Die “Nuwe Suid-Afrika” het ook sy invloed op die BTK gehad, want Vrydag vertrek ons slegs ‘n halfuur laat van Stellenbosch af na Saldanhabaai. Daar gekom het almal ‘n bietjie verward rondgesit; totdat tannie Miems ‘n bal ontdek het en almal wat nie wou saamspeel, se lewens versondig het.
Ons is vriendelik in die karavaanpark welkom geheet, maar tog ernstig vermaan om nie te lawaai nie. Groot was die ontsteltenis dus toe ons tot in die vroeë oggendure deur Leon Schuster vermaak is.
Saterdag se sirkelroete deur die weermaggebied het vir baie afwisseling gesorg. Daar was ‘n eiland bedek met guano, die “Doctor’s Cave”, soutpanne, stofpaaie en Samaritane wat vir ons koeldrank aangebied het.
By die kamp is ons deur ‘n betreklik vreemde gesig begroet. Drie skape het oopgespalk aan kruise naby die vuur gestaan en kort-kort sprinkel oom Jan du Plessis iets daaroor. Die resultaat hiervan, tesame met die pofadders, was onverbeterlik. Antonie was so lus vir die vleis dat hy die arme Willie Breytenbach nie eens ‘n kans wou gun om sy gebed te doen nie.
Die aand se kampvuur was iets besonders. Tannie Miems is die hele dag lank reeds bang gesing en toe die kampvuur aan haar opgedra word, was sy behoorlik benoud. Die items is vervang met “terugblikke” en Hans Scheffler het homself uitgeleef in die rol van tannie Miems (veral die Pampoen-item verdien melding).
Daar was ‘n verdere verrassing; naamlik vier dose versier met brandertjies. In die laaste doos was daar vir ‘n nuwe slaapsak. Groot was die vreugde en baie was die trane – gelukkig het Rita dit vermoed, want in die eerste doos was daar reeds sneespapier.
Sondag, net na middagete, het die gebruiklike pitspoeg aan die beurt gekom. Hier het tannie Hildegard du Plessis en Dirk van der Merwe ons gewys waar Dawid die wortels gegrawe het en spoeg onderskeidelik 8- tot 33-jukskeilengtes ver. Na al hierdie opwinding het ons nog net genoeg energie oorgehad vir Knersus se Elsa-oefeninge. Hierna kon veral die eerste toeriste nie voor genoeg in die ry inval vir die heerlike poeding nie.
Die aand het ‘n groot skok die kamp getref toe Antonie (-vroeg-uit-die-veren) aankondig dat daar die volgende oggend om halfses opgestaan moet word. Maandag is die voordeel hiervan egter ondervind toe ons reeds teen middagete by Swartriet opgedaag het (tot die ontsteltenis van die draers van die middagbroodsakke). Die kollig het die aand by kampvuur op die Eerste Toeriste geval: Deurmekaar nuus is gelewer, die Sonskynsusters het gesing, olifante is gewas en Gatiep en Galiema het hul buiging gemaak.
Danksy die seekoeie wat oor ons gevlieg het, het ons Dinsdag in koel weer na Tietiesbaai gestap. Hierdie stap was, net soos die vorige dag s’n, langs die mooiste, wit strande en ys(ige) blou water. Die water by Tietiesbaai wat so uitnodigend koel gelyk het na die stap, was tog so koud! Met kampvuur het Richard Müller die skilpadjie-item tot sy maksimum uitgerek voordat ons redelik vroeg in die bed kon kom.
Woensdag was ‘n lang, warm twintig kilometer. Terwyl daar verby Paternoster gestap is, het ‘n paar van ons die spoor byster geraak; gelukkig is ‘n kafee gevind waar die pad na die see gevra kon word. ‘n Baie energieke hond het hier by ons aangesluit en die res van die warm pad na Brittania-baai met ons meegemaak. By Brittanie-baai is ons meegedeel dat die “meneer-van-die-kreeffabriek” ons nie naby sy fabriek wil hê nie en dus was ons op die see aangewys vir bad.
Die sonsondergang was weereens iets besonders en die aand was net reg om op die strand te gaan sing, maar ongelukkig het die strandvlooie nie saamgespeel nie en het die meeste maar gaan slaap.
Donderdag het ons opnuut besef dat hierdie toer nie sommer ‘n gewone toer is nie. Om elke hoek en draai was daar verrassings en Donderdag was besaai daarmee. Die toer deur die kreeffabriek was beslis ‘n goeie begin vir die dag. Ongelukkig is alle verrassings nie aangenaam nie en so ook nie die lang (onverwagse) stap langs die pad nie. Die kafee op die kaai het egter alle moeë gedagtes verdryf en daar is ywerig foto’s geneem van al die vissersbote. Die rit op Antonie W (dit is nou nie ons toerleier nie!) was beslis die hoogtepunt van die toer – behalwe miskien vir die van ons wat aan die slaap geraak het of siek gevoel het. ‘n Heerlike kampterrein met baie storte het ons by Laaiplek begroet. Die aand se komitee-items het gesorg vir baie pret; tannie Miems het selfs die rol van ‘n rob(!) vertolk en die Rocco de Wet-sage is voortgesit.
Vrydag was die laaste dag en Theuns Kok kon sy slag wys deur voor te stap. Met middagbrood was ons in die kamp en die middag is daar óf geslaap óf is Dwarskersbos verken. Die terrash, by Port Owen, is oorheers deur tannie Miems en haar singende trawante. Daar was selfs onharmonieuse klanke toe die manlike geslag in opstand gekom het teen die bedekte beskuldigings, maar dit was gelaat ….
Groot opgewondenheid het geheers oor die aand se slee, want dit was die enigste slee op die toer. Ou toeriste het weer “tuis” gevoel en nuwe toeriste kon nou sien wat die “ding” is waarvan hulle nog net altyd gehoor het. Die items was weereens k-k-k-pret; Leon het ons selfs gewys wie nou eintlik sy voorgeslagte is. Ongelukkig kom alle goeie dinge ook op ‘n einde en so moes daar van die laaste toeriste afskeid geneem word, geskenke is oorhandig en baie trane is gestort.
Saterdagoggend het almal moeilik opgestaan na die min slaap. Nog ‘n heerlike BTK-toer was verstreke! Dit was ‘n toer van afwisseling en verrassings, daar was robbe en daar was pikkewyntjies; dit was vakansie en dit was pret!
S van Heerden