Stilbaai – Witsand Gala 1993

‘n Geskarrel, gegroet, ge-name-vra, hope bagasie, toerlyste en mense: so begin hierdie toer op ‘n snikhete Vrydag. Dit lyk darem of almal hoede onthou het, want dis strooihoede net waar jy kyk wat behoorlik kompeteer in grootte. Vertrek stiptelik BTK-tyd met ‘n bus, twee US-minibussies en die liewe toe trok.

Ons maak ‘n lekker stop op Swellendam waar die kersversierings reeds in die hoofstraat pryk (of is dit nog laasjaar s’n?) Die bussies se insittendes maak hulle tuis op die stoeptrappies van ‘n goedgunstige besigheid en is ooggetuies van ‘n tweeperdekarretjie wat ewe windmaker in die hoofstraat indraai. Die bus het iewers laer af in die straat gestop. Tussen die twee groepe was ‘n godsdienstig-sosiale byeenkoms in volle gang voor die hotel met ‘n groot toeloop, luidsprekers en die lot. Ons ry verder deur die stoppellande gespikkel met hooibale en skape van dieselfde kleur. Laatmiddag kom ons op Riversdal en wag nou net op die trok. ‘n Polisievangwa daag op om te sê dat hulle ‘n klein ongelukkie gehad het, maar wel op pad is. Elkeen het in die stilligheid natuurlik sy eie voorstelling van wat die boodskap impliseer… Dit raak ook sommer koud en geleidelik skuif almal nader tot ons in ‘n groot bondel sit en solank “Nog ‘n toer is verstreke” oefen. Uiteindelik daag die trok op en word entoesiasties gekoning.

Die trok se storie: Enkele kilometer buite Stellenbosch het een van die agterdeure wat oopgelos en buite vasgemaak was, toegeslaan en Martinus Steyn se voet moes steke kry in Somerset-Wes Hospitaal. Weer op die pad wou Rykie Lombaard net gou ‘n lemoen skil toe die ander deur sy kans waarneem en amper haar hand vergruis. By Caledon Hospitaal kry sy gips en ry hulle boonop vir haar weg. ‘n Klein misverstandjie en daar hardloop sy met ‘n gipsarm agter die trok aan terwyl die passasiers die bestuurder se aandag probeer trek deur lemoene van agter af bo-oor die bewegende trok te gooi. Die tentekomitee kry hulle vuurdoop in die pikdonkerte.

Saterdag 27 November: Sesuur se kant is almal uit die slaapsakke. Daar is nog maar ‘n taamlike geskarrel so op die eerste oggend. Eddie Turner wat reeds ‘n bloedblaas opgedoen het, het drie professionele mediese opinies nodig om te besluit dat hy dit nie gaan oopsteek nie. Die trok word nou eers heeltemaal afgelaai om die mense te kan vervoer. Die walaaiers bly vandag agter om later na die bagasie om te sien. Die trokryery na die kus toe is ‘n ervaring – veral as jy in die middel staan en nie heeltemal lank genoeg is om vir balans aan die dak se versterkingsribbe vas te hou nie.

Na ‘n stuk sandpadstap en ‘n steil duin lê die see skielik voor ons. Dit is ‘n baie lekker dag vir stap: steeds semi-bewolk. Die groot vraag: kaalvoet, plakkies of tekkies word na ‘n uur of wat deur elkeen tot sy persoonlike bevrediging opgelos. Na middagbrood is daar nog net ‘n uur of wat se stap voor Stilbaai in sig kom. Daar op die kampplek het die walaaiers reeds die bagasie in netjiese rye gerangskik – tasse, sakke en “rolletjies en drolletjies” apart. As ons ‘n paar uur later gekom het, was dit dalk alfabeties volgens die van van die eienaar… Maresa Botha moet egter ontdek dat haar koffer weg is.

Koos doen goed besigheid met koeldranke wat gister nog koud was, want die water is lekker brak. Omtrent almal gaan swem, ook Gerhard van Wyngaardt se nekdoek… groot droefheid. Na aandete maak die Lawaaiers hulle debuut. Met 54 eerstetoeriste lê daar nog ‘n groot werk voor. Jac Wilsenach verduidelik kort en kragtig wat slee is. Die kampvuur self is ‘n bietjie stil omdat al die ou staatmakers besig is om te kook vir Sondag. Johan Thiart, ‘n ervare BTK-veteraan, het besluit om ‘n bietjie lewenswysheid te deel in die vorm van ‘n reeks insidente. Die tema is verhoudings, en vanaand kuier hy in die Vrystaat waar die kaas blykbaar beter as die meisies is. Plat hond word byna sonder ‘n “punchline” ge-item.

Sondag 28 November: Kaboutertjies en feetjies met koffie en Bingle-beskuit om agtuur. Baie was toe nog in die slaapsak, maar ander het al ‘n draf en ‘n swem agter die rug gehad. Tien oor agt vertrek ‘n stoet kerkgangers na die naaste skadukol vir erediens gelei deur oom Johan Botha in die ope lug. Vir die res van die oggend is die see, strand en riviermonding ons s’n – heerlik. Maar die opwinding is by die kampeerplek. Die bussie het skaars gestop toe tannie Miems Swanepoel uitborrel met ‘n waterbottel in die hand en links en regs begin natgooi.

Ons kry ‘n heerlike Sondagmaal met nagereg: Wie laaste is sal eerste wees; en daar word die poedingtafel na die agterpunt van die ry gedra. Die wat voor was kyk op hulle neuse behalwe vir die flikdenkers soos Johan de Villiers wat ewe fluks help om die tafel oor te dra en toe natuurlik weer voor staan. Bordspin en pitspoegkompetisie vind plaas voordat die rustigheid weer neerdaal.

Na aandete polariseer die groep: mans daar, dames hier en ‘n kort koukus word gehou aangaande die slee. Iemand was lus vir opwinding, want tannie Miems deel die dames mee dat daar geskiet gaan word – nie nou nie, NOU – en die opdrag is: “play hard to get”. Met ander woorde: hardloop. Spinnies meld aan by tannie Miems se buro om haar te help met watter kattekwaad sy ook al beplan. “Koud, koud, koud” word in stereo opgevoer met twee paartjies op die planke wat kyk wie eerste deur al die warmwaterbottels en elektriese komberse by die “punchline” kan uitkom. Tannie Miems word deur ‘n skerp eerstetoeris gehekel oor wat ‘n “bedryf” nou eintlik is. Sy sê jy kan enigiets so noem. Seker dit wat sy aan het ook, Christiaan. Dit is die mooiste volmaanaand en hoewel dit laat is, is daar ‘n groepie wat vir oulaas oor die duin klim om op die strand ‘n paar ou bekende kersliedere te sing.

Maandag 29 November: Die dag se stap begin hoogs opwindend met ‘n rivier om oor te steek. Die meeste mense kom borsdiepte deur, maar daar is ‘n paar verradelike gate en een van die staatmakerfotograwe se kamera word nat. Voor by tannie Miems is daar gou ‘n bondel wat lekker sing en volkspele doen in Stilbaai se kusstraat. Op ‘n lekker sandstrand stop ons om vroteier en derdemannetjie te speel. Jac kry kans om sy talent hierin te toon: bewaar jou as sy lang bene jou jaag.

Na middagbrood volg ‘n stuk paadjiestap met die son wat bak. Aangekom by Jongensfontein sak almal eers onder die halfwas melkhoutboompies neer. ‘n Groot bedrywigheid ontstaan skuins voor aandete. Ou toeriste organiseer en word georganiseer en eerstetoeriste oefen vir hulle groot aand. “Tannie Miems” oftenwel iemand in haar kerkrok lewer ‘n sangitem; Brinkie en Caren van der Merwe ook. ‘n Oulike perd en motor gee die skameres ook ‘n rol. Die walaaiers rek die bedryf laaank uit, maar eindelik kon 54 nuwe BTKners (wat die toervader insluit) saam met die veterane die Wraakkoekies geniet.

Dinsdag 30 November: Weer ‘n oorstaandag en die meeste staan eers op as die son en die slaapsak nou regtig te warm raak. Ontbyt iewers om nege uur. Die res van die dag is aan eie inisiatief oorgelaat. Daar word geduik, gewandel, gesoek na swemplek (want dit was springgety laagwater) en selfs sandkastele gebou op die strand. Na middagete verkeer die oorgrote meerderheid horisontaal. Teen die aand kom daar weer lewe. ‘n Sagtebalwedstryd lok massadeelname (met of sonder die nodige vaardigheid) sowel as heelwat toeskouers uit. Onder andere is daar ‘n paar vakansiegangers wat in plek van hulle M-NET sportprogram nou skielik die ware aksie op hulle voorstoep en soms ‘n misgevangde bal in hulle midde kry. Die wedstryd word onderbreek deur twee onnutsige stokers wat hulle maatjie, gespalk deur twee roerders wat in sy stokersoorpakkie ingesteek is, daar aandra. Dit maak ‘n mens nogal hulpeloos, ne Gerhard?. As ‘n mens lê, kan jy net met ingewikkelde akrobatiese toertjies regop kom en eers regop is loop feitlik onmoontlik. Die bofbalwedstryd eindig onbeslis met aandete.

Vanaand is komiteeslee en -items. Die akteurs geniet die items skynbaar meer as die gehoor. Die vissermanne word gehekel oor hulle vangs en Andr‚ van der Merwe erken ruiterlik dat Hilmarie le Roux die twee grotes gevang het. Uit die peanut gallery word opgemerk dat hy darem ook ‘n grote gevang het, maar Hilmarie sê sy is nie groot nie.

Woensdag 1 Desember: Vroeg opstaan ter wille van die lang dag se stap…min weet ons…

Vroeg teetyd kom ons by ‘n interessante grot met ‘n mooi uitsig. Die twee vreemde studente wat daar oornag het, word heeltemal oordonder. Ons sit lank en kyk hoe Andrie van der Merwe etlike visse uittrek terwyl Jac, Kotie Bester, Johanci Bingle en tannie Miems oor elkeen op die toer ‘n sêding voor te dra het. Middagbrood op die stoep van ‘n verlate vakansiehuisie by ‘n heerlik blou baai deur rotse van die oop see afgeskerm. Heelparty swem en klouter tot op die verste rotse waar die golwe in wit massas opskiet om weer op rotse en mense neer te stort – ‘n onvergeetlike swemplek.

Met die gekuier in die grot lê daar nou nog vir ons ‘n stywe stuk stap voor. ‘n Ongeval laat slot en kie. ‘n bietjie agterraak. Almal is egter weer bymekaar onder ‘n mensgemaakte boog waar ons stop en groepfoto’s neem. Laatmiddag kom ons op Blombos – ‘n spookdorpie buite seisoen soos nou. Daar word vir oulaas geswem, want vanaand is daar mos nie water vir was nie… ‘n Lekker steil stuk sandpad teen die heuwel op is die laaste skof na die kampplek waar die trok al moes wees. Geen trok nie.

Verkenners vertrek in verskillende rigtings terwyl maatreëls vir buitengewone omstandighede getref word. Waterdraers pak die tog terug strand toe aan om iewers drinkwater te leen. Al die ander sleep hout aan tot dit lyk of ons ‘n fort wil bou. Om die vuur laat tannie Miems ons een speletjie na die ander speel terwyl dit donker word. Eindelik kom daar ‘n boer se bakkie aan met van die verkenners en die nuus dat die trok vasgeval het op ‘n verkeerde pad. Die lammes, siekes en dooies en van die kokke kom op die bakkie, maar vir die res van ons lê ‘n nagmars voor: ongeveer 6 km met die strand langs en dan nog so ‘n halfuur se stap na die trok toe. Ons is honger (twee droë bruinbrode verdwyn soos koekies in ‘n weeshuis) en dit is donker. Op die bewolkte, mistige nag is die volmaan nie te sien nie – net die smal wit strandstrook en dowwe figure van die mense reg voor jou. Maar Jac stap en ons drafstap agterna met Martinus, seer voet en al, as gids. Die lig wat ons voor sien blyk ‘n deftige huis bo teen die heuwel te wees, maar darem ook min of meer die plek waar ons die kus moet verlaat – teen die donker wal van bosse uit? Daar kom ‘n flitslig teen die helling af… Johan T. wat ons kom soek het! ‘n Mens hoor verligting in die opgewekte gesels wat die res van die mars kort maak. “Wie is dit hier voor/langs my?” “O, jy!”

Om die laaste draai word ‘n mens verwelkom deur die gloed van ‘n kookvuur. Kos!!! Die ongewaste wortels wat vir die pot bedoel was, word eers geroof, later uitgedeel aan honger toeriste. Tentekomitee het reeds hulle bes gedoen, bagasie moes uitgesorteer word – chaos in die stikdonker. Halftwaalf die nag kry elk ‘n skep pasta vir aandete, maar kos was lanklaas so lekker. Dit reën liggies.

Slaapplek word gesoek: in die stampvol BTK-tente, onder onopgeslaande tentseile, onder die trok, ‘n paar gelukkiges in die trok… want ‘n uur of wat later breek die storm los. Tente flapper of hulle wil wegvlieg (Drie hoera’s vir die ongevierde helde wat gespook het om die damestent se penne in die grond te hou!) Soos slaapplekke in damme verander, begin die migrasies. Die in die tente en trok skuif maar op om vir druipnat vlugtelinge plek te maak. ‘n Paar dames eindig selfs in die manstent – dit was vir oorlewing, tannie Miems. Droë slaapsakke en klere word so goed as moontlik benut, maar daar was vir die meeste mense nie veel sprake van gerief vir die res van die nag nie. Daar was natuurlik die wat maar verlief geneem het met hulle swembadjies en so nat-nat verder geslaap het.

Donderdagoggend om sesuur was die meeste mense al op, koud en bedremmeld besig om te kyk wat aan hulle bagasie nog te redde is. ‘n Gejuig kondig die aankoms van die twee manne met die plaas se trekker aan wat die trok sonder veel gespook uit die slote wat dit geskop het, gekry het. Oggendbrood word in die trok gesmeer terwyl almal wat klaar gepak het beurte maak by die warmte van die koffiewatervuurtjie. Twee broodjies vir elk en ‘n sjokolade uit ‘n skielik vrygewige Koos het nog nooit so vinnig verdwyn nie, maar daarna sien almal weer kans vir die dag. “Drie Lekker’s” vir die trekkerbestuurders en ‘n bietjie volksspele word “uitgepak” voor ons in die rigting van die grootpad vertrek. Daar is besluit dat die trok vandag in verskillende togte eers die bagasie en dan die mense na Witsand sal vervoer. Puntjie is nou neusie-verby. Met middagbrood was die trok terug vir die eerste groep passasiers. Die res het nog aangestap tot by Vermaaklikheid waar party lekker by die eienaar van die enigste winkel gekuier het. Toe hierdie laaste vrag op Witsand aankom, staan al die tente al, bagasie uitgepak, maar die wind waai al weer stormsterk en dit reën so dat uitklim uit die trok glad nie aanloklik lyk nie. Almal vaar in die ruim badkamers in en daar word selfs later koffie bedien. Jac, die toervader en chaperone het intussen onderdak gaan soek en eindelik ook gekry in die klubhuis van Witsand se rolbalklub. Na heelwat organisasie was die bagasie eindelik veilig onder dak en die toeriste by die “terrash” behalwe vir die kokke wat reeds besig was met aandete. Dit word toe ‘n baie gesellige aand in Witsand hotel se sitkamer wat ‘n uitstekende akoestiek vir ‘n massakoor het…

Toe ons later “tuis” kom wag daar smoorsnoek en patats. Almal was nou gereed om net daar om te kap en te slaap, maar Johan T. en Kotie moes nog hulle reeksie afsluit en daar moes darem van die laastetoeriste afskeid geneem word. Elke laastetoeris, behalwe die wat nie meer wakker gemaak kon word nie, het ‘n kort stukkie kers kom aansteek. Toe die bestuur ‘n driekwartuur na “nag dames” van die kostentparty af terugkom was daar geen roering meer nie, net ‘n see van slapendes soos sardientjies langs mekaar en ‘n koor van snorke.

Vrydag 3 Desember: Heeltemal te gou na voorafgaande het ‘n vrolike “Good morning to you” weerklink. Gou het tannie Miems almal wakker gehad behalwe vir Henk Stander wat eers na ontbyt onder ‘n tafel ontdek is. Met gemengde gevoelens word daar ingepak en opgeklaar: Stellenbosch toe is ons voorland want dit reën nog steeds. Die verteenwoordigers van die rolbalklub word met ‘n spesiaal gedigte lied bedank en belowe dat die saal wat toe nog soos die toneel van ‘n vliegtuigramp lyk, in sy oorspronklike toestand gelaat sou word. Na skoonmaak, bedank, maan toe stuur, afskeid neem lê nog net die rit huis toe voor, maar nog was dit het einde niet. Tussen Buffelsjag en Swellendam verloor die bus amper ‘n wiel. Om ‘n lang storie op te som: die US-bussies het ongeveer half vier op die Bos aangekom, die bus om kwart oor sewe. Teen daardie tyd het die wagtendes reeds die hele inhoud van die BTK-stoor na die nuwe stoorkamer in die ou Luckhofskool verskuif. Die wat lus was het die Spur gaan binneval. Was dit daar effens stiller as gebruiklik?? Dalk moeg, of hoe sê ek? Maar dit was ‘n onvergeetlike Gala.

Christine Steinmann