Die eerste aand van die Sederberg-toer het aangebreek – of so het almal gedink. Nadat die hele toergroep opgeruk het na die Neelsie, wou die weer nie saamspeel nie en moes almal toe maar slaapplek soek vir die nag.
Saterdagoggend om half agt het almal weer aangemeld. Teen half nege kon die bus betree word en het die toer uiteindelik sy aanvang geneem.
Op Sanddrif aangekom, het dit baie bedrywig gegaan om alles vir die volgende dag reg te kry. Daar was darem ook ’n tydjie vir lekker swem in die maalgat. Jac se moed wou hom amper begewe om die hoë sprong te waag, maar hy het uiteindelik onder algemene aanmoediging (aandrang?) gespring. Terug by die kamp is die water daar ook getoets. Dit was egter so koud dat Carien sommer met haar baadjie geswem het. Sy het gou agtergekom dat dit nie so waterdig is soos wat sy gedink het nie.
Die aand is daar gebraai en met die koffie se maak was Marianne so ywerig dat sy sommer die koffiesak stukkernd geroer het. Die gevolg: moer in jou mond.
Hekeltyd later is in Engels gehou aangesien Carien Engelse lesse wou hê.
Die Sondagoggendstilte is om 6 uur deur Hans en die papkokers se luide “Opstaan!” verbreek. Daarna was dit ’n geskarrel om alles reg te kry. As ’n mens mooi sou kyk na die groep, sou jy sien dat dit eintlik drie groepe met twaalf lede elk was, maar dan sou jy fyn moes kyk. Wel, die groep (of is dit groepe?) het ywerig die Wolfbergskeure en die boog aangdurf.
Met die aand se kosmakery het Hansie, Antonie en Stefanus gekyk wie se stofie die beste as kampvuur sal dien. die items van die aand het ons meer insig in die lewe van ’n Belg tussen ’n klomp BTKaners gegee. Ons stywe spiere is tydelik van vergeet toe ons ’n Deense liedjie aangeleer het.
Maandagoggend se stap is begin deurdat die hele groep Willie die Bul speel. Die res van die stap was so warm dat Teuns se middagbrood opgeëet is terwyl hy gemediteer het oor die stap.
Na aandete moes groep 1 herhaaldelik gevra word om by die res van die groep aan te sluit. Wat is in en wat is uit? Met hekeltyd het Teuns dit vir die res van die groep verduidelik.
Dinsdag is die groep weereens deur Hans se “Opstaan!!” gewek. Volgens Marina kan hy ’n wekker word as hy groot is.
Lynn se verjaarsdag is met die eerste rus van die dag aangekondig. Na ’n uurlange Game-break het almal weer ywerig gestap net om vyftien minute later te hoor dat dit middagbrood-tyd is en dat aandete ook op dieselfde plek genuttig sal word. Dit was ook maar goed, want ongure weer moes getrotseer word. Hansie het begin deur ’n skerm teen die wind te bou – sommer net een muur. Antonie besluit toe hy sal kyk of hy nie Kayalitsha kan oortref nie. Hans en Teuns se skuiling was iets tussen ’n Zoeloehut en ’n Voortrekker bakoond. Dit was egter Stefanus se groep se skuiling wat die attraksie van die dag was. Gerhard het besluit dat as jy nie die skuiling na die boom kan bring nie, dan bring jy die boom na die skuiling.
Gelukking vir Groep 2 het Groep 1 se reëndans die reën laat verdwyn en kon die sterretjieskombuis ten volle benut word.
Die laaste dag was dit baie moelik om “Follow the leader” te speel. Die meeste van die tyd kon ’n mens nie eers die persoon voor jou sien nie. Soos Peter-Jan gesê het: “Jy sien ’n spoor voor ’n bossie, maar in die middel van die bossie moes die persoon gedraai het.”
Hannes het ook op ’n stadium presies vir ons gesê wat hy van die stap dink deur die weer te beskryf.
Met middagbrood het Groep 1 seker gemaak dat niemand meer kos hoef te dra nie.
Toe ons uiteindelik uit die wildernis kom, was daar geen bus om ons te verwelkom nie. Met die bus later darem gevind, was nog ’n toer verstreke van die ou BTK.
Vir die sketsskryfster