Nat, sopnat – nog voordat ons begin toer het. So nat, ons was bang die mense laat spat, toe ry ons maar om Assegaaibos toe.
Hoe sê jy Jurie? Ry of? Jurie glo aan goed begin half gewin. Hy hét sy voornemens gehad vir die toer en wel – hy hét begin met drie meisies voor in die wa! Gelukkig het hy hulle nie toe al in lae gepak nie – net ingeryg.
Soos Dolfie sou sê, ons het ‘n “well” passie gehad vir die naweek. As mens aan die vorige toer se kampplekke dink, het die meisies geen rede vir ge-affronteerdheid gehad nie – hulle was maar net in ‘n donkiestal tuis.
Ou maat, as die donkiemis en vlooie eers uit is, slaap so ‘n plek darem lekker! Daar was net een probleem, soos Elisma gesê het: “As iets hier wegraak, is dit vir ewig weg.”
Die Müllers toer toe ook in hulle hordes saam – snaakse mense dié. Die een kind bly tuis, maar die hond kom saam. Arme Anton het die voorreg gehad om op die honde – of Pelonie-komitee te dien.
Oom Bethal en Jurie sou die toer oorvat. Daardie belofte is reeds die eerste aand al nagekom met die uitkyk (van meisies – nie eerste toeriste nie) om die kookvuur. Jurie het mos gesê hy gaan dié toer die kat goed uit die boom kyk. Tokkelokkie se antwoord daarop, was: “As daai kat eers uit die boom kom, o sies!” Nog ‘n klag van Jurie, die baie nuwe meisies, hulle weet nog nie hoe mens slee nie!
Hoe sê? Spinnieslee die aand? O lampslee. Ek dog die mense het nie bra kans gehad om te slee nie, al die ou dames moes mos spin. Al wat ‘n item en sleepilblik is, is glo geterroriseer.
Ain’t gonna rain no more? Moenie glo nie. Maar wat voel BTKaners nou vir water – as dit nie uit die hemel val nie, gooi hulle mekaar mos nat. Saterdag se stap La Motte toe was heerlik, behalwe vir mense soos Tertia en Leonétte wat hulle nie altyd kan gedra nie, sulke mense moet aan die bome vasgemaak word. Dit was alweer Jurie wat witvoetjie gesoek en hulle losgemaak het.
Op oompie Peppler se plaas, Goede Rust, word uitgespan vir middagbrood. By die ou huis, speel ons heerlik wegkruipertjie met die reën, eet van die oom se lekker lemoene en verwelkom die nuwe aankomelinge. Francois, die twee De Vosse, Coert van Estie en die lang vermiste Gertjie sluit by ons aan.
Die aand se kookspan was met een uitsondering, almal nuwes. Nuwe kokke het al dikwels floppies gemaak – maar die spul darem, gooi glad paraffien op die vleis en dink die mense sal dit eet!
Die aand steel die spinnies weer sleepille dat die tanne amper waai, wonder hoe sal Gerrit lyk as hy op die stadium weer moet haasbek raak. As die spinnies op Jurie toesak, sing hy sy ou deuntjie: “Make love, not war”, nog erger was “fight for love” in plaas van “life”.
Die aand lei Tokkelokkie sy reeks weel items vir die toer in met ‘n uiters oortuigende (amper so erg dat dit mens laat wonder) krokodil-item.
Die aand moes ‘n hele paar mense aan die hekel ry, veral Jeffrey wat glo aftershave saambring en nie ‘n skeermes nie. Gerrit wat albei arms nodig het om te kan slee en wat weet dat Susan se pajamas pienk is. Engel-hulle het weer die snaakste slaapplek uitgesoek. Elsje en Francois “Lemontree very pretty.”
Daar was ook vele teorieë oor ou of nuwe sleemaats. Gina sê oues is ervare maar Jurie dink dis lekker om te leer.
Sondag se kabouters het eers weer gaan bome plant vir vuurmaakhout, die gevolg was dat ons eers weer diep in die dag opgestaan het. ‘n Heerlike sonskyndag – veral vir Dorothea en Anton wat verjaar het.
So ‘n stal dien darem baie doele, sy stoep word selfs ‘n kerk. Oom Bethel lei die diens, dit was ‘n baie mooi boodskap wat ons vir die res van die toer sou bybly.
Dié middag sou gansie spyt wees dat hy jakkals se uitnodiging van die hand gewys het. Dit was fees! Goeden hond, die hoender en nog armsvol Elsa ook.
Sondagmiddag word weer verwyl met alles van stap tot slaap. Riaan, Retief en Francois het wel die hoogtepunt van die berg bereik, maar die eintlike hoogtepunt van die middag was die ralley wat met lilo’s op die klippe, skuus tog, water gehou is. Tokkelokkie, gewoond aan ‘n gesneak op die pens langs, bly maar voorbok. Snaaks dat Chris Dooner uitgeval het!
‘n Tweede ralley is amper in die pad af gehou met Coert se vertrek.
Met die chou-chou-makery sit die stokers vuil vingers by. Jeffrey weet nie hoe skil mens gaar aartappels af nie, Gerrit onderrig hom – “Begin soos jy begin slee man. Knyp eers.” Die slaai was die aand so lekker dat Johan Melville en Jeffrey dit vir die spinnies gevoer het vir sleepille.
Die eerste buiteslee van die toer, is ingelyf met ‘n vuur so groot, dat hy so ‘n ruk na hy aangesteek is, bietjie geblus moes word (na ‘n oulike kampvuurprogram).
Dan het opgedaag, daaroor was die spinnies verheug, maar wat hy het vir hom ‘n sleemaat gesliet en vir die spinnies ‘n hond in die slee geprop. Arme spinnies, hulle is ook oral afgejak die aand. Toe hulle mooi om sleepille vra by die houtkappers, stuur die hulle gou terug met die mening dat hulle eerder verslankingspille nodig het!
Chris Dooner vra of ons nie een aand ‘n Engelse aand kan hê nie. Jurie protesteer hewig, want dan sal hy net onder die kombers kan gesels.
Die nag slaap ons heerlik buite onder die sterretjies en die papnat dou!
Maandagoggend kom maak die man met die meeste integriteit en selfbeheersing – Jurie, die dames wakker! Hy is beslis op en wakker – of liewer, uitgeslape. Hy soek ‘n slotmaat vir die dag, sy moet drie dinge wees – willing, wanting & waiting.
Danksy die haastige walaaiers, was alles gou opgepak en was ons op pad. Dit was ‘n heerlike stap, die spreekwoordelike blomtuin van die Boland is darem maar mooi.
By die Monument het Sam (alias Hannes) en stoffie vir ons gewag. Ek wil nog sien watter BTKaner hom gaan steur aan bordjies soos “Nie loop op die gras nie.” Nadat Elmarie en kie sekergemaak het dat ‘n goeie driekwart van ons mense sopnat was, kon ons gaan eet en lekker speel met die koeldrankbottel as bal.
Na ‘n warm stap teen die pas op, word die kampplek bereik. Ons slaap alweer op die stoepe langs, bad heerlik tussen die blare en takkies en maak lekker mooi. Die aand daag baie mense op. Oom Bert Heyns kom om te bly, ook Hanlie kom kuier vir ‘n dag of wat en Jurie se ouers kom uit pure besorgdheid kyk of hy hom nog gedra.
Die aand vertel oom Bethel die grap van die kaalkop oom en die vlieënde koeie. Toe daar weer gepraat word van natreën of natmis, wou Hannes weet of daar dan vlieënde koeie daar rond is.
Ten spyte van sy Arwa-house, slee Riana (Jurie se sus) tog saam met Hannes. Die aand is dit stil om die kampvuur – die spinnies het geslaap. Die “wellste” plaasitem wat nog ooit ge-item is, het ons dié aand in vervoering. Met ‘n mengelmoes van ‘insects’ en Callas, het ons gaan slaap, ook nie vir die hele nag nie. So van vyfuur af, kon niemand meer die vlieënde koeie verstaan nie. Die volgende môre was almal in die tente, behalwe die oude dames.
Iemand sou ‘n heerlike, avontuurlike verjaardag hê – Francine het verjaar. Die dag het maar koud begin en dit sou nog baie kouer word.
Sou dit Jurgens se voorstapmaatjie wees of sou dit die tros eerste toeriste wees wie se asems so in sy nek geblaas het, wat gemaak het dat ou Jurie sy pad skoon byster geraak het.
Mens, maar sulke vlieënde koeie kan lastig wees, ons sal maar nie sê watter naam oom Bethel hulle die middag gegee het nie. Met lekker sing en volkspele en ‘n paar ekstra floppies agter die blad – wat ons op Paardekop nommer drie geëet het, kon ons weer verder stap, of soek. Die koeie het elkgeval oor tyd gewerk.
Dit was darem ‘n groot verligting toe die mis later lig en ons die pad kon vat af Stettynskloof toe, die lang pad van rem en val en rem en val.
Die liewe ou walaaiers het gesorg dat alles in die kamp tip-top was. Tente het halfmas gestaan, kookvuur gebrand, groente geskil en pouhokke ingelê. Sias en Tey-O en Amanda het ook oorgekom – vir die wraak sien.
Dis lekker ou bolangs was, chocolates eet en dan toue toe voordat almal om die vuur kom sit. Tog word daar nie die aand veel gesing nie. As ons ons weer kom kry, sing ‘n klomp maar weer, “Ek wonder wat my hinder”. Dit kan nie wees dat almal bekommerd was oor Riaan wat nog bril gesoek het nie. Arme Riaan het na vele ontberinge eers so nege-uur in die kamp aangekom.
Die damesskiet van die aand wás anders, want dit het doodkalm sonder enige chaos geskied.
Oor die wraak laat ons maar ‘n soete stilte hang, ons sê net, welkom aan die nuwes.
Van laat gaan slaap kom laatslaap. Die papkokers moes net sukkel om die mense by die pot te kry, al is hulle monde groot, hulle sal nog nie vir só ‘n groot pot special kans sien nie.
Met pap in die [pê:s], sien die komitee kans om enige span vir socker te challenge. Met die kreet: Kom, kom, komitee, wha! wahwhawhawga! Een-twee-drie; o sies! draf die onverskrokke span op die veld om deur ‘n piffel skeidsregter bevark te word -sy telling 2 – 1, die ware telling 2 – 3 (ons natuurlik 3). Daarna speel die houtkappers en blikwassers gelykop 1 elk, dit ontaard in ‘n touchrugby-wedstryd wat so ‘n chaos was dat geen punte daaruit gebore word nie.
Na verfrissing van die innerlike, spring ons gou voor middagbrood met “Drie vasbyte vir die swemmers” in die heerlike koele poele.
Na ete, stap ons op die verbode pad, wal toe. Ons hét nie op die pyp gekrap nie, net getrap. Dirk sak daar in ‘n pyp af maar weet later nie meer of hy moet op of af of kopaf nie. Arend en Estie speel toe maar cowboy en gaan soek hom.
Elsa laat ons verder na ons asems snak toe sy met lang Esther Williams hale, die stomp skoon bo van die damwal afswem.
As daar nie iets sou verkeerd loop met die stew nie, sou die stew nie by Obiqua pas nie. Al gehoor dat mens eers half-ses begin groente skil en nog dieselfde aand stew eet? Alles was anders dié aand. Daar word reeds by die groenteskil geskiet. Toe die son sy kop intrek, spring ons in die slees – almal behalwe gooeeeie ou Gerrit wat die stew geskiet het vir slee. Toe dit begin reën in die slees, sê niemand eers kwê nie – slee net aan. In plaas van koffie, word die fluitjie geblaas vir stew. Ergste van alles, dit was komitee-items, baie oorspronklike items, maar!: die kokke kry toe spesiale vermelding. Ja hoor! Ten spyte van Elmarie en Estie se gepyprook. Saam met die kokke het die blikwassers ook spesiale vermelding gekry en ook die papkokers. Die tente-komitee het uitgedraf vir die kondens.
Nog iets ongewoons, die nuwe groen grondseile vir die damestente is die nag onseremonieel, in gebruik geneem.
Die tente-komitee het omtrent al wat ‘n tent is opgeslaan. Gerrit sou wel sê as hy op die tente-komitee was het hy die nag almal gaan natgooi wat buite slaap.
Donderdagoggend het Dolf en Jurie verslaap en almal moes daaronder lei. Die arme oggendbrode was skaars op, toe skree almal al opstaan, net daarna “die damestent val oor vyf minute” -sy val wás groot. Estie en Christine het nog so in die chaos van die bondeltjies klere gesit toe die manne skree timber. Daarna was dit ook sommer eet en walaai en toe ons weer sien is als oor. Gewapen teen die dreigende vlieënde koeie, het ons die pad gevat, op soek na die Shackelton. Ons was skaars honderd treë (o ggats, seker meter) weg, toe waai die klere saam met die koeie.
Die stap was die lekkerste van die hele toer, vol sonskyn, lekekr lag en sing, vol oppies en affies. Mooi blomme en watervalle, die baie interessante rampgebied van die Shackelton, waar Chris Dooner natuurlik weer ‘n aandenkinkie opgetel het!
Nuweland se kampplek was so lekker, dit wou lyk of die kampplekke al lekkerder word hoe verder ons gaan.
Dis na ons dié aand so lekker vroeg geëet het, toe Jurie na ete so begin beskuit knie en deeg dan in lae gepak het. Mag dit tog ‘n waarskuwing wees vir die dames wat in die toekoms saam met hom mag pan, enige getal onder drie, en julle is gedoem.
In die slee het die spinnies ‘n baie noue ontkoming gehad, eers steek Gerrit hulle met ‘n brandende stomp aan die brand en dan gooi hy die vuur dood met net een blik water. Kom daarvan as mens sy sleepilblik steel.
Chris Dooner het net so naelskraap aan ‘n waterdood ontkom. Hy speel toe mos Napolion. Gelukkig, sê hy, was my jas waterdig. Na ‘n spul baie “well”-items, maak ons soos Dolfie dag opgemerk het, ‘n BTKaner jol tot hy nie meer kan nie, dan pass hy uit. Almal het gaan slaap, behalwe die paar wat tot laat nog lê en giggel het.
Vrydagoggend pak ons die lang hartseer bult so op onse nugter mage. Verder stap ons lekker deur die mooiste mooi berge en vlaktes, heel rustig, behalwe wanneer Susan of Hélene weer agter ‘n klip uitspring met ‘n beker water. Wag maar, elke hond kry sy dag en elke walvis sy harpoen, sê Chris Dooner, veral na die stigting van Hydra.
Die spookhuis doem soos ‘n welkom spook voor ons op. Tog lekker om weer daar te kom aanland. Die Bainsklowers het ons kom uitdaag vir Wolley-ball maar wat, ons was eerder lus vir kiste was en swem. Dit was ook net woerts warts en als is skoon. Darem flukse mense, die BTKaners, veral as dit by water kom.
Siestog, ons het gedink hulle weet al, maar daar was tog ‘n paar manne wat nie geweet het dat hulle dié aand mag dubbel skiet nie. Toe was daar nie eers sulke groot sports aan die skietery verbonde nie. Ons het nog so die kokke staan en bewonder, toe is al die ander al geskiet – let wel, al die ander.
Panpoedings – ag heerlik. Iets waarna ons al heel aand uitsien. Een pan s’n was bietjie te groot, nadat Chris Dooner hom geledig het, sê hy, “Dankie, dit was ‘n lekker “pan”-poeding.”
Die aand word die plathond weer meer groot brawade ge-item, vir die res was dit maar mellows braai en slaap in die rook. Dit was ‘n heerlike aand, met gaste soos Tone ook byderhand of inderslee of hoe nou weer? Na ‘n pragtige, uitgerekte serenvade van ‘n dame of twee wat ook by die vuur wou slaap, raak die kamp stil.
Die laaste môre se oppak, bly maar die knoppe opja keel toe. Dit was darem ‘n besonderse toer. So mooi, almal was so maats en het so lekker saamgewerk. Alles was soveel wonderliker omdat ons daar soveel meer onsself is.
Die Chris Dooner is tog snaaks. Op pad terug wou Fieks met hom ‘n Napoleon-grap maak, sy kommentaar was net ‘Sleg Grap’. Toe hy hoor dat Gerrit ook ingenieurswese swot, sê hy; almal op die BTK swot ook net ingenieurs en tókelosh. Volgens hom is proffesional as mens bubblegum en ‘n ander sleepil gelyktydig kan eet sonder om die twee te meng.
In Stellenbosch, moes al wat leef eers weer gekoning word, arme Verbruikers het seker ook net gesê: Goeden hond!
Toe die walaaiers aankom was hulle songkie weer:
Dis lekker om BTKaner te is, te is,
dis lekker om BTKaner te is.
Om wa te ry en innie slees te (vry)!
Dis lekker om BTKaner te is.
Dankie maats, ek sal julle altyd onthou soos ek die BTK altyd sal onthou, vol sports, oorspronklikheid, swaarkry en die verruklike gevoel wanneer ons saam Sy natuur kon geniet en tot Sy eer sing.
Estie de Beer
(Sketsskryfster)