Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Kennisgewings

WiFi gedurende beurtkrag

Dinsdag, Maart 16th, 2021

Die waarskynlikheid dat ons binnekort ontslae gaan wees van beurtkrag is nie besonder groot nie en selfs al is ons hoe voorbereid is daar net soveel wat ons kan doen.

Ons besef dat ʼn stabiele internetverbinding in klaskamers krities is vir dosente om akademiese inhoud na studente te stroom. In die meeste universiteitsgeboue is daar kragopwekkers in plek om rugsteuning te verskaf gedurende beurtkrag. Ongelukkig kan ons egter nie ononderbroke kragvoer waarborg nie. Die redes is as volg: 

Sodra beurtkrag afskop verloor alle netwerktoerusting krag en skop die kragopwekker outomaties in. Die netwerktoerusting doen dan `ʼn sogenaamde “cold-boot” wat etlike minute kan duur. Gevolglik kan dit 10 tot 30 minute (in uitsonderlike gevalle) neem vir die netwerk om weer optimaal te funksioneer. 

Addisioneel tot hierdie vertraging bestaan die moontlikheid dat die netwerktoerusting nie outomaties kan herstel wanneer die kragopwekker geaktiveer word nie. In so ʼn geval sal die netwerk en WiFi vir die volle duur van beurtkrag af bly. 

Die stabilisering van toerusting en verbindings gedurende beurtkrag is nie prakties moontlik nie aangesien die hele proses weer herhaal moet word sodra Eskom weer die krag aanskakel. Ons het egter ʼn moniteringstelsel wat kyk watter toerusting nie vanself herstel nie. 

In die meeste gevalle sal die WiFi en toerusting weer in ʼn werkende toestand wees na ongeveer 10 minute met die hulp van kragopwekkers. Om te verseker dat die oorgang soomloos is en netwerkkonnektiwiteit voortduur, sal dit help as personeel in die betrokke geboue na ongeveer 15 minute nadat die kragopwekker aangaan, sal nagaan of die WiFi aktief is of nie.

 

IT HUB: Slegs met afspraak

Woensdag, Maart 3rd, 2021

Alle dienste wat tans deur die IT HUB in Admin A gelewer word – hetsy optel van toerusting of enige ondersteuning – is slegs beskikbaar deur middel van `n voorafgereëlde afspraak.

Indien personeel tegniese ondersteuning benodig, moet hulle asb. `n versoek aanteken op die ICT Partner Portal waarna hulle gekontak sal word deur `n tegnikus vir verdere reëlings.

Studente kan dieselfde prosedure volg vir `n afspraak en vooraf `n versoek aanteken by die aanlyn dienstoonbank. Afsprake en die aanmeld van foute kan nie meer, soos voorheen, by die ingang van die IT HUB gemaak word nie. Jy kan ook die IT HUB skakel by 021 8089289, maar dit dit word verkies dat die versoek eerder aangemeld word op die ICT Partner Portal.  Die aanlynproses is as volg:

  1. Meld `n versoek aan op die ICT Partner Portal by https://servicedesk.sun.ac.za/
  2. Teken aan met jou US-gebruikersnaam en wagwoord.
  3. Kies die “ICT Partner Portal” dienstoonbank.
  4. Studente kies die IT HUB -opsie. Personeel kies die opsie van toepassing op hulle navraag.
  5.  Vul die nodige inligting in. As daar `n batenommer is, verskaf dit asseblief.
  6.  Voeg enige addisionele inligting by in die beskrywingsveld.
  7.  Kopieer enige ander verwante grafika, leêrs en e-posse in die area vir aanhangsels.
  8.  `n IT-personeellid sal kontak maak om `n afspraak te maak sodra die versoek aangemeld en verwerk is. 

Studente en personeel wat hulle studente- of personeelkaarte verloor het is die enigstebesoekers wat sonder `n afspraak die IT HUB kan besoek. Dit kan daagliks tussen 08:00 en 16:00 geskied.

 

Wees versigtig vir Reply All

Dinsdag, Maart 2nd, 2021

Verlede maand is sommige personeel se e-posbusse oorweldig met ʼn advertensie e-pos wat gelei het tot wat ons noem ʼn e-pos storm. Alhoewel hierdie tipe e-posse nie skadelik is nie, is dit steurend en kan dit voorkom word. Ons herinner jou graag aan ʼn paar belangrike punte om in gedagte te hou wanneer jy e-pos moet stuur na groot groepe mense.

1. Gebruik ALTYD die BCC-veld, nie die CC-veld nie.
Wanneer jy die BCC-veld in plaas van die CC-veld gebruik is die Reply All funksie outomaties gedeaktiveer. Ontvangers van die e-pos kan dus nie reply to all en onnodige e-posse aan kollegas stuur nie.

2. Moenie Reply All wanneer jy `n e-pos ontvang wat aan verskeie mense gestuur is nie.
Indien jy `n e-pos ontvang en daar is `n groot groep ontvangers in die CC-veld, moet asb. nie by verstek Reply All druk nie. Nie alleen gaan jy `n onnodige vloed van e-posse veroorsaak nie, maar jy gaan ook op jou kollegas se senuwees werk. Indien jy moet antwoord, stuur e-pos aan die oorspronklike versender of die relevante persone.

3. Advertensie van dienste en produkte op die US-netwerk word nie toegelaat nie. 
Geen personeel of studente word toegelaat om enige dienste of produkte op die US-netwerk te adverteer nie. Hierdie riglyn word in die Elektroniese Kommunikasiebeleid, wat personeel en studente jaarliks aanvaar met heraktivering, gestipuleer 

4. Indien jy amptelike massakommunikasie moet stuur, raadpleeg eers die Digitale Kommunikasiekantoor.
Die Digitale Kommunikasiekantoor, `n onderafdeling van Korporatiewe Kommunikasie, is verantwoordelik vir kampuswye, elektroniese kommunikasie. Hulle gebruik spesifieke platforms vir die verspreiding van inligting en sal kan adviseer wat die effektiefste wyse is om jou e-pos uit te stuur. 

5. Gebruik SYMPA
Indien jy gereeld e-posse moet stuur aan groot groepe, gebruik die bestaande SYMPA e-posstelsel. Meer oor SYMPA.

Totsiens Inetkey

Maandag, Maart 1st, 2021

Tot onlangs moes US-personeel en -studente Inetkey gebruik om toegang tot die internet te verkry. Hierdie toepassing het opgetree as beide hekwagter en verrekeningstelsel vir internetgebruik. 

Aan die einde van 2019 het die US Raad saam met die jaarlikse begroting, ook ʼn nuwe internetmodel goedgekeur. Hierdie besluit het die projek vir die uitfasering van Inetkey afgeskop. 

Die Finansies-komitee het besluit op die heffing van ʼn jaarlikse fooi en op R674.00 (R57.83 per maand) vir 2021. Dit behels dat personeel se internetkostes voortaan ingesluit word in die jaarlikse gebruikersnaam-aktiveringsfooi.

Die Inetkey-projek het ook die vervanging van die ou firewall ingesluit. Gedurende die naweek van 19 Februarie is die verouderde firewall, wat ons reeds vir dekades gebruik vir toegang na die internet, vervang en gevolglik het die nut vir Inetkey ook verval.

Sedertdien is Inetkey nie meer nodig vir toegang na die internet nie en vanaf 15 Maart sal dit ook ʼn foutboodskap wys indien jy dit probeer gebruik. Jy kan dus die Inetkey-toepassing van jou toestelle verwyder.

Vaste internetfooi nou ingesluit by netwerktoegang

Maandag, Februarie 8th, 2021

Aan die einde van 2019 het die US Raad saam met die jaarlikse begroting, ook ʼn nuwe internetmodel goedgekeur. Hierdie besluit het gelei tot die uitfasering van Inetkey – die programmatuur wat gebruik is om rekord te hou van internetverbruik en die verhaling van kostes. Alhoewel Inetkey steeds nodig was vir toegang tot die Internet is studente nie meer gedebiteer vir internetverbruik nie. Verhaling van personeel se internetverbruik is ook tydelik opgeskort tydens 2020.

Die konsep van “gratis” internet was egter net van toepassing op studente om te verseker dat hulle toegang het tot die nodige bronne om hulle studies effektief te kan voltooi. Internettoegang vir personeel moet steeds deur die toepaslike departemente en afdelings betaal word. Die Finansies-komitee het besluit op die heffing van ʼn jaarlikse fooi en op R674.00 (R57.83 per maand) vir 2021. 

Vanaf 2021 sal die jaarlikse internetfooi ingesluit word by die netwerkregistrasiefooi wat die heraktivering van gebruikersname insluit. Alle personeel se gebruikersname verval aan die einde van Maart en moet jaarliks aanlyn heraktiveer word. 

Tans is die jaarlikse koste van die ʼn gebruikersnaam op die netwerk as volg:

Internetfooi: R674.00
Netwerk/gebruikersnaam fooi: R287.00

Totaal: R961.00

Neem kennis dat die internetfooi slegs gehef word vir die “primêre gebruikersnaam”. Indien jy meer as een gebruikersnaam aan jou US-nommer gekoppel het, sal die internetfooi slegs eenmaal gehef word. (Byvoorbeeld in die geval van generiese departementele gebruikersname.)

Vir navrae oor die heraktivering van gebruikersname , teken asseblief ʼn versoek aan op die ICT Partner Portal of raadpleeg die dienskatalogus.

Navrae in verband met die internetfooi kan gerig word aan  Afdeling Finansies. 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.