Vrydag, 29 Mei:
Sommer by die pakkamer al is dit “Ons stap nou!” en Eben sorg ook dat daar klokslag half-drie gestap word. Die eerste blaaskansie kom darem lekker gou, en wel net om die draai by Coetzenburg-poskantoortjie. Janee, die toer mag nou wel kort wees, maar hy’t darem tjaps. Die arme poskantoormannetjie het nog eers Hermanus se streke van geen-tjaps-gee-nie probeer uithaal, maar die khaki-en-rooi menigtes wat so hul gebou binneval, het hom en sy kollega gou hul fout laat insien, en chip-chop is almal geholpe.
Toe word die pas sommer knap vinnig aangegee. Van “smoke-breaks” en rus-rus stap was daar by die voorhoede beslis geen sprake nie. Die half-ses groep het self sommer so draf-draf gestap, maar in die donkerte het hulle darem nie die kamp misgeloop nie.
Terwyl die miswolke nat-nat aangewaai kom, seil die maan ook agter Katedraal-piek uit om die slee- en item-bedrywighede goed te slaan. Tot laat nog word daar om die kampvuur gesit, want elke kosbare oomblik van die toer moet geniet word voordat dit alweer verby is.
Saterdag, 30 Mei:
Die maan het ook nog net ‘n ou klein entjie aangeskuif, toe is dit alweer opstaantyd. Almal klim maar moeilik uit hul slaapsakke, want om so in die donkerte op te staan, is darem erg.
My jene, en net na oggendbrood, hier kom Kiesie en Bennie aange”stroll”. Hulle het toe regtig ‘n nag vol benoudheid agter die rug. Hulle is so laat uit Stellenbosch weg, en toe moet hulle van die hek af stap. Die kampplek bly toe ook net weg, en hulle slaap toe eers ‘n stukkie; en toe dit lig word, kon hulle sien waar hulle is – ook glad nie te ver van die kampplek nie.
Eben en Tielie lei, en teen die eerste steil opte wag hulle darem elke nou en dan vir die ou agterosse om by te kom. Die eerste stuk waai die wind ook nog kwaai, maar gelukkig verkies die wolke om net oor die bergtoppe te kuier, en nie af te daal en te reën nie. Veral bo tussen Katedraal se rotspunte kon hulle nie besluit of hulle wil op- of afgaan nie.
Van bo van Assegaaibosnek daal die klim steil af al in die pragtige kloof. Al in die rivier af word daar ge-klim-spring, en natuurlik is daar menigeen wat uitvind dat die geringste mistrappie selfs meer nog as net nat skoene tot gevolg kan hê.
Middagbrood self is net so ‘n ingewikkelde affêre. Dié wat by die brood is, is nie by die koffie nie, en in die proses om dan daar te kom, stort hulle en hul broodjies weereens in die water. Maar nouja, enigeen kan mos in die koshuis gebly het om by ‘n tafel te sit en eet en bedien te word.
Na ete word die vuur ook op ‘n unieke manier doodgemaak. Daar word nie water op gegooi nie, maar die vuur word stuk-stuk in die water gegooi. So iets in die lyn van Mohammed en die Berg, né!
Man, maar die Nico is darem ‘n gewilde ou. Die aand is mos damesskiet, en Annali en Marié Blignault is toe albei vroeg in die dag al ewe vasberade om hom te skiet. Maar hulle hou toe ewe formeel ‘n twee-geveg om die saak uit te maak. Sonja se gedagtes is ook só vol van die naderende onheil dat daar nie plek is vir jaloesie nie.
By die kampplek aangekom, onthou almal skielik dat dit mos Intervarsity is, en gretig word die lorrieryers ingewag. Hulle het self ook ‘n lekker dag gehad. Gillaume wie se been seer was van op- en af-stap in die eksamenlokaal kon darem afklim, en almal het by Stoffie-hulle teegedrink. Jeanne, M.J. en Souna kom ook nou saam. Hulle bring toe ook ‘n radio en kom betyds by die kampplek om die tweede helfte van die wedstryd in te luister. En die Maties kry dit darem toe reg ook om sonder die BT-kaners se ondersteuning nogtans te wen.
By dié tyd is dit ookal donker, en die dames wat in die stroompie gaan was het, breek omtrent hulle nekke oor die klippe terug.
Terwyl die Tente-komitee tannie Suzie se tentjie opslaan, is Marié so gaaf om vir hulle sleepille te gee, en toe is hulle ook net ewe hulpvaardig met lugmatraase-opblaas, ens. Dit was naderhand glad ‘n moeite om hulle uit die dameskamp te kry.
Die stew wil dié aand net eenvoudiglik nie gaar word nie. Almal is ook naderhand skoon weggerook van die kookvuur af; en toe om die spanning van damesskiet te verlig, word Eben gevra om skeidsregter te wees by die Waterdrink-wedstryd. Janee, die spul moes omtrent dors gewees het, want ná die dames se wedstryd is die prys vir die beste span – ‘n beker water.
Johan Steyn en Jessie daag toe ook op na hulle by Intervarsity was. Die wedstryd word toe eers nog verder in kleure en geure oorvertel, want al word daar ge-BTK, bly almal darem nog steeds Maties.
Eers laat dié aand word daar geslee, maar toemaar, die soetheid van die wraak kon maar bietjie wag. Die eerste toeriste-dames het natuurlik ook gedink die damesskiet is deel van die Inlywingsproses.
Die items was nie juis van fantasties-hoogstaande-gehalte nie, behalwe Vollie se “jukskei-turksvy” wat luide applous ontvang het. Die koffie-water wou ook net nie kook, en gevolglik was daar geen koffie nie. Dit het toe Diet se teorie in duie laat stort, en hy’s toe skoon opgeskeep met sy bottel medisyne, waarvan die label op so ‘n onverklaarbare wyse verdwyn het.
Uiteindelik volg die Inlywing in al sy wreedheid. Die bloeddorstige krete van die ou toeriste en die luide gille van die eerste toeriste het die lug met soveel geweld gevul dat die maan, wat vroeër met asemberowende skoonheid deur die miswolk oor die berg kom loer het, maar weer sy kop moet toetrek.
So erg was dit dat die lyke eintlik van die vuur moes weggesleep word om naby te kom vir die afsluiting. Suzie het so ewe in die begin ‘n kussing by haar gehad – seker om haar hoof op neer te lê as alles verby is. Net Egbert het werklik ongeskonde uit die stryd getree.
Sondag, 31 Mei:
Na die vorige nag se laat bedrywighede is almal maar traag om op te staan. Selfs die “feetjies” en dwergies het verslaap.
Dave, nadat hy bietjie gaan Intervarsity hou het, en Ernst en Aletta daag net betyds vir oggendbrood op. Daar is weer van Eben en Jan se heerlike bully-beef-pap, maar aangesien niemand dit “drie-hoeras” nie, gaan hulle dit glo nie meer maak nie.
Hans hou kerk in die katedraal van dennebome, en na die diens sak almal sommer so in die kerk agteroor, en die moontlikheid word bespreek om in die Studentekerk byvoorbeeld sulke banke te laat aanbring wat verstel kan word totdat hulle naderhand heeltemal plat is.
Stoffie soek egter ‘n boom uit vir sy sitplek, en toe kan hy ook sommer lekker foto’s neem. Maar sy rustelose natuur kom in opstand teen die stilsittery, en nadat hy Eben genoeg aanleiding gegee het, vind so ‘n woeste stoeigeveg plaas dat Marianne naderhand heeltemal been-af is.
Die middagmaal is so roaring dat daar glad van die poeding oorbly, en daarna moet almal eers ‘n rukkie gaan slaap. Nico Nel, die dapper held, slaap natuurlik só rustig dat sy koeldrank redelik laat eers bedien word.
En so is dit toe ook alweer die laaste kampvuur. Die ou windjie suis maar kouerig hier om die ore langs, maar daar is glo allerhande dinge, tot ‘n Hemelbed, teen die koue.
Die ou Kys-seremonie word weer uit die Annales opgediep, en ses pare beloof ewe plegtig trou aan mekaar vir “solank hat duren willen” en word sodoende lede van die Kiewiet-vry-agien-klub.
Met hekeltyd lees Eben toe Piet Conradie se “Handleiding vir die vra van Hekelvrae” en dit inspireer toe werklik die hekelvraers. Veral Stoffie met sy “True Love” loop deur, en Diet kon toe gelukkig vir die belangstellendes meedeel dat op sy bottel medisyne se label gestaan het: “Shake the bottle well.”
Maandag, 1 Junie:
Die laaste nag onder die denne is ook sommer gou-gou weer verby, en voor die laaste dag nog breek, is almal alweer op en wakker.
Hierdie dag, Republiekdag, word begin met ‘n vlaghysingseremonie, en die sing van “Die Stem van Suid-Afrika”; en dit is ook seker die enigste Republiekfees in die land, gehou so tussen die berge en weg van die beskawing.
Dit is vir oulaas ook nog ‘n goue sonskyndag, en na oggendbrood word die kampbedrywighede redelik rustig afgehandel. Die houtkappers dra water, die waterdraers help die blikwassers (hulle is natuurlik nog swak na Saterdagaand se episode) en die walaaiers was die vleiskis.
Terwyl daar nog komitee-foto’s geneem word, laai die walaaiers vir oulaas die wa, en die tiervel-portmanteautjie het so waarlikwaar nog steeds die ontberinge deurstaan.
Tienuur neem die stap met Coenie en Jeanette as slot, in aanvang. Vir die drie myl padstap het Stoffie baie knap sy stok soos ‘n wafferse tamboernooi voor sy batteljon geswaai terwyl Koos op musikale wyse die pas aangee.
Toe word die hangbrug natuurlik bereik. Die selfaangestelde brugswaaiers geniet alles natuurlik die meeste. So tussenin maak hulle darem ook tyd om die droeës nat te gooi. Arme Willemien was so benoud toe die brug so met haar begin swaai, dat sy maar liewer haar skoene uitgetrek het en natvoets deurgeloop het. Ander het natuurlik sommer met klere en al aan geswem en arme Vollie het glad sy brilglas verloor, so woes het hy geswem.
Die manne omsingel toe vir Eben met ‘n bulderende “De magtige koning” waar hy rustig sy “smoke-break” geniet, maar hulle was natuurlik nie bestand teen sy “pose” nie, en moes maar weer die aftog blaas!
Johan Winckler en Japie-hulle kom toe eers ‘n hele ruk na die ander by die volgende rusplek, met hul klere wapperend aan stokke, soos vlae (die belangrikste het hulle darem aangehad, hoor).
By middagbrood sink die een klip onder die een blik in die sand weg, en die hele blik sop val om. So ‘n skade is ondenkbaar erg, en Eben en Jan tel toe die groterige stukkies op, spoel dit af, en gooi dit in die ander blik, sodat daar glad “seconds” ook was.
Johan Winckler neem toe lekker wraak op Jan en keer ‘n hele blik water op hom om waar hy net lekker drooggeword het in die son. Die stap verder is lui-lekker en rustig, en die vaakte begin almal net oorval, en uiteindelik by die busse val almal sommer op die eerste en beste sitplekke neer. Maar Ragel, Salomien, veral, kry darem ook nog aftrek. Toe die bus breek, en terwyl Ben ‘n ander een gaan haal, word daar selfs ge-item ook.
Half-sewe is almal toe terug in Stellenbosch en spat uitmekaar terug na hul boeke – of beddens seker eerder.
Marié Blignault
(Sketsskryfster)