Oranjerivier Junie 1992

Pofadder, Pella en peanuts.

Daar was veertig. Stoere, gesonde boeredogters en Afrikanerseuns. Met gespierde bobene. Daar was ook ‘n paar Duitsers. Ook met gespierde bobene. Hulle het die Pofadder-wandelpad gepleeg.

Donkeroggend, Sondag en vaak wou ons vertrek, maar Francois het ure en etlike sekondes verslaap. Wouter was ook weg, toe ry ons maar later, Sondag en steeds vaak, net om hulle later langs die pad op te pik. Die aand kamp ons op Onseep. Dis reg. Dis naby Onseepkans. Om tent op te slaan in braille was moeilik vir die etlike eerste toeriste en ‘n paar seniors. Na slaai, warmhonde en slaai is die aandgodsdiens deur oom Dieter gedoen en kon elkeen gaan hotdog in sy sak. (Die meeste het bo-op die tente geslaap.)

Sestien kilometer. Ja. Langs ‘n spoor telefoondrade af tot gamebreak by asbosse. Ons pak bakens oppad Rooiberg toe en Gardi geen mooi klippe vir Hans aan. In ‘n rivierkloof op raas billies soos bokklokke en word ons met ‘n uitsig mooier as aandete beloon. Ons middagbrood op ‘n oorhangsel met ‘n venster oor die Pof-vlakte. Mooi, baie mooi. Hoog, baie mooi. Toe haal Eddie sy lipice uit en begin dit vertoon. Tannie Maretha probeer ons aandag aftrek deur te vertel dat outydse broodroosters van mika gemaak was, maar die meeste het reeds die lipice gesien. Verder oor Rooiberg en -dal stap ons toe waar Karike Gerhard se hand kon vat. As sy wou, Hekel. By die Oranje kon ons soos Faraosdogters gaan baai, maar Louis T. is ‘n eensame krokodil en loer glo waar die meisies ril. Hekel. Lynn snak na Thinus vir asem nadat sy vir Francois gesien het. Ja die Adamskind. Hekel. Ons tent die aand op posseelpersele en kuier om die vuur. Hans ruk ‘n string Barones uit, terwyl Bernard verlang na ses meisies in vyf aande, maar hy is reeds die aand alleen. Ja. Sê Gerhard.

Veertien kilometer. Riviersand, katoenvelde, bobjane wat skrou en loringboomduine. Aletti byt in die stof toe Gerhard sy kans waarneem, maar wie was die een wat so gegil het? Ons geniet ‘n drankie op grys blokrotse teenaan die rivier wat deur grys loodregkranse versnel. Ons halt by die Ritchi-valle en middagbrood by ‘n stroomversnelling waar ons manne soos jong hingste die golwe ry. Hans eet tamatievis uit sy hand, Eberhard wip rond en oom Dieter sit soos ‘n brandwag op ‘n rots bo die rivier. Ja.

Ons stap deur uitgekolkte rotse en ploeg deur los sand. Johan sing en Fanie stap rotse langs. Eberhard moan en Gardi lag. Toe sien ons die bus en die palm by Onseep. Daar word gevolkspele en lemoene geëet, Fanie gesels WP met die kanaalman en elke holding word met water gevul. Die kanaal sou afsluit, maar die meisies stort by ‘n waterval om gereed te maak vir die groot items die aand. Dagmar, Heloise en Christian wat die vorige dag weens ‘n kommunikasiegaping by Coboop se mond geslaap het, kom ook by ons aan die verduidelik. Nee. Dit was nie hulle skuld nie.

Terwyl die maan agter die klipkoppie uitsug soos ‘n Goudakaas, word ons rustig en gaan lê die moeg soos warm rivierklippe in die knieë. Tog is dit nie die einde van die dag nie. Nee. Daar was nog, behalwe speel-speel vleis op die spyskaart. Schreuder-skenkels, Turner-afval en Schefflerbrein. Laasgenoemde was so duur omdat daar so baie geslag moet word om ‘n kilogram te verkry. Dit was ‘n aand van ‘n skilpad se lyding, van Blommetjie se lyding en die eerste toeriste se lyding. Dit was ‘n aand van koekies, soetwyn en moegslaap. Ja.

Oppad na Pofadder waar ons die dag sou kuier, stempel ons die nekdoekies by Hoofposkantoor Onseepkans, waar ons dan ook met swetende plastieksakkies suinskoek verras word. Ons rus die oggend op die Spar en die kafee se stoep, waar ons vermaak word met ‘n geradbraakte variasie van die Here is ons Herder in ruil vir drankgeld. Eddie kla oor Alfonsius se zol. Dis te nat. Toe rol Eddie sy eie, terwyl Francois en Lenka Namakwawyn proe. Intussen spoeg Hans stof in die oë van sy mededingers in die pruimpit spoegtoernooi. Hy haal die helfte van Pifcity se hoofstraat. ‘n Paar besoek die stel van Arende III en ‘n reeks foto’s word van ‘n ontsnappingspoging geneem. Buite die dorp op pad na Pella, is die span besig om ‘n veldtoneel met wa, perde en sweep te skiet.

Op Pella, ‘n sendingdorpie met ‘n dadelboord en sinkhuisies, besoek ons die Roomse Kerk. ‘n Toneel uit die Midde-Ooste. Roomkleurkerk met reusepalms in wit sand. Die preekstoel is gemaak uit 2 500 handgekerfde seepkissies en die Lydensweg is met houtsneepanele teen die mure uitgebeeld. Daar word Saterdagaande en Sondagoggende dienste gehou omdat die kerk te klein is vir al die lidmate. Die predikant (95) was die dag stad toe. Pofadder toe, want Woensdag is mos markdag. Hy is al 60 jaar op Pella. Dit sê iets van aanhou. Ons staan die middag oor by die pompstasie teen die rivier met gras, warm water en krane. ‘n Watergeveg word deur Eddie uitgelok en ontaard in ‘n lelike ding toe die mense begin nat word. Toe swem ons maar oor Namibië toe om blondine-grappe te vertel. Hoe kaler jonker, hoe groter pronker word skynbaar letterlik deur Fanie opgeneem, maar die manne begrawe hom toe maar in die sand. Dit is ‘n middag van volkspele en speletjies, potte en panne, papkokers en brode speel saam, terwyl Eberhard vir Eddie besig hou. Die aand is die mense nie lus vir lag nie.

Die volgende dag moes ons 20-25 kilometer stap. Min steke is die aand in hekeltyd ingekry, maar ons hoor wel dat Gerhard sy vroue soos sy pasta verkies. Sag en ferm. Al dente. Ja.

Vyf-en-twintig kilometer. Ons wikkel met sonsopkoms, maar Karike se knie pla en sy en Riana keer terug na basis. Johanci moan, want sy dra nou 1/3 van ‘n 2/3 tent, maar tienduisende soldate marsjeer tot by Swartpad se put. Met gamebreak word daar ‘n flerrie, vabond en ‘n verjaardagmaatjie aangewys. Tanya begin skouers masseer en ‘n ry vorm agter en voor haar. Groepswoeps, massagegarage.

Ons middagbrood by ‘n doringboom en verdwaal. Hans sê ons het nie, hy wou net vir ons ‘n ander mooi doringboom gaan wys. Ja. In die rivierkloof af gaan dit gly-gly, maar Stephanus en Louis K. help die dames galant tot op vaste grond. Stephanus sê mans wil iets in ruil hê as hulle so ridderlik optree. Louis stem saam. Hekel. Hulle het nie só bedoel nie. Hoe nie? Die vroue wonder maar net. Dit word weer ‘n aand van soetwyn, vuur en items. Die simulcast vanuit Engels sukkel so ‘n bietjie met Stephanus se interpretasie van Joe. Hans en sy Lux liquid lewer ‘n paar items. Weet iemand wat ‘n Makapan is? Dit ‘n aand van sterre kyk en slee, ‘n aand van sand en nat gras. Ja, studente is dangeroes.

Vyftien kilometer. Laaste dag. ‘n Gemaklike stappie deur stirusboorde, langs ‘n bang volstruis in ‘n lusernland en vloeibare stof. Eddie maak ‘n voorstel aan Wouter. Wouter moet Pofcity toe stap om ‘n terras(h) te gaan koop. Dis mos nou om ‘n drankie op te geniet. Wouter lag. Ons gamebreak op eilande in die Oranje en loop ons later dood teen die rivier. Louis T. wip oor die kranse en bespied ‘n nuwe pad terwyl die here Kloppers en Du Toit die dames help. Ons middagbrood by die rivier, maar sonder Wouter. Die 911-span gaan soek, maar hy’s weg. Unsolved Mystery. Waags ggoep vieg? vra Stephanus en Lynn en Liezl smeer Provita met voorletters op. Hans probeer ‘n toerfoto neem, maar Dagmar, Christian, Heloïse en Alletti raak rof en byt ‘n stomp vas. Ons stof aan deur doringbosse en Louise kry Gerhard en Johan op sleeptou deur hulle met ‘n blou band vas te bind sodat hulle haar kan sleep. Slim kind.

Die pompstasie by Pella is soos ‘n Comradeslint, maar met goud vir almal. Dis ‘n lekker aand. Dis warm stort en weer kampverdeel, dis geskenksitrus en ‘n hondegeveg. Dis Arrie as ‘n kroegdeur en Christine en haar kanaries. Ja. Nee. Ek praat nou te veel.

Waar’s my ander ander skoen? Dié een pas dan nie. Dit was Lynn, Christiane en Louise, maar Lynn het haar eie skoen ook vasgemaak. Ja, maar hulle het hulself vasgeloop teen Louis T. en Kie se wraakvernuf. Dit was goed.

Dis so groen. Kyk die wolke! Wil iemand nog ‘n bietjie Pella-water hê? ‘n Slukkie game vir iemand? Hoe lank nog? Ek moet gaan kampverdeel. Hoe ver nog? Eddie gaan sit op ‘n ander plek! Ja. Wie wil my grondboontjies eet?

Dit was goed. Pofadder, Pella en peanuts.

Marinda Louw