Swellendam – Barrydale – Montagu April 1932

Nog nooit het so ‘n lekker klomp gaan toer nie, was die algemene opinie van die vyf-en-dertig toer-entoesiaste toe hulle die Donderdagmiddag van die stasie vertrek. En ek dink ons was reg. Natuurlik staan dit nog altyd vir enigeen, wat meen dat hy persoonlik nie as ‘n gawe kêrel beskou kan word nie, vry om met ons te verskil.

Die Pêrel het vir ons ‘n verpligte oponthoud beteken. Maar ek glo nie dat dit ‘n besonders onaangename verpligting was nie vir dié wat by die K.W.V. beland het nie. ‘n Mens sou nooit sê dat “As you like it” se bynaam Droogte is nie!

Eers nadat ons die Vrydagoggend op Swellendam elkeen ‘n goeie beker toerkoffie en ‘n watersny brood ingepak het, kon ons regtig sê dat ons op toer was. Met die wegtrek het Johanna dadelik naam gemaak deur die eerste skof in rekordtyd af te lê. Ons vrees egter dat haar stapmaats hierdie soort van rekordmakery as ‘n uiters twyfelagtige voordeel moes beskou het, want dit was warm die dag. Selfs die lorrie was van die feit wel bewus, met die gevolg dat ons ‘n paar uur lank op Zuurbraak vir hom moes wag.

Die aand toe ons almal om die kampvuur sit, kom oom Kotie Strauss van Stellenbosch met sy familie vir ons kuier. Om seker te maak van ‘n goeie ontvangs het hy ‘n sak appeltjies saamgebring. Ongelukkig het ons maar net die helfte daarvan gekry. Is dit nog ‘n wonder dat Daan, wat moes uitdeel, vir die res van die toer siek was?

Saterdag en Sondag beskou ons almal as die heerlikste tyd van die toer. Want al sing ons ook soms “O Tradouw, Tradouw is so lank”, in werklikheid het ons vergeet dat dit opdraand was wat ons moes stap, vergeet dat daar sulke dinge bestaan soos voete wat soms blare kan kry; ons het maar rondgekyk en geniet: die geweldige kloof daar onder, met sy bosse, sy kranse, die waterpoele tussen die rotse.

Die Sondag het elkeen sy eie gang gegaan. Dit spreek vanself dat daar altyd minstens twee persone dieselfde koers gekies het, of dit nou was om bo teen die berg te gaan varings pluk, of onder in die kloof ‘n lekker koel plekkie te soek om te rus, of al was dit ook maar om te gaan kyk wat daar om die draai l was natuurlik die swemgat. Ons het ons so moeg geswem en geduik en gebak dat ons die aand om die kampvuur skaars meer gô oorgehad het om te kan sing. Totdat dr Curt ons van die Dodo begin vertel wat die groot eier lê. Toe moes jy sien hoe die mense wakker word, veral Einstein wat hom in die stilte begin verlustig in die heerlike maaltyd wat so ‘n eier sou verskaf, en Tertius wat nou weer ‘n ekskuus gehad het om op te spring en “Picke doodle didn’t know” te dirigeer.

Maandagoggend toe ons Barrydale instap, wys ons vir dr Eiselen dat ons nie maar ‘n kampvuurklub is nie, want toe ons eindelik stilhou, was daar nie ‘n enkele bekende liedjie wat ons nie al oor en weer saamgesing het nie. Ons bly mev Olivier baie dankbaar vir die lekker tee en koffie waarmee sy ons inspanning beloon het.

Hier vind ons toe ook uit dat ons verder nie meer sou stap nie; die lorrie het goedgunstiglik ingewillig om ons na Montagu te neem. Ons was almal baie jammer om van ons siek mense afskeid te neem. Dit sou lank duur voor ons hulle bekende gesigte weer kon sien.

Laat die aand kom die tweede vrag toeriste op Montagu aan, veilig en gesond, dank sy die moedigheid van Giepie en Tommie. ‘n Goeie seksie heerlike, gestoofde patats het almal gou in die regte stemming gebring. “Early morning” koffie was ‘n paar uur later ook gereed. Ons wonder net nog wat Villebois en Einstein alles saam met die koffie gekook het. Volgens een was daar glo ‘n bysmakie van akkers by, ‘n ander het gemeen dis pendorings, terwyl Conradie, wat in die reël ‘n besonders goeie beoordelaar van drankies is, lank gesnuffel het en hy besluit het om maar niks te sê nie en te sluk.

Dinsdag namiddag, nadat ons van die warmbaddens teruggekom het, het die “elite” van die dorp ons kom besoek. Die burgemeester en stadsklerk, mnr Hofmeyer, ds Grobbelaar, nie een wou die kans mis om ‘n klomp BTKaners te sien en te hoor sing nie. Blykbaar het ons ‘n goeie indruk gemaak, want van dié dag af het dit somar skiete gereën vir elfuur tee, namiddag koffie, ensovoorts.

Ons kampplek was nie juis voorsien van “lowerryke bome” nie, maar ons het darem ‘n goeie “klaterende stroom” gehad om ons borde in te was, en nadat ons vir dae aaneen met “die blou van hoogste hemel” bevoorreg was het ons ook ‘n goeie bedeling “reën van bowe” ontvang.

Laasgenoemde het gemaak dat ons die aand in ‘n leë huis – waarvoor ons mnr Buirski baie dankbaar is – ons “kampvuur” gehou het. Opvallend die aand was die besonder baie telepatiese storings in die atmosfeer, wat vir Johan en Einstein soveel moeite veroorsaak het.

“O Donkerkloof die is so mooi” het ons almal gesing toe ons Woensdagmiddag van die heerlikste uitstappie terugkom wat ons lank laas gehad het. Onwillekeurig voer dit ‘n mens terug na ons eie Jonkershoek met sy pragtige bosbegroeide klowe en ruisende watervalle.

Donderdag se uitstappie was van ‘n meer intensiewe aard. Hier kon ‘n mens sien wie ware BTKaners was. Ons bewonder die wat ten spyte van seer voete, swak knieë of ander moeilikhede saamgekom het. Al het ons ook nie die top van Bloupunt bereik nie, ons (veral die dames) kan nietemin trots wees op wat ons onder die omstandighede gedoen het.

Dis moeilik om te sê watter van die ontvangste vir ons die aangenaamste was: die Woensdagmiddag by ds en mev Grobbelaar, die Donderdag by die Hofmeyers of die Vrydagoggend by ds Van Huyssteen se pastorie. Mag hulle almal lank lewe!

Die Vrydagoggend het ons weer ‘n slag vir die dorpsbewoners iets te sien gegee. Want ‘n dertigtal toeriste in ry en gelid, wat ook weet om te sing en vrolik te wees, word nie aldag aangetref nie. By die munisipale kantore het ons stilgehou om die burgemeester en sy “staf” te bedank vir hulle gasvryheid.

Op pad na Ashton het ons ‘n draai gemaak by Keurkloof om daar ons middagete te geniet. In ‘n groot dennebos het ons gesit en na ds Snyman van Robertson se kafstories geluister.

Die aand op Ashton, ons laaste kampvuuraand, sal onvergeetlik bly. Vereers het ons met gepaste eerbied en ontsag gesit en luister na die voorlesings van Professor Carel van der Merwe en Van der Riet en na die Hoogleraar Lategan se betoog. Daarna het die gevreesde item van die aand gekom – die Hofsitting. Natuurlik was dit maar net ‘n plan van dr Eiselen om vir ons te wys hoe goed hy kan “pip”. Was dit darem nie ‘n okkasie toe Cor Murray skielik uitbars van die lag of hy die stuipe kon kry, seker vir die heel eerste keer in sy lewe!

Na die verskillende aanklagte afgehandel is, behalwe een – want die grootste sondebok het nooit voorgekom nie, naamlik dr Eiselen self, wat nou nog daarmee spog dat hy op die hele toer g’n enkele sigaret gekoop het nie, terwyl hy self gedurig een in sy mond gehad het en ook vir andere uitgedeel het – het twee kore opgetree om te wys wat hulle kon lewer: eers die geamalgameerde Villebois – Einstein koor, daarna Tertius se nagtigalebende.

Tot laat in die nag het ons om die vuur bly staan nadat die aand offisieël afgesluit is. Immers, dit was die laaste aand en dit was moeilik om afskeid te neem. Martie se vaarwellied, een van die kosbaarste oorblyfsels van die onvergeetlike Knysna-toer (1930), het ons die aand beetgepak en al sy krag en skoonheid, en aan die doringbosse om ons vertel dat ons toer sy einde bereik het.

Sal ons ooit April 1932 vergeet? Ons hoef net ons oë toe te maak, dan sien ons alles weer: Villebois met sy helm, Chrissie met sy “karoo” al oor die tentlyne vallende, Christo wat die laaste paaiement van sy borsel nog nie ontvang het nie, ons ou “fat, German cook”, dr Eiselen met sy alewige “né”, saam met die res van die nou dierbaar-geworde kring. Ons sien vir Tradouw, sy berge fier en trots; ons hoor die stroompies oor die rotse val onder die ou boomstamme in Donkerkloof; en ons kan nie help om nog ‘n keer te sing nie:

“Vir my is dit so droef te dink
Dat ek jul nou verlaas moet groet.
Vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel!”

T Scheffler

TOERISTE “ROLL CALL” APRIL 1932

A Lawaai en bokspring? dis vriendin Anna, (A Viljoen)
Maar ‘k kan haar niet altyd verstanna.
Vriend A.C. ben een stille man, (A C van Wyk)
Dat enig nooi van honden kan.
‘n Lieve meisje, Anna Dreyer;
Sy past glad niet by Piet, die vryer.
Ag hoe seer bemin ek Alma; (A Baier)
Sy het my gans en gaar bedwelma.

B Ben van Wyk, getrou en dapper,
Was een flukse tentpenkapper.
De vrou dat elke man naar soek
Is Bert, ons “fat old German cook”. (Alberta du Toit)

C Con Murray is ons groot probleim;
Wat skuilt tog in dat stille brein?
Een deserteur was Christo Latsky;
Drie borsels kreeg hy syn bladski.
‘T is ds Curt die spreekt: hoort nou (Dr Grobbelaar)
Naar’t verhaaltje van de Dodo.

D Syn wy al by de grote Daan? (D du Toit)
Een man die seer veel pap verslaan.
Doris Dreyer, sag en teder,
Geef my tog myn hartjie weder!
Laer as die laagste hoogte,
Maar geensins droog, is ons vriend Droogte (D J Conradie)
A charming lass is Dorothy Grewer;
Her eyes than deepest blue are truer.

E Elise, my love, stay yet a while! (E Vorster)
I like thy ways, they b’witching smile.
Tant Elsje, o getroue moeder, (Mev Grobbelaar)
Gy waart myn redder, myn behoeder!
So lank as die lepel in die pappot staan
Sal Einstein ook op toer kan gaan. (T Scheffler)

E Oh what can ail thee, Gertie daar? (G Steyn)
Is’t still for Ferrie thou dost “treur”?
Vir blare en al sulke kwale
Was Grove die man om te gaan hale. (J S Grové)
Giepie sê: dis salig, soet (G P du Toit)
Om saands die lampen aan te doet.
Deur heeldag met sy “kazoo” te bodder
Val Griffie kort-kort in die modder. (G R Meier)

I Ignatius Schutte, koorgeeswaardig
Steeds besadig en bedaardig.

J Een zeer vermaarde telepaat
Johan Verloren van Themaat!
J.B. staan vir “Jolly Boy” (J B le Roux)
Elke aand met ‘n ander nôi.
Wil jy graag stap dat dit so kraak?
Skiet vir Johanna, dis altyd raak. (J Perold)

K Pieter Koorts is ‘n gawe kêrel,
Die beste kêrel in die hele wye wêreld.

L Toer beteken vir haar: lewe; (Lottie Strassberge)
Om te werk, haar hoogste strewe.
David Lombard, stoere held,
Getrou als Aumas metgeseld.

M Die volgende is Martha Els,
Wat heeldag deur aaneen gesels.e
P Dann kommt mein süsses Phoebchen; (Phoebe Grewar)
Sie ist mein Schatz, mein Herz, mein Liebchen.

R Stil soos die sterre, sag en rein,
Diep soos die see; dis Rita Steyn.
Fairest maiden, sweet and tender,
Rina Brunner, slim and slender.

T Tertius likes to sing a song, (T v Huyssteen)
to which he always adds: pong, pong!
Sy roeping het Tom skoon gemis; (T Coertze)
Lorriedrywer, dis wat hy is.

V Villebois die droeg een “zip”; (V v d Spuy)
Hy verbeel hom dat hy goed kan pip.

W Werner Eiselen was ook daar; (Dr Eiselen)
Hiermee is ons lys nou klaar.

T Scheffler

GROOT GEESTE OP TOER

Ons kaptein, met voornaam Werne(r) (Dr Eiselen)
Het ons van die Duitsers geërwe.
Die liedjies wat hy maak
Val in almal se smaak
En aan sy “pip” kan iedereen sterwe.

‘n Ander oubaas, hoog in die jare, (Dr Grobbelaar)
Teen alles het hy miljoene besware
Sy voornaam is Coert
Praat doen hy beroerd
Net beduie met vreeslike gebare.

Tant Elsie soos altyd, lief en goed, (Mev Grobbelaar)
Met besonder sagte, tere gemoed.
Maar as iemand nie reg maak
Of as tweetjies wil wegraak
Dan kook Tant Elsie se bloed.

Van die voorsitter is daar min te sê (P Koorts)
Hy kan nooit kry wat hy wil hê
Sy bek is wel groot
Maar al sukkel hy hom dood
Hy moet erken: Ek is uitoorlê.

Dan kom die minister van tente, (D J Conradie)
‘n Lektor wat leef op sy rente,
‘n Fotograaf befaam
Droogte by naam
Hy ly droogte selfs in die Lente.

Die volgende, ‘n parodie van ‘n mens (Einstein)
Wat so raps-raps aan die oermens grens.
Hy duik oor die relatiwiteit
Van die pap se kwantiteit
Tot die kubieke inhoud van sy pens.

Ou Grove, die bleek sekretaris, (J S Grové)
Sê – met ‘n gesig wat lyk of hy naar is
Ag maar sy is my nooi
Met haar baadjie so rooi?
Ek is nêrens gelukkig as sy nie daar is.

Ou Lottie het lank gestudeer (L Strassberger)
Om vitamines te preserveer.
Sy kook kos so geurig,
Praat ‘n taal so kleurig,
Wat sal word as ons haar moet ontbeer?

Laaste op die lys kom Villebois (V van der Spuy)
Wat die geld van die klub in hande hou
Hy behoort vir die grap
Aan ‘n “Bachelor’s Club”
Maar voel graag hoe die kat in die donker klou.

P Koorts

Voorgedra by geleentheid van die Reünie van April-toeriste

13 Mei 1932

Leave a Reply