Jonkershoek Gala 1944

28 November – 05 Desember 1944

Die inleiding tot die galaweektoer was ‘n stywe kennismaking in kisklere in die komiteekamer van die Uitspan. Toe ons die volgende oggend met ‘n harde wind agter ons die kontourpaadjie in Jonkersuitstap, was dit al asof daardie stywe mense op die regopstoeltjies net daar teen die muur bly sit het, en gesellige plaasvervangers het in hulle plek saamgekom.

Uit die beskutting van die holtetjies het die koue wind telkens by ons verby gegier en ‘n paar los druppels rondgesprenkel. Van die nekkie kon ons die stil nou vallei sien met die hoë regop kranse. ‘n Fyn misreën het later oorgegaan tot ‘n volwasse reën en ons het van die een boom tot die ander gekoes-koes vir die druppels wat ook daar gedurig by jou nek wil inkom. Spoedig was daar egter koffie en brood en die stemming was dadelik weer anders. Die reën het nou net die plesier verhoog. Spoedig was ons weer op weg–alin die rivierbedding af. Pragtige poele helder water en die donkergroen dennebosse het ons ook gou laat besef dat die natuur darem mooi is. Ons wou nou sommer aanstap Franschhoek-toe maar te gou het ons by die wit nedersettingshuisies uitgekom waar die BTK alreeds een vir hulle toege-eien het en lui op die grond gelê het. Elke nuwe aankomeling het net ‘n slag die huis inspekteer en hom dan ook maar by die ander rustendes op die grond kom neergooi. Langsamerhand kom daar egter beweging: die groenteskillers word geroep en ‘n paar heldhaftiges beweeg hulle na die kraan om te maak asof hulle was. Die reën het spoedig in alle erns begin val en tot Deon Conradie se grootste verbasing het die vuur (syne) darem nog heerlik aan die brand gebly. Die kokke, gewapend met oliebaadjies, langbroeke, panamahoed en beret, het die reën trotseer en dit was nie lank voor die heerlike geur van die kos op die vuur ons ander se groot eetlus nog net meer aangewakker het nie. Die reën het nog maar steeds neergestroom en op on-BTK?-agtige wyse is die kos netjies in die klein kombuisie aan die hongeriges bedien. Dit was op een tydstip ‘n groot vraag of die wors gebraai of gekook sou word – weens al die reën wat in die panne geval het. Die vraag is toe maar opgelos deur dit te gaan rook in die kookskerm wat meer van ‘n rookskerm was. Na die ete het die blikwassers heldhaftig hulle plig gaan doen terwyl daar een “fool” was wat hom werklik gaan was het en boonop sorgvuldig gaan afdroog het terwyl die onsigbare waters van bo hom nog heelwat natter gemaak het as wat hy was. ‘n Lampvuur is gehou maar ons is maar liewer vroeg na bed, of beter gesê na vloer.

Woensdagoggend het meer na Europa gelyk met die koue triestige weer en die dennebosse tot hoog teen die hellings van die berge. Die papkokers was reeds aan die gang en die oggendbrood ook en stadig het een vir een opgestaan en sy opinie oor die weer gegee – Brrrrr was maar een en almal se kommentaar. Waar was oom Dirk nou, wat maar liewer tuis gebly het omdat dit te warm sou wees!! Die weer was te onseker en ons sou dus maar die dag daar oorbly. Aan die vermoeides (?) is ontbyt in die bed besorg en die flukses is kort daarna met grondseiltjies en groot lawaai in een van die baie klowe teen die berg uit. ‘n Stille rustige atmosfeer sak neer oor die kamp — party met boeke en die groenteskillers met groenteskillerse gebabbel. Daar is skielik ‘n plaaslike oplewing in die kookskerm: hulle het ‘n opgerolde slangetjie langs die vuur gekry waar gisteraand wors gebraai is. ‘n Oomblik duisel dit voor die kokke se oë: wors gisteraand, en slange gisteraand, en rook en trane sodat g’n mens kon sien nie …. Maar al het hy gister sy dood vrygespring, nie weer nie! ‘n Vinnige mannehand gryp die addertjie en gooi hom dramaties in die vuur -‘n adderverderf — terwyl die kokke as sensitiewe wesens oorstelp na buite hardloop. Nou word dit te stil en ‘n mens wens die ander wil terugkom. Ons is so min hierdie toer dat as daar net ‘n paar van die mense weg is bly daar niemand oor nie. Die klomp is terug en spoedig is dit weer die gesonde, gelukkige rumoer wat altyd ‘n ete voorafgaan. Meteens kom daar uitroepe van verwelkoming. Rynier is terug van die dorp met twee nuwe aankomelinge — Ria en Anneke — wat per fiets uit Stellenbosch gekom het en arme Rynie amper om die nek geval het toe hulle hom gewaar het. Die aand is weer ‘n lampvuur gehou, wat heelwat plesieriger afgeloop het as die vorige aand s’n.

Donderdagoggend sou ons stap — reën of nie reën nie. Na een of twee buie het die weer opgeklaar en kon ons die stap deur die denneplantasies ten volle geniet. Franschhoek se kafees het weer ‘n “roaring trade” gedoen wat eetgoed betref en toe ons om halfeen by die monument bymekaar kom sou ons sien dat oom Piet ‘n hele lemoensakkie vol perskes, sigarette en vrypepermente oor sy skouer dra. Bo-op die pas gekom het meeste van ons maar soos dit BT-Kaners betaam lui op die bagasie gaan lê en slaap. Enkele lewenskragtige jongmense het die steiltes na die rivier afgedaal, in die yswater geswem, weer die hoogtes bestyg en toe die vermetelheid gehad om ons ander tot hierdie twyfelagtige vreugdes probeer aanspoor. Gou egter was die gewone bedrywighede van die kamp in volle swang – vir die eerste maal hierdie toer. Die geel sonskyn en glashelder berglug het Abrie sy kamera laat te voorskyn bring, Keekie haar sketsboek en Rynie sy skeergereedskap. ‘n Stillewe deur Keekie van Rynie met sy pienk spieëltjie en pienk lifeboysepie het groot byval gevind. Die son het egter maar soos elke dag ondergegaan en skielik was daar ‘n geroep van die hoogtes geklink en almal snel daarheen om die pragtige Franschhoekvallei te beskou. Die son was al lankal onder en die blougrys van die nag het al onder in die vallei gaan lê. Enkele ligpuntjies het van die dorpie wyd uiteen begin glinster, versag deur die distansie. Bo by ons was die aandlug nog sonder sterre.

Die aand kon ons ons eerste kampvuur hou. Die singery het nie te goed gegaan nie maar die joligheid van ‘n regte ou kampvuur was in oorvloed teenwoordig. Die Kooklepels het diens gedoen as perde vir May Colvin en haar geliefde en ook as sleemaat vir Joey. Twee nuwe sterre wat hier verrys het, was Alice Brink in die rol van seuntjie (die sukses van dié item word deur sommige toegeskryf aan die ongelukkig-groot broek), en Joan Marais in die rol van Pretty Polly wat sy met vlerkgeklap en swygende gesigsuitdrukkings uitmuntend vertolk het. Oom Piet het sy vrypepermente die rondte laat doen. In een slee het daar skynbaar ‘n groot tevredenheid geheers, te oordeel na die fluistergesprek wat daar aangegaan het. Later is uitgevind dat hulle albei, dit wil sê Abrie en Christien, dieselfde teks gevind het, naamlik “Het jy my lief?” ‘n Geroep oor die kampvuur na Peter Blum en ‘n kortaf antwoord het laat uitkom dat die wysgeer van die toer natuurlik die enigste was wat hom nie aan sulke niksbeduidende leesstof gesteur het nie. Peter kon egter nie spreukloos bly nie en onder groot spanning haal Desmi een vir Peter uit – dit moes egter iets vreesliks gewees het want die peperment is so vinnig mond toe geneem dat die teks tot vandag nog ‘n geheim is.

Daardie nag was koud. So koud dat jy eintlik bly was om op te staan en jou te probeer warm maak by die vuur en in die sonnetjie wat so stadig opgekom het. Na ontbyt is ons soos ape in ‘n boom afgeneem met die hele vallei as agtergrond en daarna is ons met ‘n paadjie agter die berg om na Wemmershoek. Op die laaste nekkie is nog vir oulaas teruggekyk en toe was dit af in die kloof, sonder voetpaadjie maar tussen die blomme en bossies deur – tenger painted ladies en persrooi gousblomme. Na middagete het ons weer ‘n paadjie raakgeloop asook ‘n paar donkies. Spoedig was daar dan ook ‘n paar heftige BT-Kaners op die arme goed: Jan de Wit sit gemoedelik sy pyp en rook terwyl Lod soos watter clown, agterstevoor, met sy neus wit gewapen met watte teen die son, agter hom sit. ‘n Bietjie later kom ons in die pad waar die lorrie staan met al ons bagasie nog daarop, en langsaan, in ‘n uielandjie, soos weeskindertjies sit Annette, Rykie en Gog. Die goed moes gedra word na ‘n bos wat ons nie gou sal vergeet nie -daarvoor het die lae takke gesorg. Gog was egter in haar element want alleen sy kon regop loop! Piet Heymann het nou weer met sy geliefkoosde ontspanning begi, naamlik bordetoss. Voortaan moes almal net vinnig eet om vir hom genoeg ammunisie te gee. Die woorde “Nag Dames” het onverwagte vreugde by die vroulike geslag opgewek en spoedig was hulle dan ook aan bed opmaak. Anneke Malan het haar soos watter “Lady” ter ruste begewe vergesel van ‘n “warming pan” op die styl van die hotnotjies wat kole in die grond begrawe en dan daarop gaan slaap.

Saterdag. Anneke Rossouw verjaar en die mans is bereid om haar ‘n verjaarsdag geskenk aan te bied in die vorm van ‘n Queue – die hooffaktor, Anneke, was egter onwillig om deel te neem hieraan. Bordetossery was met ontbyt nog in volle swang met die gevolg dat Mada met ‘n trop borde gelyk aan haar eie lengte na die stroompie stap. Na ete volg meeste die “boss” na een van die pragtige klowe. Nie te lank egter nie of die kosmoedertjie keer beskaamd terug – die boontjies vir die aand se sop het nooit opgekom nie. Die perskes het nou begin aankom, maar soos gewoonlik was dit nie genoeg om enige effek te hê op die toeriste se eetlus nie. Terwyl almal lê en rus na ete het Peter Blum begin met sy Phrenologie. Een na die ander het hy die BT-Kaners se “bumps” gevoel en geïnterpreteer, tot groot vermaak van die toeskouers maar nie soseer van die pasiënt nie. Kort hierna het Martin weer ‘n slag sy verskyning gemaak, die slag saam met Bill in sy snaakse Boxie. Bill en Martin moes sekerlik die Boxie geïnspireer het om oor die slegte pad te gekom het, maar wie of wat weer vir hulle geïnspireer het is heeltemal ‘n ander kwessie. ‘n Baie interessante program om die kampvuur is verder verhoog deurdat Peter uiteindelik bewus geword het van sy medemense en hom by die Schonken slee gevoeg het – ‘n mooi gedagte, Peter!! Weereens Nag mans en kort daarna ‘n serenade soos maar min selfs op toer gehoor word. Oom Piet het dit dan ook so waardeer dat hy hulle beloon het met perskes. Die mans antwoord toe met ‘n “Happy Birthday” vir Anneke, al was dit al ‘n dag te laat.

Al het Martin Sondagoggend al vroeg begin sing terwyl hy die pap omroer het dit die mans nogtans geluk om vir Piet de Wit in die bed te vang en stadig in die sloot water neer te laat. Martin hervat sy solosang en paproerdery. Maar wat van die meisies? ‘n Bietjie huiwerig en onhandig, het hulle nogtans daarin geslaag om die mans se voorbeeld te volg en dit was nie lank nie of arme Maria Kriel het ook met die water kennis gemaak. Gehurk sit die mans die speletjie op ‘n veilige afstand en aanskou. Nog eens keer Martin hom dood tevrede na sy sang en papblik. Later het Martin ons voorgegaan met die Sondagdiens (terwyl Jean varke uit die kombuis moes weghou). Na ete het Rykie gaan stap. Bill ook. Voortaan het Rykie Bill so ver moontlik vermy, tot groot vermaak van die ingeligtes!

Maandag. Terugdra van swaar bagasie. Stap in die sand. Nog maar stap in die sand. Halfpad perskes en dan maar weer stap in die sand. Sand. Sand. Eindelik die brug waar ons geëet het en die lekker swem. By De Oude Molen het ons omtrent al die karringmelk binne ‘n paar minute opgedrink. Die middag ‘n lekker stappie tot by mnr Arton se plaas waar ons ‘n mooi kampplek gevind het. ‘n Klompie het gaan “swem” in die “rivier” een myl verder aan. Hulle kon glo darem hulle voete en hande was as hulle eers hulle hande was!! Fransie en Sarah het seker die swem darem geniet want hulle het eers na ete weer by die kamp aangekom!! Die aand vind ons die hoogtepunt wat die vure betref en ook wat die items betref. Nie alleen het ons die trouelose Carmen gehad wat deur paplepel van haar lewe beroof is nie, maar ook ‘n fyne Juliet gekleed in ‘n rapsie te korte syagtige gewaad met bypassende stewels.

Die vorige oggend moes ons vroeg opstaan want daaet ‘n lekker borsel gekry omdat hy die vermetelheid gehad het om ‘n Doktorsgraad op toer ryker te word. Nou was dit stap in die warm son. Op by die randtjie tot by die nek. Nog ‘n randjie tot by nog ‘n nekkie. Effens afdraand met nog ‘n hoër nekkie oorkant. Nog …. ons ken daardie storie tog maar te goed. Om halfeen wou ons eet toe ons ‘n lieflike groen, skaduryke plekkie gevind, maar daardie onnatuurlike wesens, die leiers, wat nooit moeg of honger of iets word nie sê maar net nie nou al nie. Om twee-uur eers het hulle hulle oor ons ontferm. By die tyd was die enigste begeerte om tog maar net hier neer te val en nooit weer op te staan nie. Maar wie sê, ons het nog skaars gesit of een vir een begin weer lewendig word en spoedig is dit weer ‘n gesing en geskerts van die ander wêreld. Die afgaan in Duiwelskloof was, seker om op te maak vir die oggend, tog te heerlik; eers ‘n entjie in die gras en toe groot, groot klippe om oor te klouter en te spring. In die donker nou spleet het ons afgesak, die mure waarvan aaklig benouend al hoër en hoër gestyg het. Eindelik kom ons tog weer uit in die ruimte en kyk neer op Pniel en die vredige vlakte met die laat son daaroor en die fynbloue van die aand wat reeds in die lug hang. Dis nog ‘n paar myl stap na die lorrie toe maar dis nou so eenvoudig soos klas-toe stap. Op die gelykpad stap ons heerlik aan. Met ‘n lekker ritme en ‘n vinnige pas, maar ag daar is die lorrie al en ons moet maar ons staplus opgee en inklim. Om te vergoed bars ons soos nagtegale in sang los, byna ‘n wanhoopspoging van die wat oulaas toer om nog soveel te sing as moontlik. Maar die toer is op ‘n end en die heerlike singery ook. Ons hou voor die Uitspan stil waar ons ‘n bietjie ongemaklik-beskaafd ‘n heerlike ete opsmul, en toe ‘n bietjie verdrietig bymekaar sit. Toe het ons opgestap na die Pastorie en soos alle toere het ook hierdie toer formeel gesluit met die sing van “Vaarwel” en “Nog ‘n toer is verstreke”. Dit was die end. Onder die donker straatbome van Stellenbosch soos die nag alles kan moontlik maak, het dit gelyk na kabouters wat wegstap; die studente met die hoë bondels op die rug.

DIE GALAWEEKTOER 1944

Hierdie toer het ek beskou as die toetssteen van lojaliteit aan die BTK en ek het dus myself as ‘n soort “Old Faithful” beskou omdat ek saamgegaan het. Die oorspronklike plan was gewees om Kaaimansgat en Viljoenspas te besoek, maar daar net iets oor die twintig mense vir die Galaweektoer kans gesien het, sou die vervoer vir hierdie roete te duur gewees het, en daar is dus van owerheidsweë besluit om Wemmershoek se nasiewyd beroemde reënval te besoek.

Dinsdagoggend het ons met die skoolbus tot by die bosboustasie in Jonkershoek gery, en hiervandaan het ons langs die berg opgestap na ‘n nekkie tussen twee berge in die Jonkershoekreeks. Dit was moeilik gewees om te sien watter twee, omdat hulle koppe met newels bedek was. Anderkant die nekkie het ons ‘n steil helling op die gras afgegly, waarby ons instinkmatig uitgevind het in watter gedeelte van ons liggaam die swaartepunt lê. Hierdie glyery was ‘n Slegte Ding gewees, maar dit het ‘n skeur in Abrey Oosthuizen se broek veroorsaak – wat ‘n Goeie Ding was, omdat dit aanleiding gegee het tot baie hekelvrae. Of sal ek sê – ‘n Mooi Gedagte. Ons het die bedding van ‘n bergstroompie bereik, en in hierdie bedding afgeklipspringer tot by die Assegaaibos bosboustasie. Dat die weer onbetroubaar was, en die grond klam moes ons op ‘n plankvloer slaap – in ‘n onbesette huisie. Hier het Frans du Toit item-beroemdheid verwerf deur om hartstogtelik te snork.

Woensdag het ons daar oorgebly omdat die weer ‘n sielsdemper sou gewees het op die stapgees van selfs geharde ou toerhane. Martin en Frankie het ons besoek, en Ria en Anneke Rossouw het per fiets opgedaag, wat Anneke betref, om klaarblyklike redes. Ons het haar gedurende die hele toer baie gehekel en geterg oor haar liefde “vir” die BTK.

Die volgende dag het ons na Franschhoek gestap, waar ons by die Hugenote-monument ons kossies uitgepak het. Die dorpie was ‘n ware sielsverkwikking gewees vir sulke liefhebbers van die beskawing soos P. Blum wat sy dors vir beskawing ten volste geles het. Hier het Piet Heymann by ons aangesluit, wat die stabiliteit van die slee omvergegooi het. Hierdie fluktuasie het die waarde van ‘n sleemaat laat daal. Uiteindelik het net Abrey en Loot Beyleveld uitgestaan as bolwerke teen hierdie sosialisme.

Daardie aand het ons bo-op Franschhoekpas kamp opgeslaan. Die mans het die kampvuur gekry, wat ongelukkig in die “path of vision” van die damestente geleë was, sodat die dames kon sien wat dit was, maar nie wie dit was nie. Hierdie Mooi Gedagte het Deon so gerus laat voel dat hy die volgende aand hekelvrae hieroor gevra het. Die volgende oggend het Anneke Rossouw ‘n kans gekry om die ondervindings van die poortwag van Pompeii te ondergaan: sy het verslaap, en die tentekomitee het die tent op haar laat val. Dit was duidelik die gevolg gewees van Mooi Gedagtes.

Daarna het ons oor ‘n nekkie gestap na die Wemmershoekvallei. Daardie agtermiddag het Loot Beyleveld ons ‘n praktiese demonstrasie van “kamoeflering” gegee, deur om sy neus met watte en pleister teen die son te beskerm. Later het ons op ‘n trop donkies afgekom en het hulle vasgekeer, waarop Jan de Wit vir ons ‘n voorstelling gegee het van die onderwerp “Ride ‘im, cowboy!” Hy en Loot het albei op dieselfde donkie gespring en hom ‘n endjie gery totdat hy hulle afgegooi het. Daarna het ‘n paar van ons gesing: “Jan de Wit se donkie het ‘n gomlastiekse stert!”

Dit was feitlik ‘n Mooi Gebaar gewees. Op hierdie dag het ons ook kennis gemaak met een van Deon se geliefkoosde liedjies wat daarna baie gesing is: “The animals came in.”

‘n Halfuur nadat ons by die kampplek aangekom het was ons almal omgekrap gewees. Die takke van die eikebome waartussen ons sou kamp opslaan was so laag en inmekaargevleg dat dit onmoontlik was om regop te loop. Verskillende persone het binnesmonds vloekende en met senuweeagtige bewerings takkies van die bome afgeskeur, wat egter druppels in ‘n emmer was. Die walle van die slootjie was so hoog en steil dat dit ‘n probleem was om jou te was. Elke wasser het toe sy eie metode uitgewerk.

Fransie se metode: Trek jou skoene en sokkies uit, en gaan staan in die sloot.

Loot se metode: Gooi ‘n klip in die sloot, gaan staan op die klip wat dan omval en jou in die water gooi.

Abrey se metode: Sit een voet op elke wal en probeer dan om vooroor te buk totdat jy die water bereik.

Peter se metode: Lê plat op jou maag op die wal en skep die water met jou hand.

Abrey se metode besit dié voordeel, dat dit ‘n mens waardevolle liggaamsoefeninge gee, terwyl die voordele van Peter se metode hoofsaaklik deur die Stellenbosse wasmeide besef word. Die beste stelsel was egter dié van Jan de Wit wat lui as volg: Lê in jou bed tot nadat die opstaanfluitjie geblaas het. Jy sal dan uitge-“turn” word en in jou nagklere saggies in die water neergesit word. Hierdie metode is die deeglikste (of die ruimste, of miskien die arrigste) van almal.

Saterdagoggend was “D Day” gewees vir mnr Van der Merwe se varkies, wat ‘n grootskaalse inval op ons kamp geloods het. Hendrik van Rensburg was egter ‘n doeltreffende “Volkssturm” gewees, wat met sy bloedstollende uitroepe “Otjie! O-o-o-tjieee!!” die varke verwar het: hulle het naderhand nie meer geweet of dit hy was wat skree – of hulle.

Hier het Rykie en Annette, sowel as Martin en Bill, by ons aangesluit. Saterdagaand het die dames die mans geserenade, waarby veral Annette se basso profundo uitgeblink het. Dit was egter eienaardig dat Louis Aucamp deurgeslaap het en niks gehoor het nie.

Op Sondag het Fransie sy beroemde vriendelikheid oortref en almal se borde gewas. Hierdie goeie voorbeeld het my so aangetas, dat ek ‘n hele pan skoongeskrop het.

Teen hierdie tyd het dit al geblyk dat die toermense vol mooi gedagtes en mooi gebare was. Veral Deon en Peter het hierby uitgeblink. Dit is ‘n mooi gedagte. Nie Frans of Rynie nie, maar Deon en Peter. Dit is ‘n mooi gebaar. Daardie Maandag het ons na die voet van Klein Drakenstein gestap, oor De Oude Molen. Dit het duidelik geblyk dat nie elke toeraar ‘n vetplant is wat in die sand floreer nie, en troos vir die voetseerte wat op die sandpad opgetel is, is eers weer gevind in die swemgat en die dikmelk van Oude Molen. Daardie aand was die kampvuur uiters woelig gewees – Peter se program. Dit is gevind dat ‘n blokhamer die doeltreffendste middel is om mense lekker te laat sing – en lag (oor die dirigent). Onder die meer woelige items was daar vermatiede uitgawes van “Romeo en Juliet” en “Carmen”. Rykie was ‘n lieflike Juliet in ‘n kamerjas en stapstewels, en uiters gevaarlik – nie slegs deur haar Juliet-hoedanigheid nie, maar veral deur ‘n Oros-bottel wat sy op die kakebeen van die ongelukkige Romeo laat val het.

Die (fl)opera “Carmen” was nog luidrugtiger – Escamillo het deeglik gebulder en gebrul – so deeglik, dat dit soms moeilik was om te onderskei tussen toreador en bul. Don José se moordprestasies was skitterend – so skitterend dat Micaela gehuiwer het om te sterwe, alhoewel Carmen en die toreador so uitgeput was deur hulle longoefening dat hulle baie gou ingestort het. Op die ou end het amper meer mens in die arena gelê as in die sleë.

Maar op Dinsdag was die slagting nog erger – met Rynie en Piet Heymann as Toreadoors. Ons het Klein Drakensteinpiek uitgeklim amper tot by die baken om die regte nekkie en kloof te vind. Twee-uur se kant het ons middagete gehad, waarby Peter Blum amper geborsel geraak het weens sy mooi gedagtes. Nie gelynch nie, nie doodgeskiet nie, maar geborsel. Wat ‘n (betreklik) mooi gedagte!

In Duiwelskloof het ons baie gesing – hoofsaaklik “She’ll be coming round the mountain” (in several shocking new versions) en “One more river”.

Met sononder het ons Pniel en die hoofpad bereik, waar die skoolbus ons opgetel het. In die bus het ons nog vir oulaas baie geesdriftig gesing en mekaar se knieë geklap – tot by die Uitspan, waar Louis, Bill, eiers op roosterbrood, en dikmelk vir ons gewag het. Wat ‘n mooi gedagte!

Vrugte wat die toer afgewerp het:

(1)Rooi neuse, veral Loot s’n: Hoewel hy eers getwyfel het of hy die toer sou geniet, het hy later so ‘n simpatieke sleemaat gevind, dat sy infrarooi uitstralings bo die komberse verander het tot ultraviolet onder die komberse.

(2)Frenologie, die wetenskap van karakter-lees uit die oppervlakte van die skedel – ingevoer deur Peter. Hy het sodoende kans gekry om op ‘n mooi manier vir die toeriste te sê wat hy van hulle dink. Ons het vir die eerste keer uitgevind dat ons eienskappe op ons kop uitstoot in knoppies en bankies. Veral Sosiale bankies is in die meeste gevalle opgemerk – hulle sal binnekort in Jan Maraispark opgerig word. Gelukkig het slegs enkele persone “bumps of wrath” vertoon – en onder hulle was slegs Rykie bly daaroor gewees. Met ander woorde Duidelik beduiweld. In die geval van die meisies het die haarstyl blykbaar die karakter bepaal. Mada het shine gemaak met haar gesplete persoonlikheid. As ‘n item is Martin en Rynie se koppe gelees. In die geval van Martin was dit moeilik, omdat hy so gesteld is op die instandhouding van sy haarstyl. Rynie se frenologiese konstellasie was duidelik gekonsentreer om sy amoreuse knoppie, terwyl ‘n sekere holtetjie by Martin boegoebrandewyn (horresco referens!) verraai het.

(3)Mooi gedagtes en mooi gebare.

Nie nare gedagtes nie – of soetsappige gedagtes nie – maar mooi gedagtes. Dit is op sigself ‘n mooi gedagte. Nie mooi woorde of mooi wangedrag nie – maar mooi gedagtes en mooi gebare. Wat ‘n mooi gedagte om ‘n toerverhaal af te rond!

(Sketsskryfster)

Leave a Reply