Flip-flop, flip-flop, whee! gaan die wasmasjiene. Rataratara gaan die droërs.
Drie weke gelede dié tyd toe lê ons almal min of meer horisontaal, tone sterrewaarts, net duskant die “bar” by Onseepkans, daar waar ‘n mens leer om lekker te dans, ongelukkig is daar net mans, dis nou in die “bar” by Onseepkans.
Die ou ryery was maar ‘n mislike storie, met dié dat die bus en die kombi’s wegkruipertjie speel (gelukkig nie aan-aan nie) in die mis. So elke nou en dan, onvergesetsynde paar honderd kilometers, wag die kombi’s in die mis heeltemal deur die mis, net om, wanneer die bus soos ‘n middernagtrein (of Halley se komeet van naby?) aanstormend verby ploeter, die pad te vat en soos ‘n wafferse sendingstasielokasie-brak die ding te jaag.
Met sonsopkom oor die eindelose vlak tussen Springbok en Pofadder, sien ons vir die eerste keer die anderse soort mooiheid van hierdie wêreld. So of dié wêreld maar agter in die ry gestaan het toe dit by die uitdeel van mooigeid kom. Dis hard, ongenaakbaar – tog het dit ‘n onpeilbare diepte, iets goeds, iets tasbaars.
Met die nesskoppery op Onseepkans gaan dit heel goed, behalwe dat die walaaiers lawaaierig raak toe hulle pouhokke moes opslaan. Ai, die noodtoestand darem. Dat die bus goed nesgeskop het, dié sou ons wel agterkom. Gelukkig ken die plaaslike poliesman van waar om ‘n trekker vandaan te kry, en so-aan.
Ons eet ‘n “groot” stew, en dit was met dié dat Tannie Miems moed bymekaar skraap om te gaan stap, met sand voor, sand links en regs van haar, en geen gekke agter haar nie.
Die gewone lang gesukkel-sukkel op ‘n eerste oggend van ‘n stap word toe net ‘n kort gesukkel-sukkel. Ou Barry misgis hom toe egter met die eksakte plasing van die lokale poskantoor en stuur die groep na die kafee vir ‘n “choppie”. Die tannie daar beduie al te dankbaar in die pad af, en die hele groep is fort soheentoe, sonder Barry.
Met “gamebreak” val die eerste man heel teen sy wil in die water in, en Tannie Miems se “in-die-water-beland” of “lol-met-water”-organe/meganismes word geöoraktiveer.
Net na middagbrood word die manne en dames gemaan tot allerhande ordentlikhede tydens ordentlikheidspraatjies en Barrietjie se groepie slaat die stofpad.
By die begin van ‘n stofpaadjie raak ‘n klompie jong bokke toe heel oorhoeks met een van die toer se ou bokke, soveel so dat die ou bok toe vir ‘n moeder (vader?) aangesien word. So tussen dié lawaai deur, kon die voorlopers reeds die stroomversnelling by die Oranjevalle hoor, en slaapplek was dus nie te ver nie.
Nou ja, so op die klippe en af die klippe het die eerste toeriste geitem, voorwaar minder items as klippe. Meer as die helfte van die toergroep word gewraak en is gewraak, en almal glimlag, want hul weet opreg.
Met die stappie na die Oranjevalle vroegmôre kom Barry en Stafie agter dat hulle spore oorkruis is met dié van twee luiperds, maar nou ja, “laat ons nie mismoedig word nie!”
Anderste soort valle, dié Oranjevalle. ‘n Tweede en derde loop van die rivier bruis en borrel tussen en oor enorme rotsblokke deur, om dan aan te sluit by die grootbruin kolkende water van die hoofstroom. Die grootte en almag van die Skepping laat ‘n mens soms klein voel – bitter klein voel.
Met slotte wat wegraak, raak middagbrood toe ook ‘n langer-as-gewoonlik-storie.
Dit was toe ook met dié dag dat ons die boloop se nasionale ontwikkelingsprojek tref.
Net om die draai was toe nog ‘n groot stofland en met stof in ons hare, in ons monde, in watter gate ook al, en tussen ons ore, weet ons later nie watter kant toe nie, behalwe dat ons al reeds ten minste tot by die volgende dag se “gamebreak” gestap het.
Die aand is toe ‘n slee-vry aand, amptelik. Die items loop egter. Selfs ou Fiela word ge-“necklace”. As gevolg van haar drange uit haar prille jeug. Laatnag word daar nog onder ‘n staalblou sterrehemel gesing.
Woensdag! Nou ja, as ons lemonade gehad het, kon ons biershandy gemaak het as ons bier gehad het. Pella dift se groen gras net onderkant die draad lê toe nader as middagbrood. ‘n Paradysie in die kleine.
Oor die algemeen ‘n beskaafde rustige dag met Pellaberg wat lê en wag.
Donderdag. Toer onderhewig aan veranderinge: Vir dié wat wou, het ‘n bergklim voorgelê. Vir die wat nie wou nie, het die Pella-drift en pontryers-vereeniging ‘n uitstappie gereël, met die gevaarlike Muller/Swanepoel kombinasie voor in die kar, of is dit nou die pont.
Die klim uit na die kruis op die berg raak toe een van die hoogtepunte van die toer. Anderste berge dié. Net klippe waar jy kyk. En ‘n krans begin sommer sonder waarskuwing. Klippe val met nog ‘n korter kennisgewing.
Waar bobbejane met kieries loop, daar gaan ‘n BTKaner hanneviervoet, maar bo sal hy kom. Op die kruin wag ‘n vergesig wat nie vergeet sal word nie. Die groot Oranje met sy eie sjeur deur die aarde, ‘n maanlandskap van swart en grys koppe en berge en die enorme sandwaaier waarop die sendingstasie lê. Alles nie vir woorde of kameras bedoel nie, net vir kyk, kleinvoel, stilbly en onthou.
Met die afganery is dinge maar knie-bewend, maar sports, dankie. By die groener gras ander kant die draad kry die lot darem kans om ons te koning.
Vir party mense was die sleëry dié aand net ‘n hardlopery na daardie klein “ringside seat”. Gawe mense die “Pella Water Board”-ouens om hulle huise oop te sluit.
Vrydag se stap was toe amper net ‘n Sabbatsreis ver. Die busryers word gevang dat hulle visvang, en dit nogal deur die eerste burger van Pofadder en Minister Eli Louw.
Pella-sending lyk Rooms, en is Rooms. Alles adem ‘n geskiedenis, van die palmbome tot die kerkie. Die plaaslike kafee se omset verdubbel en die plaaslike bevolking kry gratis vermaak. Van na skool tot amper sononder word enigiets gesing van “I’m burning up” tot “Jesus min my”. Wanneer dit by gimnastiek kom, had ons toe gelukkig ons eie teenvoeter vir die plaaslike talent, naamlik Jannie T.
Die Katedraaltjie was seer sekerlik een van dié hoogtepunte van die toer. Wanneer ‘n mens deur die deure stap, is dit of jy ‘n heiligdom betree, ‘n iets wat jou aangryp en dwing om eerbiedig stil te wees. Toe ons aan die sing raak, was dit ook net om die Here te prys vir die ervaring en die oomblik.
Tot ‘n paar susters van die plaaslike klooster se ontnugtering word hulle klere wasplek ontdek, asook die warmwater fasiliteite. Summier word openbare (met baie open en baie bare) wasdag verklaar.
Gelukkig is die muurtjie van die regte hoogte en die badjies van die regte diepte.
Van laaste aand item kom daar dadels, van diepslee meer as dadels.
Vroeg Saterdagmôre mis ons toe die helfte van die mis, maar vind dit tog ‘n belewenis, veral die verrassing dat dit in Afrikaans geskied.
Met die opstaan skreeuery vind ‘n paar manne dit so lekker dat hulle blikke kry om te was, wat hulle toe amper net so goed soos die blikwassers was.
Die toer word afgesluit met ‘n besoek aan die katedraal, en ‘n groepfoto op die katedraal se voorstoep.
Dié keer vat die bus en bussies nie nonsens van die pad nie. Die een bussie kuier toe natuurlik meer rond as die ander en kom propvol sitrusvrugte by Neelsie aan.
Sondagaand beleef Asterix en Obelix ‘n aand soos nooit te vore nie. Hulle pizza-“special” loop toe op ‘n verlies uit, maar nou ja.
Hiervandaan het ons uitmekaargegaan, maar ‘n nuwe vriendekring, met goeie vriende, is gesmee, ‘n groep mense wat mekaar met ‘n spesiale glimlag kan groet, want hulle weet almal, ja hulle weet opreg, die Oranjerivier was glad nie sleg.
Gustav