20 – 27 November 1981
Vrydag, 20 November:
Op ‘n mooiweers dag wat ‘n goeie toer voorspel vertrek die wa reeds vroegoggend met ‘n jolige klomp BT-Kaners. Ons laat sak maar liewer ‘n sluier oor hulle duistere bedrywe vir die res van die dag.
By die bus daag slegs die eerste toeriste betyds op. Die ou toeriste verskyn drentelend op die toneel, so asof die bus laat gaan vertrek. Sommige is wasbleek van die eksamen, terwyl andere se sonbruin gelaat getuig van ‘n minder strawwe eksamen-rooster.
‘n Sekere dame se nonchalante houding en toonbeeld van onskuldigheid is die oorsaak dat haar naam dadelik verander word na: “Ronel-wietie-hoelatie-bus-vertrekkie”.
Nadat Caledon se verkoops-syfers die hoogte in laat skiet is en diegene ge-“walkies” het wat wou, is die rustige busrit voortgesit met en ‘n halfskemer aankoms by Stilbaai. Die reuk van seewater laat almal effens blymoediger voortsoek na hulle bagasie wat die volkie Israel se verstrooidgeid laat lyk na blikaspaai op ‘n Sondagskool piekniek.
Na ‘n broodrolletjie en koffie (Tobias Skeurbuik opper reeds sy eerste besware) lig Deon die ongeligtes in en almal luister aandagtig. Die ingeligtes sit en ginnegaap. Na aandgodsdiens werp almal hulself in ‘n meer horisontale posisie neer en stoot Suid-Afrika se gesaagde hout produksie op (sommige, meer as ooit).
Saterdag, 21 November:
Met geen waarneembare poging van die “ervare senior Oggendbrode” af nie word daar maar sukkel-sukkel opgestaan. Uit die skynbare chaos word skielik orde geskep toe die “flinke” walaaiers die toneel oorneem en die wa begin te laai.
Gelukkig waai die baba-orkaantjies van agter en word daar dus fluks aangestryk, in die rigting van Waenhuiskrans.
Met die eerste “gamebreak” word voorstellingsparade gehou. Nadat oom Gys as die Grys gedruis, tannie Magriet “Die grysheid van die wysheid” voorgestel is, Neels en Tielman se harte na die Transvaal laat verlang is, is na Fransie en Jocomie verwys as VVV’s, of dan overgesetsynde, die Vreeslike Van Niekerk Vroumense. Betsie is Deon se eie persoonlike VVV.
En die baba-orkaantjie bly winderig.
So strompel mens voort, alhoewel eksamen skryf darem nog erger is. Net duskant (+ ‘n derde kilometer) ons bestemming, het ‘n lae Duitse sand-sportmodel probleme met die sand, en die altyd flukse manne bied onverwyld hulle hulp aan. Soos die ongeluk dit sou hê, haak daar van die ledemate van die Samaritane aan die voertuig vas en bloot om hulself te beskerm, spring hulle toe maar op die voertuig. Hierdie noodtoestand kon blykbaar eers bo-op die bult onder die aandag van die bestuurder gebring word.
Na daardie aand nesgeskop is, arriveer kosma Ilse en oom Bethal en sommer ‘n Duitse broodblik vol mense, of dan BT-Kaners.
Die gewone klomp eerstetoeris-items, met hier en daar ‘n beter een soos Elmarie en Mariëtte se boksgeveg word opgevoer. Daarmee word hulle op egte BTK-wyse ware BT-Kaners gemaak.
‘n Heerlike teetjie word geniet waarna aandgodsdiens gehou is. Dié tentekomitee word aangeraai om na bowe te tuur.
Sondag, 22 November:
Gepaardgaande met ‘n T Beukes-monoloog insake die gebrekkigheid aan koffie word BT-Kaners gewek met koffie- en beskuit in die bed deur feetjies en kaboutertjies (kafeetjies en boutertjies?). Hier en daar word daar van persoonlike koffie-bedieningsdienste gebruik gemaak vanweë die feit dat ‘n eerste toeris nog nie die twee-man-tent fenomeen ontdek het nie.
In die sleekring val ‘n paar manne hulself uit die seile uit. Die tentekomitee se weervoorspellings word weereens in twyfel getrek. Na die nag se reën begin die dag koelerig.
Oom Bethal verfris die BT-Kaners se geestelike sy met nog ‘n treffende preek tydens die oggendgodsdiens. Wat ‘n wonderlike voorreg! Na die diens bly feitlik almal rustig sit (of voortslaap) in die kring.
Sommige flukse waansinniges besoek die Waenhuis van Waenhuiskrantz en andere gaan neem foto’s.
Intussen is ‘n ingewikkelde komplot besig om te ontwikkel. Sekere persone flikflooi by die kafee-tannie om die roomys te gee sodat dit kan kampterrein toe gevat word vir middagete. Die omie glo nie die storie nie. Nadat die tannie egter die bêre plek verklap het, kry die oom dit reg om die roomys met die ontvoerders in sy bakkie te laai en reg voor kosma se oë af te laai. Dit was net ‘n ou “grappie”.
Bets vertrek huis toe in haar en Deon, of Deon en haar, nuwe Mazda. Toe Ilse en Deon dié aand saamslee, was daar baie skimpe en tergery in hulle rigting. ‘n Kettingbrief word ook vir “Dear Pierre” geskryf.
Met ervaring en jare en dies meer agter hulle, kikker Henriëtte en haar spinnies die sleekring op. ‘n Flou item deur die walaaiers laat die spinnies egter lyk soos ‘n klomp koeie wat ‘n muur probeer regop hou.
‘n Verwysing na die ope hemel het onmiddellik ‘n flou reënbui tot gevolg wat lei tot ‘n tentslee. Daar word lank gekonfereer oor in watter tent die plat hond opgevoer moes word. Weens sterk teenkanting is ‘n baie plat en afgewaterde hond toe opgevoer.
Die kerkkoor sorg vir ‘n gewyde atmosfeer waarna met aandgodsdiens afgesluit word. Buite is alles blinknat. ‘n Klompie toerlede sing nog ‘n bietjie uit hul boekies.
Maandag, 23 November:
Nadat die oggendbroodjies deur die ouens in die bus weereens gewys is op die onmoontlikheid daaraan verbonde om ouens nat te gooi, maak almal hulle slaggereed vir ‘n lekker stap.
Daar word voor die stap aangekondig dat Naomi verjaar. Die manne “queue” en sommige gaan vir “seconds”. Piet besluit dat sy rietbesemliggaam ‘n bietjie opwarm nodig het en kondig droogweg af dat hy verjaar. Sy opwarming geskiet egter nie mondlangs – soos hy gehoop het nie, maar wel met behulp van ‘n lekker bakoond.
Met die alombekende blaas van die fluitjie en Neels se tenoor “Stap Nou!” vertrek die BT-Kaners in ‘n bondel om dan later ‘n lang spoorstreep op die sand te stap.
By Ryspunt word die geskiedenis weer opgediep en die bene ‘n ruskans gegee. Onder Neels Muller rus ‘n mens egter nie lank nie en ons arriveer middagbrood-tyd op Skipskop waar die bus en Kombi wag.
Met die “cookie jar” en “hopscotch” spelery word die tyd omgekry. Na ‘n op-en-af grondpad ryery arriveer ons op die Hoop wildproefplaas met ‘n bus wat effens gemodifiseer is.
So tussen die stofwolke en windvlae word stadigaan die prag en mooiheid van die omgewing raakgesien. Die Kaapse Dokter se vennoot se praktyk staan sterk op De Hoop. Helene Basson en Hanchen Lutz laat menige meisies se Hoop beskaam, want Chris Wüst en Francois de Wet is darem maar oulike ouens.
Van sommige manne se geoefenry vir skiettyd kom daar dadels, want die tweede dameskiet gebeur. Koos doen weer goed besigheid.
Ten spyte van die lekker strooibale, gebeur daar ‘n hele klomp items. Die walaaiers se Napoleon item word geflop, bo-op die spinnies wat toevallig omtrent almal oggendbrode was.
Met hekeltyd sien Jaap de Lange vir Helene Lourens aan as ‘n optiese illusie.
Dinsdag, 24 November:
‘n Groot voorraad vars lug word vanuit die Suidooste teen ‘n groot spoed heeltemal gratis verskaf. Baie toeriste wens iemand wil die Adriaan waardeur dit inwaai toemaak. Selfs die jukskei toernooi eindig skielik toe ou Mossie sy opponente uitskakel deur hulle met die jukskei by te kom. Chris was seker deur die wind verblind toe hy in die jukskei vas loop. Bredasdorp se medici was gelukkkig net ‘n Kombi-rit ver.
Nadat Braam en Neels hul moed bymekaar geskraap het om Helene te nader vir ‘n haarsnyery, kwyt sy haar so goed van haar taak dat hulle tevrede was “Enige haarstyl sal in elke geval sulke gesigte pas” – aanhaling uit die versamelde werke van Gustav Salhert.
Weens die gebrek aan nuwe verliefdes, kook twee eerste toeriste sop. Brommend oor die gebrek aan koffie, annekseer Tobie die kombuisie die hele dag lank en verower die een kontinent na die ander met sy Risk-speletjie. In die loop van die middag wou militante groepe van buite egter die gebruik van die kombuis hê. Hy is toe deur ‘n bloedlose staatsgreep met ‘n geheime wapen, naamlik vroulike lis, uit die kombuis verban.
Die aand met komitee items werk die kokke en stokers se busbestuurder oortyd met ‘n nimmereindigende bus wat nie kan end kry nie. Die oggendbroodjies en walaaiers wen met onderskeidelik “8 little walaaiers” en “Die Windpomp” die kondensie. Met hekeltyd doen Helene verantwoording oor die probleme wat Chris se stukkende lip haar gee tydens sleetyd.
Na aandgodsdiens kruip almal in ‘n slaapplekkie in om uit te rus vir die rugsakstap wat voorlê.
Woensdag, 25 November:
Nadat Deon sy skreeu-oranje horlosie by Waenhuiskrantz verloor het, is sy “ons eet oor twintig minute” weer oor tien minute. Dus is alles weer normaal.
Almal haas hulle om hulle rugsakke gepak te kry. Party kan nie wag om te vertrek nie, terwyl die eerste-rugsakstap-mense maar effens huiwerig is.
Met die bus op ‘n twee-spoor paadjie gaan dit maar mik-mik tussen die bossies deur. Na ‘n rukkie verskyn Koppie-alleen se nuwe huisies.
“Met ‘n ruk en ‘n wip, wil hul oor die klippe, ploeg hul deur die sand, en later ploeter hulle voort.” (Aanhaling van anoniemie(sic) uitgeputte stapper.)
‘n Gebroke kuslyn met sandstrandjies is ons voorland. Mooi stukke landskap verskyn na elke draai en baaitjie. Met “gamebreak” word ‘n strandhuisie se watervoorraad op ene Jacomie gemors.
Na gamebreak word ‘n paar bekendes raakgeloop. City Tramways se bus wat hulle gestuur het vir 1962 se gala het bietjie meganiese probleme opgetel maar verskaf nogtans ‘n ideale groepfoudie plek. (Wat is bruin en het negentig paar wit uitpeuloë? ‘n City Tramways dubbel verdieping bus na tien jaar by die see met negentig BT-Kaners daarin.)
Nadat middagete afgesluk is met ‘n tweede afkoel-swem, maak lang sandstrande en rotse hul verskyning. Heeltemal uniek, nog nooit gesien nie. Hamerkop is ‘n welkome gesig. Met Deon wat sy hande vol het om te keer dat ons nie ‘n Omie se reënwater tenk leegtap nie, vly almal hulself rustig op die gras neer.
Nadat alles wat kan water hou vol is, stap ons af na ons oornagplek. Dit is ‘n genesskoppery, swemmery en vuurmakery van ‘n ander wêreld. In die chaos besluit Minette om haarself bo-op ‘n skerpioen neer te plaas. Van pure skrik, en nie uit gewoonte of bygeloof nie, prik die skerpioen haar toe in die rug. Met leedwese moes ons toe verneem dat nog ‘n lid van die familie Crustalla later die lewe op aarde verlaat het.
Met weinig of niks items as gevolg van moegheid en tamheid raak die aand rustig in die sandhuis, vir sommiges te rustig. (TOBIE?!)
Donderdag, 26 November:
Dit is maar altyd moeilik om weg te gaan van ‘n mooi plek af. Dieselfde geld vir Hamerkop.
Met oom Bethal se opmerking dat Minette se gif sterker as dié van die skerpioen was, trek ons weg met ‘n glimlag op ons gesigte.
Die terrein is baie meer gebroke as gister. Ons bly grotendeels weg van die see af en kies koers hoog bo die see.
Met professor dr B A Müller se ere-voorsitter, word S W E L G II onmiddellik gestig, afgekondig, geproklameer en alles wat nog nodig is om dit onwettig te maak. Onmiddellik bied Swelgtoere hulle eie toer binne ‘n toer aan met oom Pampoentjie as stapleier en die res van die geselskap as slotte. Die primêre doel is om ‘n geskikte swempoel tussen die rotse te vind en aldaar dan te doen waaroor Swelg in die lewe geroep is, naamlik om te swem.
Oom Bethal vind toe ook die poel van die Engle, ‘n herlderblou sandpoel tussen die rotse. Die res van die groep stap heel onnooslik verby en ons geniet die poel dus in vrede en stilte.
Na ‘n verdere gewip en geval bereik ons die hoofbesienswaardigheid van hierdie kus naamlik twee pragtige rotsboë met ‘n grot wat tot in die donkerte inloop. Stalagtiete en miete word op groot skaal gefotografeer. (Stalagmiete groep op en stalagtiete hang af.)
Nadat hierdie verskynsels bewonder en gefotografeer is, vertrek ons verder die kus af. Hoë kranse en grotte en draaiende seemeeue is aan die orde van die dag en die hoë hoogtes maak menige mens duiselig.
Deon gaan sit op ‘n uitstaande rotspuntjie en wek die gevegsgees in ‘n seemeeu op, wat begin met ‘n bomwerptipe aanval, minus die bomme. ‘n Pragtige lugvertoning van duike, rolle en vlerkpunt draaie volg. Ons staan stomgeslaan en kyk toe hoé die meeu, sonder om sy vlerke te klap, al hierdie bewegings uitvoer.
Net buite Noetsie aangekom besluit die leidende figure wyslik om eers te gaan verken. Hulle bots met die botsende figure ter sake. Ons besluit toe vergeet van vir Noetsie, ons stap plaas toe. By die plaas aangekom, was die atmosfeer amper soos die rysbordjie waaruit ons moes water drink, en daar word besluit, vergeet van die plaas ook ons gaan Swellendam toe.
Ons kampeer daar in ‘n pragtige omgewing met sagte groen gras en heerlike warm storte.
Die aand dreig die weer om ons ‘n tentslee te laat hou, maar ons besluit om tog buite te slee. Dit gaan maar stil-stil, want almal se mae is nog vol van die heerlike nagereg, verskaf deur Tina en gesin.
Ons neem ook afskeid van stoere ou toeriste, en ‘n paar blink-in-die-oog eerste-toeriste.
Die tentekomitee kyk op en slaan nog tente op.
Vrydag, 27 November:
‘n Groot gewerfskaf lei die dag aan. Kosma Ilse sorg met ‘n kwaai uitdrukking op haar gesig dat al die kiste gewas word. ‘n Baie verligte blikwaskomitee laat van hulle kant hoor. Van ons aan die kokke; D V D V: Dank Vader dis Vrydag.
Nadat die oud-toeriste maan toe gestuur is, vertrek die wa en bus. By Kromco word ‘n gratis vertoning van die verbaasde werkers gegee. Getrou aan tradisie en die Du Preez maatskappy tel die bus probleme op en kom ‘n paar uur na die wa by Neelsie aan.
Die toer word afgesluit met ‘n lekker pizza by die Pizzeria en ‘n koffetjie by Braam.
“Nog ‘n toer is verstreke
van die ou BTK
O, die dae gaan so snel verby.”
Bessie Bouwer (B B!)