Kouga April 1985

Sondagoggend het die hele groep (behalwe Oom Tjiaan en Ninkie) by die Neelsie bymekaargekom. Onder leiding van Barry en Riaan was die bussies gou gereed en het ons om 12 uur in die pad geval. Die eerste stilhou was in Worcester om brandstof in te gooi en gou kafee toe te hardloop. Daar het ook ‘n paar kissies druiwe te voorskyn gekom, en Priscilla het ewe vriendelik ‘n kissie aan Barry-hulle se bussie geskenk. Ons kom toe later agter dat ons ‘n half-vol kissie gekry het en Riaan-hulle die vol kissie gehou het!

By Ladismith het ons vir Oom Tjiaan en Ninkie opgetel. Daar was geleentheid vir bene strek en toe val ons maar weer in die pad tot op Oudtshoorn. Dit was al donker toe ons uiteindelik die pad vat na die Jonkers se plaas toe. Die weer het begin opsteek en daar was groot blitse te sien. Ná 9 uur se ry daag ons toe by die plaas op. Die aandbrood is gou voorberei en ná ‘n koffietjie daarby was almal op hul slaapplekke voor die reën regtig begin uitsak het. Gelukkig het die dames darem ‘n skuur gehad.

Die volgende oggend was die son weer terug en het ons vol moed opgestaan. Daarna is die kos en tente verdeel en die rugsakke volgelaai. Ons het agter Barry aan in die pad geval en al met ‘n kronkelende kloof af beweeg. Die eerste toeriste is ook langs die pad herinner aan die WRAAK, en die ouer toeriste het hulle gekoning. By die kampplek is die tente opgeslaan en ons het in elke beskikbare watergaatjie gaan was. Met aandbrood was die E.T.’s al lekker benoud, en veral Ninkie het geen genade betoon nie. Nou ja, so halfpad deur die sleëry is hulle uitgeroep en die sakie is afgehandel. Toe dit verby was, was die verbasing en verligting baie groot.

Dinsdag was Joyce se verjaardag, en sy is verskeie male gelukgewens. Toe kry ons almal ‘n “hardgekookte eier”. Amanda het vas geglo dis regtig gekook, totdat sy dit probeer breek het. Toe begin sy wonder, en haar verbasing was groot toe sy uiteindelik sien dis ‘n paaseier! Die oggend se opdraend is moeilik om te beskryf. Almal het dit verskillend benader. Party het die steilte uitgedraf, oom Tjiaan het dit rustiger benader en ander weer rus-rus en stap-stap. Almal het darem bo uitgekom en toe het ons teen ‘n rustiger pas en sonder sakke Saptoukop geklim om met ‘n asemrowende uitsig beloon te word. Na ‘n stywe afdraend, by middagbrood, het Marieka ‘n onverwagte swem geneem so tussen die paddas in. In haar eie woorde: “Dit was ‘n moeilik beheerbare val – en ‘n mens gly net af en af.” Teen halfvier het ons die kampplek met klein swempoeletjies bereik. Ná aandete is die “skietgesegde” weens omstandighede verander na “skiet-en-slee”. Dit was damesskiet en veral die spinnies het onder leiding van Griet baie onrus gesaai – veral Barry en Priscilla het deurgeloop. Daar was ‘n paar baie goeie items en een het aan Dempsey ‘n nuwe bynaam besorg, naamlik Rêrie.

Woensdag het ons vroeg in die pad geval in ‘n groen, maar onherbergsame kloof. Daar was ‘n knieknakker by ‘n lekker poel en baie lopende water – ‘n welkome gesig na die vorige twee dae. By die waterval is heerlik geswem en met almal weer fris en vrolik het ons in die pad geval. Na middagbrood is ons stroom-op in die Sapreerivier. Die oorhangkranse en ou beeskraal het veral aandag getrek. Die aand is lekker geslee en ge-item. Die spinnies het ‘n getroude chaperone vereis en Barry en Priscilla moes inderhaas trou. Dit was egter ‘n redelike “koue” huwelik, veral vir Priscilla. Maar dit was veral LeeAnne wat koud gekry het sonder Axel.

Donderdagoggend kon ons “laat slaap” en is later sonder rugsakke die berg in om Malamiso se opstal en die waterval te besoek. Sommiges het verder teen die waterval uitgeklim voor ons terug is vir ‘n ongelukkige middagbrood toe Griet haar verbrand met kokende sop. Later die middag het dit begin toetrek en as gevolg van die reën het dit op ‘n skietvrye aand en baie items uitgeloop.

Vrydagoggend is daar verwoed opgepak en skoongemaak. Die eerste knieknapper was ondder ‘n bakkrans wat vroeër ‘n oorstaanplek vir beeste was. Na gamebreak en middagbrood het ons moeiliker terrein betree. By die kampplek het ons ons bure oorgenooi vir Ernst se Paasoordenking. Daarna het ons rustig verkeer tot skiettyd. Die aand is maar stil deurgebring met net ‘n paar items. Veral Marieka en Ninkie was besonder stil.

Saterdagoggend na ‘n uur se stap het die landskap voor ons oopgemaak en moes ons die groen kloof verlaat.

Teen nege-uur het ons ‘n knieknakker gehou en effens later gamebreak – binne sig van die bussies. Daarna was almal voorbereid op die laaste bult. Nadat ons koffie gedrink het, is die bussies gepak en het ons in die pad geval. By die Jonkers is ons getrakteer op ‘n tafel vol lekkernye. Na ‘n onwillige afskeid het ons vertrek Stellenbosch toe. Toe ons by die Neelsie arriveer, moes ons uiteindelik besef dat nog ‘n feestelike BTK-toer agter die rug was!

N Klapwyk

OPE UITNODIGING

Na vele geskommel, gesukkel en gesoek is daar uiteindelik ‘n redaksie saamgestel om die jaar se “STAP NOU!” die lig te laat sien. Hierdie is die produk van ‘n onervare, maar gemotiveerde redaksie en hoewel daar ons weinig ondervinding van dié soort ding is, sal ons ons bes probeer om die gehalte wat “STAP NOU!” tot dusver gehandhaaf het, te behou.

Ons wil graag die volgende uitgawe ‘n spanpoging van die hele BTK maak. Daarom nooi ons alle huidige en oud-BTkaners en enige belangstellendes om ‘n bydrae te lewer vir die volgende uitgawe. Enige briewe, gedigte, foto’s en gepaste artikels sal verwelkom en hoog waardeer word.

Bydraes kan by die BTK-kantoor afgelewer word, in Erica C14 se posbus gegooi word of gepos word aan:

Die redaktrise
STAP NOU!
BTK-Kantoor
Langenhoven Studentesentrum no 417
Universiteit
Stellenbosch

By voorbaat baie dankie!
( – Redaksie – )

Leave a Reply