Dit was voorwaar ‘n blomtoer. ‘n Toer verryk met die prag en skoonheid van Bergrosies, Onderrokheide, Oumakappies, Skaamrosies, Hangertjies, Bobbejaantjies, Sonnedou, Kalkoentjies, Bongel, Jan & Piet, Dave, Bea, Jeanne, Bernard, Piesang, Frambosie, Spasies en sommer nog ‘n mengelmoes van ander soorte. En elkeen het sy eie besondere aantrekkingskrag behou onderwyl onder mekaar meegeding is om die mooiste geur en prag oor alles en almal te strooi.
Die stap het begin by Franschhoekpas. Voorwaar begin die toer dan ook op ‘n stywe pas. Die aand op Mont Rochelle kuier W A de Klerk by ons. Sy groot vriend Pat McTavish besluit egter om hom by die toer aan te sluit. Nogal ‘n tawwe klong hierdie McTavish, te oordeel na sy veelvoudige wedervarings. Nouja, het die aartappel maar liewers in sy kous gekom as in sy keelgat! Ook trap die olifante diep spore in die botter om die kampvuur.
Al was die kostent die aand te lui om te staan, en al het die betraande nag die toeriste in die tente en op die stoepe gehark, het die roep “opstaan” tog nog almal vinnig uit die vere gelig om die nektar van ‘n kommerlose dag in die berge te kan geniet.
Nadat Eben se klonterige pap afgewurg is, die tente netjies toegerol is en die wa-laaiers die bagasie op die lorrie gelaai het, het die bevel “ons stap nou” ‘n tou van rooi en khaki “gespin” uit die bondel BT-Kaners in die kamp. Ewie en Dok het mistroostig aanskou hoe die tou dan in die mislike berge verdwyn. Toe die perd later sy kop uit die mis gelig het, het Simonsberg en Tafelberg uit die verte aanskou hoe die gewillige pakesel, Peppie, opgesaal word met die nou onnodige reënjasse.
Die BT-Kaners se sang gemeng met die geruis van die watervalle en die getjirp van die voëltjies, is van die kranse terug ge-eggo en ons kon in die heide dartel soos jolige nee, want nou toer ons darem!
‘n Steil grasbepolde helling word gou verander in ‘n roltrap met die gevolg dat almal dronk-dronk en stukkend by ‘n watervalryke klofie tot stilstand kom. Sarel se stokke kou, het hom laat besef hoe naar die lewe soms kan wees – min het hy egter geweet dat hy met die inlywing nou sou klippe kou! En Gawie besluit toe mos om onderwaterse foto’s met Kosie se kamera te neem!
Die tyd van die dag dat ‘n mens sou verwag die koeie nou kraal toe sal kom, is luid begroet met liedjies wat lui-lui oor die waters van Stettynskloof swerf. Gielie, Ernst, Deon en Piet het hul aankoms, al wiegend op die blou waters dopgehou vandat die eerste rooi stippels die berghang bevlek het, totdat die groep vlakby in die water weerskaats is. Die twee “spioene” aan die verkeerde kant van die dam is dan ook terstond gered deur die bootmanne.
Die talle panliede by die laat aandete het verkondig dat die kokke se poging nie vergeefs was nie. Spoedig was almal toegewikkel in hul slees. Toe die dak egter begin lek, talm almal ‘n bietjie lank na Moeder Natuur se sin, totdat sy haar humeur verloor en almal dan met harde donderslae en flikkers vir ‘n kort lampvuur in die tente jaag.
Eben se belofte van feetjies wat koffie sou bring, was net halfpad waar, want die pragtige sonnige Sondag word begroet met die laggende feetjie, Lettie, en die goor dwerg, Koos. Hoe lekker is dit nie na so ‘n innerlike versterking, om jou hande welbehaaglik agter jou kop te plaas en met jou tone in die snoesige slaapsak, rond te vroetel totdat die geskal “opstaan” jou dagdroomnewels laat opklaar.
Onder die beskermde brug luister ons die dag na die inspirerende boodskap van dominee Piesang.
Die dag se vreugde is verder ge-oes by die swemgate in die rivier en deur die uitstappies na die damwal, terwyl die luiaards op hul blaasoppies rondgeskanier het.
‘n Goedgekamoefleerde mosterdpil, keurig voorberei deur die sjefs Ernst en Bongel, laat Lukie blindelings by die kostent uitstrompel om dit so vinnig moontlik in die sandwal te gaan begrawe.
Met ‘n gesteelde aartappel uit die slaaipot dui Andries die weg van McTavish aan. Eben se pessimisme laat menige se gedagtes hink na ‘n veilige posisie “as die damwal breek …………..”
Die Sondagaandstemming in die skoorsteenslee van Eben-hulle bring mee dat hul tjop-tjop verhuis na ‘n beter oord. Woenie-hulle se sombere item die aand laat die gedagtes die vonke uit die vuur volg terwyl hul die ruim in woer-woer.
Voordat ‘n sagte “nag dames” slapenstyd aankondig, trou die psalmgesang met die geruis van die bergstroom, om dan dartelend en swewend die stilte van die nag op te soek.
Hoe sorgeloos begin so ‘n Maandagoggend op toer nie, sonder die ru geskal van ‘n wekker om jou te herinner aan ‘n agtuurklas! En watter tinteling die bloed veroorsaak so ‘n wolkelose dag nie, wanneer hy jou uitdaag om in sy duisternis van kommerlose oomblikke te kom deel! Ook nie lank nie of die groep besprinkel die spieëlgladde oppervlakte van Stettynskloofdam met hul kleure van rooi en khaki. Die rebelse gras en struike by die Branderrots word gou gestoomroller met behulp van die “magtige koning” sodat die groepfoto geneem kan word.
Die bergrosies en die verskuilde grond proteas maak die andersinds moeisame helling gou mak, totdat die groep bo-op ‘n nekkie tot stilstand kom. Terwyl Sneeukop en Du Toitspiek stilswyend toekyk, draal Eben se ernstige waarskuwing oor die groepie. Die nou pad tussen die brandkolle word dan sorgvuldig gevolg totdat die veiligheid van die volgende nekkie almal ‘n rukkie laat talm om die oorsaak van hierdie grusame vliegtuigramp te soek.
Die blommejagter, Elna, besluit om haar belangstelling meer toe te spits op die verskuilde vestings van die rare soorte – gevolglik wip sy van orgidie tot orgidie!
Lettie se ontdekking van ‘n kruis tussen ‘n sprinkaan en ‘n kriek in die koffie by middagbrood het Ronél se noodsisteem gillend aan die werk gesit. ‘n Kalme Anette het die gedrog-gogga egter sorgvuldig in haar sakdoek toegedraai sodat sy dit kon saamneem vir haar insektarium.
Die gelykvlakte na middagbrood gee vleuels aan die moeë voete van die BT-Kaners. Slegs die kronies-moeë klompie vind ‘n gulde geleentheid om hul moegheid te kamoefleer deur ‘n aktiewe belangstelling in Piet se kanonskote wanneer hy die blomme skiet. Die Protea cordata, die pragtige persgetinte spinnekoporgidieë, enkele soorte Serrurias en Tolbos was ‘n paar van die bekende bestanddele van die nagereg van die dag se ryk blommedis.
Laat daardie aand drup die BT-Kaners in groepies by die kamp in, en word deur Oom Tjaain verwelkom wat ook nou by die groep aansluit.
Die aand om die kampvuur sien ons die eerste aflewering van die “serial”. Wie sal ooit vir “The right horrible” Bandaloos van Ugandaloos vergeet, wanneer ‘n hoesbui sy mond dwing om te pruil, sodat dit kompleet lyk of hy besig is om ‘n misvuur aan te blaas!
Wanneer die groep reeds saamgehurk sit om die kampvuur vir die afsluiting, verduister Bongel sy motiewe deur die lampe agter die slees weg te steek, en homself dan goed te halp uit die hulpelose sleepilblikke.
‘n Koor van dames het die oggend vir Bernhard Klip Hudson so vrolik toegekoer dat hy skaam-skaam sy rug op hulle gekeer het en ewe verleë ‘n paadjie tussen die klippe oopgeskop het.
Met die rûe krom gebuig, word die paadjie onder die bome langs die Kromrivier gevolg, totdat die helling die tou weer in stukkies van rustende groepies breek. Die kolonnade van rotspilare op die plato roep die herinnerings van die Sederberge so in die gedagtes van die slotte, dat hul die spoor skoon byster raak. Die held, Jan Dup, spoor hul weer op waar hul verwese op ‘n klip die gevaar van die naderende mis betrag. Die helder poele by middagbrood spoor die meisies aan om op ‘n heel natuurlike wyse met hul kaal tone in die water te ploeter.
Die modekoningin, Tildeke, het vir Frambosie skoon in ekstase gehad met haar natuurlike hoed, saamgeflans uit ‘n droë protea-blomkop. Magriet en Ronél se skoene bars geheel en al oop, en terwyl die water daardeur spoel, was hulle nie altyd seker of hulle binne of buite hul skoene loop nie. Piesang se knie het so opgeswel dat dit gelyk het of daar ‘n aartappel insit. Die katdorings en ander krap- en steekbosse het kunstig abstrakte sketse op die dames se bene geverf. Die model Marie Malan, het later geweier om verder as skilderdoek op te tree en het Leon gedwing om te kyk of daar nie ‘n ander weg oop is nie.
By die kamp die aand het die jood, Bongel, sy negosieware op ‘n knap wyse aan die toeriste afgesmeer. Dit was ook natuurlik komitee-items en reeds voor die ete-fluit geblaas het, het die skaterlagte van die groepies ‘n aanduiding gegee van die hoë gehalte wat verwag kan word. Die graspolbedekte heks, tower die blik kondens vir die blikwassers uit die keur-komitee onder sterk mededinging van McTavish met “sy” marmite-snor en staalburger met sy Panther.
Woensdagoggend was die mis so dig dat die meeste toeriste op pad na die kookvuur verdwaal het met die gevolg dat daar nie ‘n kworum was vir Eben en Jan se pap nie. ‘n Reddingsgeselskap onder voering van Cowboy Peppier het toe gewapend met blikke en blikke water die dameskamp binnegegalop. Laatslapers is onmiddellik gelaaf, sonder om mis te gooi totdat hul kekkelend en kraaiend soos nat hoenders uit die vere gepeul het.
Woensdag is natuurlik dié dag van die toer! Vat nou maar die manne byvoorbeeld. Hulle weier dan skielik om die baard te laat oorstaan; hul trek skoon klere aan; hul maak hul ore skoon – en dit net om seker te maak dat hulle in die visier van die regte meisie kom! En die meisies! Selfs die volgende dag het die koffiewater by die C.S.V.kamp nog na “shampoe” gestink!
O ja, en dan het die tyd ook weer ongemerk nader gesluip dat die offers aan die draak van die wraak gebring moes word. Ambrosi se oë het geglinster van louter genot by die aanskoue van al die slagoffers.
Toe die lorrie na Wellington vertrek vir die dag se inkopies, was dit oudergewoonte gepak met die tjokletvlieë om alles en nog wat te gaan aas.
Oom Tjaain en ma Elsa se heerlike boontjiesop, deurspek met allerhande geurighede het die kamp in ‘n weeshuis laat verander, want menige “Oliver Twist” het na ‘n tweede porsie kom vra en die tekort aan brood is luidkeels verkondig.
‘n Verwarde Hans daag ‘n uur laat op om koeldrank te maak. Skoon gefrustreerd besluit hy toe om maar by Valerie te gaan pomp vir damesskiet. Sy oordrewe poging lei tot ‘n uitsleep helder oordag.
‘n Harwar ontstaan toe Elsa die fluitjie die aand blaas. Marié Malan wil nog weet of sy “eggenstig” is, terwyl ‘n malende, fladderende massa net spook om ‘n slagoffer onder skoot te kry. Magriet probeer ‘n nuwe skietmetode uit: Jy dam jou keuse vir die aand by en met die woorde “Ek skiet jou” gee jy hom so ‘n lekker klap op die boud. Val hy van die lorrie af dan weet jy hy het vir jou geval. Corrie le Grange se skiet het heeltemal ‘n probleem geword toe hy al om die groep op die lorrie tol. Gelukkig daag daar darem ook nog drie besoekers op wat sonskyn in die hoekie van eensames bring. Anette se oorywerige tegniek word gepootjie deur ‘n nuuskierige wortel, maar haar geval word met die susterlike hulp van Trixie toe bekroon met die Prins, Gielie die Bielie, met ‘n lag soos ‘n mielie.
Eben weet ook al net waar om sy skoorsteenslee af te pen. Toe die roet van die vuur en die goor items van die aand te erg word, het die sleevervoerkommissie binne die voorafbepaalde drie minute hul “portable”-slee bokant die wind opgeslaan. Die program van die aand het weer so effens begin skop asof daar tog lewe in is toe die klompie, magtige koninginnetjies ewe kordaat op die oortreders afstorm. Eben en Bongel besluit om soos skoothondjies die uitsleeppogings af te skrik.
‘n Bleek maan het bekommerd oor die Bainskloofse berge geloer en kort-kort sy kop droewig agter die beskermende mis verberg, nes asof dit bang was om die grusame verminking van die eerste toeriste te aanskou. ‘n Nuwe resep vir die oorlewing van die inlywing is ook uitprobeer. Die volgende word benodig: Een blik water, droë hout, vuurhoutjies, ‘n wegsteekplek vir bagasie en ‘n spookhuis om die wrekers af te skrik! Vir nadere besonderhede in dié verband, nader vir Sarel en Roché!
Sarel se gebed van die oggend is toe verhoor en geen vlae het halfmas gehang na die groot gebeurtenis nie.
Terwyl ons besig was om ons tussen die vere te wikkel het ‘n verwoestende swart Suid-oos alle spore van die aand se drama uitgewis. Net asof hy gewag het totdat almal goed ingesluimer het, het hy sy woede geloods op die weerlose damestente en die een na die ander platgestorm. In die wanhopige stryd om selfbehoud tussen die chaotiese mengsel van pale, seil, toue en sand, voer Elsa en Magriet ook nog ‘n verbete geveg om die beskermende warmte van ‘n kombers. Redding daar uiteindelik op wanneer Eben en sy manskappe stelling inneem teen die windmaker vyand. Nog twee maal die nag word Eben uit sy slaapsak gediep voordat die rus van die nag sy kragte vir die volgende dag kon herstel.
Die sliertend koue windjie van die volgende oggend hark almal soos droë blare op ‘n bondel by die kookvuur. Skaars het almal wakker geword of die trompetgeskal “ons stap nou” sluit die deur om agtuur oop vir die langste dag van die toer. Al skansend teen die aanslae van die bergwind word ‘n paadjie getrap tot by die elfuur middagbrood. In die oorlogsvoering tussen Sarel en Bernard trek Sarel die meeste voordeel uit sy natuurlike voorkoms. Waar Bernard nog ‘n struik vir skuiling moet gaan soek, hoef Sarel net plat te val dan skuil hy al klaar agter ‘n bos.
‘n Onbekende rankprotea wat ‘n wakende oog hou oor die Wamakersvallei, het die ywerige blomme-liefhebbers op hul knieë gedwing.
‘n Klein klompie yweriges het met hul krete van “storm Majuba” die laaste vesting van Observation Peak oorrompel.
‘n Lui-lui skemeraandrokie uit die kamp dwarrel vooruit om die voorste linies te verwittig dat stomende kool, wortels en aartappels tesame met geurige maalvleis reeds deur die ywerige Bainskloofstappers voorberei is. ‘n Tweede verrassing begroet die spitsgroep toe Eben se fluitjie die manne hul laaste kragte laat opoffer om ‘n feetjie vir die sleetjie te skiet. Die moeë en verslane gesigte laat Eben besluit dat ‘n goeie rus in die slaapsak beter is as een in ‘n beknopte slee. Die vonke van ‘n rebellie slaan egter hoog op teen die aandskemering met die krete “ons wil slee – ons wil slee ……….” totdat Eben se rotsvaste besluit om te verkrummel en in duie stort om plek te maak vir die liefde en harmonie van ‘n slee.
‘n Bekommerde Peppie neem die lig van Afrika saam op sy soektog na die slotte. Terwyl Emma seëvierend op die skouers van die bonkige Peppie wieg, was haar kommentaar seker: “Emma, dit was ‘n tawwe stap vir ‘n begin!”
Pieter en Marlena, die slotte van die dag, het so heg gesluit dat hulle met die aankoms by die kamp nouliks kan ontsluit.
Na so ‘n ontsettende lang dag is dit vanselfsprekend dat almal geestelik en liggaamlik uitgeput sal wees en gevolglik het die dokters en psigiaters gefloreer om die kampvuur die aand. Piet Hugo was glad “gghroen” in die gesig! Piesang was net bly dat Flip se duif nie ‘n koei was nie. Ook maar goed dat die talle olifante wat vroeër die aand om die kampvuur gewei het nie ook vlerke gehad het nie. Die verskyning van McTavish in sy skotse mondering het nou ook vir BTK ‘n bedreiging geword.
Die eerste lumier van die dag en die aansporing van die BTK wekker was nie genoeg om Eben uit sy slaapsak na die pappotte te dwing nie. Toe moes sy assistent die leisels neem en in verskeie kringe word die mening gehuldig dat skaam Jan sy hande voor sy oë gehou het terwyl hy tussen die slapende skoonhede rondgestrompel het op sy uiters lang soektog na die kosmoeder.
Op hierdie voorlaaste dag steun die toer ook al meer op sy kierie. Die as van al die verlate kampvure het nou ook al meer geword as die vonkelende vure wat nog voorlê. Terwyl die warm as van die kookvuur toegestrooi word, word ‘n swerwerslied aangehef om die velde voor te berei vir die koms van die groep. Gou-gou word vir oulaas ‘n draai deur die kamp gegooi voordat daar ook vaarwel geroep word aan Tweede Tol.
Die maat van ‘n marsliedjie en die kners van die stewels op die gruis smeer vrolik saam om die entjie padstap op te rol totdat die magnetiese krag van die berge die groep weer onttrek uit die beskawing. Al kronkelend met die klofies, onderdeur die watervalrots, tot by ‘n rusplekkie op die rotsblokke volg ons nou almal ons leier, Piet Hugo.
By die talle rusplekkies word al hoe langer getalm terwyl die oë saam met al die prag herinnerings oor die berge agter ons sweef. Dan beman ons die skip “Herinnerings” met ons gedagtes om die golwende getye. Skuimbollend te trotseer, totdat die eiland “Obiqua” bereik word. En op hierdie eiland is ‘n besondere skat weggesteek. ‘n Skat van witblink pêrels ingegrendel in ‘n mosaïek van kristalhelder Jaspis en vonkelende Beril, Spotumien, Ametis en Topaas met die rante van gestreepte Tieroogkwarts, terwyl die voetstuk van suiwer goud en silwer glinster. En elkeen hiervan versinnebeeld die talle individue, van hierdie besondere toer, waar toe elkeen se karakter en eienskappe bygedra het tot die glinstering daarvan.
Die pragtige waterval by die laat middagbrood het skepties neergekyk op die moeë groep wat soos vrugte op ‘n droogbaan uitgestal was. Die operette groep wat die padstap verkies het bo die bergpad het die blye boodskap gebring dat die kamp net om die draai lê.
Vir oulaas word die skaamrosies nog op die selluloied vasgelê voordat die laaste kamp op Elandskloof binnegestap word. Vir oulaas sweef die panliede oor die kamp terwyl almal hulle knuppeldik oplblaas met die heerlike “stew”. Vir oulaas weergalm die drie eggos vir die kokke voordat dit ook weer weggepak word in die skatkis van BTK-tradisie.
Met hul besondere skiete ingepak in die manne se slees, glinster die bodem van die sleepilblikke dof deur die laaste oorblywende sleepille. Heel pittige items maak die aand kort. Kosie en Lettie het weer kom toer en toe was dit natuurlik weer “sulke tyd”. Op heel knap wyse het die floperette groep hul ruikers van stinkende bloekomblare verdien. En dan breek duistere oomblikke aan vir Eben en Bongel! ‘n Swart bende sak op hulle toe en sleep hul tenstand voor die beskermheer van die orde. ‘n Sinistêre skouspel word afgespeel in die gedompte lampe wat hul lig wanhopig na die hemel werp. Op hierdie wyse word nog twee nuwe ridders by die orde gevoeg.
Met die tweede koffie van die aand kry die laaste kampvuur sy tweede asem. ‘n Paar ou items word vir oulaas uit die skatkis van tradisionele items gediep voordat ons almal stil om die kampvuur bondel. Terwyl ‘n vlammetjie telkens uit ‘n rooi kooltjie spring, klim ons gedagtes op die slaapdeuntjie bootjie om al die mooi gebeurtenisse van die toer te gaan opsoek. Oom Tjaain se “nag dames” val op dowe ore en vir oulaas wend die lied “Nog ‘n toer is verstreke ………………” op die wieke van die wind gelaai voordat almal traag die kampvuur verlaat. Die pyle van die soete dameskoortjie maak die harte week met die woorde:
“Slaap BT-Kaners vir oulaas vannag
Onder die maan en die sterre.
Môre vroeg kry jul van Eben se pap
en dan gaan almal weer huistoe.”
‘n Moedige poging van die manne om ook hul eie wonde aan die walied te heg is egter doodgesmoor met snorke uit die dameskamp. Tog het die paar wat nog wakker was met huule flitsflikkers meer uit die manne probeer wring.
So breek dan ook die laaste dag aan. ‘n Dag waar die son besluit om homself liewers in sy miskombers te wikkel.
Jan Dup se leuse “Sweet 21 – and never been kissed” word terstond begrawe deur sowat veertig van sy aanhangers. ‘n Spesiale vuurpyl aan Jan en Piet vir hierdie toer laat beide ‘n miertjie op die grond soek, terwyl die stewelpunte in die sand rondkarring. Ook die eienaars van Elandskloof verdien hul vuurpyl vir hul besondere gasvryheid en tegemoetkomendheid.
‘n Enkele vrolike deuntjie laat die “spirit” kort-kort vir ‘n wyle opvlam, maar die muur van die toer was reeds nie meer. Die twee busse aan die einde van die pas het die skimme van die akademie laat opdoem.
Soos die reën van hierdie laaste dag ons voorpunte deurweek het, so het dit ook die aarde deurdring sodat die plante van die veld kon uitbloei; om hul geur en kleur oor die velde heen te versprei. So het ons nader in die Hemel ook hierdie toer gevoed met Sy Liefde totdat dit uitgebloei het in die skoonste kameraadskappe, die mooiste herinnerings en in sorgelose vreugde.
Pieter Venter &
Elsa Smit
(vir Sketsskryfster)