Na ‘n nat lente het Gala aangebreek met die mooiste dag wat Stellenbosch kon oplewer. Om tienuur (‘n uur laat as gevolg van sekere dames wat nie betyds kon wees nie) het die busse vertrek. Die padwysers het die weg van die toer aangewys en vandaar is die spoor geslaan na Monteith. By middagbrood het die Ackerman se Ackervrou alle lof gekry vir die spoed waarmee sy ingepak het en ook alle blaam vir die beker wat by die huis gebly het.
By die eerste aand se kampplek het die Bührmans, Schumans, twee Louws en Corrie eers gaan perdry.
Dwarsdeur die toer sal daar gekom en gegaan word. Die toervader, toerleiers, universiteits-koorlede en toerlede sal altyd kom en gaan. Woenie, Christie Meyer en M.J. het die eerste aand gekom en die aand was Woenie om die beurt Jannie Smuts en die Satan, en Hemel het vir hom naam gemaak as trein.
Saterdagoggend het Paffie kwart voor vyf haar oggendbroders wakker gemaak om half sewe hulle werk te kan doen. Dis duidelik nog vroeg in die toer.
Saterdag is die heel dag die gebruiklike watergevegte gevoer deur die gebruiklike mense. Naweekbesoekers en nuwe toerlede het opgedaag en die McFarlane’s het gaan sing in die Paarl. By middagbrood was daar sop en die kondensblikkie-drinkers was gebruik. Die aand om die kampvuur was Piet Hugo gegoen en die dames was in die nuwe damestent beslis ook gegoen.
Sondagoggend is die tente-komitee oudergewoonte benoud deur die meisies wakker gegil en die reën het seker ook die feëtjies se vlerkies natgereën, want daar was geen oggendkoffie nie.
Na die diens in Kleinmond het die Berg-en-Toer-Klub in ‘n Berg-en-Toer-Kar verander as gevolg van die predikant se preek. Mens het verder kort-kort gehoor van kordele van persone wat uit orde is.
Die koorlede het betyds vir die vrugteslaai en roomys opgedaag en van toe af het die leiding van Bongel op Lukie se skouers geval. Die kosmoeder se ouers het ook opgedaag en dit gewaag om eers tee te drink en ook vir middagete te bly.
Maandagoggend is daar ‘n ernstige poging aangewend om die oggendbroders se gees ‘n bietjie te demp en ‘n paar was deeglik nat toe hulle onder die kraan uitkom. Vyr-en-twintig persone het vir Piet Hugo na die pragtige “cascades” vergesel en Ingrid Sikkel se baaikostuum of gebrek aan baai kostuum het die middag by die swemmery baie aandag geniet, Henkie was baie hartseer toe hy sy pa moes vergesel na ‘n vergadering en die BTK moes agterlaat en sy pa moes belowe dat hulle weer sou terugkeer.
Die slegsêwoord “jou haas!” het die aand grond gekry – die kostent het wortels uitgedeel vir sleepille!
Dinsdagoggend is die eerste drie myl Kleinmond toe speel-speel afgelê. Daar is die skoene uitgetrek en verversings geniet en die res van die dag se stap was “lekker by die see”. Die twee kanariegeel P.S.V. rugbyspelers het solank geoefen vir die slagting wat nog in die toekoms gelê het. Vooraf is gewaarsku dat Botriviermond sou oop wees en die mond was toe oop. Diegene wat nie swemklere gevat het nie, moes maar oorkom so goed hulle kon. Aan die oorkant moes die arme volkspele maar weer dien as warmmaakmiddel.
Braam is vooruit-gestuur met die vragmotor sodat middagbrood vroeg kon plaasvind – miskien omdat daar van die kampplek nie meer skietgate gegrawe mag word nie – maar die kampplek het vir Braam weggeraak en middagbrood geskied toe laat met koeldrank in plaas van koffie (een van die kleiner revolusies van die revolusionêre toer). Magriet Bruwer het, herstel van haar duitse masels, by die toer aangesluit en Oom Tjaain en Henkie het teruggekeer met ‘n splinternuwe MG-karretjie.
Woensdag is daar gestap tot by Hermanus waar soos gewoonlik eers melk gedrink en sleepille gekoop is en vandaar verder kamp toe. Hollie en Toffie het die BTK gaan verteenwoordig by die besoekersburo van Hermanus.
Vroeg-vroeg Donderdagoggend het die feetjies Bea en Trix koffie rondgeneem. Daar was nie genoeg entoesiasme vir die berg nie. ‘n Aantal persone is Voëlklip toe om te gaan verbrand, ander is dorp toe en nog ander het die bootjie by Maanligbaai gaan haal. Na middagsop wat Piet Venter en Hannetjie gebrou het, is ‘n klomp weer die kloof in en is daar ook weer geswem. En so het die senutergende Die-dag verbygegaan.
Die aand het omtrent 10 mans kom vra hoe ver die kos is. So ‘n oorstaandag maak mens darem honger! Aangesien dit damesskiet was het kosmoeder Elsa die fluitjie by Eben wat nou aan die leiding was, gekry en die “vat julle borde en kom queue” gesê. Die skieters en die geskiettes was ewe deurmekaar. Na die geweldige spanning wat damesskiet altyd voorafgaan, is die “stew” na behore geniet. Dan was dit ook nog inlywing en eerstetoeris “items”. Die ‘verbrande’ “items” was ‘natuurlik’ maar flou en tydens die seremonie het die bloed vrylik gevloei. Lukie kon amper nie bybly met grafte grawe nie.
Op hierdie stadium het nog ‘n tekentjie van revolusie in die BTK sy verskyning gemaak – pragtige pienk film.
Bootjies is sedert Mosselbaai-toer in April meer bekend op BTK en Vrydagoggend is daar weer van ‘n bootjie gebruik gemaak om tot by die sand te kom vanwaar gestap kon word. Daarna was dit weer ‘n stap “lekker by die see” en by die halfwegstasie Kelders is daar verversings geniet. Die eerste keuring vir die groot wedstryd tussen die dames van die Suide – die Noorde het ook daar plaasgevind met Bernhard Louw as sameroeper van die keurders.
Saterdag, die dag van die groot wedstryd, het eindelik aangebreek. Die spanne is gekeur en gekies en die spanning het hoog geloop toe die dames eindelik op die veld draf. Onder die bekwame aanvoering van kapteine Corrie de Waal en die “coach” Lukie van der Heever het die Noordelikes eerste punte afgestaan toe Alma Retief, uitblinker van die Suidelikes ‘n pragtige drie gedruk het. Na rustyd het die Noordelikes net so ‘n pragtige drie gekry aangeteken deur Hildegard Schuman. Albei spanne het puik vertoon en hulle kon hulleself gelukkig ag dat die ander span nie weer punte gekry het nie. Dit was ‘n pragtige skoon wedstryd behalwe vir ‘n ligte onenigheid toe die Suidelikes verkeerdelik gemeen het dat hulle ‘n halwe drie moes kry toe Tillie gaan druk het met ‘n halwe bal.
Die span wat na die wedstryd op die veld gehardloop het, het ietwat verskil van die vorige en die rugby wat hulle gespeel het, ook. Na ‘n bloedige stryd het die Suidelikes die wedstryd 12 – 6 gewen.
………….. En intussen het die kos by die kookvuur rustig alleen-alleen voortgekook.
Nou het die dogtertjie Sonja ook by die kamp aangesluit.
Sondagoggend het Jan Acker in die kerkdiens elke BTKaner wat daar was, gehelp met sy soeke na die ware mens deur die liefde van God en die seën afgebid op die mooiste vereniging van Stellenbosch.
(En toe was dit die laaste kampvuur)
Die vuurtoring by Dangerpoint is die middag besoek en die aand was daar ‘n revolusionêre ete van “tjou-tjou”-slaai. En toe was dit die laaste kampvuur – vir sommige die laaste van die toer en vir ander die laaste van alle toere.
Later het mens vir die laaste keer in jou slaapplek gelê en die flitsligte soos vuurvliegies sien slaapplek toe kom, vir die laaste keer na die “serenade” en die krieke en die branders en die wind geluister; omring van BTK-maats, die beste wat daar is.
Die laaste oggend word daar foto’s geneem en totsiens gesê en afskeid geneem. Ingrid Schumann het haar BTK-wapentjie aan Sonja, as aandenking van haar tydjie onder die BTKaners, gegee.
En toe word daar weer gestap tot Gansbaai waar die busse sou wag. Die klein bussie het by Botrivier gebreek en 15 BTKaners het eers na die kiste skoon was om sesuur se kant op Stellenbosch aangekom, want soos Danie vroeër gesê het “die armer stadsraad, die wakkerder die verkeerskonstabels” en die groot bus se bestuurder het volstrek geweier om sy bus te oorlaai.
Op Stellenbosch het die klomp S.O.D.’s eers gaan bevestiging kry dat mens ‘n diploma sonder om iets te doen, kan bekom en die graadmense het gaan uitslae kyk. Maar kiste was, was die grootste taak om van 15 brode ontslae te raak.
En toe is die pakkamer toegesluit vir 1962.
Idil Gerryts
(vir Sketsskryfster)