Ja, Donderdag 26 November, het BTK geskiedenis gemaak – in plaas daarvan om ‘n halfuur te laat te vertrek, was ons net ‘n kwartier laat! Ongelukkig was ons blydskap net van kort duur, want ons was nog nie eers uit Stellenbosch uit nie, of ons kom tot die ontstellende nuus dat die bus se een wiel pap is – gelukkig nie die hele wiel nie, net waar hy aan die grond raak! Maar BTKaners laat hulle deur niks onderkry nie en op maat van “Die Groot Mars” val ons in die pad en stap tot die bus ons na so ‘n rukkie weer kom oplaai.
Al singende en laggende kom ons toe by Malgas se pont aan en natuurlik dink almal wat die vorige Knysna-gala getoer het terug aan die Midde-Ooste geveg. Ja, waar water is, bly BTKaners nie droog nie, veral nie as ‘n mens met ‘n pont reg oor ‘n rivier EN weer terug moet gaan nie. Tjoi het sommer gesorg dat hy goed nat word en het heeltemal in die water gespring.
Kwart-oor-vier kom ons by ons kampplek op Kaap Infanta aan. Arme Tertia, wat wa gery het, moes alreeds uitvind dat sekere bootladingsplekke baie glad is, só glad, dat ‘n mens selfs jou oogbank kan stukkend en blou val as jy nie oppas nie.
Sommer daardie eerste aand reën dit al en dis toe dat Sakkie sê hy sal maar vir hom ‘n lekker warm slaapplek moet soek, want hy vat nog eerder vrou as ‘n koue!!
Vrydagoggend voor agtuur het ons reeds gestap. Ook maar goed ons het so vroeg weggekom, want het ons nie verdwaal nie! Na so ‘n effense ompad het ons toe darem uitgekom waar ons moes. Carien was blykbaar ‘n bietjie warm gestap, want na ‘n akrobatiese beweginkie het sy van kop tot tone in ‘n poel water beland.
Toe ons later op ‘n paar vissermanne se perde afkom en Francois na die perde toe stap, merk Emile so ewe droogweg op dat Francois die regte “persoonlikheid” vir ‘n toerleier het. Dit was ook nie lank nie of die BTKaners begin soos wafferse “cowboys” op die perde ry. Stephan en Stoffie laat nie op hulle wag nie en met hulle nekdoekies oor hul gesigte gebind, bekruip hierdie twee “crooks” die perde.
Een van die twee kleurling-vissers kom vertel toe vir ons dat sy werk is om te kyk dat vreemde duikbote nie daar rond ry nie!
Min van ons sal seker die lieflike grot vergeet wat ons ‘n rukkie later dieselfde dag gekry het. Wie kon dan ook die gevoel vergeet wat ‘n mens in so ‘n pikdonker grot kry (alle flitse is dood) en almal sing saam die “Onse Vader”.
Saterdag se stap vanaf Noetzi na Hamerkop is seker een van die mooiste stappe waarvoor ‘n BTKaner kan wens. Die hoë rotse, die blou see en die wit spattende branders sal ons almal onthou.
Op Hamerkop het die Universiteitskoor-lede by ons aangesluit. Weer het die walaaiers die lekkerste werk gehad, want hulle moes nie alleen wa aflaai nie – die hele kamp het help afpak. Die rede was nie dat ons hulle jammer gekry het nie, maar die wa kon net tot bo-op die bult ry, so sleg was die pad. Al die tente, pouhokke, bagasie, kos, ensovoorts, ensovoorts, moet toe teen die heuwel af en oor die “vlakte” gedra word tot by die kamp. Dit was beslis ‘n verligting toe dit nie reën nie, want as ons so halfpad deur die nag moes begin tente afdra …………..
Vir die wat nog nie geweet het nie, het die spanning al hoe meer opgelaai hoe later dit word. Gelukkig vir hulle is hierdie spanning, darem ook beeindig en nou weet hulle!
Sondagoggend, nadat die feetjies en kaboutertjies ons koffie en beskuit gebring het, het die meeste maar weer geslaap, party tot byna middagete. Na die ete en hope en hope Elsa-de-Lux het die meeste BTKaners aan die maag-rek-oogtoeval refleks gely en die gevolg was dat die meeste maar weer tot byna vyfuur geslaap het. Vyfuur het oom Bethel die kerkdiens gelei – weer eens ‘n onvergeetlike preek.
Die aand was dit damesskiet en ons sal nie maklik Maatjie se skiet vergeet nie! Vir die volgende twee of drie dae het Elric elke slag as hy na Maatjie kyk, opnuut uitgebars van die lag.
Voor sleetyd het ons almal langs die see gaan stap en heelwat van ons was meer vol sand en effens natter na die stap as voor die stap, want die manne het solank hul rugby-duike op die arme meisies geoefen.
Toe dit lyk of dit dalk wil begin reën, het Emile gesê dat al reën dit hóé, hy sal nie onder die wa slaap nie, want hy wil nie hê sy slaap moet in die wiele gery word nie.
Maandagoggend moes al die goed weer teen die bult uitgedra word. Die arme ou wa moes partykeer ook maar sy staan ken – anders het hy omgeslaan. Almal het gevoel dat ons vir Johannes ‘n medalje moet gee vir sy bestuur op daardie kronkel en hobbelpad.
Die wa sou ons op Koppie-Alleen kom oplaai, maar toe raak die diesel op en ons val maar weer in die sandpad. Al was ons hoe moeg en warm, het ons maar aangestap en soos een man gejuig toe ons uiteindelik die wa in sig kry. Kort voor De Hoop, moes ons egter uitvind dat Hamerkop se rowwe pad glad nie mooi gewerk het met ons ou wa nie, want toe breek sy dryfas mos. Ai, dit was ‘n tragedie.
Op De Hoop se kampplek was daar sulke luukshede soos storte wat baie hoog gewaardeer is, al moes ‘n mens eers BAIE lank in ‘n queue staan, of liewer sit.
Dinsdagoggend het ons met die bus tot op Skipskop gery en daar eers ‘n lang gesprek met oom Danie du Toit gevoer. Hy is 91 jaar oud en al woon hy in ‘n ou rietdakhuisie met net ‘n primus stofie en sy lepel en tjekboek tussen die dakriete ingedruk, is hy ‘n skatryk miljoenêr. Die ou oom het ons laat skaterlag met sy gevatte sêgoed, veral toe hy vir Sakkie sê hy sal moet koes as daar oorlog kom, anders skiet hulle hom raak!
Toe ‘n klompie van ons naby Waenhuiskrans kom en besluit om die klonkies op die strand te koning, het ‘n verrassing op ons gewag. Voor ons nog “Die magtige koning……..” kon aanhef, storm die klonkies hand-om-die-lyf op ons af en skree die heel tyd “la-la-la-wha-wha-wha.” Dis toe wat hulle onthou van die voorste BTKaners wat hulle gekoning het!
In die hotel het ons eers almal ons dorstige kele gaan nat maak en natuurlik weer gesing dat die dak lig.
Op die kampplek het ons die meisies wat die wa gery het, nog steeds verontwaardig aangetref. Toe die wa naamlik op die kampplek aankom, het die manne byna al die werk, kiste aflaai, ensovoorts, op die BTK meisies afgeskuif terwyl hulle ‘n paar Ikey meisies te hulp snel en help tent opslaan. Toemaar, die meisies het daardie manne behoorlik laat les opsê.
Ons rûe en arms en bene het so seer gebrand in die son dat Frieda ewe ernstig sê sy sal moet hande-viervoet slaap. Weereens is dit damesskiet en hierdie keer is dit Alice wat weer op ‘n absoluut klassieke manier vir Andrew skiet. Hy het agter die bus gelê en slaap en hom byna oor ‘n mik geskrik toe die meisies hom met ‘n aaklige lawaai wakker maak en Alice hom skiet. Daardie aand voor sleetyd het almal eers heerlik om die vuur gepolka, totdat ons later so moeg was, dat ons nie anders kon as om maar op te hou nie.
Net na ons die Woensdagoggend begin stap het, het Elric ‘n pikkewyntjie gekry en hom saam kamp toe gedra, maar ongelukkig is hy (die pikkewyn) toe later dood. Ten spyte daarvan dat ons teen ‘n vreeslike sterk wind wat reg van voor gewaai het moes stap, het ons vroeg op die kampplek by Die Mond gekom.
Daardie middag het die meeste meisies uitgevind dat ‘n mens nie jou seergebrande gesig vol room moet smeer en dan in ‘n aaklige wind gaan lê en slaap nie, want die gevolg as jy wakker word, is dat die sand wat teen jou vasgewaai het ‘n hele kors op jou vorm. Maar na ‘n lekker swem in yskoue water is dit ook weer vergete.
Die arme tente-komitee moes alweer in die nag opstaan om te kom tente opslaan, maar toe die tente uiteindelik staan, was almal al klaar sopnat. Al was Donderdag ‘n oorstaandag, was dit ‘n dag van beserings. Eers duik Hannes in ‘n paal vas en sny sy kop oop. Dr George Bell moes net steke insit in die bus wat ingerig is as “teater”.
In die rugby-wedstryd het die Suide die Noorde sommer gou-gou kafgedraf. Hier moes Tone weer oortyd werk, want Francois se knie-ligamente is verrek, René het haar enkel verstuit en Pieter se toon het ook in die slag gebly.
Die middag het die manne besluit om hul voorkoms op te knap en die meisies moes net hare sny en baarde afskeer vir die vale!
Andrew het probeer om sy verjaardag geheim te hou, maar helaas! BTK meisies is altyd reg vir ‘n queue!
Arme ou Tjoi het die hele dag al siek gelê in die varkhok. Al wanneer hy opflikker is as Sakkie die een of ander meisie in die manskamp in “chaperone” om sy ou vriend te besoek.
Die komitee-items was maar weer net so “uitstekend” (let wel in aanhalingstekens!) soos gewoonlik.
Vrydagoggend moes ons deur die rivier gaan en natuurlik het omtrent die helfte papnat aan die anderkant gekom. In Struisbaai se kafee het ons gesing dat die dak wou lig en op die gras agter die kafee middagbrood gehou.
Van daar het die bus en wa ons tot by L’Agulhas geneem waar ons deur die gebou en in die vuurtoring in was. Ons kampplek by L’Agulhas sal almal seker altyd onthou as die duwweltjieplek. Elkeen het met die eerste trapslag seker in ten minste drie of vier duwweltjies getrap. Die aand het die duwweltjies natuurlik ook ‘n aandeel in al die items gehad – of hoe Elric?
Soos dit altyd gaan met die laaste aand se skietery, was daar weereens ‘n ingrawery van ‘n ander wêreld. Ongelukkig het dit later begin reën en ons moes eers in die motorhuise gaan sit vir ‘n ruk tot ons weer buitentoe kon gaan en afskeid neem van al die ou BTKaners.
Alle lekker dinge moet eindig en dus het Saterdagoggend ook maar aangebreek. So in die reën het ons opgepak en afskeid geneem van nog ‘n lekker toer. Op Stellenbosch het almal gou kiste help was en toe gegroet tot ons volgende keer weer saam toer.
Nulda Beyers
(vir Sketsskryfster)