Ons was sewe-en-sewentig op die trein op pad na Graaffwater. Party het nog oor die afskeid van Ockert daar in die Kaapse Hawe gedink, ander het al begin droom oor die toekoms, maar wat ons in werklikheid saam beleef het, sou niemand vooraf kon raai nie.
Theuns het gereken ‘n goeie begin kan nie kwaad doen nie. Vyfuur Saterdagoggend, toe almal nog rustig in die treinwa op Graaffwater-stasie lê en slaap, moes hy en sy trawante dit uitgil in ons ore: “Ek wil maar net vir jou sê, ek wil maar net vir jou sê, jy kan nog een uur lê!”
Sowat drie uur daarna was ons almal in twee vragmotors en ‘n bakkie gebondel, en die reis was na Pakhuispas. Daarvandaan het die lang stap in die warme son begin. C.L. Leipoldt se graf en ‘n paar Boesmantekeninge daarby het ons nie verbygegaan nie, en die kleurvolle vrugtebome vol bloeisels langs die pad het vir Tjaain weer kans gegee om sy kleurfilms te gebruik. Na middagbrood sonder koffie – party mense het glo interessanter dinge as swart paraffienblikke om aan te dink – het ons aangestryk Wupperthal toe. “The last long miles” was steil afdraend en sonder ‘n bietjie versterkende “Salvolatele” sou ons seker nooit almal daar aangekom het nie.
Sondag en Wupperthal se sendingkerkie sal ons lank onthou. In BTK-uniform het ons een blok van die kerk gevul en ook die gedagtes van die kleurlinge, wat maar aldeur nuuskierige oë na ons kant gedraai het. Die diens was lank, want dit was voorstelling. Maar die kykie in die werksaamhede van hierdie modelsendingstasie, en in die lewe van die Duitser, pastor Dietner, wat soveel kan beteken vir die kleurlinggemeenskap, omdat hy werk onder die inspirasie van die Groot Weldoener, het dit die moeite werd gemaak.
Sondagmiddag was daar ‘n kinderdiens deur die kleurlingkinders self gehou, ‘n diep swemgat ‘n entjie op in die kloof, of lekker slenterpaadjies tussen die netjiese kleurlinghuisies en mooi bloeiselbome deur, om ‘n mens besig te hou – die wat nie lang briewe geskryf het nie.
Maandag moes ons die steiltes waar ons Saterdag afgekom het, weer opgaan – met busse dié keer. As ons terugdink aan die Groot Krakadouw wat ons daardie dag geklim het, onthou party knope en ander praat van intimiteite, maar vir die meeste van ons was die wonderlike uitsig vanaf rotse op wolke en berge darem die belangrikste. Hierdie keer moes ons middagbrood sonder botter eet, maar ons het dit oorleef en nog die aand kans gesien vir komitees-“items”. Miems en haar middagbroders was toe natuurlik so uitgerus na die min werk van die middag, dat hulle die blik kondens kon wen.
Vir Dinsdag se stap het Tjaain ons al lank voor die toer banggepraat, maar hy het toe nog self nie geweet hoe ver ons regtig sou stap nie. Tot by middagbrood het alles nog volgens plan verloop, behalwe dat Louis Heyns se broek met die modderwater aanraking gekom het, voordat hy ‘n sekere meisie oor die stroom kon abba.
‘n Entjie verder het almal skielik tot stilstand gekom. Die grootkoppe het ernstig staan en redekawel. Dis toe dat ons ons aangetrokke voel tot twee dooierige donkies naby ‘n droë kampie. Die donkies is gevang en vier meisies kan sê dat hulle donkie se lyf onder hulle gevoel het, ons vra maar liewer nie vir hoe lank nie!
Die bevindinge van die konferensie wat intussen plaasgevind het, is nou bekendgemaak. Ons het die verkeerde pad geneem. Tussen oom Swart Andries en ons het die Wolfberg gelê. Om na ‘n twintig myl stap nog 1,500vt te klim, is ook weer iets nuuts, en dis mos waarna ‘n mens soek op BTK. Aan die anderkant van die berg was daar ‘n rivier waardeur die meeste kon kom sonder om hulle klere té nat te maak, maar Leentjie en Leonie het glo gedink dat die avontuur nie volmaak sou wees as hulle nie halflyf nat word nie.
Dit was al goed donker toe die slotte op die vasgevalde vragmotor in oom Swart Andries se boord afkom. Toffie het gereken al die manne moes maar help om die vragmotor uit te dra, maar na ‘n ruk het ta darem op sy wiele by die kampplek aangekom, onder luide gesing van “De magtige koning” deur Toffie en sy span sterk manne.
Ons het aartappels geskil, akkerblare daarmee gemeng en begin kook. Tjaain het net duim vasgehou dat ons die vorige rekord vir laat eet (kwart-voor-elf) sou oortref, en dit was ook nie voor elfuur dat Tielman eindelik “Bring julle borde” kon skree nie. Die meeste was selfs nog gewillig om tot twaalfuur vir koffie te wag.
Woensdag was dit weer Wolfberg, maar nie Dinsdag se Wolfberg nie, soos die tuisblyers later tot hul spyt moes uitvind. Ons kon hulle jaloers maak met stories van hoë kranse, nou gangetjies, rotsekamers waar die sonlig maar flou-geel inskyn, van Eric wat op sy rug deur ‘n skoorsteen getrek moes word, van Miems se gille en Leonie wat nie eers weet wie se hand sy in die donker vasgehou het nie.
Teen halfvier het ons weer by die rivier aangekom. Theuns wou nie vir Tielman deur die water dra nie, en waarom sou Leentjie nie haarself aanbied nie? As ‘n mens dan vier jaar lank op Stellenbosch gebly het sonder om iets uit te voer, kan jy mos maar aan die einde daarvan self “hero” speel. Leentjie is toe weer deur die rivier en terug met Tielman op haar rug. Halfpad wou sy hom net ‘n bietjie wieg, en toe wieg hulle albei met klere en al in die water. Tielman moes maar die laaste endjie self wal toe loop.
Die kampvuur van grote dinge was Woensdagaand. Nie alleen was dit damesskiet nie, maar die vyf-en-twintig eerste toeriste moes ook ingelyf word. Almal se siele is voor die tyd op die gebruiklike manier bearbei, maar die grootste sukses is behaal op die ontvanklike gemoedere van Vincent en Ruthette. Die twee het sy aan die proses van doop ondergaan – die een met ‘n baaibroekie aan en die ander onder die beskerming van ‘n sambreel. Dat die klomp na die ondervinding opregte BT-Kaners was, het hulle bewys deur vir die res van die toerders “Want hulle is lekker kêrels” toe te sing en te assegaai.
En o ja, Leentjie en Kie het gesorg dat Theuns sy straf kry vir die oproerigheid van Saterdagoggend. Met die tweede probeerslag het hulle dit reggekry om hom uit te slee.
Donderdag het ons middagbrood gehou by die Maltese kruis. Toe ons laat dié middag by Syferfontein aankom, moes ons hoor dat die kampplek twee myl verder lê. Dit het die medisynekas se brandewyn gekos om almal daar te kry.
Vrydagoggend omstreeks vieruur is ons wakkergemaak deur die eerste reën van die toer. Daar is nog tente opgeslaan, maar die wat buite bly lê het, was nie veel slegter af nie, want dit het nooit sterk gereën nie. Vir oggendete het die reën ook opgehou, maar stappers en vragmotorryers het die reinigende invloed van reënwater goed gevoel voor ons die middag op Citrusdal aangekom het. Nadat ons die hotel se rustige atmosfeer ‘n bietjie verlewendig het en weer koffie uit koppies en pierings gedrink het, kon ons gaan koskook in ‘n agterplaas. Teen halfvyf is ons na Eendekuil-stasie waar daar vir oulaas ge-“item” is. Die “serial” wat eintlik maar twee aflewerings beleef het, is ook afgesluit.
Ons het glo maar bedremmeld en moeg gelyk toe ons vroeg Saterdagoggend by Hamelhof aangekom het. C.P. het glad aangebied om vir Hessie aan haar pa voor te stel!
Maar ten spyte van alles het ons baie om te onthou en baie om te vertel van 1954 se “hooge” toer na die Sederberge.
Heloïse Conradie