“‘n Lekker klomp maats voor die Uitspan
Elkeen met ‘n rooi nekdoek aan.”
Uiteindelik het Vrydagmiddag aangebreek. Ons bondel almal in die lorries in en weg is ons. Sommer van die staanspoor het ons liedjies gesing en kennis gemaak. Oor Sir Lowry’s Pas deur Elgin se digte bosplantasies deur Hermanus tot by die Mond.
By die Mond het elkeen kennis gemaak met sy werk vir die toer. “Oom Dirk se dood” het vir die eerste maal in sy spierwit glorie verrys. Hy is maar ‘n kind van die oorlog – sy geboorte is die gevolg van ‘n stryd en daardie nag het hy tweedrag veroorsaak. Almal wou in hom slaap – maar die mans het soos gewoonlik hul sin gekry -.
Saterdag het ons vroeg geroer om met laagwater langs die sand te kom stap. Sommer die eerste stap moes met seiltjies geskied – nie “met brille swart” nie, maar “met seiltjies nat maar ‘n vrolike hart”. Stanford Cove was ‘n ideale kampplek en ons was haastig om daar te kom. By die “Venster” kon ons die see en die branders na hartelus sit en bewonder. Nadat sestig hongerige wolwe net genoeg gekry het om hulle lewendig te hou het ons aangestap na die mooi klein baaitjie tussen die rotse.
Sondagoggend, soos in dae van ouds langs die Galilese meer, het ons daar op die sand bymekaargekom vir ‘n diens. Daarna het ons met Bossie se mayonnaise kennis gemaak en daarby so ‘n groot middagmaal geniet dat ons ‘n halfuur moes rus voor ons Kelders toe is.
Maandag het ons op ons verder reis Gansbaai met sy kenmerkende vissershuisies, stormgeloop vir tjaps en “drop”. Toe al langs die see na Uilkraalsriviermond. Die gees van die Nuwejaarsdansers was nog daar want ons het as vanself aan’t speel gegaan, en die kampvuur was glad te kort. Die “Twee Bille” het in ‘n item ons kom besoek. Later het sommige van ons gaan “serenade”.
Dinsdag het ons weer ‘n slaggie weg van die see gestap, na Elim. Sommige se voete het nie te lekker gevoel nie, hulle wou nou wreek vir Saterdag se lang kaalvoet stap. Tog was die twee-en-twintig myl se stap heerlik, deur groen velde, verby Baardscheerdersbos, verby ‘n oorblufte boertjie met sy donkiekarretjie tot by Elim en netjies Hotnotshuisies. Elimwors het gou ons leë mae laat reg voel en die toontjiesdokter ons voete. Moeg maar tevrede het ons in ons sleë gekruip – nadat die meisies geskiet het. Omdat koerante skaars op toer is het ‘n paar joernaliste die jongste BTKopa filmnuus verskaf.
Woensdag het die Duitsers ons ingelig in die geheime van worsmaak en die binnewerke van hulle meul.
Ons het swaar van Elim afskeid geneem. Die kampie daar tussen die dennebome sal ons helder bybly – die vlamme van die kampvuur wat flikker teen die donker stemme, die takke bo sterk afgeteken teen die maanligte hemel, die gesigte van die Duitsers wat skoon weggevoer word deur die Duitse liedjies en laaste van alles saans die slaapliedjies wat strelend deur die bos weerklink het. Na die laaste aand op Elim se kampvuur het ‘n klompie van ons om ons erkentlikheid te toon vir die sendelinge gaan “serenade”.
Donderdag se stap was weer terug see toe. Die pad na Ratelrivier was asof deur ‘n blomtuin. ‘n Onbeskryflike rykdom en verskeidenheid van veldblomme – suikerbosse, speldekussinkies, gousblomme, sewejaartjies. ‘n Mens wou al net ronddrentel en kyk en pluk. By die middag se eetplek het Bey, Shorty en Bossie ‘n intermezzo in die water uitgevoer. ‘n Kenmerkende walmpie het ons by Ratelrivier verwelkom. Dit het egter nie daarin geslaag om ons honger te verwyder nie en ons het watertand gewag op die talmende lorrie met voorrade. Die walmpie het ook Neffie en sy geselskap inspireer om ‘n opera op te voer.
Vrydag toe ons daar wegstap het dit kompleet gelyk asof die kus moeg is van die spul vaal wesens wat hom die laaste paar dae lastig val. Die wind het mistroostig en knaend gewaai, en Brandfontein se windvlae het ons onvriendelik begroet. Gelukkig het die wind later gaan lê, toe hy genoeg van dr Fransie se kletse gehoor het, en kon ons tente opslaan en koskook. Die eerstemaal-toeriste het dié aand die program voorsien.
Saterdag van Brandfontein na Agulhas het ons vir oulaas langs die see gestap – hier en daar met ‘n veldpaadjie deur ‘n plaat blomme, dan weer oor die wit sand of tussen die rotse vlak by die branders. Onverwags het ons op die ligtoring van Agulhas afgekom – die teken dat ons die einddoel van ons toer bereik het. Nadat ons die rus en vrede van die Hotel met ons luidrugtigheid verstoor het, is ons na die kampplek ‘n halfmyl verder, waar die wit tente rustig tussen die bossies geskuil was.
Dié aand om die kampvuur het ons ‘n paar pragtige sangitems gehad – ook ‘n Bauer met sy Wunderschöne Tochter. Die Transvalers het Transvaal se oorwinning van die middag met ‘n denkbeeldige dronkparty gevier. Die mans het toe vir dr Viljoen wat soveel moeite gedoen het om ons voorrade van Bredasdorp te bring, ‘n “ligte massage” gegee en daarna ‘n vuurpyl.
Sondagoggend het die vaakstes hulle in die swembad gaan wakker maak. Die res van die dag het elkeen maar rustig sy eie gang gegaan. Die aand het die afskeidskampvuur meegebring en daarby die besef dat die toer op ‘n end is. En terwyl die ligtoring sy flitsligte een na die ander op ons kamp gooi, het die
verskillende indrukke van die toer geflits deur ons gedagte: die lekker ou maats, al die grappe, die wit sand, die kleuremassa van blomme, die verskillende kampplekkies – en met ‘n vol gemoed het ons gesing: “Nou totsiens geliefde BTK.”
Die laaste dag wou ons ten volle geniet. Die misreëntjie het dus Maandagoggend gladnie daarin geslaag om ons vrolikheid te demp nie. ‘n Lekker lang lorriery met baie liedjies en grappe. Van die middagete by Caledon sal ek liewer niks sê nie! Dit was eenvoudig oorweldigend. Daarna het ons met ons oë gaan feesvier in die Tuine – Die weelde van kleur met tussenin die khaki figure met rooi nekdoekies, was ‘n toneel om nooit te vergeet nie.
Terug op Stellenbosch – met ‘n gevoel van tevredenheid omdat geen kwartaal van eksamens van ons kan neem wat hierdie toer gegee het: lewenslus, nuwe vriende, die inspirasie van die see van die dennebome en die veldblomme.
H Murray
(Sketsskryfster)