Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

ONTAPtv.com bekendgestel in Suid-Afrika

Woensdag, September 23rd, 2015

ontaptvVerlede maand het ons berig oor die toekoms van televisie en gekyk na die hoofspelers op die veld van VOD (video on demand) – Naspers se Showmax, VIDI en FrontRow. 

Skaars `n maand later, verlede Woensdag, is nuwe kompetisie aangekondig in die vorm van ONTAPtv.com. En met pakkette wat by R39-00 begin, is dit `n aanloklike opsie vir diegene wat hul begroting  dophou.

Standaard-pakkette sluit `n familiepakket in met familievriendelike inhoud,  een met slegs TV-reekse, een vir die fliekvlooie, `n pakket vir 16+ en `n Mega Pack wat alle hierdie opsies insluit. Elkeen is R69-00 per maand, maar jy kan ook vir twee inskryf teen R79-00 per maand of die Mega Pack vir R89-00 per maand.

Buiten plaaslike inhoud bied ONTAPtv ook aan jou die geleentheid om Afrika-spesifieke inhoud te kyk teen R39-00 per maand, Chinese televisie (nowTV) teen R88-00 per maand en FightSports teen R69-00 per maand.

Alternatiewelik, as `n maandelikse inskrywing vir jou te bindend is, kan jy altyd net flieks aflaai teen R15-00 (ouer flieks) en R25-00 (nuwe vrystellings). Net soos met ShowMax hoef jy nie dadelik jou naam of geld weg te teken nie – jy kan dit eers vir `n toetsperiode gebruik om seker te maak dit werk vir jou.

Anders as al die ander VOD-opsies, laat ONTAPtv sy kliënte toe om inhoud af te laai in plaas van om dit slegs aanlyn te kyk. Reekse en flieks is ook beskikbaar in laer resolusie om bandwydte te spaar.

ONTAPtv.com is toeganklik deur middel van die diens se webplatform en is tans versoenbaar met PC, Mac, iOS- en Android-toestelle. Die platform is gebou vir Firefox, Internet Explorer, en Safari. Op die stadium werk dit nog nie op Google Chrome nie, maar dit behoort in die toekoms te verander.

[BRONNE: www.memeburn.com]

 

Ons nuwe adres

Vrydag, September 18th, 2015

Na `n week van kantore verskuif, is die IT-afdeling uiteindelik ingetrek in `n nuwe gebou. Vanaf middel-September sal julle ons nie meer in die Ingenieursfakulteit-kompleks kry nie. IT word nou gehuisves in `n splinternuwe gebou tussen Fasiliteitsbestuur en Instandhouding. Jy kan hier meer lees oor ons nuwe, groen gebou en ook in September se uitgawe van die Kampusnuus. (Sien ook die volledige kontakinligting onder)

Na `n kort aftydperk verlede week gedurende die trek, is ons nou weer volledig operasioneel. Ons wil graag ons getroue kliënte bedank vir hulle volhoue ondersteuning en ook geduld gedurende die kort tydperk.

IT-mapNeem kennis dat `n spesiaal-geallokeerde sentrum, die IT HUB, voortaan die sentrale dienssentrum vir IT sal wees. 

Personeel kan dus hul toerusting by die IT HUB afgee en sal bygestaan kan word met sekere funksies. Alle toerusting word steeds herstel by die hoof IT-gebou, maar kleiner funksies soos die registrasie van toestelle, wagwoorde, ens. kan onmiddellik by die IT HUB gedoen word.

Personeel se persoonlike toerusting kan hanteer word by die IT HUB of IT-werkswinkel en personeel kan 5 persoonlike toestelle (byvoorbeeld slimfone, tablette en skootrekenaars) op die netwerk registreer. Daar sal beperkte ondersteuning aan die toestelle gebied word. 

kaart

KONTAK ONS

Tel:  021-808 4367
Skype: ITStellenUni
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (vir algemene navrae) or help@sun.ac.za (om `n fout aan te meld)
Twitter: @itstellenuni

Google-kaarte

 Kliek hier vir instruksies oor hoe om `n fout te rapporteer. Verskaf asseblief die korrekte inligting anders sal die versoek nie op die stelsel geregistreer kan word nie.  

Al ons dienste is gelys op ons Dienskatalogus en as jy braaf genoeg is, kan jy ook gebruik maak van ons  Self-help wiki.

IT verhuis

Dinsdag, September 15th, 2015

Die Informasietegnologie afdeling sal hierdie week (15-18 September) verhuis na `n nuwe gebou, direk langs Fasiliteitsbestuur en die LaunchLab. Lees meer daaroor hier.

Gedurende hierdie oorgangstydperk wil ons vra dat gebruikers so ver moontlik alle navrae en probleemaanmelding voorlopig deur middel van e-pos aan ons sal rig by help@sun.ac.za

Byvoorbaat dankie aan al ons gebruikers gedurende hierdie logisties-uitdagende tyd.

Jy sê Tomato, ek sê Zomato

Vrydag, September 4th, 2015

Eet jy net om aan die lewe te bly of is eet jou lewe? Wat ookal die geval, net om te besluit waar om te eet, kan vinnig ontaard in `n onnodige 20-minute gesprek. Gelukkig is daar Zomato.

Zomato is nie die veraf, eksotiese nefie van die eenvoudige tamatie nie. Dis ʼn toepassing wat jou besluite sommer baie makliker gaan maak. Oor die afgelope naweek het ons Zomato gebruik en beproef en hier is ons opinie.

Zomato-2

Zomato kom oorspronklik van Indië en is in 2008 gestig. Die web en mobiele toestel toepassing kan beskryf word as ʼn globale restaurant soek-en-ontdek hulpmiddel, of soos Gearburn dit so beskrywend stel, “Facebook vir kos”. Zomato is inderdaad meer as net ʼn soekenjin, dis ʼn sosiale netwerk vir kosliefhebbers.

Tot op datum is daar reeds 1.4 miljoen restaurante in 22 lande gelys op die databasis en word dit 90 miljoen keer per maand besoek.

Die toepassing gebruik jou foon se GPS om jou ligging te bepaal en restaurante in jou nabye omgewing voor te stel. Maar, jy kan ook volgens verskeie ander kriteria soek, byvoorbeeld die tipe kos (Indies, Chinees of Marokkaans, ens.) of tipe maaltyd (middagete, aandete, wegneemetes, ens.)

Jy sal ook spyskaarte, fotos, resensies en graderings vir restaurante te siene kan kry. Die belangrikste is egter dat die toepassing die ligging aandui op Google maps, sowel as kontakinligting. Die foontoepassing het ʼn addisionele funksie ingebou waarmee jy direk uit die toepassing die restaurant kan skakel om te bespreek.

Die gemiddelde prys per ete word ook ingesluit – baie handig as jy nie hou van onwelkome verrassings nie. Hou in gedagte dat Zomato enigiets van Steers tot Overture insluit – van wegneemete-plekke tot eksklusiewe restaurante. Daar is iets vir almal, watookal jou begroting of smaak.

Zomato ontwikkel ook meer funksionaliteit en sal binnekort aanlyn besprekings en betalings by hul toepassing insluit. ʼn Projek saam met Uber was ook al ter sprake.

As jy ʼn kompeterende streep het, kan jy probeer om ʼn ekspert in jou buurt te word deur ten minste 10 restaurante te resenseer en 50 fotos op te laai. Daar is verskeie vlakke wat bepaal word deur die hoeveelheid punte wat jy insamel. Jy kan ʼn foodie, big foodie, super foodie en connoisseur word as jy ʼn toegewyde Zomato-gebruiker is.

zomatoDIE GEVOLGTREKKING

Ons het Zomato oor ʼn naweek beproef om ons uiteet-ekskursies te beplan en dit het baie goed gewerk. Inligting was deurlopend akkuraat en die kaarte het handig te pas gekom toe ons ʼn nuwe restaurant in Bellville wou uitprobeer.

Selfs gradering en resensies is maklik om te doen en die reeds bestaande resensies gee vir jou ʼn goeie idee van wat om te verwag. Ek is nie ʼn toepassing-fanatikus nie, maar Zomato is eenvoudig, tog effektief, dus beveel ek dit aan.

Laai Zomato vir Android af 
Laai Zomato vir iOS af 
Laai Zomato vir Windows af 

Skakel in by Bits & Bytes

Vrydag, Augustus 21st, 2015

Komende September vier Bits & Bytes se radio-weergawe sy tweede verjaardag met meer as 55 uitsendings op ons kerfstok. Wat aanvanklik begin het as `n tweeweeklikse radio-insetsel om allerlei IT-nuus te deel, het intussen gegroei tot `n weeklikse instelling wat veel meer as net die doen en late van IT bespreek. Bits & Bytes is tans dié tech-show op MFM en hoe dan anders met twee aanbieders, Marc-Allen Johnson en Tian Petersen wat behoorlik moet bontstaan om by te hou by elke week se tegnologiese nuutjies. 

MFM het `n gehoor van 30 000 luisteraars tussen die ouderdom van 14 en 28 en word nie net op kampus uitgesaai nie, maar dek die hele Stellenbosch. IT word dus gehoor dwarsoor Stellenbosch en enigiemand wat wil op hoogte bly van tegnologie sal nie spyt wees om 10 minute af te staan en in te skakel nie. Met elke insetsel probeer ons om `n kombinasie van relevante nuus vir studente en personeel, sowel as interessante verwikkelinge op die tegnologiese front op `n informele trant aan luisteraars oor te dra.

Ons besef egter dat almal nie toegang het om altyd regstreeks daarna te luister nie en het die fasiliteit geskep waar jy, nadat dit uitgesaai is, steeds aanlyn na die uitsendings kan luister. Al wat jy hoef te doen is om na WWW.SUN.AC.ZA/BB te gaan waar daar `n lys van alle vorige nuusbriewe is, maar ook al 56 vorige radio-uitsendings. Kliek bloot op die mp3-skakel en bly op hoogte van wat aan die gebeur is met tegnologie.

Die insetsels word binne die US-netwerk gehuisves, dus gaan dit nie jou internetkoste opvreet nie – jy kan met `n geruste hart luister. As jy wel die regstreekse uitsending wil hoor, skakel gerus elke Woensdag om 15:15 op die Lunch Show op MFM saam met Lesley en ons eie Tian en Marc-Allen in. Kliek HIER om aanlyn na MFM te luister.

Jy is ook welkom om kommentaar en vrae in daardie tydsgleuf via Twitter aan ons te stuur en indien daar geleentheid is, sal dit op die lug beantwoord word. Tweet ons by @ITStellenUni!

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.