1-11 Oktober 1965
Die rympie sê mos: “Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand.” Boonop is Oktobermaand vanjaar ook BTK-maand, met ‘n splinternuwe toer op die koop toe: die Langeberge in die omgewing van Riversdal en Barrydale! Meer eers is daar nog eers ‘n taai krisis voor die toer, ‘n voorspel wat hom afspeel nog voor die gordyn na die toer finaal kon oopskuif.
Kondens is ‘n onontbeerlike bestanddeel in die BTKner se daaglikse dieet. Daarby word die prys vir die beste komitee-item bereken binne die silindervormige wand van ‘n kondensblikkie. ‘n Gros van hierdie noodsaaklikheid word vir ‘n toer benodig, en kort voor hierdie toer, moes kosmoeder Elsa ontdek dat dié artikel haas onverkrygbaar is. As jy gelukkig is, kan jy dalk een blikkie per persoon per winkel kry. Vir haar, Flip, Andries, Piet en Botter kos dit toe in die stad van winkel tot winkel hol om soos ywerige seëlversamelaars hul voorraad aan te vul. So word ‘n skrale maar kosbare 48 ingesamel. Maar berigte van krisistye bly gelukkig nie net binne hoorbare afstand nie, en sommer kort met die volgende pos, lig familie en vriende die BTK uit hul benarde toestand, só, dat ‘n oorvoorraad toe op hande is: byna 400 blikkies kondens!
Eindelik is die Vrydagmiddag, en as die bus om half vyf, sowat ses uur na die Greenbird vertrek, is dit net die verleë hanggesigte van stoere Johan Winckler, Bennie en Kiesie Naudé en bebaarde Deon Scheffler wat buite die busruite agterbly. Die reis met Ben agter die stuur, loop oor Du Toitskloof en die donker vang ons deur Worcester. Oor Ashton gaan die pad verder met ‘n aandbrood in Coghmanskloof anderkant die 1899 Ou Engelse Fort. Die kampplek is feitlik gestroop van vuurmaakhout sodat die vuur maar aan die gang gehou word met natterige blare – sien, dit het kort van te vore nog gereën. G’n wonder die koffie had ‘n bloekomgeurtjie nie. Nou eers sien mens die groepie as geheel, so minnetjies, daguitstappiegroote, met ‘n totaal van 55 saam met die waryers.
Die wa wat met sy uitverkore groepie al die oggend vertrek het, doen ‘n pap wiel langs die pad op, en met voorbande wat eintlik net binnebande is, word in goedertrou die reis verder aangedurf. Toe die wa eensklaps net voor Ashton stilhou, het die agterryers vir ‘n oomblik die ergste met die bande gevrees, maar toe hulle met groot oë vorentoe loer, daar staan “driver” Koos Roos en sy kajuitmaatjie Japie voor in die pad langs ‘n reuse bieradvertensie en sing uit volle bors: Bier her! ‘n Tandelose ou aia lag sommer onbeskaamd vir dié skouspel en gee dawerende applous vir dié twee.
In Ashton stroop hul die kêffie van sy melkvoorraad en word ‘n oom se baksel koeksisiters, nog warm uit die oond, gekoop en in ‘n kits verorber.
By die kampplek kort anderkant Riversdal aangekom, het die waryers hul tweede ontmoeting met ‘n antieke stuk uit die Kleurlinglewe: ‘n vroulike oudste wat die elmboog bietjies té bo haar kop gelig het en in Boozemanstaal aan hulle die Leviete voorlees: dat hul van die baas ‘n permit moet hê om daar te kamp!
Om middernag sluit die busgroep by die wa aan. Voor slapenstyd maak Andries Louw wat in die plek van Johan Winckler as toerleier optree, sy eerste amptelike “speech”. Veral heet hy oom Theo en Tannie Nina besonder welkom. Van Tannie Nina sê hy: dié van ons wat Botter ken, sal nou weet waarvandaan hy kom.” Letteli fluister: Mimosa!
Die nag drup sy drup uit die hemel en ‘n groot geskarrel vind by die dames plaas. As hul geweet het wat nog binne die volgende paar dae sou voorlê, sou niemand vir die paar druppels geskrik het nie.
Saterdag, 2 Oktober is dit vroeg-op en die omgewing word nou gou-gou verken. In die nabye-omgewing trek die nuwe tonekis besonder aandag – ‘n geskenk van Elsa se pa aan die BTK.
Na oggendbrood word die wa gelaai. ‘n Nuwe artikel versier vanjaar die wa: ‘n Slim Whitmankitaar, en as hy dié toer oorleef, eet ek sy snare vir drop op. Die walaaiers lyk hoeka nie lus vir hierdie verskynsel nie. Botter neem die voorstellingsparade waar en slaag uitstekend, behalwe dat Flip Nel toe sommer Flip Smit word!
Voor Ben die bus op Riversdal gaan bêre om dan self terug te vertrek Stellenbosch toe, vergesel ons die bus tot by, soos Piet Hugo sê: Dus mun of meegh Kleinghiviegh hieghie. Almal is bra traag om die droë busklimaat vir die Australiese rugbyweer te verruil en Elsa wil nou al weet: Piiiet, is dit 12 van jóú myle, of van my myle?
Die reën sif fyn-fyn as ons in ‘n nou klofie kom waar ons moet uit. Onder ‘n oorhangende krans deur, oor groot rotse met die hulp van gespierde manshande, gaan dit stadig en sukkelend, want die skoene en die rotse is lekker glad. ‘n Klomp het al vorentoe in die opdraende in verdwyn. En toe kom dit: B Y E!! Val terug! Voor die volle komplikasies gesnap kon word, is die angelvlerkiges op die rooi en die kaki. En ons val letterlik terug. Waar vroeër gesukkel is om oor die kranse te kom, word nou net teruggerol en geskuur. Maar die bye steek! Dis mal bye, skree een, slaan dood! Moenie slaan of waai nie, gil ‘n ander. Maar die bye steek vir ‘n vale. Flip skree toe: almal wat rook, R O O K!! En vir die eerste keer word buite die amptelike “smoke-break” met bewende hande sigarette ge-puff dat die blou dampe so staan. Selfs Flip voeg ook die daad by die woord en neem vir die eerste keer ‘n sigaret oor die lippe, en boonop nog ‘n Lexington ook!
Stadigaan wyk die Satansgoed. Die verslae en verslane groepie BTKners trek nou net angels uit, terwyl die skade aangerig, net groter word: sommige se hande is al soos poffertjies geswel. Ma Elsa se ogies begin al skrefies trek soos die bye haar in die gesig gepot het. Party trek nog bye uit die hare, waar die goed verstrik geraak het en daar word gekla van kop-pikwonde.
Na van die ergste skok herstel is, begin Piet Hugo met ‘n ompadroete links van die groot gevaar verby, en nou eers word dié gebeure ‘n rasende grap. Toe ons die wal bo uitstyg, wag Toffie en Annekie ons in, en al wat van Toffie te sien is, is wit tande soos hy lag. Die res, sy oë en ore, lyk soos droë perskes wat te lank in die water gelê het en buite proporsie geswel. En salig onbewus van alles skenk ‘n koei daar in die nat, lewe aan ‘n wankelmoedige boerbulletjie.
Sê Annekie, ook met toe-oë deur die lewe: “Toffie, as jy my vanaand skiet, het ek ‘n ‘blind date'”.
Ons stap nou verby fantastiese natuurlike waterpoele en watervalle. Ontdek daarna die stoflike oorskot van skilpadjies met doppe oopgebars, soos die voëls hulle vanuit die lug op die rotse te pletter laat val het.
Toe kom die koue en die reën, laasgenoemde erger as eersgenoemde. Stort-, vloedreën, so dat jy amper nie jou naaste kan ken nie. Middagbrood word onder hierdie omstandighede probeer geniet, en brood word onder ‘n reënskerm, slegs ‘n grondseiltjie, gesmeer. Daarna is die elemente eens so erg. Net water waar jy loop, kyk, voel of asemhaal. Reënjasse ondergaan ‘n uiterste waterproef – die plastiekes skeur, die lapsoortiges reën dwarsdeur en word so gewigtig soos ‘n armyjas. Mens verwag enige oomblik vir oupa Noag vir ‘n hike. Maar intussen is dit net vort, blindelings deur die reën vorentoe – heeltemal meganies – loop net. Kom later in ‘n plaaspaadjie wat intussen in ‘n jong riviertjie verander het, en as 6-stuks klop soos bedremmelde hoenders by die plaashuisie aan. Wag, en weer klop. Toe die auntie eindelik die noodklop bo die gereën op die sinkdak hoor en die deur oopmaak, het haar gesig, en mond wat soos ‘n valdeur oopval, net één ding verraai: Wel, vandag reën dit nou werklik oumeide met knopkieries. Toe sy tot verhaal kom, beduie sy die rigting van die kamp, en die klompie sit hulle “swem” vort.
In ‘n verlate, leë huisie word in twee vertrekkies eers saamgedrom waar nou net die geknetter van tande bo die elemente gehoor kan word. Toe die een groep in die buitevertrekke sing: “maar ons gaan terug na Matieland, net om BTK ………” meen Nico hier duskant: “dis nog die minste wat daardie woorde ooit vir my beteken het!”
Eindelik word ons soos nat kaf op ‘n lorrie gelaai en word ons na ‘n ysige trippie na droeër aarde verhuis: ‘n skuur op Welbedacht. Gou-gou word vir die Greenbird ook ‘n plekkie ingeruim en toe is almal sommer soos een groot familie saamgehok, al het die kostent ‘n ordentlike sleep deur die varkhokmis gekry. En asof die rivier net hierop gewag het, gooi hy toe sy walle ver oor die pad en sny die BTK af van die buitewêreld. Nie dat ‘n BTKaner hieroor “panic” nie, inteendeel dit is deel van sy lewe – en almal begin nou net wild nes skop!
Die halwe boontjiesolder word eksklusief vir die dames afgesonder, terwyl die mans die grondvloer betrek. In die geheel lyk die skuur nou soos ‘n groot kamer uit Irma la Douce – oral lange stringe, druppende en hangende klerasie van alle grootte, formaat en intimiteit, want gelukkig weet niemand teen dié tyd wie s’n is wie s’n nie!
Die reën is ‘n seën vir die twee waterdraers, want die blikke staan sommer onder die oorstekende dak en vol word. Volgens die watermeter – ‘n billy wat agter op die wa was – het dit 4″ gereën, maar ek kon sweer dit was meer – wat anders kon ons dan soos drenkelinge daaruit laat sien het.
Honger magies sit gou-gou die geleende praaimus aan die gang en gou word hitte aan die koffiewater verleen, terwyl die sop woes kook in die tannie op die plaas se kombuis. En wanneer almal daardie aand in die slaapsakke inwurm, het oom Theo ook nog eers nodig om dik stem te maak, want die dames bly aan die herwaardeer oor die boontjiesolder: “…………. dááánkie vir die sô-ô-ô-lder!” En so daal ‘n nag oor die skuur: Dave en Nico in hul “flat” onder die vrugteklastafels; ander soos styfgestopte blikkies sardiens onder en op die wa; en Toffie op die sakke kunsmis met sy voete onder ‘n hele voet en sy kop bo 6 duim oorhangend!
Sondag, 3 Oktober. Wat is die slaap. ‘n Wondersoete ding! Op hierdie wyse verloop die dag tot 10.30 met oggendbrood eers om elfuur. Drie hoera’s klink ook op vir die eerste son om 10.40, al was dit ook net lank genoeg om die bygepiktes te snêp. Bernhard se kamera werk oortyd en veral die meisies word gesellaloideer, tot Letteli nie wil opkyk van haar paplepel vir ‘n smaail nie.
Dave hou die oggenddiens en die skuur verander in ‘n japtrap in ‘n kerk met allerlei soort van galerye: op die wa, onder die wa, op die boontjiesolder, in die bakkie! Oom Tonie Venter, plaaseienaar lewer daarna ‘n persoonlike getuienis, iets wat werklik uit die behofte van sy hart kom.
Die middagete is een groot fees, want al is die groepie klein, word nogtans vir 90 poeding gemaak. Toe een pan se dames blykbaar vir oefening agter Koos aanstorm, al om die skuur, meen oom Theo: hy gebruik seker Brylcream! Die plaashond waarmee ons al regtig las in die skuur gehad het en daarna ‘n lekkerbekkige hoender, sorg dat daar niks in die panne oorbly nie.
Na die disuitegrasie van een van die panne, skenk hul geboorte aan ‘n voertuig wat flink uit 4 los wiele, disselboom en bloudraad ontspring. Eleine, Annekie, Helen en Irene het die twyfelagtige voorreg om ‘n rit daarmee aan te pak, met ‘n paar sterk manne as die dryfkrag. Gille – en Bernhard met sy kamera -het hierdie prentjie afgerond.
Die middag kom soek eerste toeris Liza de Waal ons toerleier op en wil hom in privaat spreek. Gelukkig kies sy haar privaatheid in die nabyheid van die Beyers-Nel-flat en word daar duidelik varkoor gegooi. Sy sien net nie kans om te slee nie – nee, regtig nie. Ja, verkies self om elke aand te spin. Die vaderlike antwoord op hierdie pleitstem was net: nee wat, maar mens moet sien of jy ‘n volwaardige sleemaatjie kan wees.
Die aand se gewyde items verloop soms op die grens van ongewydheid. Daar is ‘n Daniël in die leeukuil wat vanaf die boontjiesolder in die wa neergelaat word (tot ontsteltenis van die spinnies wat daar slee!) en ‘n item oor die verlore seun. Wanneer Dieter die seun na die varkhok stuur, wys hy toevallig in die rigting van die plaasvarkhok. Toe die oudste seun daarna aan sy pa sê: “U het my nie eers ‘n bokkie gegee nie” – en die aankondiger, Johan Murray, skielik die dubbelsinnigheid snap, flop die item byna.
Ten slotte vir dié dag: Japie se eintlike naam word nou ook duidelik: die algemene inligting en die Gaan-haal-asseblief-buro.
Maandag, 4 Oktober, loop dinge amper vroeg-vroeg verkeerd as Andries vir Elsa al om kwart voor in plaas van kwart oor ses roep. En foeitog, sy kan amper nie ‘n oog van mekaar kry nie. Mens kan nou wel dikbek op ‘n blou Maandagmôre opstaan, maar as jou oë ook nog toegeswel is, dan is jy nou regtig dik tussen die ore.
Dis ‘n heerlike sonskynmôre en alle vrese dat die toer gestrand is, is verdrywe. Die lekker padstappie verwissel gou na ‘n klipspring oor ‘n heugelike stroom en kon Gerda Stofberg nie die versoeking weerstaan om die diepte van die stroom te peil nie. Ongelukkig is dit toe so iets van ‘n bodemlose put en kom sy bedroë – of is dit nou benat?! – daarvan af. Die bye bly nog maar lief vir ons en ‘n paar verdwaaldes laat Japie, Siertske Johan Murray en George deurloop. Die natuur is een pragtige tuin aanmekaar – watervalle met donker bierpoele skuim en velde oortrek met reuse proteas, blue bells, rooi stompies, duisende heide, sewejaartjies en soms die heerlike diep geur van boegoe en hotnoskooigoed.
By middagbrood is ‘n verwelkome swemplek – meer freeze egter as wat dit diep is – en waar die mans agter ‘n grondseiltjie verklee. Nico ondervind ‘n krisis by die aantrekslag as ‘n rits-sluiter onverwags die gees gee. Het sy ma hom nie die basiese beginsels van naaldwerk geleer nie, het hy nou nog daar gedeepfreeze gesit.
Na die padstap oor Garsiapas, word die kampplek bereik waar die mans links en die dames regs van die brug die stof van hul kaalvoetjies skud. Pootuit eerste toeris Bennie Jordaan sien net nie kans vir houtkap nie, wraak of te nie! Toue word ook deeglik ingewy en die eerste besoeker was Japie tot Siertske se vreugde. Dat ‘n hegpleister nou so kon trek! ‘n Nuwigheid om die kosvuur is dames met haarrollers soos kleurryke bedswietse in die koppe. Iemand wil ook weet waar Piet Hugo is, mens sien hom nou nooit nie. Maar die teenvraag bly: maar is hy ooit op die BTK?
Na ‘n berg stew oorgeklim is, word om tienuur geslee. Die items is gelukkig nie so opflikkerend nie en kan so tussendeur gedut word. Joan Clark en Riana Murray geniet hulself net gate uit met hul eie item van – foeitog – die klein seuntjie met die yslike kop, ore, voete, ens.
Tant Sêra Toffie en oom Dieter ry byna die hele aand lank donkiekar, terwyl die item met die kamera wat bars weer lewe in die sleë blaas. Tot groot ongerief boonop van al die slapendes, was die spinnies heel aand soos ‘n klomp vinke op ‘n plaaslyn. Die koning se “nag, dames” was eintlik meer as welkom, behalwe party wat slee asof hul vir die eerste keer met hierdie tipe “opsit” kennis maak.
Dinsdagoggend bring Bernhard ‘n persoonlike afkondiging: “as iemand dalk ‘n groot pak sleepille ontdek het …….” Ma: Bernhard, jy kan dit maar op jou maag skrywe! Na ‘n peptalk aan die mans en dames onder apartheidswetgewing gegee is, word die pad terug oor Garciapas gevind. Die Vetterivier is daarna ‘n lafenis vir die beblaarde tone. Selfs oom Theo loop hink en pink al probeer hy dit nie wys nie. Die hitte is ook feitlik ondraaglik en na ‘n middagbrood in ‘n bos se koelte – alhoewel ‘n bietjie mis-tig – word nog eers met sleepende voete by die Staatswaterskema aangedoen. Die wa is intussen ook verby en gelukkig nie baie verder nie, is die kampplek by Korenterivier. Die waterhaal is ver, en as die twee waterdraers uiters mobiel raak met ‘n kar en daarna met melkkanne per kruiwa, skitter Ma met heerlike koeldrank vir die droë kele.
Toestemming om in die dam te swem word beslis deur die plaasomie gegee veral na hy Joan in haar “cossy” gesien het. Hy skiet haar sondermeer vir ‘n swem na sonsonder. Die tannie met die haelgeweer wat ons waarsku teen pofadders by die paar lemoenbome, moes hiervoor ‘n stokkie gesteek het, want daar het toe niks van gekom nie.
Die komitee-items laat die waterdraers die kondens wegdra met die hulp van Sleeping Beauty en die hommelby: Daar’s niks waarvoor ek skrik nie! Hennie Lombard sorg vir afwisseling met sy kitaarsang tussen die items.
Woensdag, 6 Oktober, begin lekker grim met oorsoet koffie sodat Botter nie eers in jou mond kan smelt nie. Die dag lei verby Plattekloofwaterval waar Anna-Hilge en Jean-Marié met klere en al induik en Bernhard met sy kamera deur die waters waad om vanaf “oorkant die waters, blinkend en bly” ‘n foto te neem. Maar hy’s nie al nie; almal druk net knoppies om hierdie fantastiese omgewingstukkie vas te lê. Elsa mis dit egter alles, want sy het so ‘n hele paar stewels terug onder ‘n boom haar gaan neerlê nadat sy amper by ‘n krans afgevoeter het.
Vir die swemgieriges is die bergpadstap hierna knaend, só, dat toe ‘n Kombi skielik uit die niet verskyn, sommige van hierdie stukkie luuksheid uit die beskawing gebruik maak. Dié wat dié geleentheid mis, kyk met verleë oë agterna. Maar nie vir lank nie, is dit laaste wat die lekkerste lag, wanneer oom Theo die Kombi-ryers voor stok kry. Dié klompie is toe so ge-rattle dat toe hul daarna in ‘n paylifter (stootskraper) op en af kom ry, hul nie eers dié kans wou vat nie. Die padskrapers werk hul oor ‘n mik om die pad vir die BTK klaar te kry, maar gou skud ons hulle egter af.
Na ‘n steil-steil steil bult en nog ‘n growwerige padafdraend was die Greenbird ‘n oase vir die voete. Die laaste 5 myl word gery en kamp opgeslaan by Brandrivier. Dit geskied egter in gemeenskap van goedere met drie varke wat hierdie akkerboomparadys as hulle eiendom vasgelê het. ‘n Syvoor van die Brandrivier loop byna deur die kostent en die waterdraers geniet dié rus na die vorige dag se swaar wateraanry. Die tente-komitee is egter minder gelukkig, want ‘n paar druppels dwing hulle tot onbaatsugtige aksie. Hierdeur word die adhoc onthoc van net loopgraafgrawery en word hulle beslis hoc-geslaan tot hoër naastediens.
Aandete was baie vroeër as gewoonlik klaar en voor ‘n haan daarna kon kraai, beland die Koning in die Buro. Botter werp intussen lig op en plant ‘n lamp in die stroom by die “bruggie”. Te romanties, nie dat dit nou nodig was om so iets aan te wakker nie. Die aand bars die items uit hulle-se nate en feitlik deur die bank het almal so ‘n lekker streep van die wraak weg. Vanaf die bebloede lyk in die treinkompartement tot by Koos en Flip se onderskeidelike vreesinboesemende voordragte, asook die eggo wat in plaas van slag van Bloedrivier antwoord: die slag van Brandrivier, het al die eerste toeriste skoon op hol. Die magtige koning loop ook weer met twaalf voete rond en verslind sleë en sleep uit. Elsa, Flip, Dave en Nico kom toe met ‘n “roaring” item “Raai waarna kyk hulle” en die auntie skiet met die sanna op die kaki’s dat die kruit so waai. En rustig in vrede sit haar man in die uiekamer. En so tussendeur alles vreet die varke amper die kostent met inhoud en al op!
Donderdag is oorstaandag en van laatslaap word terdeë gebruik gemaak. Die dag begin ook sommer met “hulle wéét nie ………” opgevolg deur ‘n uithang van nog nat en reeds muwwe klere, was, swem, ensovoorts. Die reën is gelukkig weg en die dag skyn pragtig. Die oggend word verder verwyl met tjappies haal al is die pos-oom nie daar nie, en die winkeloom ons weghelp. En so ewe tussendeur alles begin ‘n aia haar wasgoed in ons drinkwatersloot was. Daarby voer die varke ‘n koningsbestaan in ons vullisgat. Die winkeloom en die tannie trakteer die klomp onverwagste “gaste” met tee en beskuit en om dankie te sê, verrys die magtige koning met klavierbegeleiding. Toffie vind die hangmat ‘n heerlike afwisseling en verandering bo sy kunsmisbed van ‘n paar aande vroeër. ‘n Wa – dis nou ‘n regte een – vat groepies op ‘n reis na die besienswaardighede (!) op Brandrivier en die ruiters poog hul uiterste om twee ou lekker, lui perde aan die gang te kry. Die arme pêrre het dit amper nie oorleef nie, nie na kranige ruiter Nico en Bernhard, wat vir die eerste keer bloots én perd ry, met hulle klaar was nie. Maar toe was die ruiters ook klaar, g’n wonder hul het nog dae daarna wydsbeen geloop nie. So, dat toe ma vir die heer Nel hekel daardie aand: Hoekom kan jy nie môre wa ry nie, al wil jy ook – en hy antwoord: ‘n Perde-by het my gesteek, is dit oom Theo wat meen: Wie durft den leeu in zijn holen aangrypen!
Die koning is ook duidelik ‘n voorstander van infant baptism as hy ontsteld op die walaaiers toesak net toe hulle die vleiskis sommer geheel-en-al in die watersloot wil ouderdompel. Toe moes hul dit maar opo die wal stuk vir stukkie skrop, want dié had al amper ‘n week se klankie.
Die aand is dit die tradisionele damesskiet en ‘n groot slaapkamerspieël, versier met film word vir die manne teen die kostentpaal aangebring. ‘n Skriftelike oproep tot die mans plak sommer die halfte van die spieël toe: “………….. is jou stokkieshaartjies netjies plat – asof deur die vlerkies gelek; jou sokkies reg, styf opgetrek, jyself silwerskoon, seepglad gebad? Sit jy ons harte in motion, met jou aftershaving lotion…………….?” Maar gou antwoord die mans op hierdie voorbarigheid deur die res van die spieël toe te plak met: “…………….. wie wil dan lyk soos ‘n Krismisboom, en dit net vir ‘n skiet langs ‘n eikeboom? Ons bly liewer manlik en sterk, met stoppelbaard wat ‘n girl se hart ekstra laat werk! ………………. Vat weg die spieël en jaartse film só gemors. Kom manne: ONS is BAAS, stoot uit die bors. Ons batch almal vanaand, die meisies is maar net erg verwaand!”
Die kraagmannetjieklub word toe sommer net daar gestig en Tannie Nina wys Toffie aan as die netjieste en smartste “man on the spot”, al was sy ken nie sonder “spot” nie. Hy bedank Tannie Nina vir die goeie smaak wat sy aan die dag lê. Die aand bereik al amper ‘n hoogtepunt as Elsa met die fluitjie die oproep bring: Bring julle borde en kom queue! en die dames wil oormekaar val, ongeag die vereistes wat die spieël aan die manne gestel het.
Tydens sleetyd voer die 6-tigers – dis nou Helen, Eleine, Marié, Christine, Annekie en Irene ‘n nuwigheid in die mou. By ‘n fluitoproep ruil hul elke dan en wan om en verskaf so uitermate genot (?) aan hul sleemaatjies. Tot een se slee in dié proses met marshmallows betrap word – en soos ek verneem het hy nog na weke gesukkel om die tammelêtjie uit sy komberse te kry. Die dames poog ook om met die magtige koning beroering in die sleë te bring, maar hulle kom eintlik die slegste daarvan af.
Die eerste toeriste bied ‘n heel aangename en verrassende program aan en jaag nogal groot vrees by ons toerleier met die een item in, net as gevolg van verkeerde interpretrasie deur Andries! En toe val die nag soos ‘n swart masker oor die Akkerbos en toe die maan met bloedbelope oë weer sy neus deur die wingertakke wys, was daar net verrimpelde bloedspore op die akkerblare.
Vrydag, 8 Oktober, is dit vroeg op en Ben en Corrie wat ook die vorige aand aangesluit het, verskaf die vervoer per bus tot by die wegstapplek. Die plaasseuntjie met ‘n ondeunde gesiggie sowel as sy “touleiertjie” vergesel ons op sy perd tot by die bobbejaan fuik, waar ons ook van die bus afskeid neem. Na Toffie nog eers by die fuik móés in, lei die eerste stap deur graanlande tot die styging van die hange van Lemoenshoekpiek in die skoene begin druk. Coenraad tel ook teenspoed op as hy sy maermerrie teen ‘n ysterrots uittoets en hy vir die slotte moet wag. En wat ‘n eindelose wag. Was hy ‘n bloeier, het hy lankal lepel in die dak gesteek, want Piet en Wina-Mari stap slot; en mens kan dit hul ook amper nie verkwalik nie – want sien: Piet verjaar! Geel knolbosse, stompies en seë van pienk heide veraangenaam die pad, al lyk die weer geensins belowend nie.
Bo-op die toppunt met ‘n allerfantastiese uitsig na Barrydale se kant, Lemoenshoek en die pad na Ladismith, word die Republiekvlag gehys onder die sing van Die Stem. Tydens die aanhef van Die Hoogland, val ‘n kombersdikte mis sommer oor ons en begin die afstyg aan die ander kant in triestige motreën. En die koue daarna, het selfs byna die warm volksgevoel in die hart verdryf. Spoedig reën alle voorsorgmaatreëls teen sonbrand in wit strepe van die neuse af. Papsopnat word onderdak in ‘n Bosbouhut gevind vir middagbrood, maar dié word meer omgebibber as geëet. Na ‘n slukkie koffie, want die helfte kookwater moes ook nog uitstort, volg ‘n reuse rock ‘n roll met variasies van skud en stamp om bietjie vuur in die ledemate in te werk. Vir Anna-Hilge wou niks help nie, en sy “pass” sommer uit op die hardboard-bed.
In gietende stortreën word die res van die tog aangedurf. ‘n Verrassingspakkie in die reën is die tipiese en kenmerkende lanternheide wat net in hierdie omgewing voorkom. Ook die diep kloof en die slingerpad deur welige maar wonderlike plantegroei, is onvergeetlik.
Deurdrenk, koud en beenseer word ‘n ewe deurdrenkte kamp by Strawberry’s Hill binnegekruip, waar ‘n dapper kostent ‘n dapper stryd in ‘n papperasie voer. Die mans slaap dié keer op ‘n solder en die dames in ‘n stoor. Tannie Nina betrek dié nag sommer die wa-kajuit tot groot ontsteltenis van oom Theo toe hy dit die volgende dag verneem. Ds Johan Bell “geniet” ook aandete met een van die panne en het eintlik net ‘n klompie drenkelinge kom oppik. Die res van daardie einste pan – dit was in die kostent – het ook maar ‘n stryd te stry gehad, want dit was iets soos “survival of the fittest” – om darem, indien jy in die modder wegsink, dit ten minste op ‘n vol maag te doen.
Behalwe die nat, was daar al die middag ‘n krisis toe die wa daar aanland en Koos-hulle maar besluit om solank met die voorbereiding van die groente vir aandete te begin. Die enigste groenigheidjie waarop ‘n paar beeste dan ook die oog kon lê in al die papperasie, was dan ook die kool en kon Koos nie eers ‘n herkoutjie daarvan red nie.
As daar nie geslee word nie, is sommige lekker ontevrede, maar almal verkies tog die slaapsak bo modder in ‘n slee en om half elf is die meeste al in droomland.
Saterdagoggend word Ma en Letteli gewek deur die besef dat hul nie meer heeltemal alleen onder hul eie stukkie slaapgaatjie – ‘n soort van afdakkie – is nie. ‘n Manlike slaapganger word gou-gou opgejaag: die plaashond.
Een ligstraaltjie na al hierdie nat en deurmekaar spul, is die suikerskaarste vanoggend en kon mens skielik weer die smaak van die koffie ontdek. Na ‘n groot poging om klere om die kosvuur droog te kry, word die BTK-sangbundel op die solder van ‘n kant af aangepak. Die wa vertrek ook intussen na hy met sakke soos ‘n gevalle sondaar uit die modder, opgehelp is. Na ‘n middagbrood sonder botter en net jêm, arriveer Ben met die bus en is menigeen maar dankbaar om die modder van Strawberry’s Hill van die voete af te skud.
Die busrit gaan oor Tradouwspas en dis pragtig en al drup-drup dit nog, verkies party om die laaste entjie per voet verder te gaan. Die voorreg val egter die busryers te beurt om eerste die slaapplek vir die res van die naweek te verken: ‘n verlate spookhuis in die pas! Sommer met die intrapslag by die glasvoordeur – of altans wat nog van die glas oorgebly het – is daar ‘n eksklusiewe valluik in ‘n groot vertrek met kaggel en al kompleet. Dinge lyk sommer belowend vir ‘n heerlike itemaand om ‘n kaggelvuur. Maar almal hol net van vertrek tot vertrek op soek na joos weet wat! In die kelderkamers word oorblyfsels van ‘n hospitaal-bib ontdek asook ‘n horribale lys van afgestorwenes gedurende 1945. Die hare begin nou al rys, sodat Joan byna haar vinger in die boontjiesnipper afkerf. Die groot garage word as “kostent” ingerig met die kookvuur reg daarvoor.
Die dominee van Barrydale en “dis nou my vroutjie” besoek ook die BTK en jaag ook spoke op oor die rare verlede van dié plek. En met al die voorstellery van “vroutjie”, is Elsa amper eenslag as sy gade voorgestel, toe “vroutjie” net nie meer kon byhou nie.
Kort voor skiettyd is daar ‘n woeste gemaal en geskarrel soos daar Volkspelerwys geskoffel word en na die aandmaal, wemel dit sommer van spoke in die items om die kaggelvuur. Daarby is die valluik net op die regte plek as decor-ondergrond! Maar om die senuwees te kalmeer, lewer Toffie besoeke aan die tandarts op, en Joan en Riana met hul “I shall scream” jaag weer opnuut rillings langs die rugmurg op. Die reuse agterstevoor-troue as ‘grand finale’ het die aand tot op sy pit laat uitbrand ……. al het daar nog baie later spoke rondgeloop en gille by die dames opgejaag.
Sondag bring ‘n besoek aan die kerk op Barrydale al was daar drie kraagmannetjies met weekoudbaarde by. Boonop is hul die enigste drie wat kort na die dominee se asem, deur die ou oom en tannie net voor hulle sommer net daar in die bank hand gegee word. Op pad terug na die spookhuis word by die Boesmantekeninge aangedoen. Daarna volg ‘n maal waaroor enigeen boekdele vol kan skryf. Tonne kos, groenteslaai; vrugteslaai met berge roomys, net om ‘n paar te noem. G’n wonder die ete bereik sy einde eers om half drie nie. Boonop word onmiddellik versit na oom Schalk en Tant Lilly Joubert van Lentelus, elf myl verder – gelukkig per bus – waar ‘n middagete ons afwag. Daar kreun toe ‘n reuse tafel onder bakke tipsytert, vleisrolletjies en alles wat jou maag so dikwels begeer, maar waarna jy nou amper nie kan kyk nie. Maar nou wel, om nie ‘n gegewe perd in die bed te kyk nie, word die tafel van ‘n kant af gepolish, net toe die volgende aankondiging volg: die pannekoek kom nou! Sowat van lê en hyg na asem op ‘n grasperk ná alles, het ek in menseheugenis nog nie aanskou nie!
Hierna is dit terug om die laaste aand van die toer met hoë spirit om te begin. Maar amper is die dominee ‘n vlieg in Dave se aptekerssalf, toe laasgenoemde ‘n uur voor die aanddiens gevra word om daardie aand te preek! En die arme man sit nog met meer as ‘n weekoud baard ook! Gelukkig het die dominee die onmoontlikheid van sy versoek ‘n rukkie later ingesien.
By die kamp word Piet en Wina-Mari eers opgesoek, want dié het die “highball tea” gebank, want eintlik het hulle niks meer as net kouewater nodig nie.
Die items daardie aand het so ‘n tikkie van die verdriet ingehad, miskien omdat alle heerlike dinge so gou verbygaan. Uniek is ook Elsa en Flip se afskeidsitem, want dis ook hul laaste toer, en hul geen ‘n terugblik van die lief en leed saam met die BTK oor baie toere heen. In ‘n gewyde stemming, amper in ‘n heilige oomblik bring hul ook hul laaste offer in die vuur.
Dit was darem nie die einde van die nag nie, want twee suiwer damesstemme het nog met ‘n onvergeetlike serenade menigeen se gedagtes, so tussen slaap en wakker ver weg laat terugdwaal. En nog dieper in die nag het twee manne ook hul afskeid aan kosmoeder Elsa gebring – ‘n dankie sê-lied, ‘n gebed, ‘n kort gewydheidjie, maar wat ‘n leeftyd onthou sal word.
Maandag, 11 Oktober is dit vroeg opstaan, maar swaar opstaan, want dis nou terug na die ruwe werklikheid. Nog net ‘n vuurpyl vir oom Theo en tannie Nina; vir Elsa en Flip – ‘n kondens vir die beste item van die week (“Raai waarna kyk hulle!) en toe is dit oplaai en alles vloei sommer net so verby, verby, verby.
So word Stellenbosch net na middag bereik; maar ‘n hart vol dankbaarheid oor een van die wonderlikste BTK-toere – dank teenoor die BTK, bowenal dank teenoor die Skepper van alles, Hy wat ons weer ‘n wonderlike stukkie van ons land laat ken het. Nou net gedagtes terug aan dié ver paaie; die groot etes; die bestiering dat dit so ‘n klein groepie was, anders sou die slaapprobleme groter gewees het – die altydstroop koffie; tipsytert, ‘n gebreekte velskoen, ‘n natgereënde gesiggie, ‘n beblaarde toon, wasgoed in ons drinkwater en les bes: “Ek’s ‘n dapper seun, kyk, hoe stap ek deur die reën – en daar’s niks waarvoor êk skrik nie – selfs vir ‘n middagbrood, so kaal en net met stroop; o, daar’s nîîîks waarvoor êk skrik nie.”
Daar is voorwaar NIKS waarvoor ‘n BTKaner skrik nie!
Dave Beyers
(vir Sketsskryfster)