Ceres-Tulbagh September 1953

So tussen seminaar ingee en laaste klasse deur het die rugsakke en komberse darem ingepak gekom. Toe die bagasie ensovoorts weg is, was dit maar ‘n kort tydjie na die middag toe. Die treinskof het heelwat avonture opgelewer. So baie harte het weer sover getrek vir Tjaain en saam met hom die vinnige groet van ‘n vriendin geniet om helaas te besef dat dit slegs ‘n afskeidsgroet was. In ieder geval het hy en Tielman dit gaande geag om na hierdie krisis en voor andere latere kritieke oomblikke hulle in die trein se eetsalon te gaan versterk.

Intussen het Hoffie se einste kampvuur al op Wolseley se jukskeibaan verrys. Na ‘n vlugtige ete en kennismaking het almal hul stemme verhef vir gesang en mekaar nog in die tussentyd maar onderlangs verken. Die karakters in ‘n probleem serial is toe voorgestel. Hul was toe nog salig onbewus van die hoofbrekens wat die grootste drama hul sou besorg. Die nag slaap ons onder en bo-op ritselende blare en baie dink met verlange terug aan ‘n sagte matras. Ons getroue gesellin, die maan, word reeds opgemerk.

Saterdagoggend val ons in die pad. Onderweg sluit ‘n groep besoekers by ons aan. By die Kruispad op Mitchellspas word gerus, maar daarna is dit net aanstryk in ‘n besonder warm son.

Op Ceres gekom, vind ons dat die swembad nie beskikbaar is nie. Gelukkig is daar darem ‘n uitweg wat weer daartoe lei dat Sylvia haar baaiklere kwytraak.

Saterdagaand het ons die eerste regte kampvuurprogram. Tjaain se avontuur vang weer shine en die serial karakters begin hulle noodlottige seevaart.

‘n Lekker koppie koffie wek ons Sondagmôre – Tjaain se dinge! Na die kerkdiens in Ceres se stadsaal volg ‘n dag van rus en ontspanning wat vir ‘n hoë mate aan goggajag en dergelyke ontdekkings en oudersoeke gewy word. Die aand waai die wind net woes, maar teen kampvuurtyd is alles stil. Erik Leistner se hand is egter ‘n onderwerp van verwondering. Die maan is nog steeds aan die groei, ons het mekaar beter leer ken en party harte kom reeds in beroering.

Vanaf Ceres stap ons deur die berge na Perdekloof. Die blomme is so mooi dat ‘n mens mooi moet pluk al word Tjaain bitter ontevrede. En die slotte vermoor mos toe ‘n arme slang. In ‘n skitterende item wys hulle by die kampvuur presies hoe hulle te werk gegaan het. Toffie oorleef darem die performance. Reeds by Perdekloof kom die eerste varke ons bespied en Tielman loop toe nog ‘n bloutjie by een. Op Perdekloof bereik die sang ‘n hoogtepunt. Perdekloof sal egter in Eric Bosman se geheue vasgebrand wees. So ‘n hoogtepunt van benoudheid bereik ‘n mens net een maal in jou lewe. Jy was darem ernstig né Eric? Sony bewys altyd dat jy jou nekdoekie byderhand het. O ja en Perdekloof was ook die plek waar daar ‘n gelukkige keerpunt in die lewe van twee geharde oujongkêrels gekom het. Net Graaff is nog te rats.

Vanaf Perdekloof gaan die pad deur die berge oor Tulbagh na Roodesand. Die kamp is hier besonder mislik met twee getroue waghonde en ‘n vark met besonder higiëniese idees. Die toontjiesdokters se werk het baie vermeerder.

Maar raai dié nag sien Tielman mos toe kans om harte te duik. Dis ‘n punt wat die onderwerp werd is. Dit moet iets te doen hê met sop kook in die volmaan! Woensdagoggend lewer die dames weer bewys dat hulle eendag hulle plekke sal volstaan. Heloïse lyk mos toe nes ‘n Papie toe hulle haar uitsleep. Oom Dirk en Helenn kom kuier en ons vier die gaste met Witzenberg.

Die aand word die eerste toeriste ingelyf en die dames kry kans vir skiet. Veral Toffie en André Morkel bring ‘n besondere aangename aandjie deur.

Die volgende oorstaanplek is op Rooiland. Hier staan ons kamp voorwaar op ‘n romantiese plek. Tussen die berge, by ‘n verlate huisie. Ou Ockert skep ‘n pampoenspook wat besonder effektief kon grynslag. Sommige bring ‘n besoek aan Avalon en op Vrydag word ‘n uitstappie na die Sneeugat gemaak. Manie se neus bly amper in die slag en Tielman se baaiklere heeltemal, maar almal geniet die dag ten spyte van geskeurde baaiklere ensovoorts.

Die laaste aand was alweer daar. Theuns Lebofski en andere ontwerp ‘n lieflike uitsleemetode. ‘n Waardige Tjaainse skof roep verskeie persone tot verantwoording. O ja en sien Piet hom nou werklik nie skaam dat hy so erg slee dat sy slee glad sinkplaat is nie!

Te gou is die laaste serenade oor. Die kampvuur brand reeds uit. By middagbrood kom die skeiding toe ‘n groot aantal met die vragmotor vertrek. Die treinreis lewer, hand luck Tjaain geen verdere amoreuse ervarings op nie. Sin-sing stap ons deur Stellenbosch se strate, maar die einde is reeds daar.

Daar is baie wat ons sal onthou van die Ceres-Tulbagh toer September 1953.

Sketsskryfster

Leave a Reply