04 – 11 April 1974
Moeilikheid, Tys en die wa is al tradisie voor ‘n BTK-toer. In Skuilhoek ondervind die waryers eers opgewonde afwagting en later berustende opwagting. Ter elfder ure is gewoonlik die tyd dat Tys besluit die wa moet ‘n ander enjin kry en dit sal hom blykbaar net ‘n oomblikkie neem. Soos die oomblik langer word gaan opgewondenheid oor in verbasing. Die oorsaak ‘n “civilized” wa wat kampusbeheer terstonds laat besluit om te kom ondersoek instel. Al van walaaiers gehoor wat “geflôr” is? Nooit. Met bagasie binne in en kiste bo-op staan die wa gereed. Die waryers skop nes met groot rumoer.
Dis in Du Toitskloof dat ons toe vir Willem raakloop of figuurlik – raakry. Willem gaan mos Transkei toe. Besluit ons algemeen dat dit darem piffel is van ons sekretaris van toere en so in die ry gee ons hom ons piffelsak as aandenking. Dié neem hy nogal met dank aan!
Ons ry soos net BT-Kaners ry. Met Hennie aan die stuur word die perde onder die kap aangespoor om net hulle beste te lewer. Met sewe liter roomys vir sestien mense vang ‘n mens net gees en as Jaco kreun dat dit sy laaste roomys is lag jy maar net en wag om te sien wat volgende keer gebeur. Om roomys te eet pan of bak ‘n mens in ‘n kring plat op jou maag bo-op die bagasie. Die res volg outomaties en vaak word is die uiteinde van die saak.
Grappies maak is deel van die BTK, maar nie die belangrikste deel nie. Diep in jou BTK-siel is jou stille ervarings van en in die natuur die dinge wat werklik tel. Dis daardie deel wat jou ‘n groot en oorweldigende dankbaarheid teenoor jou Skepper gee vir so ‘n wonderlike land van berge en vlaktes. Dis met daardie deel wat jy die laaste wegraak strak van die son oor die berge geniet, wat jou besiel met die ywer om van naderby te gaan kyk hoe daardie berge werklik lyk.
Ashton en Montagu gaan verby en dan met die “civilized” wa met die plaaspad langs tot by Geelboslaagte en ons kamp langs die perde kampie.
By die kookvuur is Heidi letterlik en figuurlik vuur en vlam vir die BTK. Die figuurlike laat ‘n mens soms ‘n bietjie skrik veral as ‘n deel van jou kookbroek se pyp in die slag bly. Om die busryers te koning is om hulle hartlik welkom te heet en dadelik tuis te laat voel by die eerste kampplek. Navraag na die “civilized” wa ontvang ons met die stilte van die wat weet dat dit langer as ‘n oomblik neem om ‘n wa se enjin om te ruil.
Saam eet, saam sing en saam die Here loof vir die begin van ‘n week in die oop veld, is dit wat ons as groep saam snoer. Dis dit wat jou met kalmte en tevredenheid aan die slaap laat raak en laat wakker word met opgewondene-vooruitsig na die dag wat voorlê.
Vrydag:
As jy weet jy gaan die energie gebruik, word ‘n groot ontbyt geregverdig. Leon Jooste betaal verontwaardig 25c vir ‘n stukkie witgedotte rooi materiaal wat nie eers omgesoom is nie. Sterretjie besluit dat ‘n perd en ‘n meisie baie ingemeen het en op so ‘n Vrydagoggend verkies hy ‘n perd. Arme Toffie word geterroriseer deur ‘n groot hond en moet die dag wa ry.
Met Jaco as leier vaar ons die kloof op – dis voortvarendes, afgevaardigdes en onervarenes: Min asem en moegheid word beloon deur ‘n uitsig wat alles die moeite werd maak. Leon Techman is die technician van die movie. “Die BTK on the move”. Tey-O se swottings kom onder bespreking en na beraadslaging besluit Emile dat vetplante ordinêr is en dat Tey-O besig is met sy MSc in fungus margerenuns. Berge af gaan dit deur Emile se groen ergernis.
Ander geniet middagbrood, stort en streeknuus die meeste aandag. Met voorstellings-parade is die ons uit en die gram en kilogram in. Om petrol te bespaar loop die BTK op “orange juice”.
By Kalkoennes met die sluiting van die streaknuus sender open die streaknuus sender. Die weerberig word bewaarheid toe die stroompie afkom na aandete en groei tot ‘n breë rivier. Die slaapplek en die kostent alleen beman deur Roelof word van mekaar afgesny. Die rivier geniet soveel aandag dat die gewilde “klim in julle slees” geen aftrek kry nie. Nie eens Marius se opmerking dat ons in die spoel pouhok se afloop water staan maak enige langdurige verandering in die toestand van sake nie. Uitkenningsparade bied die ou toeriste ‘n gulde geleentheid om so ‘n bietjie te dut.
Saterdag:
Saterdagoggend is die BT-Kaners verteenwoordigers van die bus en toer klub. Teen tienuur moet hulle toe maar weer van inskrywing verander om die vlermuisgrot te kon besoek. Die “deoderant” wat oom Bethal gisteraand van Hein wou koop sou darem vanmôre so goed te pas gekom het. Dis padstap en swembad voor ons terug is in die kamp vir die wraak. Die wraak is ‘n galg naby die modderwater, ‘n brousel op die vuur en is dit al? Die ou toeriste kry aaitems uit die boonste rakke en Jan lewer ‘n lopende kommentaar met ‘n besondere opmerking dat as skroefies uitgedraai word dan val die boudjies af. Maanlig en die wraak, sjampanje en eetgoed is goeie kombinasies. Dit word verskaf deur nuwe toeriste en getroude ou toeriste.
Sondag:
Met die BTK busdiens is ons Sondagoggend kerk toe. Die kokke en stokers van die B-span het uitgedraf met ‘n vyfster ete vir die BTK hotel. Bogenoemde B-span het hulle lelik misgis met hulle kapasiteit vir Elsa de Lux. Om die pan leeg te kry moes hulle so elke nou en dan eers ‘n daguitstappie onderneem. Om in almal se slaai te krap is die A-span kokke se bydrag tot die Sondag.
Maandag:
Maandagoggend op Montagu kry ons toe ons kans om as BT-Kaners dankie te sê vir ons heerlike kampplek op Kalkoennes. Leon Jooste “leen” gou ‘n fiets om die pad deur Montagu te verkort. Weer by die warmbad gaan ‘n paar BT-Kaners vasstel of daar nie dalk ‘n buro vir verlore goedere is nie. So onder die stap bewoord Marius en Marina Conradie verdere versies vir tienduisend man. Apartheid is die beleid wat streng deur gevoer word by middagbrood se swemplek. Streakers is aan die orde van die dag. Beleid word deur Magda en Richard geminag. Ons toer verder deur ‘n lekker ou stuk amper-Karoo bossieveld – spekbome en botterbome en dongas. Dit alles maak so ‘n lekker ou Karooverlange in jou wakker (dis te sê as jy van die Karoo hou). Vir Toffie is die bossies te veel – maar sou jy nie ook maar so gevoel het as jou magie so na aan die aarde was nie. Boskloof en dan Eikenhof waarvan appels eet die aanhef en die slot was. Volgens Jan was die aanhef nie goed genoeg nie; want appels eet is “ophouertjies”. Rooi appels en groen appels; rou appels en gestoofde appels – appels vir Afrika. Dis toe net hier dat Piet Otto besluit dit het tyd geword dat ons dankie sê en in plaas daarvan om “vir spys en dank” in te sit soos Jan hom gevra het, begin hy met “Ons sê baie, baie dankie”. Sleetyd en Adri en Lientjie kry hul lank afgewagte kans om hulle aaitems van die “skroefie in die naeltjie” te voltooi. Hekeltyd vra julle vrae aan oom Bethal en daarvoor benodig Tey-O sy “translator”.
Dinsdag:
Lekker ou padstap! Hooftema: seervoete. Oorsaak: blase. Om die oorsaak te verlig word die slot kis oopgemaak. ‘n Stokou verrimpelde jong wat kopskuddend staan en toekyk se enigste opmerking is: “Is julle nou mal om so ‘n blêddie ver ent te stap”. Die herverrassing het tannie Helen heeltemal bekommerd gehad oor oom Bethal. As ‘n mens darem ‘n blompot vir ‘n eend aansien moet daar êrens fout wees. ‘n Leë en modderige Keuromdam veroorsaak ‘n laat middagbrood. Skiettyd en chaos. Die spanning word verhoog deur die boontjies wat weier om gaar te word. Die Bachies ontsenu die manne deur net so kliphard saam in te grawe. Antiklimaks en groter chaos toe Sarina die fluitjie blaas vir die tweede damesskiet van die toer. Sleetyd lewer ‘n vervolg van Jan Neiderheitman se spook.
Woensdag:
As burgers van die berge trek ons teen die Tradouwsberg uit. By die enigste water bo-op die berg met die apartheids beleid nie meer in werking nie, is streaking toe verbode. Marius, Heidi en Pierre sit toe voor middagbrood letterlik die “disappearing trick” in. Berg af vind Hein die paadjie wat hulle met die rekkie skoon misgeloop het. Val al ons gekoning in De Doorns was dit net die hôi-hôi wat die meeste aandag geniet het by die klonkies. Kamp en die beste badplek van die toer lewer ‘n groot rumoer. Die mans saai streaknuus uit van die onderste badkamer en die dames saai vroue rubriek uit van die boonste badkamer. Komitee “batch” is in en die tentekomitee stel die voorbeeld. Gelykskiet is in en bordspin is gewild (veral as dit om Lientjie en Henriette gaan). Tentekomitee met niks om hulle mee besig te hou nie, terroriseer die aaitems Emile doen dinge deurgaans reg. Hekeltyd en die pouhok woordbouraaisel word opgelos “missing link” K-N-Y-P. Heidi wil egter nog altyd weet waarvoor staan mossie.
Donderdag:
Donderdagoggend breek aan met miet in die pap. Sommige geniet dit vleisgereg, ander gooi dit sommer in die piffelgat.
BTK afskeid en met die busryers in die bus en die waryers in die nog steeds “gecivilized”-de wa is ons terug Stellenbosch toe.
Naskrif: Jaco het toe nie bedank vir die volgende sewe liter roomys nie.
“Ons lof en dank word Hom gewy
wat was en is en ewig bly.”
Marié Blignaut
(Sketsskryfster)