Donderdagmiddag het al wat BT-Kaner is ook weer agter Hamelhof bymekaar gekom, want dit was weer die begin van nog ‘n Sederberge-toer.
Honderd-en-twintig mense is soos sardientjies in drie busse ingeryg en soos sardientjies het hulle gelyk toe hulle eindelik op Heksrivier aangekom het. Maar dat niks ‘n BTK-gees kon blus nie, selfs nie eers ‘n tekort aan suurstof in ‘n oorvol bus nie, kon afgelei word van die vrolike manier waarop die toeriste hulle bestemming bereik het.
Omdat die eerste Vrydag Goeie Vrydag was, het ons die toer met ‘n oorstaandag begin. Flip het die diens waargeneem en in die stilte wat daar geheers het kon ‘n mens amper nie besluit of jy vir Flip of die hardwerkende kokke die beste gehoor het nie. Tog het selfs Flip hulle seker hulle onstigtelikheid gedurende die diens vergewe nadat hy die eerste mondvol egte BTK-kos, meer deur die son as deur die vuur gaargemaak, geproe het.
Die middag was broeiend warm, sodat al wat leef en beef in die dam op skuitwrakke en in die rivier rondbaljaar het.
Saterdag het daar toe vir ons volgens H.W. se voorspelling ‘n ware “dag van smarte” voorgelê. Ons moes oor die berg Algerië toe. Nie een van ons het kon dink dat ons daardie hele oggend in die bloedige son nie ‘n druppel water sou sien nie. Gevolglik het daar ‘n tweede Dorslandtrek ontstaan. Dit het veral vir Theuns ‘n bittere ondervinding opgelewer, want halfpad ontdek hy toe mos mooi dat hy Leonie êrens verloor het. Gelukkig is sy toe darem weer gevind en het die kleur weer in Theuns se bleek gesig teruggekeer.
Nadat almal hulle trommeldik gedrink het aan die heerlike koel water en versadig was van middagbrood, was die dag van smarte nog nie verby nie. ‘n Paar toeriste het skynbaar te veel water gedrink sodat meer as een nie alte wel gevoel het nie. Met behulp van Koos Oos se bemoedigende woorde en baie medisyne het die slotte toe tog daarin geslaag om voor agt in die kamp te wees.
Sondag was weer oorstaandag en baie het reeds vroeg in die ysige water van die rivier gaan swem, maar meeste het maar liewers vuil gebly as om die koue van die water te trotseer.
Na ‘n heerlike lui oorstaandag het daar ‘n droom van ‘n dag se stap vir ons gewag. Dis seker maar goed dat almal nie geweet het wat ons voorlê nie anders sou die paar moeës seker nooit padlangs gestap het nie. Dit was seker die mees skouspelagtige toneel wat enige van ons nog ooit gesien het. Meer as een het seker gevoel dat ‘n mens behoort stil te bly in so ‘n wonderlike stukkie wêreld. Maar van hierdie fantastiese wêreld was ons reeds vroeg die aand terug in die koue werklikheid van Welbedacht. En was dit koud! Die aand was ook maar ‘n voorsmaak vir wat die volgende oggend nog sou kom.
Die aand met kampvuur was al die kommittees aan die beurt en die kedens deur die kokke gewen met ‘n BTK-jool wat “voete, Velskoene en Folteringe” as tema gehad het. Soos dit ook maar altyd met ‘n jool gaan, was die tamboernooientjies verreweg die populêrste, maar onder hulle het Leroi die koek gevat, soos duidelik geblyk het met damesskiet Woensdagaand. Almal van ons sou graag wou weet hoeveel skiete hy daardie aand gekry het, maar skynbaar kon hy later self nie meer tel nie!
Dinsdag is Tafelberg geklim en vir die meeste van ons wat nog nie met toue geklim het nie, was dit ‘n interessante nuwe ondervinding, behalwe natuurlik dat die berg self seker goed met natuur op die maan vergelyk.
Die aand was ons weer op oom Swart Andries se welbekende plaas, Dwarsrivier. Dit het darem swaar gegaan om honger-honger tussen die rye appelbome deur te loop, maar partymaal kry mens tog die bomenslike reg, soos wel in die geval.
Woensdag en Donderdag het ons toe by oom Swart Andries oorgestaan en daarvandaan eers die Boesmantekenings en daarna die Skeure in Wolfberg gaan beskou. Hier het meer as een se mond oopgehang en moes ons nog ‘n maal ontdek wat die Sederberge ‘n mens werklik bied.
Die kampvuur was nog ‘n hoogtepunt veral omdat die tamboer”noointjies” weer hulle verskyning gemaak het. Ook Sep moes tot sy groot verdriet agterkom dat dit glad nie altyd voordelig is om netso belangrik soos Napoleon te wees nie.
Die volgende oggend het die onmisbare op die BTK ook sy verskyning gemaak naamlik reën, gevolglik moes van ons planne verander word. Al wat BT-Kaner is, is toe op oom Andries se groot vragmotor gelaai en die laaste stap was toe padlangs tot weer op Heksrivier. Hier moes Sterk Koos tot sy eie verbasing ontdek dat hy Leroi so in die stilligheid uitgesit het wat populariteit betref. Soveel so dat hy selfs ‘n naam verandering na Mooi Koos ondergaan het.
Saterdag het ons weer in stampvol busse sing-sing na Stellenbosch vertrek. Die toer is afgesluit met ‘n kafee-toe-ganery waar Tielman tot die groot vruegde van almal, met ‘n yslike angelier in die knoopsgat by ons aangesluit het.
Elsa Bührmann