“Watter vereniging op Stellenbosch bied jou die beste waarde vir jou geld?”
“Die BTK natuurlik!”
“Hoe so?”
“Wel, waar anders kry jy sonskyn, wind, reën en sneeu binne drie dae op ‘n toerprogram?!”
Skielik kondig ‘n geel polisiewa die koms van die helfte van die aandete aan. Baie het gedink dat hy veel erger nuus wou kom oordra. “Hene Kosma, ek was nog nooit so bly om jou te sien nie!” (Was dit nou oor die gaar maalvleis of die drie ouens wat saam met my gery het?). Tannie Miems het glo sommer vroegaand al ‘n vinger in die blik gehad en die resultaat is toe natuurlik ‘n pappe-brousel, maar nou ja, wat maak ‘n mens anders met rys, sop, ertjies en baked beans?
MAANDAG:
Nooit geweet dat hierdie rugsaktoer so ‘n grênd ontbyt sou oplewer nie – geurige maalvleis op vars bruin brood, én pap ook nog!! Die eerste miswolkie het net voor tien sy skaduwee oor Fontana gegooi en reënjasse is ingepak, net vir ingeval. Nie dat ons reën verwag het nie – dit reën mos nie dié tyd van die jaar hier nie. Gerrit de Villiers het by die gedagte aan die wraak sommer grieperig begin voel en toe speel hy maar waghond by Fontana terwyl ons teen Prentjiesberg opwaai. Daphne Eitner se poging om die wraak vry te spring was egter ‘n mislukking, want Willie Breytenbach het gou genoeg aangebied om haar van haar rugsak te verlos. Dit was byna ‘n fatale affêre, want toe die wind begin waai, kon Daphne beswaarlik haar voete op Moeder Aarde hou. Ons rotsvaste chaperone, tannie Miems Swanepoel, het male sonder tal haar stem verhef omdat almal háár rugsak aangesien het as die sak waarin die geologiese rotsmonster gebêre moes word. “Oe, my nuwe baadjie!! Julle kan nie die klippe op my nuwe baadjie sit nie!” “Maar tannie Miems, ons is net bang die wind waai die nuwe baadjie weg.”
Die peanut-gallery wou nog hulle asems terugkry na die kwaai opdraand, maar Leon Verster het genadeloos die name by die voorstellingsparade uitgelees en die teenwoordige lede van die peanut-gallery het in stomme verbasing die affêre gadegeslaan sonder om ‘n woord te uiter. Die windjie het ook al frisser begin stoot en plek-plek het hy veroorsaak dat jou poging om die miskoek te mis ‘n totale misstap was met die gevolg dat daar heelparty mismoedige mense met mislike mislukkings was. Willie Breytenbach het ons net voor middagbrood verlaat om vir Gerrit te gaan oppas. Die wind was nou heeltemal uit Daphne se seile, maar sy kon nou weer ‘n reguiter paadjie loop met haar rugsak terug op haar rug.
Daar was wind voor ons en agter ons en links van ons en regs van ons en ten spyte daarvan dat ons in die dieptes afgedaal het vir middagbrood, kon ons die wind nie ontvlug nie. Die spyskaart het gelukkig nie tot hierdie winderigheid bygedra nie. (Gisteraand se baked beans was lankal vergete en die FFF kom eers vanaand aan die beurt!!). Die middag se stap het mettertyd ontaard in fanatiese (of is dit dalk fantastiese?) pogings om so min systappe as moontlik te gee. Die BTK is bereid om ‘n gratis oorsese toer aan enige persoon te verskaf wat dié paadjie reguit kon bewandel! Die woordeboek sê wind se bewegende lug wat veroorsaak word deur atmosferiese toestande. Wat die wetenskaplikes nóu weer met die atmosferiese toestande aangevang het, weet ek nie, want dít wat ons beleef het, was meer as net bewegende lug! Mettertyd was daar ook ‘n neerslag van water uit hierdie bewegende lug – dis nou reën! – nie te veel nie, maar net genoeg sodat ‘n mens jouself kon verwens as jou klere nie waterdig gepak was nie. “Daar is Craigmore!” …. en toe word dit donker. Knersus (Tertius Carinus) het die voorste groep solank vooruit gelei, terwyl Leon en die slotte die agterosse ook by die kraal uitgebring het. En skaars was al die varkies op hok toe daal daar ‘n neerslag uit die lug uit neer – soos in ‘n behoorlike reënbui. Probeer nou ‘n logiese gevolg kry uit die volgende feite: Ses-en-veertig mense in een huis, vier kosgroepies in een vertrek, een splinter-kosgroepie in die badkamer, gietende reën en koue. As jy dáár was, sal jy net sê: “Chaos …. en pret!”
En daar doen oom Tjaain Smith toe weer die onverwagte. Voordat die kombuis tot kombuis verklaar is, het hy eers tannie Miems se “falling star ge-catch” en dit “gesave vir die rainy evening” deur haar dag te maak met ‘n pikante danspassie of twee.
Louis Nel-hulle het borde as onnodig beskou en twee billies se inhoud word toe sommer vna die grond af geëet. Leon en die res van groep 5 het ‘n smêsh met hulle smash se water gehad – asof daar nie reeds genoeg nattigheid buite was nie. Of wou iemand die warm water vir die bad skaai? Jaap de Lange het darem die FFF-ffflop gered met die maalvleis wat hy saamgedra het. Verskeie nuwe toeriste het toe ook kennis gemaak met die FFF. Tannie Miems het dit egter anders probeer verduidelik met haar VVV-stelsel: wees voorbereid, vriendelik en verdraagsaam. Ek kon nog nie vasstel wat die verband is tussen VVV en FFF nie. Moet ‘n mens VVV wees voordat jy die FFF eet of is VVV die gevolge van die FFF? Na die kos-telike opgewondenheid was almal so uitgeput dat hekeltyd skoon vergeet is – miskien ook maar goed vir party mense.
DINSDAG:
“Julle sal dit nie glo nie! Die berge is spierwit!” “Haai nooit; oom Tjaain!”
Dít moet ons eers sien. Die gebruiklike opstaan-geskrou was vanmôre totaal onnodig. Miskien moet die papkokers vir sneeu reël op die toekomstige toer. Hier en daar is daar bekommerde blikke gewissel, want waar dit so wit was, is waar Ecowa lê, en môre moet ons Ecowa stap. Ons was heeldag deeglik gewus van die sneeu se teenwoordigheid – as jy dit nie kon sien nie, het die ysige windjie jou telkens daaraan herinner. Die rustige kontoerpaadjie het vir tannie Miems die kans gegee om haar “star” weer en weer én weer te laat “fall”. As ek daai arme ster was, het ek lankal verskiet, net om van de oude vrouw af weg te kom. Net voor middagbrood het Willie ons tegemoet gestap met die goeie nuus dat Gerrit byna weer perdfris is. Middagbrood is op die ideale plek gehou. Daar was tafels en water wat veeldoelig aangewend is onder de oude vrouw se leiding. “Ou mense moenie in die water mos nie, die kinders wil dit drink!”
Ordentlikheidspraatjies is op vol mae gehou met die gevolg dat sommige eerste toeriste se gedagtes nog by die kospotte was. Susan Mukheiber wil toe sommer die hele aand saam met ‘n ou “sleep” (Engels) in plaas van slee! Onse chaperone het die lastige -p egter so vinnig saam met haar “star” in haar “pocket” gesteek dat Susan skaars tyd gehad het om behoorlik te bloos. By die afdraand af het tannie Miems haar kragte opgegaar en toe ons weer die vlakte tref, ontaard haar kragte weer in ‘n lekker volkspele-bedryf. Iets om Susan van voor af te verwar, want die bedryf steek vas by jou kombers en my matras, of is dit my kombers en jou matras? En toe skielik is dit stil, want Knersus het tannie Miems die mond gestop met ‘n miskoek-stokkielekker. “Laat ons nooit mismoedig word nie.”
En vroegmiddag is ons toe terug by Fontana. Wat toe volg, noem ons sommer korttermynbeplanning weens atmosferiese toestande buite ons beheer. Ugie se telefoonlyne gons (later, volgens ‘n koerantberig in Die Beeld moes ons aflei dat die sentrale ingeluister het) en die dinge gebeur. Nog ‘n koue aand word opgedis en uit die informele vierkantige sleekring word ‘n paar aaitems op die sement gebring. En wanneer laas het ons so ‘n gerieflike binneshuise wraak beleef? Binne of te not; dit bly maar ‘n opregte slegte gesig van agter af. Hekeltyd het ‘n hele klompie ongetemde vrae opgelewer. Of die vorige dag se ind ‘n bydrae tot Liezl Human se ongetemdheid opgelewer het, sal ‘n vraag bly. Kom “Nag dames”, kom rustigheid – of so het ons gedink ….
Middernag sak daar ‘n ysreëntjie uit en dit is toe net mooi daar dat die Toontjiesdokter vanuit hulle gesaghebbende posisie besluit dat dit nou die oomblik is om de oude vrouw te verplaas na ‘n warmer bed. Darem nie Hel toe met die rooi gevaarte nie! En ‘n meer gewillige pasiënt as Susan Louw kon hulle ook nie kry nie.
Wat nou volg, is oorlewering, want ek het my eie afleidings gemaak uit geen woorde, min woorde en baie woorde. Of dit dus die waarheid is …. Klaarblyklik was dit ‘n middernagmerrierit met tannie Miems binne-in die motor, die “sneeustorm” buite die motor en Leon agter die wiel van die motor. Teen veertig kilometer per uur het die blou ambulans in die vroeë oggendure Ugie se rus versteur, net om te verneem dat die hospitaal eintlik op Elliot is. Dus: Elliot hier kom ons! Ons sou graag wou weet of die hospitaalpersoneel geweet het wie die eintlike pasiënt was, want kort voor lank was al vier glo deur ‘n warm stort en knus tussen die wit lakens vir so ‘n uur en ‘n half se luuksueuse gerief. Sesuur was die drie gesondstes weer op – seker nie kans gesien vir bedpanne en rowwe hantering deur die dagpersoneel nie! En toe los hulle sowaar vir Susan alleen daar sodat hulle op Ugie in die hotel kan gaan ontbyt eet. Arme hotelkelner! Dáár het de oude vrouw glo ook amok gemaak. Die kelner is van sy spyskaart beroof en die rooi gevaarte laat spaander toe straat toe daarmee om haar twee trawante se bestellings daar aan te hoor. Oom Dolf Stemmet word toe ook sommer vroeër uit die vere geboender en moes hy noodgedwonge nie sy plek agter die wiel inneem nie, maar as “backseat driver”.
Dit het toe intussen Woensdag geword. “Meanwhile back at the ranch” (Fontana) (Hierdie stuk is nou weer waar, hoor!), heers daar groot opgewondenheid. Die wêreld is wit van die ysigheid. Die wêreld is ysig van die nattigheid. Die wêreld is nat van die kouigheid. Die wêreld is koud van die …. los maar. Dit was wit, ysig en nat! En die motor is weg, Leon is weg én die groot geraas is weg. Maar hierdie vreedsame toestand rondom óns oggendbrood het nie lank geduur nie en toe die drie oorlewendes hulle neuse optrek vir pap, kry ons die snuf van spek en eiers. Met tannie Miems in die omgewing sou dit buitendien nie lank ‘n geheim kon bly nie. Susan het dit ook maar wys geag om nie haar buikvlies verder bloot te stel aan spek en eiers nie, wat nog te sê aan FFF, en later in die dag kon sy dus uit haar hospitaalbed berig: “Dit gaan heelwat beter dankie.”
Met oom Dolf in die omgewing het die bus ook nie lank stasionêr gebly nie en kort voor lank is Elliot binnegeval. Die poskantoor is eerste oorgeneem, maar nadat die ontvangsdame ewe gedwee die losprys van 48 tjappies betaal het, was daar niks snaaks meer aan nie en is die plek dus sonder seremonie in vrede verlaat. Eh …. jammer, ek het vergeet dat die telefone ook onder die poskantoor resorteer. Die sentrale moes bontstaan, maar hulle het ‘n paar interessante gesprekke gehoor!
‘n Klein afvaardiging het intussen die skoolhoof gaan terroriseer. Arme man. Hy het net die vorige dag as nuwe skoolhoof daar begin en hier kry hy skielik te doene met ‘n voorsitter, kosma en chaperone van ‘n hawelose groep studente wat hulleself die BTK noem. Hy moes verlig gewees het toe hy hoor dat ons net slaapplek soek, want ons kry toe sommer elkeen ‘n lekker koppie koffie op die koop toe. Vir ons versoek het hy egter nie kans gesien nie. Gelukkig het skoolhoofde kollegas en die kollegas op Ugie kry toe sy alma mater jammer genoeg om hom oor ons te ontferm. Maar voor die beloofde warm storte en beddens op Ugie moes ons eers nog ‘n bietjie koue trotseer.
Vanaf Elliot het ons die sprokieswêreld anderkant die gesluit-verklaarde Barklypas tegemoet gery. Glo my, volgens die woordeboek is sneeu die neerslag van ysblokke – miskien was die koerantberig tog reg oor die moontlike ontbering wat ons deurgemaak het! Gelukkig het hierdie neerslag plaasgevind voordat óns die terrein betree het. ‘n Neerslag was daar wel, maar dit het uit alle rigtings gekom – sneeuballe! Arme Knersus het later nie meer geweet wat om te maak nie, want Helga Hahne was egter as die Filistyne op hom. Tannie Miems in haar rooi gewaad was dié uitmuntende teiken. Toe al die geskille opgelos is, is die kragte van nuuts af saamgespan en in ons midde verrys ‘n naamlose, witgeskrikte, stomgeslane “mens”. Hy word ge-nekdoek, gefotografeer …. en verwoes.
Nog nooit was wit so mooi nie. Ons sien dit, ons voel dit, ons eet dit, ons gooi dit, ons rol daarin, ons neem dit af, want môre, oormôre smelt dit weg tot ‘n herinnering. En toe soek ons die warmte van die Mountain Shadows Hotel se terrash op. Ou Agnes moes haar litte roer sodat almal ‘n glasie in die had kon hê om te klink op “Ein Prosit”. Dit het net lekker begin raak toe brul oom Dolf, ek bedoel die bus se enjin en nou ja, waar die bus gaan, daar gaan ons ook.
En so verlaat ons die sprokieswêreld weer oor die Barklypas. Antonie en Sophia van Heerden was vóór dié lekker bedryf al dik vir die plek en hulle het ons geselskap reeds op Elliot verlaat. As hulle maar geweet het ….
En as die skoolhoof op Ugie maar geweet het …. Ewentwel, so kom ons toe weer op Ugie aan. Die plaaslike Swartes het die bus gelukkig nog nie vir ‘n “local” aangesien nie – hy’s seker nog nie vol genoeg gewees nie! Ugie sal altyd ‘n sensasie van behaaglikheid by my oproep as ek dink aan die heerlike warm bed -en daar was sowaar genoeg warm water vir almal.
Nou was die mae nog net leeg. Toe Sonja Wend egter sê dat enigiets uit die kosdose geëet mag word, maar die bederfbare goed soos droë wors, kasies, sjokolade, ensovoorts; móét opgeëet word, het daar totale pandemonium uitgebreek. Droë wors het ‘n identiteitskrisis beleef en hors ‘de oevers geword. Sjokolade het ingestaan vir die vyfde gang en tussendeur het so ‘n bietjie spagetti, FFF, rogbrood en sop minder geword. Jaap de Lange het sy plek as potuitlekker behoorlik volgestaan. Na dié vr-ete het almal op die TV toegesak en ge-oe en ge-aa toe die sneeu verskyn. Nog ‘n vierkantige sleekring, sommer bo-op die koshuistafels, het ‘n paar vergeetbare aaitems opgelewer. Die Jaap-aap-aap-aap se eggo weerklink egter nou nog. Half tien was dit toe nog nie “Nag dames” nie, maar wel “Ligte uit” vir die elf koshuiskinders, en die res van die bedryf moes dus stil plaasvind. Tannie Miems het haar voorraad sleepille, beskuit en wat nie nog, alles uitgepak. Ek het al die spul sakke die vorige dag by Fontana verkeerdelik as puffel aangesien. Tannie Miems het net betyds ‘n grootskaalse, en bedoel grootskeepse, reddingspoging uitgevoer en dus het almal vanaf skeepsrot tot die kaptein genoeg te ete gekry. Tot watter tyd van die nag die skip nog rondgedobber het, weet ek nie, maar daar het soveel sleesous gevloei dat geen kaptein dit op koert kon hou nie. Gelukkig het die skip só gestrand dat elke “matroos” op ‘n sagte bed kon slaap!
DONDERDAG:
En dit was aand en dit was môre. Aangesien die skip gisteraand gestrand het, moes ons maar weer op oom Dolf se nommer druk vir die bus. Susan is wettiglik uit die hospitaal ontslaan en toe vat die bus die lang pad huis toe.
Sonja Wend