Die eksamen is verby (voorlopig, vir sommige) die bagasie is soos gewoonlik hopeloos te vroeg by die pakkamer en ons wag die tradisionele ekstra uur om voordat ons vertrek. Geen busse nie; vanjaar moet die jong akademici baie oefening kry om weer ordentlik mens te word. Die klerkie by Coetzenburg-poskantoor stempel dat sy arms lam word. Mnr Berner (in private drag) druk belangrik deur die tou vorentoe, net om by die toonbank ‘n vrag rooi doekies te voorskyn te haal.
Die kamptoestande in Jonkershoek lyk effens beter as met die La Motte-toer. Die dames kan tenminste op dennenaalde rus in plaas van op die oop hardepad. Pieter de Waal is ‘n deeglike kêrel – nie net op die punte van sy tone as nuwe fotograaf en gewilde skoenmaker nie; sommer die eerste aand al kom Anneli met ‘n verbrande handjie terug van kampvuur saam met hom, en dit terwyl die maan agter die dreigende swart wolke wegkruipertjie speel.
Vrydagoggend begin ons mekaar mooi deurkyk, en veral een dametjie laat die harte bokspring met haar onweerstaanbare engelgesiggie. Klein Erika het op een-en-‘n-halfjarige ouderdom meer gebroke harte op haar kerfstok ingeryg as enige BT-Kaner voor haar. Natuurlik erf sy dit van daar groot “charmer”-oom Almero van haar.
‘n Benoude gil uit die dameskamp kondig ons vriend Roché se aankoms langs die verkeerde pad aan. Ons is dankbaar vir die groot getal tokkelokke, want dis hulle onophoudelike eksamenpraatjies wat die aandag aflei sodat almal eindelik aan die bopunt van die gevreesde kurktrekker in die gras lê en lemoene eet. Gedurende die namiddag kurktrekker ons nog ‘n paar keer. Dis veral Lucia wat haar maar moet voeg by die stadige groepie wat sewejaartjies en proteas langs die pad bewonder. By Nuweberg loop ‘n riviertjie wat NET dié BT-Kaners wat al uit ‘n bekertjie moes bad, reg kan waardeer, en al die moegheid speel saam met die stroom tussen die klippe weg.
Dis maar Diet se eerste aand met ons, maar reeds met die gebruiklike rustydjie ná pan, moet ons hoor dat hy vir SimNie vrot lê. Die sinode sit tot lank ná slaaptyd in die pastorale “flat” op die vragmotor, en te oordeel na die aanhoudende deurgeklap is Hans se pyp seker weer soek. Die toer se nuwe leier ag dit sy plig om sy stem die volgende oggend dik te maak en die broeders tot groter stigtelikheid te maan.
Met oggendbrood eindelik veilig agter die blad (nadat die skinkborde kort-kort na veiligheid gehaas moes word voor die aanrollende stofwolke van verbygaande motors) vat ons die pad tussen denne- en eikelanings en appelboorde deur. Dit raak spoedig moordend warm en die vrugtestalletjie by Grabouw se afdraaipad doen besigheid soos nooit in sy geskiedenis nie. Toe Leon-hulle ná ‘n besoekie aan die dorp weer in die warm son kom, raak hulle die pad skoon byster en daag ten slotte per motor by middagbrood op. Die laaste paar myl na Monteith word per vragmotor of halfpad te voet afgelê. Neels, Spikkels en Jeanne-Marie ryloop sommer ‘n ent tot Hans en die slotte se groot konsternasie en ergernis.
Nadat die dames se bagasie ‘n halfmyl tot in die dennebos gesleep moet word, word ‘n groot skoonheidsparade in baaikostuums gehou langs en in die dam.
Hermien wen die uitkenningsparade. Daarna sak die uitputting op die slees toe. Selfs Diet staak uiteindelik sy skaakspel. Die “motorbike”-item moet deur ‘n deegliker “tricycle” opgevolg word om almal wakker te kry vir afsluiting.
Soos die weerburo voorspel het, het die son Sondagoggend toe tog in die Ooste opgekom, en terwyl almal nog lê en wag vir die feetjies, begin Hans met sy eerste lesse in die opleiding van Ilse as nuwe stoker van die Greenbird.
Na die buitengewone diens onder Hans se leiding, daag Stoffie- en Eben-hulle op om saam met ons vrugteslaai en roomys te eet. Die dag word verder ernstig deurgebring. Dié aand loer die maan na die paar donker figure wat in die rigting van die perskeboord sluip ………………
Blou Maandag is nie blou nie, maar wel bewolk. Tog maak die vinnige stap ‘n mens warm en ‘n klomp plons in die water by die bruggie. Anne se pienk hoed plons agterna. By middagbrood word Pieter le Roux toegejuig as huladanseres kompleet met grasrokkie en al.
Dit word die groot dag van die Proteas. Halfduimhoë plantjies 20 voet uitmekaar sidder voor die aanslag van tweehonderd stewels. En wáár is die permit nou eintlik: agter by die slotte wat nog kom, of voor by die leier wat reeds buite bereik is?
Die komitee-items die aand by Palmietriviermond is oorspronkliker as gewoonlik. Net die kokke hou, soos Hans sal sê, hulle naam krater met ‘n besonder langdradige en flou spul wat hulleself terdeë geniet. Ben en sy tente-komitee loop weg met die kedêns deur met die hulp van die toordokter van die BTKáká die reënwolke doeltreffend te verdryf.
Na die kwaai begin deur die berge laat die Gala-gees hom nou behoorlik geld hier by die see. Dinsdag se Cascades-uitstappie val deur die mat in plaas van in die pad by gebrek aan geesdrif. Elkeen kry maar sy eie koers – behalwe natuurlik die arme houtkappers en die tente-komitee wat hulle moet help.
Die kampvuur bring lewe, want die rokende vuur dryf die Berner -Du Toit – Le Roux-groep met betraande oë uit hulle dubbeldekkerslee en die res van die aand word ons vergas op kroeg- en hotelitems met volop kroegtoonbanke, swaaideure, bewegende tafeltjies (namate die wind die rook ronddwarrel) selfs pilare en vloermatjies met hondjies op. Net daar verskyn ‘n nuwe skitterende ster aan die item-hemel toe Diet oor en oor verbaas maar ingenome ontdek: “Land, maar dis lekker om te item!
Woensdag breek skoon en helder. Na ‘n vinnige drie myl mars op maat van Jan Horn se bamboeshoringklanke, raak ons by Kleinmond se kafees van ons skoene ontslae. Ai, en nou Gala ons mos: kaalvoet in die sand met die son op die branders, die see se dreuning in die ore en ‘n lied in die hart.
Waar ons wil swem, moet eers kringetjie gemaak word om uit te trek, en die manne koning die benoude dameskringetjie rug aan rug. ‘n Mens kan ook maar net wonder waarvoor die manne om Adelbert gaan kring staan het in die water. Wanneer die agterstes by Hawston se winkeltjie aankom, is daar net nog warm koeldranke oor. En ai tog, die skoene waarvan die veters losgeraak of die sokkies uitgeval het. Dis net die soete, of liewer bitter gedagte aan die rus van Onrust se hotel wat die trae, verbrande liggame nog voortsleep.
Van vroeg in die toer het dit sigbaar geword dat die komitee besluit het dat daar ná Knysna se manewales geen damesskiet sou wees nie, maar ons stoere BTK-dogters ken nog die man se draadwerk beter as hyself, en soos ons verwag het en die manne nie verwag het nie, is dit damesskiet. Behalwe dat ons in ‘n lap dubbeltjiedorings slee, is die hopelose eerste toeriste-items ook ‘n doring in die vlees. Die nuwe voorsitter kry in die onrustige nag die woorde op sy kerfstok.
Donderdag wag Hermanus se melkwinkeltjie die jaarlikse toeloop van rooi verbrande dors BT-Kaners in. Ai, en om so ‘n l-a-a-ang toringroomys lekkie vir lekkie koel in jou keel te laat afgly dat jou oë eintlik toeknyp van pure lekkerkry. Ja, Hermanus doen besigheid – Johan Winckler laat selfs die juweliersake floreer. As Piet Hugo net wou onthou waar die plekke is waar die vragmotor moet voorrade oplaai.
By die kampplek by Die Mond word daar kwaai gestook om baddens vol stomende bruin rivierwater vir ons gereed te hou. Met ferme tred nader Hans ook die wit geboue fluit-fluit. Skaars het hy begin om homself vir die groot proses in te rig of hy word tot die werklikheid teruggeroep deur ‘n skril: “Hans, jy’s in die nie-blankes!” Met afgemete treë stap hy terug tot vierkant voor die bordjie buite op die muur, grinnik ‘n slag, gryp sy goed en marsjeer waardig verder.
Terwyl sommige nog lê en tob oor muskiete van die vorige aand, begin die talle muskietbytplekke nou jeuk en die miskolle-langs-die-kus-voorspelling word eindelik bewaarheid toe daar vir ons ‘n miserabele Vrydag in druipnat beddegoed aanbreek. Die beplande uitstappie Voëlgat is ook vir die voëls.
Met groot seremonie word die Greenbird-vereniging in die lewe geroep as mosie van vertroue in landvoertuie. Die grondleggers is Hans en sy mede-sinkers en bo- en onderdrywers wat deur ‘n diep donker rivier moes gaan aleer hulle ontdek het dat hulle natuurlike talent nie in die rigting van die web- (of ski-) voetige watervoëls lê nie.
Simnie keer ‘n bietjie vir die ergste son, want as Trixie trou, moet sy nog ‘n blanke Botterblommetjie wees. Die lampe-man probeer sy bes om in haar ogies twee liggies aan te steek – hardloop sommer tot doer onder in die dameskamp as die skietfluitjie blaas.
Die koue laat almal diep in die slees klim. Dis net Jan Swart wat uitspring en die wêreld warm item. Raad vir moontlike uitsleep-kandidate: Maar soos ons geagte voorsitter en slee in twee sessies; die eerste eindigende wanneer die “klim in julle slees”-fluitjie blaas. Slaap dan verder saam met Lucia en die res van die komiteeslee.
Kampvuur eindig vroeg vir die Tente-komitee wat pligsgetrou begin tente opslaan in die loeiende stormwind. Ons sluimer in by die geluid van hamers wat steeds nog meer en meer penne vir meer tente inkap. En met suwwe tentslaap-gesigte staan ons op sonder dat ‘n druppel reën geval het. Net die tente val op ‘n paar dameskoppe. Irene worstel desperaat, en siedaar, sy kruip aangetrek onder die tent uit.
Nadat Bernard ons met lewensgevaar in sy boot oor die rivier geroei het, stap ons die myle langs die see af met slegs ‘n onderbreking by die grotjie in die sandsteenrotse. Hoe nader ons aan Die Kelders kom, hoe vinniger laat die brandende sand onder die voete en die dors in die kele ons stap.
Die laaste ent tot by Uilkraalsmond kreun die vragmotor onder sy passasiers, en Teo Louw-Louw ry lui, lewende vragte aan met sy Volkswagen.
Die skeiding tussen dames- en manskamp is hier baie verwarrend en die mobiele “flat” kom parkeer vyf treë van die naaste damesslaapplek. Derhalwe word die groen tentjie net langsaan opgeslaan.
Die volgende oggend slaap die papkokers laat en Koos Roos gluur die Post Toasties met misnoeë aan en droom van krummelpap.
In die kerk vind Steyn uit dat deur met jou rug teen die preekstoel te sit jy wel onder die dominee se oog uit is, maar dan hou die hele gemeente jou dop. Net Erika is nie skaam om te wys hoe vaak sy in haar pa se kerk raak nie.
Vir oulaas eet ons lekker en word die kokke ge-hoera en die walaaiers tot koersvastheid gemaan. Daarna moet oud-hoofman Ebenhaezer en sy hoofvrou saam met die ander naweekbesoekers blikke was.
Na die middag se Danger Point-uitstappie (eindelik uitrit) bring ‘n gly-vertoning deur ‘n drietal Negers geleentheid vir die laaste strategiese bewegings van die toer. Om die kampvuur neem ‘n groepie afskeid van die BTK deur elk iets in die vlamme te gooi; iets verteenwoordigends van hulle BTK-jare, maar niks vergeleke by die kosbare kleinood van ‘n reeks onuitblusbare herinneringe.
Voordat die laaste entjie terug Gansbaai toe gestap word, vuurpyl ons vir hulle en vir die Oosthuyzens. Dan raak die manne haastig terug Stellenbosch toe. Skaars in die bus ná middagbrood, of almal moet weer uit: M.J. verjaar. Vir dié moeite word ons beloon by Hermanus se roomysfabriek.
Terug op Stellenbosch, en die bruin gesigte raak weg in die massas voor die uitslaeborde, raak weg na alle rigtings, raak weg oor ons land!
” ………….. maar ons kom terug na Matieland;
net om te B T K!!”
Corrie la Grange
(Sketsskryfster)