en jy is reg vir 3D-aksie.

Die toepassing deel die selfoon se beeld in twee en pas tonneldistorsie toe op beide beelde sodat daar nie stippelvervorming op die lense voorkom nie. Die uitkoms is ʼn stereoskopiese (“3D”) beeld met ʼn wye veld van sig. 

Meer inligting is beskikbaar op https://developers.google.com/cardboard/

 

[BRONNE: http://www.wired.com; www.wikipedia.org]

 

Van teer-hennep en Indiese rubber tot optiese vesel

Vrydag, November 20th, 2015

Die internet het sy opwagting gemaak in die laat 1980s en vroeë 90s. Die infrastruktuur wat dit ondersteun is egter al sedert 1839 beskikbaar.

Vandag word ons internetverkeer hoofsaaklik gefasiliteer deur ondersese kabelstelsels vanaf Europa en Amerika.

ʼn Ondersese kommunikasiekabel word op die seevloer tussen stasies op land gelê, met die doel om telekommunikasie seine oor gedeeltes van die oseaan stuur. Voor die internet is hierdie kabels gebruik vir ander tipes kommunikasie, byvoorbeeld telefone en telegramme. 

Laying-undersea-cable-Cape-Town
Lê van `n ondersee kabel in Kaapstad
(Foto krediet: Telkom)

Na die ontwikkeling van die telegraaf in 1839, het die moontlikheid van ʼn ondersese lyn oor die Atlantiese oseaan na ʼn sterk moontlikheid begin lyk. Samuel Morse het in 1842 dit reggekry om, onderwater in New York se hawe, ʼn telegram te stuur met ʼn draad geïsoleer met teer-hennep en Indiese rubber.

Die eerste ondersese kabel in Suid-Afrika is op 27 Desember 1879 van stapel laat loop en vir die eerste keer is Suid-Afrika direk verbind aan Europa. Die verbinding is moontlik gemaak deur die East Coast cable of the South African Telegraph Company via Durban en Zanzibar na Aden. 

Vandag optiese vesel tegnologie gebruik om digitale data te versend en dit sluit telefone, internet en private dataverkeer in. 

Moderne kabels is gewoonlik ongeveer 25 millimeter in deursnee en weeg ongeveer 1.4 kilogram per meter vir die gedeeltes diep onder die see, wat die grootste deel in beslag neem en groter en swaarder kabels vir die vlakwater gedeeltes naby die strand.

Die jongste toevoeging tot ons telekommunikasie infrastruktuur is gemaak in Mei 2012 met die aanlê van die West Africa Cable System (WACS). Die 17 200 kilometer vesel optiese kabel begin by Yzerfontein aan die weskus en eindig by die Verenigde Koninkryk. (Meer oor die WACS-stelsel)

 

[BRONNE: www.mybroadband.co.za & https://en.wikipedia.org]

Ontmoet die IT-mense: Benette Brink

Vrydag, November 6th, 2015

IT se bestuurder van besigheidsanalise, Benette Brink, het in Februarie, haar 25ste jaar by die Universiteit gevier en haar uithouvermoë is beloon met ʼn langdienstoekenning.

benette

Die tydperk voor die afgelope 25 jaar is verwyl by ʼn ander akademiese instelling. By Tukkies werk sy eers as rekenaaroperateur en later as stelselprogrammeerder. Hierna raak sy betrokke by die implementering van sagtewarekonfigurasie-prosesse en -stelsels by die ou Krygkor. 

Eers hierna beland sy by sagteware-ondersteuning by Stellenbosch Universiteit Informasietegnologie, ʼn afdeling waarvan sy mettertyd die bestuurder sou word.

Sedertdien het haar fokus verskuif na besigheidsanalise. By IT is dit haar verantwoordelikheid om die aanwending van Informasie- en Kommunikasietegnologie (IKT) te bevorder om die Universiteit se besigheidsprobleme op te los. Saam met haar span besigheidsanaliste vertolk sy besigheidsbehoeftes vir die tegnoloë, asook tegnologie vir administratiewe, bestuurs- en akademiese entiteite en ontleed prosesse in die ontwikkelingsomgewing. 

Die blootstelling aan die verskillende besigheidsaspekte van die Universiteit maak haar werk stimulerend. Waar ander wegskram van iets nuut, is dit Benette se dryfveer. Sy funksioneer beter in  ʼn veranderende, progressiewe omgewing.

“My werk is nie gegiet in net een aspek nie en daar is voortdurend iets nuuts op die horison.”

Maar werk is nie alles nie. Ten spyte van ʼn loopbaan hoofsaaklik gevorm en gedefinieer deur tegnologie, is sy in haar hart eintlik steeds `n plaaskind wat geïnspireer word deur die natuur. Hierdie karaktertrek skyn deur in haar liefde vir orgideë en die uitdaging om hulle aan die lewe te hou.

Wanneer dit by wegbreek en vakansies kom, verkies sy erens stil en naby die natuur. Hulle hou selde op dieselfde plek vakansie en verkies dit om nuwe areas en dorpe te verken. 

“Ek moet so nou en dan ontsnap na stilte om “sane” te bly.”

Wanneer sy nie elders kan vlug nie, bestudeer sy eiendomspryse. Nie om te koop nie, maar sommer net om op hoogte te bly van tendense.

Vir `n bietjie ekstra ontvlugting lees sy graag. Suzanne Collins se Hunger Games-reeks is die mees onlangse byvoeging tot haar gelees-lysie. En fliek natuurlik. Enigiets van kunsflieks soos As it is in heaven tot die meer absurde Mad Max.

Sy erken sy is `n huishen. Na 4:30 is haar gunstelingtyd – by die huis, saam met haar beterhelfte. En miskien `n fliek…. en `n boek.

Facebook: die gras is nie groener nie

Vrydag, November 6th, 2015

As jy in die 80s jou buurman se blink-nuwe BMW wou sien, moes jy maak asof jy die laventel-heining snoei. Deesdae is sy Facebook-muur besaai met fotos van sy kopie.

Jy’t mismoedig geraak toe jy gesien het die jongste Petersentjie oorkant die pad dra alweer strandsambrele en -rakette aan kar toe vir hul Natalse Suidkus-vakansie.

Ons beny nogsteeds ander. Die omvang is net groter as gevolg van sosiale media platforms soos Facebook. Hoewel jy dertig jaar gelede van jou bure se doen en late geweet het, weet jy nou ook van jou langverlore neef in Australië se vakansie by die Great Barrier Reef of die skoolmaat – wat jy 20 jaar gelede gesien het – se oënskynlik suksesvolle besigheid. 

In 2013 het Ethan Kross, ʼn sielkundige van die Universiteit van Michigan, na aanleiding van sy navorsing, bevind dat Facebook `n groep studente wel hartseer en alleen laat voel het. Oor ʼn tydperk van twee weke het Kross en sy kollegas ʼn groep studente bestudeer, vrae gevra en tot hierdie gevolgtrekking gekom. (Facebook use predicts declines in subjective well-being in young adults: Kross E, Verduyn P, Demiralp E, Park J, Lee DS, Lin N, et.al (2013))

Beteken dit dat sosiale media inherent sleg is vir ons? Nie heeltemal nie, maar ons moet let op hoe ons dit gebruik en watter invloed dit op ons lewens het. 

Reeds in 1998 het Robert Kraut, ʼn navorser by die Carnegie Mellon Universiteit, bevind dat mense meer alleen en depressief raak hoe meer tyd hulle op die internet spandeer. Die rede hiervoor lê in die mens se ingebore sosiale aard. Ons wil konneksies maak met ander, maar daarmee saam is dit onvermydelik dat ons onsself vergelyk met ander. 

Hoewel die deel van inligting met ander mense die area van ons brein aktiveer wat gepaard gaan met belonings en bevrediging, word ons ook blootgestel aan ʼn magdom inligting oor die mense aan wie ons verbind is op sosiale media: inligting waarvan ons andersins nie van bewus sou wees nie. Ons besef nie dat hierdie inligting baie fyn uitgesoek en selektief geplaas word om net die beste beeld voor te hou nie. Dis nie realisties nie.

Volgens Mai-Ly Steers se artikel, “Seeing Everyone Else’s Highlight Reels: How Facebook Usage is Linked to Depressive Symptoms”, gepubliseer in die Journal of Social and Clinical Psychology is die konsep van vergelyking op sosiale vlak niks nuuts nie. Die koms van sosiale media sfeer vergroot egter die speelveld. 

“It doesn’t mean Facebook causes depression, but that depressed feelings and lots of time on Facebook and comparing oneself to others tend to go hand in hand”, sê Steers.

 

[BRONNE: www.livescience.com; www.sciencedaily.com; www.newyorker.com; http://blogs.plogs.org]

 

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.