Langeberg April 1992

SATERDAG, 28 Maart:

Halfsewe word half-agt, en ons vertrek uiteindelik vanaf die Neelsie. So tussendeur al die kennismakery, geselsery, “ek moes eintlik geswot het die vakansie” word ook ‘n bietjie gesoek na die regte afdraaie.

Teen middagete se kant stop die bus en die middagbrooddames spring aan die werk met die Hawaïanbuns. Met volgepakte sakke en ‘n vermaning dat Theuns nie weer soos gewoonlik die berg moet uithardloop nie …. begin die uitstappie!

Die stap deur die verbrande bos is ‘n ervaring. Toe ons by die twee huisies langs die rivier aankom, lyk dit asof almal met houtskool gespeel het. Die kosma’s spring aan die gang, maar darem nie voordat hulle in die yskoue water gespring het nie. Die groot bensien-vlamme is blykbaar die oorsaak van sommige groepleiers se min hare. Na ‘n volle gebalanseerde maaltyd (1 proteïen, 1 koolhidraat, groen én geel groente) word daar melding gemaak van ‘n “wraak” en die oues kry so ‘n grynslag op hul gesigte. By hekeltyd leer ons nuwes van “in” en “uit” toere.

SONDAG, 29 Maart:

Die dag hou belofte in. Ons los ons rugsakke by die huise. Die ringpad is meestal deur die gebrande deel van die berg. Middagete is by die rivierstroom en wonder bo wonder sê Theuns ons kan ‘n hele uur rus! Toe ons begin oppak, verras die weer ons en skaars vyf minute later begin dit heerlik sous.

Terug by die huis vergader almal soos ‘n klomp sardiens in die mans se “hut” vir koffie. Eddy se hande gaan per ongeluk in vlamme op (wie verbrand nou sy hande?) en sy ooghare is ‘n gratis “perm” ryker! Ons span kon nie help om “Gwaff” se jellie en vrugte-inisiatief te bewonder nie.

In die “dames” se huisie word lekker saamgesing na aandete. “Wat is Eddy en Lynn se storie, en WIE is nou eintlik die verlore vurk?”

MAANDAG, 30 Maart:

“Dit is die dag deur die Heer gemaak. Kom ons wees bly!” Die wind waai en dis koud! – gaan dit reën? “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” “Heibré, moenie dat ons wag nie -laat jou span nou al die goed inpak …. Stap nou!!!”

Oor die voller rivier. Die wind wil-wil ons van ons voete afruk. Ons rugsakke is leër, maar die bult is STEIL! Dis swart tot by die rivier, maar daar begin die varings en die voëls en Sarah is in haar noppies!

Gamebreak en groep 3 is HONGER! Die sjokolade versadig nie en daar word peanuts, appelringe, koekies en jellietots uitgepluk. Met die bekfluitjie agtergrond word daar vinnig aan die reguit lang pad gestap. Sleeping Beauty word uitgeklim en ons is HEEL BO!

Dis afdraandpad tot by ons tolhuisie langs die pad. Francois en Jaap val weg aan die mushrooms rondom ons huisie, maar die meeste van ons bly maar skepties oor dié wilde goed.

Na ete is dit tyd vir die eerste toeriste se konsert, en die “sleeping beauty cascades” breek aan. Met items soos die drie bere, die skip, gamebreak, oom Jan en tant Let, Tini wini itsi bitsi yellow polka dot bikini en die Tolhuis rap is dit ‘n TREFFER!

“Eerste toeriste, kom saam met my!” en toe …. volg …. die gevreesde …. grillerige …. angswekkende wraak!

DINSDAG, 31 Maart:

Mushrooms en matabella vir ontbyt en half elf begin stap voorspel net: lekker! Die nege kilometer deur die veld is pragtig. Ons arriveer by die heerlikste “honeymoon spot”! Die dommes slaan almal tent op en ons pak af in die pragtige kliphuisie by die poele. Ons vergader vir oulaas om die gas en bensienvlammetjies vir baie Toppers. Wie sou die ander blikkie “meatballs” gevat het, en hoekom is groep 1 se kos al so gou klaar? Almal wag in spanning vir hekeltyd. Daar sou ons uitvind hoekom Gwaff se naam nou eintlik GWAFFffff …. is! en tot watter uiterstes sommige dames nou eintlik sal gaan om sommige mans se aantreklike kledingstukke in die hande te kry ….

WOENSDAG, 1 April:

Theuns jaag almal aan met die tentopslanery. Hoe moes ons kon raai dis nog so vrek ver bus toe? Op en af en op en af ….

Afgepak by die “terrash” in Riversdal is almal in hul element. Rooi doekies word gestempel en ons val in die pad. Vir oulaas volg interessante gesprekke, liedjies of sommer net ‘n ou slapie. Ons kom veilig by die Neelsie aan met baie meer vriende! Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK ….

Ilse le Roux