Toerskets …… toerskets?
Sestien paar voete kom toer teen die hange uit. Op pad na bo help oom Bethel eers drie Hervormde predikante om hul paadjie na Eerste Waterval te vind en een gawe tannie langs die pad sê “drink baie bergwater, dit maak jou mooi.”
Oor die bult baan ons ‘n weg deur rietgrasse. Ons bene doen krapsiekte op maar Priscilla kan, danksy haar langbroek, voortaan met haar modelloopbaan. Oom Bethel buffel deur die digte plantegroei en sê kort-kort “Moenie Worrall nie” waarop Fanie antwoord “Ek soek ‘n visie”. Sommige van die toergeselskap sou ook ‘n opblaashelikopter of selfs ‘n lugballon verwelkom het.
Soek jy ‘n top Toppersresep? Vra vir oom Bethel. Hy kamoefleer dit met uie, musrome, kaas dit en geniet dit. Toekomsplanne word om die aandete bespreek. Andrew beplan om vuurhoutjies te kweek en vroeg by dat die man en pa vuurhoutjies voorwaar iets is om te aanskou. Verder maak Louis en oom Bethel beurte om plekke in te neem in die Black Hole.
Na heelwat sing en lag begin ons stil sterre afpluk tussen die denneboom toppe as ons gedagtes langs die spitse van ons dagspore gaan. Nou is die tyd om skerfdrome tussen dennenaalde te versteek en te wag op die volmaaktes van die nag. Dennewoud skoonheid is ‘n woudverpleegster.
“Was my rugsak nie so groot nie, het jou gaap my ingesluk”. Waar kom mense daaraan dat die gevalle onderste bo konfytbroodjies van die Murphy wet direk eweredig is aan die prys van die mat.
Berge, ja berge agter berge en tevergeefs probeer jy hulle kleur vasvang met Leipoldt se bosduifblou, erdeblou …. ag, sommer-net-blou. Net as jy fyn bergklim omdat jou voete die pad tree vir tree afmeet sal jy weet hoe lyk en spreek die landskap. Dankie Ernst dat ek ook nou weet hoe vole die kielie van die wollerige protea teen my neus.
Elizabeth se fluitkitaarkonsert in die berghut pas by die bly in ons harte. Hierdie stap oomblikke laat jou op en af klim tussen die nulpunt en eindpunt van jou persoonlike eksistensieleer.
(My ink is op!)
BERGHUT
grasvibrasies soos
U hand brieserig strykstok
oor spinneraksnare
en klein gekneusde varings
geurig dun gedagtes span
tussen die takpunt hier
en katedraal piek einder
die sonvingers vang doudruppels van
voetheuwels onder kranse
terwyl sopraanvoëltjies my
seminaar se voetnote oppik
en vlerkig saam met
drie klein druppels die dag besing
liefland
bo-land
my land
jou land.
Assegaai-naweektoer
(21 – 24 Mei ’87)