Witels – ‘n moet vir elke BT-Kaner – het hierdie slag ‘n uitkoms vir die somerskoolganendes, nabywonendes en vroeë aankomelinge gebied. Neels, Gustav, Francois en sy broer, Barry, Ernst, Bessie, Gina, Johanna, Marienne en die uwe vertrek gewapen met plastieksakke en nogmaals plastieksakke.
Waaihoekpiek met sy grasdriehoek het ons meisies maar taamlik lugtig gelaat. Alhoewel Joos gespot het dat sy artikel oor Witels bedoel is om mense af te skrik, het hy daarin gesê dat enige BTK-meisie wat Witels wil stap, dit kan doen én dit geniet. Ons kon maar net hoop vir die beste. Te optimisties kan mens beslis nie wees nie.
Na ‘n kort half slapelose nag (ek wonder hoekom) by die basishut, het ons, “Force 10 van Die Bos”, die berg aangedurf. ‘n Sekere daguitstappieleier het kort-kort opgemerk dat die “flippin Ikeys” darem nie weet van zig zag paadjies nie. Dit het ons net mooi twee uur en veertig minute geneem om bo uit te kom. Die gedagte aan Ernst se opblaas-roomys-masjien het as aansporing gedien. Ongelukkig vir Francois het die masjien toe ‘n gaaitjie gekry en afgeblaas. Gelukkig het die liewe Februarie son ons eers bo-op die berg bygekom. Die ski’s by die skihut laat geen twyfel nie – hier word beslis in die winter geski.
Na ‘n hengse, bene-bewende, eentonige afdraende, was ons eerste swem by middagbrood ‘n lafenis. Daarna is begin met die verpakkingsproses. Dit neem ‘n eeu om alles waterdig te maak. Almal was die meeste bekommerd oor hulle slaapsakke. Op ons ouderdom is dit nie meer ‘n grap om nat te slaap nie.
Vir die res van die dag het ons geswem en geboulderhop vir die vale. So algaande het ons wyser geraak en geleer om eers ons rugsak om te dop na ‘n poel, om van die ergste water ontslae te raak. Van hondjieslag, borsslag tot loop met die rugsak is uitgetoets deur die poele. Neels het daar soms bedremmeld uitgesien, die ene hoendervleis en klappertand met ‘n neiging tot iets soos koue koors. Die soetwyntjie saans het beslis wondere aan liggaam en gees verrig. Die eerste aand se poeding wat met die helfte te min water aangemaak is om styf te kry. Dit was toe stywer as ons moeë spiere. Dit het weer ‘n klomp van dáái koshuispoedingstories ontlok. As dit moontlik was om ‘n gat in die sand te slaap, het ons.
Die tweede dag het ons baie rustig aangepak.
Kort na middagete het Gina vir ons ‘n paddasprong in die water in gedemonstreer, nadat ons ons teen ‘n krans vasgeloop het. Al ons meisies, maar veral Gina, het ‘n sekere aantrekkingskrag vir stokke en klippe. Die “bundu bashing” en S S N G (superslip nongrip) tekkies het ons taamlik blou en gekrap agtergelaat. Danksy Barry, Ernst en Francois se handigheid kon ons agterosse darem sommige spronge maak sonder katastrofiese gevolge. Gustav het met groot moeite sowaar ‘n forel gevang met Neels se blinde vlieg. Ernst was baie dankbaar by aandgodsdiens toe hy besef dat Barry nie Psalm 119 gaan lees soos hy gehoor het nie, maar wel Psalm 121.
Witels se ongerepte natuur, veral Diana’s Pool, het Johanna laat wonder of daar nie dalk eendag in die hemel ook so ‘n plekkie gaan wees nie.
Nagsê, na dié dag, het in ‘n soort peanut gallery ontaard. Die dames kon tot ergernis van die manne nie tot ruste kom nie. Die opstanery en môresê het in dieselfde trant voortgegaan. Hier het ons ons eerste bewolkte dag met ‘n paar reëndruppels teëgekom. Die reën het gemaak dat ons van agtuur tot veertien minute oor elf voormiddag op ‘n drafstappie gegaan het om die poele en koue agter te laat.
Met middagbrood by Boulder Pool het ons darem al ‘n bietjie son teegekom. Die twee de Wet-broers het die Boulder oorwin, die een net op ‘n makliker manier as die ander een. Bumslide Pool oortref enige glyplank. Dit was ‘n antiklimaks om weer die beskawing met sy telefoondrade en vragmotors teë te kom.
Neels het ons meisies gekomplimenteer dat ons van die lekkerste klomp meisies is waarmee hy nog gestap het. Hy was beslis ook ‘n goeie leier, al gaan dinge soms vinnig. Die kombi het Bainskloof se draaie taamlik vinnig agtergelaat, maar eind goed alles goed.
Henrietta de la Bat
(Sketsskryfster)