Visrivier Canyon Julie 1994

Ons gaan, ons gaan nie, ons gaan, ons gaan nie, maar einde ten laaste is dit realiteit: die bus met 40 BTKners draai af by die wegwyser met die woorde VISRIVIER CANYON.

Die groep het die vorige oggend, 17 Julie 1994, uit die nat groen Stellenbosch vertrek, op Springbok het Lilibe Vermeulen opgeklim en op Grünau het ek aangesluit. Daar het ons ons ook tuisgemaak vir die nag in Mevrou van der Merwe se ruim gastehuis. Dit is ‘n geskarrel; in- en uitpak. Party mense is na die lang rit so lus vir ‘n koeldrank dat hulle ‘n onbekende woesterny en geëlektrifiseerde drade trotseer om by die kafee te kom. Na sop en broodjies raak dit rustig. Oom Bethel Mller gesels met ons oor die Onse Vader Gebed. Slaapplek was volgens elkeen se smaak en inisiatief: die senior Steinmanns op lugmatrasse, party mans in die bus, van die dames vier-vier op die matrasse wat daar beskikbaar was.

Maandag 18 Julie is mistig en koel, maar reeds sonnig teen die tyd dat ons die uitkykpunt bereik. Die eerste uitsig van die Canyon is indrukwekkend. Die laaste toiletgeriewe van die toer is semi-privaat mits jy mooi hard fluit. Ons neem maar ‘n groepfoto voor die tyd…

Toe af, af, af – 300 m sê Christiaan Strohmaier se altimeter. (Hy dra ‘n hele weerstasie in sy rugsak saam; net die windspoedmeter het hy vergeet.) Onder by die rivier verwilder die Lawaaiers die ander groepies heeltemal met hulle debuut. Jac Wilsenach in sy gebruiklike kleurvolle toerleiersgewaad laat waai voor en laat ons ons gamebreak en middagbrood behoorlik verdien. Ons wag lank vir die slot… en die middagbroodsak! Die rowwe terrein het reeds sy tol geëis en Johanci Bingle kom met ‘n stywe knie aangehobbel.

Die groen kuile is verfrissend om in te swem, maar vir drinkwater sal ons maar van Tannie Maretha se chloorpilletjies gebruik maak. Die eerste gamebreak leer ‘n mens om hulle liewer fyn te druk; andersins kry die laaste een al drie nog onopgelos in sy beker. ‘n Meer effektiewe watersuiwering word verkry met die pille wat die gwaffies laat flokkuleer (volgens die pakkie)/ koaguleer (volgens Thinus Bezuidenhout se biochemie III). Dit moet dan gefiltreer word, maar ‘n handdoek werk nie – raak waterdig sodra dit deurweek is. Die stap na middagete is nie so ver nie. Van die manne is ernstig aan die sleemaatjie soek. Dit het seker te doen met die gerugte dat daar omtrent twee mans vir elke dame op die toer is, maar lyk my vir Erika Steyn is daar nog meer.

Die aand met kampvuur is daar ‘n klein onenigheid: twee verskillende sleekringe ontstaan onafhanklik van mekaar. “Louis, as jy nog saam met my wil slee, moet jy skuif…” (Dit is nou na die ander kring toe.) Op die ou end het die voorste linie besluit om maar agtertoe te skuif sodat daar geaitem kan word, want die ou aitem-entoesiaste staan al en rondtrippel. Die Joes word vroeg-vroeg afgehandel met ‘n Johina en ‘n Yuppy Joe met sy sellulêre tellefoon, maar wat sy perd ry asof dit ‘n krap is. Papegaai, Wim en Joachim, Kapteine Berghaan en Superskoon maak hulle verskyning – onherkenbaar vermink in ‘n sleeongeluk. Erika sukkel om haar sleemaatjie se groot mond ‘n slag toe te kry.

Na kampvuur haal Hendrik Myburgh sy “fanta” uit. Moet net nie dink dat dit koeldrank is nie!

Dinsdag 19 Julie begin met mieliepap en koffie gevolg deur ‘n unieke ordentlikheidspraatjie deur oom Bethel oor die ondemokratiese en seksistiese beginsels van die BTK…as jy ‘n dame in die water gooi, dan met styl. Koning dat die stof staan. Vertrek oor klippe en sand. Die omgewing is mooi en groot. By die lemoen-eet-stop voel Francois Smith goed oor homself en vra die hele groep om dit te bevestig. Wonder of Grootvoet Langsnoet ook saamstem. Johanci met haar stywe been verdien ‘n medalje vir dapperheid.

Gamebreak by die swawelbron. ‘n Mens ruik dit amper voor jy dit sien. Groepe 1 en 2 gaan sit halfpad teen die berg uit; groep 3 en 4 kom agter hoe die wind waai en gaan sit reg langs die 70oC stroompie – aan die wind-op kant. Kosgroepiefoto’s word geneem en Gerhard van Wyngaard se wens word vervul: ‘n Foto van hom saam met AL die dames in die groep.

“Wie is daardie lelike een in die middel?”

Middagete sit elke groep in sy eie koeltetjie. Hendrik M probeer weer om sy fantabottel leër te kry, maar dit is nie ‘n goeie idee om die aanbod op ‘n leë maag te aanvaar nie, sê Christiaan. Teen die kranse waar groep 2 en 3 uitkamp gee Gerhard ‘n Captain Planet vertoning. Zanne Cronje se groep beslis dat die oulike dierasie wat almal as krimpvarkie ken beter beskryf word deur die benaming spykermuis. ‘n Paar stemmige liedere word gruwelik vermink: “As die lewe storm, moet jy woedend om jou slaan…”

Na ete volg ‘n lang en warm stuk stap. Die Canyon maak oop met rotstorings en geel grassies soos stoppelbaard teen die roetswart hange. Groot poele raak skaars, maar daar is darem water vir baai by die kampplek en die dames was ewe fluks hare. Die slotte is nog in aantog, maar tannie Maretha sê toemaar, sy sal al die “shine” vang. Ongeluk met aandete. Lynn Melck kry ‘n tweedegraadse brandword toe die kokende rysbillie omval. Gelukkig was die rivierwater koud. Die meeste van die rys is gered en hoewel die boontjiebillie in die krisis ook met die aarde kennis gemaak het, het ons nog steeds meer boontjies gehad as wat ons kon eet. Groep 1 eet SOPpers in plaas van TOPpers vanaand.

Vanaand met kampvuur is dit die eerstetoeriste se beurt. Hulle wys hoe 4 mense met een mondvol water tandeborsel. Reinhard Conzanico (ons enigste en beste uitlander op die toer) neem vir Johan Theron op ‘n senutergende motorrit in hierdie snaakse land waar al die moteriste daarop aandring om aan die verkeerde kant van die pad te ry. Toe hulle idees op is het Flip Theron ons (probeer) oortuig van die duim as die spil waarom die lewe draai. Hoekom suig ‘n baba duim? Omdat hy die ander vingers instinktief reserveer om later as hy moet begin DINK sy kop te krap, natuurlik. Die res van die aand met die verwelkoming van 7 eerstetoeriste verloop tweetalig om Reinard C se onthalwe. Net Gerhardus Viljoen se bene het hom nie toegelaat om in die mooi aand te deel nie. Koekies; aandgodsdiens; een vir een soek almal hulle slaapsakke op.

Woensdag 20 Julie word wakker in ‘n klam slaapsak toe Gerhard v W begin met sy mieliepapkokery. Hy sê die metode vir ‘n nie-Vrystater is: sit solank die water op en wag vir oom Dieter. Met oggendgodsdiens wys Christine Fourie ons op God se groot gasvryheid.

Pieter Theron stap vandag voor. Om agter naby die slot te stap is soms interessant. Daar word rommel opgetel en gesing tot die Koos Kombuis ondersteuners die vertoning oorneem. Hoor ‘n stemmetjie van bo en daar sit Saritha de Vaal hoog bo teen die duin. Sy en Nico Holtzhausen probeer afgly – minder suksesvol, maar lekker vol sand daarna. Gamebreak met Romany-krummels is ‘n entjie verder.

By middagete is daar weer ‘n lekker swemplek. Die koue water ellimineer enige fiemies jeens sardyne in tamatiesous. Erika leer haar kosgroepie borsslag swem op droë grond waar hulle middagslapie hou op ‘n seil. Stap oor 12 minute… oor 5 minute… oor ‘n minuut… stap nou!. Pieter sorg dat almal weet. Dit is weer ‘n warm skof oor los sand en spoelklippe. Drink maar jou swembadwater en vat ‘n kortpad oor die bult. Waar ons die rivier weer kry, kamp ons sommer. Eers ‘n hospitaalsessie vir al die ongevalle. Groep 1 is vanaand byna onvanpas deftig met hulle tafeldoek. Kosmaak verloop kuier-kuier. Die Bulgroep van Francois S is die luidrugtigste. Christiaan S het ‘n lang onderhandeling met sy drie dae oue stapsokkies voor hy hulle kan aantrek. Hulle het teen die tyd al te veel persoonlikheid ontwikkel. Hoop net dat sokkies nie vakbonde begin stig nie.

‘n Hele reeks spreekkamer-aitems vanaand met Konrad Scheffler as Dr Naacktgeboren: die ou wat die yskas gegooi het, die ou op wie dit geval het en ten laaste die ou wat in die yskas was kom soek hulp. O ja, ook nog die ou wat kolletjies gesien het. Groep 2 doen Captain Finckelstein. Die motore rook, hoes en sputter voor hulle die gees gee. Jac vertoon sy natuurlike gebrek aan militˆre dissipline. Hekeltyd se “alternatiewe” hekel bestaan uit Hendrik se verklaring vir die ontstaan van die Canyon: loopgrawe uit ‘n era voor die vorige ystydperk. Oom Bethel praat homself amper in ‘n hoek in toe hy ‘n hekel probeer sensor.

Donderdag 21 Julie. Party mense kla vanoggend oor die naggeluide: “Daai ou wat so snork was vroegaand al deur die plantasie…”

Ander kan weer nie wakker word nie. Konrad S kry koffie in die bed voor hy besluit om op te staan. Ook net Leila Klopper wat so gaaf is. Kort daarna gee Konrad ‘n demonstrasie met lopende kommentaar oor rugsak inpak en ontdek in die proses ‘n paar skoon sokkies – groot vreugde. Na ‘n halfuur se stap vat ons ‘n kortpad oor die bulte. Ons saal af bo-op die plato en die met orige energie volg Jac se spore na ‘n koppie vir ‘n onvergeetlike uitsig en ‘n fantasiese eggo. Viervingerberg lyk van agter af na ‘n kameel. Intussen het die agtergeblewenes allerhande kattekwaad aangevang. Maar Jac laat hom nie vang deur klippe in sy Jac Sac nie.

Ons vertoef ‘n rukkie by Lt. Thilo von Trotha se graf. Gerhard vertel die tragiese verhaal van die jong Duitse offisier. By Gamebreak hou al die chemici van groep 4 konferensie om die hoofbestanddeel van Marcelle Erasmus se lip-ice te ontleed. Pieter gee ‘n tweetalige les in kombuisterme vanaf sy vullissakkie.

‘n Entjie verder kom ons toe af op iets… ‘n geboutjie. Die voorste groep maak daarvan ‘n beginselsaak om reguit verby te hou, maar almal voel nie so nie en die “tannie” van Kochasdrifkafee kry tog haar ondersteuning. Al die getroue ondersteuners van Kaptein Superskoon kan ontslae raak van hul eie en ander se blikke en plastiek. By middagbrood daarna begin Johanci Bingle ‘n watergooiery ter gedagtenis aan die altyd teenwoordige tannie Miems. Ricus Groenewald ontdek sy talent as middagbroodjie. Lynn M en Francois S (wat vandag in sy strops stap), kompeteer in wie die meeste pleisters nodig het.

Na middagete stap Nico H voor om kamp te soek. Langs die pad op ‘n groot sandvlakte slaan Gerhard neer, “leopard crawl” nog ‘n paar tree en bly toe lê met teddie bo-op. Louis Klopper en Thys Walters neem laaste foto’s van hulle ou vriend, maar 500 m verder is die skyndood kameraad weer by. Die groep raak effe uitgerek en teen die tyd dat die tweede bondel besef dat daar al agtertoe kamp opgeslaan is, was ons al ‘n entjie verby op ‘n groot vlakte. Die drie meer senior Steinmanns gaan klim gou eers die koppie en bespied die kampplek van bo af. ‘n Mens kan heel eienaardig elke woord hoor wat daar doer onder gesê word.

Jac W, Etienne van der Poel en Konrad S sit hulle sonondertjie en geniet en aitem al die Pedro en Poncho’s op ‘n streep plus ‘n paar nuwes. Groep 2 vermaak hulle om die kospotte met hoogs intellektuele speletjies. Ons ander maak maar tee. Kampvuur lewer die slot van die eskimo-aitem op. Nog ‘n paar vliegtuie stort neer en die see word amper leeggepomp. Hendrik M ly vanaand aan sleepilloosheid. Die laaste aand in die Canyon is volmaan en koud.

Vrydag 22 Julie. Aan die gebrek aan suiker kan ‘n mens agterkom dat die toer al einde se kant toe staan. Johanci B se knie is vandag soveel beter dat sy vandag touleier is.

Daar is lang stukke sandstap vandag. Ons hou ‘n vroeë gamebreak waar daar tee gemaak word oor stokkiesvuur. Ons is versigtig vir die water na gevalle van naarheid. Thys W se tee het die eienaardigste skuimlaag bo-op teen die tyd dat dit kook. Nie lank daarna nie het die watertoring al in sig gekom en die trein word gestop vir middagbrood. JP du Plessis en Christiaan S gaan swem en laasgenoemde kom met Indiaanse oorlogsgrimering middagete eet. Konrad S kom onder kruisvuur waar hy in die sonnetjie lˆ en slaap, maar 2 billies koue water hinder blykbaar nie.

Ons maak ons reg vir minstens nog ‘n uur en ‘n half se stap. Na provita met aarbeikonfyt en droëwors sien ‘n mens mos weer kans. Heeltemal te gou stap ons Ai-Ais binne. Die voorste groep word gekoning deur die tweede bateljon. Ons gaan hang ons rugsakke aan ‘n ry hake – die “inweegpunt” – en sak op die restaurant toe. Toe elk ‘n verversing in die hand het, is daar gesing: die Stem, Allerhoogste God seën Afrika en die Südwestlied. Toe die restaurant half drie Namibia-tyd toemaak het ons die stoep geleidelik ontruim vir die spreeus om alle krummels te kom opruim.

Die grootste attraksie was die verwarmde swembad. Daarna het party mense verder gaan baai in die binneshuise baddens – party so lekker dat hulle amper aandete gemis het. Maar Ricus sê noedels, sous, wors, groente saam in een billie opgewarm smaak steeds lekker. Dit was in elk geval baie bevredigend om eindelik die skulpienoedels wat al 5 dae lank onnodiglik in my en ander se rugsakke saamgery het, te eet. Erika S adverteer haar groepie se kos as “verbrands lekker”, maar ek weet darem nie.

Daar word nog lank in die groepies gekuier voor ons saam om die vuur afsluit. ‘n Ekspedisie, agt lede sterk, vertrek daarna om die amfiteater te gaan soek en maak hulle eers op die verhoog tuis om ‘n beker soetwyn en ingenieursgrappies. Later groei die gehoor na mistens 25, verskuif na die sitplekke en toe word daar geaitem! AL die oues en ‘n paar nuwes en enkeles wat nooit herhaal sal kan word nie – soos Johan Theron se verbeeldingsreis. Dit is twaalfuur se kant voor die byeenkoms opbreek.

Saterdag 23 Julie bestyg ons die bus na oggendgodsdiens, bedankings en ‘n koning. Totsiens Visrivier en totsiens Namibia toe ons later enkelgelid deur die 2 grensposte gaan.

Ons stop op Springbok en val die Supermark binne; staan en wag buite vir die bus. Mense lees Vrydag se koerant asof dit die heel eerste uitgawe ooit is. Jac wat ‘n pak plastieklepels aangekoop het smous met hulle teen 50c een. Op die swartmark is dit 20c vir ‘n tweedehandse mooi skoon afgelekte een. Francois S se rum and raisin roomys is egter so hard gevries dat die effektiefse is om met ‘n knipmes skywe af te kerf.

Terug op die bus raak dit gou rustig – meeste rus. By Vanrhynsdorp tref ons die koue front. Sewe-uur se kant hou ons agter Lückhof stil. ‘n Besoek aan die Spur stel die huis toe gaan nog so ‘n bietjie uit.

Daar sal nog lank van die fyn Visrivierstof in die nate van my skoene saamry.

Christine Steinmann