Dit was ‘n stil groepie BT-Kaners wat Vrydagoggend by Hamelhof bymekaar gekom het. Die bekommernis van die eksamen was nog duidelik op sommige gesigte te lees. Die busse het egter nog skaars ‘n paar treë gery of dit was weereens die skertsende, singende groepie studente van ouds. Nog ‘n verdere middel tot “opwekking” was die talle waterpistole en ‘n hele waterbom wat Tielman getref het.
Vanaf Grabouw moes ons maar verder voetslaan en het middagbrood langs die pad gehou. Die somerson het skerp op ons uitgebleikte “tere” velletjies neergebrand. Gelukkig het die kronkelende paadjie en geel stoppellande goeie afleiding gebied.
By Monteith aangekom moes ons tot ons skande ontdek dat die kooklepels agter gebly het. Vir daardie ekstra geur het ons toe maar gewone stokke gebruik. Sommer van die eerste aand was almal die ene “spirit”. ‘n Vasvrawedstryd is gehou waarin die tente-komitee die blikke kondens gebuit het. In die soelheid van die naglug het menige bloeddorstige manskiet ‘n swart misdaad gepleeg en selfs ‘n gasvrye padda het Martiens toegelaat om sy slaapplekkie met hom te deel.
Saterdagoggend het ons in effens mistige weer vertrek maar gelukkig het sommige van ons die reën verdryf deur reënjasse saam te neem.
Selfs die rustige atmosfeer en die lieflike natuurskoon kan die arme mans se senuwees nie tot bedaring bring nie. Geen wonder nie, want het Leentjie nie met ‘n voëlnet in die hand rondgestap nie.
Ons het vroeg en warm en taamlik laat die middag by die kampplek aangeland en net mooi al ons klere uitgehang gehad toe ‘n taamlike harde reënbui uitgesak het. Dit het egter net die geesdrif verhoog en ‘n bibberende groep het saam met die vragmotor na die brug gegaan om daar te gaan swem. Die reën het verdwyn, Tjaain het verskyn en alles het weer voor die wind gegaan. Die aand om die kampvuur is weer getoon tot watter oorspronklikheid Theuns in staat is, toe hy sommer so in die eerste bedryf van die “serial” hande-viervoet in die lug “gesterf” het – vermoor deur ‘n bloeddorstige fortuinsoeker. Ook Hessie het getoon wat ‘n uitstekende Juffrou sy sal maak, net solank sy nie ‘n klein Toffie of Theuns in haar klas het, met naaltjies wat lyk soos ‘n klaviertjie nie.
Die romantiese omgewing het definitief ‘n uitwerking op sommige mense gehad. Sou dit die reën wees waarom Hessie vir Toffie aangespreek het as Eddie en Helena en Theuns ‘n brief na Skoonma en Pa na Bloemfontein gestuur het?
Sondag, oorstaandag is die kerkdiens deur die kakiegekledes bygewoon, behalwe die arme kokke wat met toegevriesde koskaste moes sukkel.
Maandagoggend het die lekker ou sandstap na Ourustrivier begin. Die mense was skoon uitgelate en mekaar goed toegetakel met sand en seewater. Na hierdie dag se stappie het omtrent almal gereeld besoek afgelê aan die medisyne kissie en wit gesigte was aan die orde van die dag (die inhoud van die bottel Calamine het vinnig gedaal).
Dinsdag is die witneus bende verder in die bakkende son tot ‘n paar myl buite Hermanus waar kamp opgeslaan is. Hier is weereens aanslag gemaak op die arme mans se lewe, aangesien Miems gedreig het om almal te “tjap”. Ons kan maar elkeen wonder of dit iets met Kirsten se verswakte senuwees te doen gehad het. Die aand het jy oral groepies sien kopkrap – natuurlik komitee-items! Die tentekomitee met Hessie as ‘n ou aia het die blik kondens voor Marie Antoinette en haar makkers gebuit.
Woensdag, oorstaandag is die mans op koffie in die bed trakteer – dit is die wat nie te ver in die bosse geslaap het nie. Na ontbyt is ‘n hele klompie van ons na Voëlklip met die vragmotor, terwyl ander Voëlgat en Grotto strand besoek het. Wat verder bygedra het tot ‘n sakking in die “Calamine” bottel. Hannes, Kobus en Tokkels se goeie daad om mnr. Van Niekerk te trakteer het dan die BTK twee sakkies lemoene en ‘n kas pynappels besorg.
Woensdagaand kan ‘n mens oral of ‘n te vriendelike of ‘n te bekommerde gesig opmerk. Natuurlik damesskiet! Theuns het sommer ysterklou in die grond geslaan toe Leatitia en Alma op hom afgepeil het. Ten spyte van dit alles het die aand baie gesellig verloop, selfs in “Bachelor’s Corner”. Mnr van Niekerk en Tjaain het die slee voorrade aangevul met springmielies en koekies. Sommige mense het nie juis te veel op hul gemak gelyk nie – dis mos dié aand vir die eerste toeriste.
Donderdag het die terug tog na Onrustrivier en sy springende ongediertetjies begin wat egter voor die aanstormende BT-Kaners gewyk het. Hier het Leentjie en Hessie ons weer laat skater deur hul onvergeetlike items.
Vrydag het voorwaar beloof om ‘n baie interessante dag te wees. Kampverdeling is by die mond gehou en verskrik het die seevoëls op vlug geslaan ten aanskoue van die spektakel. Dit het egter nog nie sommige mense verhoed om papnat op Kleinmond (en sy elektriese draad drops nê Leentjie) aan te kom nie.
Die bietjie wat daar die nag geslaap is, was maar ietwat onrustig. Tot laat in die nag het almal weemoedig in die halfdood vuurtjie sit en staar. Sommiges het in die stilte ‘n traantjie geknip, terwyl Miems sommer oop en bloot oë afgedroog het tot Bessie en Friedel se vermaak.
Saterdagoggend word daar egter geen meer spoortjie van weemoed nie. Alreeds vroeg het ons by die plek (op Botrivier pad) aangekom waar ons die busse sou ontmoet. Hier kon Theuns nie die versoeking weerstaan om vir Leentjie in die water te sleep nie. Ook Juliet se herhaalde pogings om Tielman te doop, het geslaag.
Hier, in die helder lug met bome en water as decor, het die “serial” sy “klimaks” bereik. Almal het ongelukkig gesterf – ook die moordenaar.
Net na middagbrood het die busse opgedaag en ten spyte van die drukkende hitte is menige geesdriftige “item” voortgesit.
Die opruimery by Hamelhof het nie so luidrugtig verloop soos gewoonlik nie, want ‘n heerlike sorgelose toer was agter die rug en ons moes swaar afskeid neem van ‘n groepie maats wat vir ons dierbaar, feitlik onmisbaar geword het. Ons kon maar net sê:
“Dankie Maats, vir alles.”
Leonie Pienaar