Vir een derde van die toergroep het die wegbreek al twee-uur (BTK-tyd) begin. Die Vokskas-bussie het voorspoedig gery en omtrent vyfuur op McGregor aangeland. Die BTKaners het hulle self besig gehou deur windowshopping te doen by die dorp se vyf kafees. Hulle kon ‘n aanloklike aanbod nie weerstaan nie: 2L roomys vir net 99c – Barry het plastiek teelepeltjies ook gekoop en almal het vreedsaam verkeer.
Intussen is die res van die toergroep met twee ander bussies (insluitende die geel SR-kombi met sy eerste rat) van Stellenbosch af weg. Dit was al donker toe Ninkie gelukkig nie vir die hoender uitgeswaai het nie en ons in McGregor aankom. Om die kerk te kry was een storie, maar om die kampeerterrein ágter die kerk te kry was ‘n ander storie. Gustav het kort-kort by die venster uitgehang met ‘n wanhopige “Barry?!”. Nadat Ninkie al amper vir sy derde keer om die kerkie gery het, het hy maar besluit om vir, ons neem aan dit was die pastorie-moeder en ‘n suster van die gemeente, te vra of hulle nie iewers nog so ‘n bussie soos dié waarin ons gery het, gesien het nie. Ewe behulpsaam beduie sy: ja, hy is nou net hier verby. Dit was natuurlik toe Ninkie sy eerste “spin” om die kerk gevat het.
Toe ons uiteindelik by die kampterrein kom het Joyce al alles só gereël dat ons dadelik kon eet. Ons het daarna gestort, aandgodsdiens gehou en vroeg in die bed geklim. Kort daarna het die Walaaiers hulle eerste waarskuwing aan die eerste toeriste gerig. Die dames het al lankal geslaap toe ‘n paar van die manne McGregor binnevaar. Hulle was ook toe sommer reguit polisiestasie toe, maar moes toe uitvind dat die polisiedans ongeveer 2 kilometer buite die dorp gehou was. Hoe het hulle dan nou gedink?
Saterdagoggend het Barry die fluitjie vróég geblaas want daar sou ‘n lang dag se stap voorlê: Genadendal toe! Ons het in kleiner groepies verdeel om die eerste paar kilometer te stap, want die Departement van Natuurbewaring laat nie sulke groot groepe op een slag op dié gewilde paadjie toe nie. (Hulle kan bly wees dit was nie ‘n Gala-toergroep nie!)
By middagbrood was dit ‘n beker-uitlenery van ‘n ander wêreld want Hannes gooi toe sommer Jan se beker in die groot poel (by game break).
Na middagbrood het Barry en Joyce ordentlikheidspraatjie gehou en die groot groep het verder gestap tot op Greyton. Daar het almal onder die naaste koelteboom afgesaal vir die voorstellingsparade. Die peanut-gallery het bessslis die ou ssstaatmakers gemisss. Hierna is die lêplek onder die bome verruil vir die drinkplek op die Central Hotel se stoep. Nadat almal genoeg gehad het, het ons verder gestap na Genadendal. Baie was opgewonde toe ons die dorp binne-stap, maar helaas die kampplek was aan die anderkant van die dorp, etlike kilometers verder.
‘n Rustige aand en oorstaandag sou voorlê. Dié middag het die BTK (vir Behoeftige Toer Klub-lede) stuk-stuk by ons aangesluit. Dis nou dié lede wat weens akademiese, finansiële of geriefsredes net op die oorstaandae saamstap. Saterdagaand het byna in totale chaos ontaard. Die eerste toeriste was seker nog half skaam of Barry het dit nie mooi stapsgewys uiteengesit nie, want toe dit by skiet kom toe skiet hulle nie. Charles en Lukas het hulle hande volgehad met al die toe-oë afsprake wat gereël moes word. Die res van die aand was darem minder flou as die 110 meter leer en die onderhoude. Die aand se hekels het ook hulle slagoffers geëis. Hannelie moes baie mooi aan Oom Gustav verduidelik hoekom sy met so ‘n opregte oortuiging kon vertel dat Tassies die slegste wyn is om op dronk te word en Anine hoe verwar jy dan die feetjies en kaboutertjies met die blommetjies en bytjies.
Sondagoggend het die kerkklok die feetjies en kaboutertjies voorgespring – gelukkig het die koster vir Reiner voorgespring! Die dames kon toe gou voor kerk gaan stort. Al was die storte volgens Alida ‘n bietjie klein, was dit ‘n reuse verbetering op die vorige aand se bad in die rivier ten aanskoue en onder aanmoediging van die plaaslike gemeenskap.
Tienuur het die STK ‘n onvergeetlike diens onder leiding van Oom Bethel in die plaaslike kerkie beleef. ‘n Effens vreemde gebruik het amper die manne onverheods in dameskamp betrap. Na die erediens het die ou toeriste die eerste toeriste gekoning (so tussen die groenteskil en poedingmaak deur). Die middag is rustig deurgebring met ‘n slapie en ‘n begeleide toer deur die dorpsmuseum.
Net voor aandete is die “September-toer tradisie” voortgesit – met ‘n bietjie reën. Ons moes vinnig eet en nog ‘n paar tentjies opslaan. Daarna is die oud openbare biblioteek lekker ingerig vir die aand se kampvuur (sonder ‘n vuur). Gustav en sy olifant het die vloer gevat terwyl Ninkie en Joyce dit klaarblyklik só geniet het dat hulle mekaar skoon uit hulle klere uit geslee het!
Om elfuur is die eerste toeriste gewraak. Toe die klok twaalfuur slaan – en Reiner het beslis gesorg dat hy wel slaan! – kom almal om vir Barry geluk te sê met sy verjaardag, maar net die dames! -daar’s nie teepotte in ons geledere nie.
Maandag het die lang motorpad na Elandskloof voorgelê. Kort voor game-break begin dit toe mos reën en almal skarrel om windbreakers aan te trek – net om dit drie minute later weer uit te trek. Na middagbrood kom die man (vermoedelik ‘n Duitser as gevolg van sy aksent) in ‘n Afrika-safari-jeep van die verkeerde kant af aangery. Hy verduidelik so om ‘n paar draaie en lê toe weer op die petrolpedaal. Oom Bethel moes baie skepties voorgekom het, want dis nie hoe of die ou is terug en Oom Bethel is toe ook sommer langs hom in op die jeep-effek om die res van die dag se stap te gaan rekkie. Hulle is gelukkig ook net betyds terug dat die Duitser ons so 15-15 oor die rivier kon vervoer. Gawie en Joyce besluit toe om die Duitser te bedank met “Heut geht es an Bord”. Ons was nog so lekker aan die sing toe ry hy al weg – ek sou ook as my van Doolhooft is en ek eintlik ‘n Hollander is!
‘n Paar kilometer verder het die bos gelê en wag. Die pouhokke is baie haastig opgeslaan, maar miskien sou rigtingwysers hier gehelp het, want party het sommer aan daardie kant van die seiltjie besig geraak. Dié aand het ons nie geslee nie – net lekker gesit en gesels totdat Gawie na “nag dames” sy naam hoog gehou het.
Dinsdag was daar ‘n effense vertraging met die pouhok-afslanery. Na oggendgodsdiens wat in dameskamp gehou was – ons het dié slag beslis nie ingegee nie – het ‘n dag van vele opdraendes begin. Almal is in die laaste moontlike rat teen die bult op (daar was darem ‘n paar draaie en ‘n variasie van gradient vir interessantheid). Koffie-break was baie welkom, maar Josha en Theunis het nie net ontdooi nie, inteendeel, vuurwarm is nie eers die woord nie. (Was dit nou van opwinding of skaamte?) ‘n Finale eindpoging na die baken het voorgelê, net om weer al die pad af te klim of was dit te val, Willemien?
In Villiersdorp het ons ‘n halfuur gehad om vir mekaar te sit en wag. Ongelukkig was die poskantoor al gesluit, maar gelukkig was die kerktoring ook gesluit.
Nog een kilometer tot by die kampeerterrein en lekker warm storte om skoon te kom vir die laaste aand se slee wat opsioneel weens reën gestaak is. Reiner het hom nie aan ‘n paar druppeltjies gesteur wat die res na die tente en waskamer laat hardloop het nie. Hy het baie gehad om in te haal!
Oom Johan en Joyce se ma daag toe ook daar op om vir Jan en Barry te kom haal.
Woensdag het Kobus die fluitjie geblaas! Ons is met ‘n wa na Nuwebergbosboustasie geneem van waar ons begin stap het – minder steil op en minder steil af! Eintlik sou enige iets minder steil as Dinsdag se stap gewees het. Daarna begin die klipspringery kruis en dwars oor die Riviersonderendrivier. Joyce (Stals) kon dié variasie op die tema nie so vinnig bemeester nie en toe maak sy soos die tortelduifie wat se voet geglip het. Ná game-break was dit gou tot bo-op kurktrekkernek vanwaar ons die mooiste uitsig oor die Jonkershoekvallei en Stellenbosch gehad het!
By Tweede Waterval het ons vir oulaas middagbrood geëet. Ons het afgestap na die pad waar Ninkie, Gustav en Toos ons kom haal het. Die geel SR-kombi met sy eersterat was ook weer met ons!
Nog ‘n onvergeetlike toer en nog 17 Maties wat opreg weet.
Ansie