Dit was die Swartberge wat die BTK-gees vir ‘n besonderse, genotvolle en suksesvolle Apriltoer uitgenooi het en die inskrywingsgetal, wat aan die honderd-en-sestig geraak het, het getuig dat daardie gees so wakker is as wat kan wees. Die vreugde het hoog geloop, maar die toer kon eers volkome werklikheid word toe die bagasie-vragmotor skuins voor twaalfuur op Vrydag, 24 April die welbekende BTK-pakkamertjie verlaat op die eerste skof tot in Kogmanskloof.
Getrou aan tradisie het die twee busse nie heeltemal op die bestemde tye vertrek nie. Hoewel daar ‘n mate van verdrukking in die busse voorgekom het as gevolg van ‘n effense gebrek aan sitruimte was die gees geensins bedruk nie.
Toe die tweede bus om halfnege by die kampplek aankom, was die aandmaal net gereed. Vroeër die aand was Ingrid Schumann alreeds bereid om ter wille van Jan en Chris in ‘n doringbos te spring en sodoende seker te maak dat sy altyd haar eerste aand op BTK sal onthou. Net soos sulke ondervindings onontbeerlik is vir goeie BT-kaners, is reën ook onontbeerlik vir ‘n volbloed toer. Nog steeds getrou aan tradisie het die eerste druppels dan ook die eerste aand reeds die tentekomitee bewus gemaak van die vreugde, maar ook smarte van BTK-behuising.
Saterdagoggend is die nuwe kookpotte toe te vuur gelaat. Die kamp is afgeslaan en die bustoer voortgesit deur Montagu, Barrydale en Ladismith tot kort duskant Hoeko waar laat middagbrood gehou is. Ten einde die langsprekenheid van oom Kosie Jordaan te ontduik – glo uit noodsaak en nie uit enigiets anders nie – is busvervoer weer ingestel ná ‘n klein entjie stap. Die rustige dal van Amalienstein was die omgewing waarin ons die mooi laaste ure van die dag kon deurbring. Die bodem van die vuilgoedgat het egter so ‘n ongewenste, dog gewilde, besoekersparadys geword, dat die gat later die aand sonder meer weggery moes word.
Sondag was ‘n ware oorstaandag op BTK. Terwyl die kokke besig was met hul jeugflaters rondom die kookvuur, het die res om elfuur die sendingkerkie via die konsistorie betree. Dit wat ons daarbinne ondervind het, was mooi en Herman se boodskap het die gemeente, sowel as hul “wit vriende” met sy eenvoud en trefkrag geraak.
Nog steeds getrou aan tradisie, is die middag weer meer kos verbruik as wat daar plek voor was, maar slaap, stap en koeldrank het noodlottige gevolge tot ‘n minimum beperk. ‘n Handige perdekar het ook vir Jurie en sy waterdraers die meer vermoeiende deel van hul plig tot ‘n mate verlig. Die aand kon ons ‘n heerlike naweek afsluit.
Nadat mnr en mev Hofmeyr die volgende oggend die voorreg gesmaak het om in ‘n vuurpyl op te gaan, het die kronkeldraaie en mooi rotsformasies van Seweweekspoort die eerste stap van die toer vergesel.
Enige grimering wat miskien tydens die uitkenningsparade aangewend is, is onverwags afgewas toe reën die slees haastig leeggemaak het en die beskikbare tente, skure en kamers van die woonhuis spoedig vol. Christine en Wilna se vermommings was egter blykbaar só goed dat die oom hulle die volgende oggend vir twee slapende mans op sy kombuisvloer aangesien het.
Maandag stap deur Seweweekspoort. Vir die eerste maal in sy bestaan het die BTK toe op Dinsdagoggend heeltemal selfstandig geword. Kosvoorrade en slaapgoed vir 1½ dag is in rugsakke en ander dra-apparate gepak en na ‘n paar myl busry is die lang pad na Gamkaskloof vanaf die grootpad aangevat. Teen die leer af het een van die dames se band gebars, maar dit was net genoeg om haar volkome fiks te maak vir die kwaai stap wat nog voorgelê het. Middagbrood in die sogenaamde “Nes”, droë vye koop by ‘n vriendelike huisie, ‘n geselsie met ‘n vriendelike inwoner van Shihool en die nag se kampplek word ingerig langs die Gamka onder die doringbome waar alle voedselvoorrade weer versamel word onder die geproklameerde “Kosboom”.
Slees was van velerlei ontwerp – sommige het nie méér ontwerp gehad behalwe as om die ergste dorings te verwerp nie – en het ‘n besonderse arena vir die Komitee-items gebied, wat op ‘n stadium sy dramatiese hoogtepunt bereik het toe die uitklinkende refrein gelui het: “Laat die buile hyl.” Die stof en bietjie reën van die nag het alles nog net weer onvergeetlik gemaak. Miskien was dit die ongewone tipe paplepel, wat sommer van die naaste boom afgesny is, wat die klonte in die oggendete veroorsaak het.
Die roete het ons Woensdag verder geneem al langs die rivier op om weer verder met die busse tot onderkant die Swartbergpas. Reënweer en volkspele met middagbrood is gevolg deur ‘n vinnige stap teen die pas uit en ‘n versigtige afry anderkant af in koue, reën en mis. Naby die Kango Grotte is, vanweë ‘n te nat kampplek, die verdwene luukse van die ou Cango Hotel betrek en slaapplek is uitgesoek met uie- of aartappelgeur na die smaak mag wees. Die kokke verdien die dank vir die middernagmaal wat ons om 12:40vm kon geniet. Die Tentekomitee is omskep in ‘n Behuisingskomitee ten einde ongewenste uie en aartappels op hul plek te sit.
Donderdagmiddag het ons die Grotte besoek en daarna het oom Duke en Tant Hettie ons almal onthaal op verversings. Damesskiet het met skitterende oë gepaard gegaan en skaterende monde was later die aand algemeen onder ou toeriste.
Die sneeu op die berge rondom het snags slaap ‘n genot gemaak, maar die volgende dag moes ons weer verder, en al nader na die einde. Middagbrood is gehou teen Robinsonpas na ‘n ent stap en sonsondergang het ons by die kampplek aan die Gouritz gegroet. ‘n Mooier afsluitingsaand kon nouliks gekry word en die treffende Floppera het alle koue voete warm laat word. Dan nog net ‘n laaste item, regop-sit en oom Duke sluit vir ons af. ‘n Laaste slaapliedjie rondom die kampvuur en dan weet ons dat nog ‘n toer verby is. Die busrit terug na Stellenbosch kan nog maar net ‘n soet nasmakie wees van dit wat die toer vir ons gegee het.
Ernst Stals
LIED VAN DIE KOKKE
(APRIL 1959)
Daar is ‘n hele klomp kwale op BTK
Infernale klomp kwale op BTK
Daar is blare en kuite, daar’s snare en snuite,
Daar’s ‘n hele klomp kwale op BTK.
Daar is ‘n hele klomp foute met damesskiet
Infernale klomp foute met damesskiet
Die ertjies is soppies, die tjoppies is floppies,
Daar’s ‘n hele klomp foute met damesskiet.