Waenhuiskrans-Franskraal Gala Desember 1992

Ten spyte van die hitte, het ons op 28 November 1992, stiptelik om eenuur by die Voertuigpoel opgedaag, vol geesdrif en afwagting. Maar dit was alles tevergeefs. Daar was nie genoeg plek op die bus nie. Volgens Gerhard het te min mense op die wa gery. Na ‘n dringende beraadslaging is daar besluit om mev Hugo te gaan vra vir ‘n bussie. ‘n Uur later was ons op pad. Op Waenhuiskrans aangekom, is tente opgeslaan en kos gemaak terwyl Johan S. ‘n jukskei-bedryf uitgepak het. Ons het heerlik geëet aan Marianne se kos – net ‘n voorsmakie van wat sou volg. Daardie aand was daar net een item gewees toe Johan T. almal baie, baie welkom geheet het.

Die volgende dag het almal vroeg opgestaan – gereed om die vyf-en-twintig kilometer na Struisbaai aan te pak. Iewers op pad soontoe het Gerhard sy stem verloor en vir die res van die toer is “His Master’s Voice” ingespan. Ons het goeie vordering gemaak en was voor middagete by Die Mond. Gelukkig was dit laagwater en ons kon deurstap – sodoende is ‘n hele ent se stap binneland toe uitgesny. Ons het redelik vroeg by Struisbaai se kampterrein aangekom waar daar onmiddellik begin is om tente op te slaan. Die meisies het vreeslik gekla omdat daar net twee tente vir hulle opgeslaan is – tog was hulle bereid om buite te slaap net sodat hulle bagasie binne kan lê!

Die storte het redelik verwarring veroorsaak, want nadat omtrent almal die koue storte getrotseer het, is warm storte in die ander blok ontdek! Daarna het almal die klein kafeetjie bestorm – net jammer dat die Just Juice drie maande tevore verval het! Na nog ‘n heerlike ete is die eerste slee van die toer gehou. Ongelukkig het Hans se “Sleekunde 124” eers aan die einde van die toer verskyn.

Sondag was ons eerste oorstaandag en is rustig deurgebring. Nadat almal deur die vriendelike feetjies en kaboutertjies wakker gemaak is met koffie en heerlike Bingle-beskuit, is ‘n erediens deur Oom Jurgens gelei. Baie mense het die vorige dag se son onderskat en selfs voete was seer gebrand. Patrick en Peter-Jan was onder andere van die slagoffers. Cecile het ook ‘n ligte sonsteek opgedoen.

Die herbussie het onder andere vir tannie Miems gebring en na middagete het sy met poedingoefeninge vorendag gekom. Daarna is die gebruiklike pitspoeg-kompetisie gehou. Die aand het aan die eerste-toeriste behoort en ons is met baie oorspronklike items vermaak onder andere “New Omo Blue” en Martie met haar ‘dansdoedies’. Marianne is definitief besig om ‘n nuwe era van kosmaak in te lei by die BTK – dit is bewys met die eerste tuisgebakte wraakkoekies.

Op Maandag het ons die teerpad na L’Agulhas aangedurf waar ons die vuurtoring besoek het. Nadat ‘n spesiale prys vir ons onderhandel is, het ons sing-sing die trappe aangedurf. Vir diegene met hoogtevrees was dit ‘n vreesaanjaende ervaring om die minste daarvan te sê! Daarna is die mees suidelike groepfoto geneem en Hans en Piet het ‘n vlagpaalklim-kompetisie gehou.

Middagete is sing-sing op ‘n strandhuis se stoep genuttig en daarna was dit klippe, ‘n jeep-track en ‘n pragtige sandstrand tot by ons oornagplek waar Hansie soos ‘n brandwag op die heuwel vir ons gesit en wag het. Die tentekomitee het drie tente vir die meisies opgeslaan, maar hulle was weereens nie tevrede nie: “Die gras is te vol goggas en paddatjies” – hulle verkies om op die stoep te slaap!

Aangesien daar geen geriewe was nie, moes ons maar vuil bly en is die pouhokke opgeslaan. Die slee was daardie aand deur die raserige spinnies ontwrig en ‘n onskuldige Tielman is onverhoeds betrap toe sy sleepille gesteel is. Maar, soos hulle sê, reg sal geskied en die hoof-spinnie, Louise, is in die net gevang, vasgemaak en behoorlik natgemaak.

Die volgende dag het Marianne en Lize verjaar. Na die gelukwensings het tannie Miems ‘n volkspele uitgepak terwyl die walaaiers gou-gou die wa klaar gelaai het. Die lam, siek en dooies, wie se getalle daagliks toegeneem het, het saam met Hansie op die wa gery – met die wonderlike vooruitsig om die pou-hokke op Gansbaai leeg te maak. Die res van ons het maar aangestap na Die Dam toe. Op pad het die Peanut Gallery ‘n bekendstellingsparade gehou. By Die Dam aangekom was ons baie bly om warm storte te kry en skoon te kom. Stephanus en Christiane, sowel as Braam en Mariette se twee kinders, het daardie aand by ons aangesluit. Tannie Miems het weer ‘n volkspele uitgepak en ‘n massiewe spel vrot-eier. Alhoewel die mans gekla het oor die chaotiese slee wat deur die dames gebou is, was die items uitstekend: Tannie Miems se suster, Makkapanne, koeie, gwaffies met duikbrille en snorkers, en ‘n uitstekende Calypso liedjie oor die blommetjies en die bytjies opgevoer deur Hansie, Jac en Stephanus. Dié liedjie was nogals in Engels opgevoer – soos Hansie gesê het: “Vir sommige ons tweede taal, vir ander ‘n bietjie verder.”

Na ‘n vurige debat oor of dames die reg het om in die sleekring te slaap of nie, het die meeste van ons gaan slaap, al te bly dat ons die volgende oggend ‘n bietjie later kon slaap aangesien dit ‘n oorstaandag was. Na oggendete het ‘n paar energieke mense besluit om die uitstappie na Quoin Point mee te maak om die wrak te besigtig. Piet en Hennie het perlemoen geduik en later het tannie Miems aandele in die perlemoen opgeveil – aandeelhouers moes help met die voorbereiding daarvan. Dié van ons wat van nature luier is, het die oggend deurgebring deur volleyball en kaarte te speel. Die 1992 Stap Nou is uitgedeel – geluk Leila!

Na die ergste hitte van die dag het die mense begin lewe kry: baseball, volleyball, hardloop-bedrywe. M.C. het die eerste ernstige besering van die toer opgedoen toe hy sy enkel verstuit het gedurende ‘n spannende touchies-wedstryd. Gelukkig was ons pas-gekwalifiseerde fisio, Peggy, by om die nodige behandeling

te gee.

Die groepslee en -items het heelwat opgewondenheid veroorsaak en die beoordelaars het uiteindelik die kokke, waterdraers en houtkappers as oorwinnaars aangewys. Jannie, wie se verjaarsdag vroeër die dag tot sy groot verbasing aangekondig is, het sy geskenk ontvang – ‘n hele 60kg daarvan!

Donderdagoggend moes ons ongelukkig afskeid neem van Braam en Mariette en het daarna soos ‘n trop skape met die wa na Buffelsjagt gery. By die eerste knieknakker by ‘n nuut-ontwikkelde kampterrein het tannie Miems ouder gewoonte hardloop bedrywe uitgepak – Rudolf het sy vernuf in die vliegkuns gedemonstreer toe hy oor die muurtjie probeer spring het. Kort daarna het ons op ‘n paar skilpadjies afgekom – hulle was sonder blasies op hulle voete, seker omdat Hans nog nie daar verby was nie.

Om half-twaalf het Gerhard besluit om ‘n vroeë middagete te nuttig naby ‘n skeepswrak. ‘n Molslang is ontdek onder ‘n paar houtplanke en Albertus het sy slag met slange gewys. Ons het uiteindelik op Pearly Beach aangekom na ‘n lang middag se geploeter deur die sagte sand. Die bordspin het daardie aand vir groot opwinding gesorg toe Gert namens die blikwassers vir Henk uitgedaag het. Uiteindelik, na ‘n paar benoude oomblikke, het ‘n baie verligte Henk as oorwinnaar uitgetree.

Dié aand was ook nie sonder sentimentele gevoelens nie, want die onthulling van die “Miems” het plaasgevind. Dié kis het tannie Miems vereer vir die diep spore wat sy oor die jare in die BTK getrap het. Dit was duidelik dat tannie Miems heel oorweldig was deur die BTK se gebaar van dankbaarheid en erkenning.

Die laaste oggend het glad nie aanloklik gelyk nie en dit was duidelik dat dit gaan reën – net toe arme Gerhard begin dink dat dié gala die eerste een in jare sonder reën sou wees! Kort nadat die wa klaar gelaai is, het die hemel se sluise geopen. Ons het skuiling in die karavaanpark se klein kerkie gaan soek waar ons lekker gesing het. Louise het ook haar klaviertalent gedemonstreer. Nog twee verjaardae is aangekondig en ‘n baie gretige oom Jurgens wou eerste in die ry wees om dié meisies geluk te wens. Volgens Gerhard se betroubare bron van inligting sou daar net drie buie uitsak, waarvan die eerste twee al klaar verby was. Dus kon ons gerus maar aanstap Franskraal toe. Op pad is ons egter deur verskeie reënbuie geteister en het sopnat daar aangekom. Die meeste meisies het die warm storte bestorm, net om uit te vind dat ‘n oop kraan vol leë beloftes kan wees!

Na middagete het almal op die wa geklim en Die Kelders toe gery om ‘n terrash te hou. Die aand se braaivleis is gevolg deur die laaste slee en die afskeid van die laaste-toeriste – soos altyd ‘n hoogs emosionele geleentheid. Almal was geskok met Gerhard

se aankondiging dat ons wéér die volgende oggend om sesuur moes opstaan, maar ten spyte daarvan het almal tot laat dié aand, of liewers vroeg die oggend, gekuier.

Voor ons vertrek, is die ou-toeriste op eg tradisionele wyse maan toe gestuur waarna almal met swaar gemoedere na Stellenbosch teruggekeer het ….

Nog ‘n toer is verstreke in die ou BTK ….

Sketsskryfster