Dat ék met ‘n BTK-aangeleentheid betyds vertrek, sal seker nooit gebeur nie! Ten spyte van vooraf dreigemente soos: “Ons ry; al is die bestuurder nie daar nie”, het ons nog ‘n rustige driekwart uur laat weggekom. Ou toeriste hoef mos nie betyds in te pak nie! (laasgenoemde ‘n skimp op Gustav Sahlertz, as hy dit nog nie besef het nie.)
Gelukkig het die langs-die-pad-waggers, wie se geduld beproef is, niks gesê nie; dalk omdat hulle eerste toeriste was? Op Swellendam het Braam Hanekom R7 vir sy nuwe hoed betaal, nadat die oue afgewaai het, en die res het vergete sleepille en klere aangekoop. Koue, rondvallende deksels en dergelike amper gebeurlikhede kon ons gees of spoed nie breek nie, en teen kwart- oor-ses kon die perdewa op Saasveld rem aandraai. Bagasie en kiste is afgelaai en spoedig het die dames na die geriewe begin soek – tot groot ergenis van die geesdriftige krieketspelers op die veld tussen die kamp en die ablusieblokke. Soos ware dames is ‘n lae profiel gehandhaaf – die manne was immers meer én groter!
“As die bus om vieruur vertrek het …. Goed, ek weet dís hoogs onwaarskynlik. Maak dit dan vyfuur; dan behoort hulle so teen middernag hier te wees.” Bespiegelinge in dié trant het die geselskap volgelê, maar die as was verbrande hout. Met die koudword van die koffiebekers saam, het die moeë waryers kooigoed se kant toe begin staan.
Lampeman, Barry de Wet en Ernst Conradie het blymoedig die stompies langs die rokerige nathout vuurtjie warm gehou.
Teen die onmenslike tyd van twee-uur het die busryers hulle vol lawaai by ons aangesluit. As daar gekoning was, het dit by my verbygegaan, want ek was nie bewus van hierdie aktiwiteite nie. Wat ek wel weet, is dat die ontydige uitbundigheid, sommige manne se pH’s ernstig laat daal het. Eksamen spanning en uitputting het gelukkig sy tol geëis, en gou was die kamp rustig.
Gedagtig aan die vroeë ure deur sommiges die laaste paar dae gehandhaaf, het voorsitter, Neels, besluit om toegeeflik te wees oor opstaantyd (nie dat hy by sy woord gehou het nie!). Lywe en verstande het lank gevat om in rat te kom, langer as gewoonlik, in elk geval. Die oggendbroodjies was nie so fris en vars nie en tot Piet Muller se groot ontsteltenis, het hulle die rante van die broodjies afgeskeep met die botter.
Vergesel van Coert Geldenhuys (antieke voorsitter) en Hans en Frans van Dalen (pa en seun) het ons vertrek op ons sirkeltog deur die bosse van Knysna. Wat daar meer is aan ‘n boom as net blare, takke en ‘n stam, weet ek nie, maar die kenners het hulle verdiep in hul kennis oor die aangeleentheid. Die leke het egter nie kans gehad om baie in te neem nie – ons het net op ons voete en in die pad probeer bly!
Die op-en-wakker “peanut gallery” was hul sout werd! Ernstige “stem vir ….” is afgewissel met ‘n hoogs akademiese “pass” of “duh-duh”. Arme kleine Elfie Toerien is sonder haar medewete medepligtig gehou aan die Bliksembende (‘n variasie op die tema deur ons nie-televisie-kykende tokkelok, Deon van Niekerk).
Toerma, tannie Magriet Muller se ordentlikheidspraatjie het die ongekunstelde, onkundige eerstetoeriste ‘n kykie gegee in die geheimenisse van slee, skiet, ingrawe en dies meer. Die meganisme van die pouhokke en wie geskiet en wie nie geskiet mag wôre nie, is ook verduidelik (op laasgenoemde punt was Sabet van der Westhuizen baie beslis. Wonder of sy bang was iemand skiet dalk vir Wessie?).
Jaap de Lange, ‘n kranige swemmer, kon die brandewyn stroompie tydens middagbrood nie weerstaan nie en sy kop moes nat. Oppad terug kamp toe het Gustav S., Joos en Johan van der Merwe (gelukkig of hopelik nié familie nie) gefilosofeer oor die sin van die lewe – diep seuns van die bos (‘n Sinlose argument met Gustav in die nabyheid).
Dié wat nie glo aan elke aand se seep-en-water nie, het die dag se stap in yskoue water probeer afwas. Koel was die water wel, want almal het ná hul verkluiming soos koulike dassies die son opgesoek. In haar poging om nie vir Neels uit die oog te verloor nie, het Alba Nel amper haar swempakkie aan die bosgod geoffer (Hoóp nie sy sal nog spyt wees dat sy hom óóit in die oog gekry het nie!)
Tuis is daar gewas en getitteweit vir skiettyd. Items was lewendig en hekeltyd nog lewendiger. Wat Jaap en sy sleemaatjie die heeltyd gedoen het, weet ons nou nie, maar hy het onder andere geleer dat die binnekant van jou rugstring glad is. So raak mens nooit te oud om te leer nie! Saam met Esté Geldenhuys het die singlustiges tot ounag sit en sing.
Woensdag:
Krappend aan bosluisbyte en met die gepaardgaande gekskeerdery en geskerts, het ons in die pad geval na Ebb en Flow.
Dit is wonderlik hoe die mens sy verstand en kundigheid kan gebruik om die natuur te tem, sonder om die “wild” daarvan noodwendig te vernietig. Die treinspoortjie by Kaaimansrivier wat so teen die rand van die hang vasklou en die breë teerpad wat die mens in staat stel om in die mooi te kan deel, het my opnuut laat besef dat ons God almagtig én begrypend is.
Te Wildernis is die son in die see afgewas en kon ons middagbrood geniet. Die Safari Restaurant en die Hotel is daarna druk besoek en na ‘n biertjie en anderhalf kwartiertjie het ons die laaste skoffie vir die dag aangepak.
‘n Heerlike verrassing het op ons gewag en nie eens die groot afstand na die wasgeriewe kon die lus na warm water demp nie. Die onnutsige kokke sonder ingrawe-probleme het dié wat wel wóú skoon van hul tegnieke laat vergeet en mansskiet was bietjie deurmekaar.
Wraak- en wreekaand het aangebreek en ywerige eerste toeriste het goed geitem. Hoe later, hoe kwater en teen die tyd dat die walaaiers onder leiding van Piet Muller klaar hul ding gedoen het, was meer as een eerste toeris ‘n verligte wrak! Nou kon hulle saam gesels oor die vreeslikste van vreeslikhede.
Donderdag:
Om die oorstaandag op ‘n rustige noot te begin, het ons ontbyt gekry, gebring deur op-en-wakker feetjies en ‘n kaboutertjie. ‘n Goeie gedagte om op voort te bou. “French cricket” is deur Barry en Priscilla Botha geïniseer en tot en met middagbrood het die getal deelnemers alternatiewelik gekrimp en aangewas. Die kano’s en “paddleski’s” het groot aftrek gekry en die meer energiekes het gestap om in die see te gaan swem. Hortens en Gawie Hugo, hoewel oud en getroud, het sop gekook by gebrek aan ander ontluikende vriendskappe! (Denkende, natuurlik, aan die vórige Tuinroete Gala!)
Laatmiddag was almal weer in die kamp: Kokke om te kook, stokers om te stook en roeiers om te roei; eintlik om te verdrink. Oor Neels se roeipogings sal ons maar stilbly. Tussen Alba en Joos is sy onvermoë op film verewig. Jaap was op nog een van sy swemme uit en met hangende grasse, ensovoorts, het hy die Loch Ness-monster ‘n goeie “go” gegee. Sylvia Vorster (alias Bubbles) het darem die skoner geslag se kant gebring op die kano.
Net betyds vir ete het Jan Cilliers ons getalle kom aanvul; terug van ‘n geslaagde her- af. ‘n Duidelike onwillige tentekomitee moes hul ingrawery laat staan om slee- en slaapplek te akkommodeer (gelukkig vir hulle was dit toe nié damesskiet nie). Die dames het hul sleebouvaardigheid in die tente getoon, terwyl die manne vir die items gesorg het – sommige aan die riskante kant! Hekeltyd met onder andere Antoinette van Niekerk se mini en Arnold Muller se “wishy-washy”-seeppoeier, was ‘n skreeuende sukses, maar by gebrek aan vars lug en die lus van sommige rokende skoorstene, was niemand spyt toe “nag dames” uitgesing is nie.
Vrydag:
Lekker ou Gala! ‘n Gala is mos ‘n gestap langs die see – met of sonder los sand en skawende hakskene. Die puntjie “net daar anderkant” is eers ná middagbrood verbygesteek en almal het hulle verwonder aan Frikkie se “non-existing” brandweerwaens.
Ons kampplek te Swartvlei (dames weereens die verste geriewe) het gespog met moderne sonverwarming. Die natuurelement was goed verteenwoordig deur ‘n rondspringende aapma en -kind. Volkspele het damesskiet omvergewerp, maar die aanvanklike chaos kon nie die entoesiasme van die pitspoegers en hul ondersteuners demp nie. Marius Hasie Smuts het met ‘n reusagtige eindpoging vir Tielman Roos oorskadu. Die spinnies is bietjie ontstig en twee manne grootliks verheug met die aankoms van Betsie van Niekerk, Mariette Andrag en Ingred Sahlertz.
Wat ‘n begrawe-die-item-aand moes wees, het toe baie suksesvol uitgedraai. Die ‘rave from the grave, blast from the past’ “Jeremian” is suksesvol uitgevoer deur die altyd gewilde Orange River Tadpoles alias Jan en Gustav.
Saterdag:
Aanvanklik was dit ‘n heerlike, rustige sandstappie, totdat ons ná middagbrood die gebaande weg moes verlaat vir ‘n nou, obskure paadjie, gemerk “Goukamma”. Die vrolike gelag en skerts het algaande opgedroog, met alle aandag toegespits op uit-die-dorings-bly. By die kampplek het almal darem weer gesus geraak en kon die nodige medikasie aangewend word aan die vele haak- en skraapplekke.
By gebrek aan die nodige ernas* moes pouhokke* opgerig word en byna-byna was ‘n paar dames verras deur niksvermoedende manne wat nie van die “switch” in lokale bewus was nie. Deon (dis nou hy wat nie TV kyk nie) se “Coke-enterprise” had ‘n heeltal ondersteuners. Die aand het die oggendbroodjies na ‘n gelykopstryd die itemkondensie gekry. Nie dat die Nazi-georiënteerde walaaiers veel gepla was nie – die kondensie wat hulle gekry het vir die skoonmaak van Vlys, was immers gekook!
‘n Beter tyd om mondig te word, kon Marienne de Bruyn beswaarlik gekies het. Onder leiding van Piet Kriel, Johan Zaayman en kie is die oorblufde verjaardagmeisie op ‘n pontrit oor die rivier geneem. Toesprake en heildronke was aan die orde van die nag, asook kultuurspronge – aangesien mens nie op Sondag mag “dans” nie. Die verteerbare geskenk is dadelik op aandrang van die teenwoordiges oopgemaak en summier deur hulle geassimileer. Dit het gewerk, én dit was groot pret; temeer omdat die pont verbode terrein was!
Sondag was oorstaandag en ná koffie in die slaapsak het ons sleekring se kant toe begin sit vir die kerkdiens, gelei deur Piet Kriel (die aanvoerder van bogenoemde onwettige eskapade). Die middag, na ‘n druk besoek aan die vleis- en roomyspotte, moes ons afskeid neem van Bets, Ingrid, en Mariette. Die energiekes het hierna per wa na Buffelsbaai vertrek om die plek te verken. Die aand se damesskiet het wonder bo wonder sonder die gepaardgaande nasies plaasgevind.
Plaas dat sy maar eerder doodgaan! Die “Ou grys merrie” het in gedaantes van Joos, Jan en Gustav haar verskyning gemaak en met moeite, meel, water en gelukkig! peper, is hulle uiteindelik oorwin. “Neels, Neels, Neels …. en Bghaam, Bghaam, Bghaam ….” het na ‘n vroeëre teraardebestelling weer opgestaan en gelukkig het ‘n tydige reëntjie ‘n einde hieraan gemaak. Die bus is vinnig betrek, maar spoedig kon ons weer om die vuurtjie sit en sing tot en met slaaptyd.
Maandag:
Wie luister nou as daar aanbevelings gemaak word? Nie die dames nie. Wie trek dan ‘n langbroek aan op só ‘n warm dag!
Strandlangs is ons tot by Brenton-on-Sea waar ontstoke stokers besef het dat die wa sowel die middagbroodsak kon karwei het. Na ‘n “ein prosit” op die terras en ‘n paar verligte “punte-oproepe” het ons die pad gevat. Met Knysna net ‘n uur se stap padlangs, het ons as begeesterde stappers besluit om eerder kuslangs te gaan. Wie loop nou op teer as die ongetemde natuur roep?
Boere, ‘n langbroek sou ‘n bate gewees het! Met slangtongetjies (die wrede doringbossies) links en regs van die spoor én die aanslag van versteekte gate, wortels en klippe, is menige versugtinge opgestuur.
Terwyl die voorstappers kort-kort die paadjie moes “rekkie”, het ons kans gekry vir rondkyk, woude beskou en pyne bekla. Die stap was mooi en op sekere plekke asemrowend. Meeue het heen en weer geswiep en dan skielik afgeduik na die woelende water. As jy verder kon kyk as die immer teenwoordige slangtongetjies, kon jy ook pragtige blommetjies in die veld opmerk.
Teen een van die steil afdraendes het ‘n klip Heléne Basson van agter ingehaal en moes die slotkis nadergesleep word.
Soms moes jy hande-viervoet, soms skuiwend op die sitvlak en verder koestend vir dorings en distels voortbeweeg. Met ‘n tydige laagwater saam, kon ons bykans droog-tekkies langs die meer tot by die kampplek vir die laaste aand, kom. Deon en Schalk Carstens het Heléne soos wafferse ridders begelei voordat sy, vergesel van Robbie Nutt en Joos, deur ‘n vriendelike honeymooner na ‘n dokter geneem is. Só is Deon ná ‘n lang geleentheid om in te grawe uit sy sleemaatjie gedoen!
Na ‘n koue stort (vir die mans onder ‘n Tuinslang!) is daar met aandag gereed gemaak vir Laaste-aand-ingrawe. Die eetlus was oorweldigend, maar daarná die items traag en rustig. Nie eens Die hoendertjie kon veel van ‘n reaksie ontlok nie. ‘n Laaste aand is nie net die afsluiting van ‘n toer nie, maar ook ‘n tyd van afskeid. Mens kry sommer groot respek vir BT-Kaners wat na ‘n nekdoekvol toere van Stellenbosch af moet gaan en só ‘n leefwyse moet staak. Nuwes kom altyd weer, maar met elke een se weggaan, ontstaan daar ‘n unieke holtetjie in die lang BTK-pad.
Ná hekeltyd het die laaste toeriste vir oulaas ‘n bekertjie BTK-koffie gemaak en gelê en gesels tot diep in die nuwe dag.
Dit was met gemengde gevoelens dat ons die Dinsdagoggend opgestaan, kiste gewas en terrein opgeruim het. Waryers is uitgesoek (dis nou dié wat vroeg wou tuis wees) en die wa vir oulaas gelaai. ‘n Misreën-weertjie het die “maan-toe skiet” kort geknip en tyd vir hartseer wees, was daar nie. Byna op tyd kon ons vertrek – huis toe, vakansie toe …. en uitslae toe!
“Nog ‘n toer is verstreke
vir die ou BTK ….”
Catherina Neethling
(Sketsskryfster)