Dit is nogal merkwaardig hoedat ‘n BTK-toer die vermoë het om ‘n mens se natuurlike wekker te reguleer. Reeds ‘n halfuur voor die beplande wakkerwordtyd lê ‘n mens half-sluimerend – eers vaagweg en later intens bewus van ‘n heerlike gevoel van opwinding.
Dit is met hierdie gevoel van opwinding wat 36 BTKners Saterdagoggend, 1 Oktober, tussen 5.45 en 6.00 by die Luckhoffskool vergader. Oom Bethel en Kalie Pauw kan ongelukkig nie meer die toer meemaak nie, en Annemarie Olivier sal oppad by ons aansluit. Die bus word gelaai en ek samel nekdoekies in aangesien ons dit sommer vooraf wil stempel. Ons toerleier, Pieter Theron, het ons staproete vooraf gereccie en weet dus dat ons die Woensdag met die terugkomslag nie baie oop poskantore sal vind nie.
Ons vertrek kort na 6.30 uit Stellenbosch en die busrit verloop sonder enige fiasko’s of groot opskuddings. Lynn Melck word deur tannie Miems Swanepoel afgevaardig om Christian Mainzl, ‘n Duitser wat vir 3 weke in Suid-Afrika rondkuier geselskap te hou. Diegene wat graag interessant wil voorkom of wat iets te sê het, sit en gesels oor wat dit ookal is wat hul interesseer. Diegene vir wie dit nie relevant of belangrik is om interessant te lyk nie, sit en slaap.
Die oorspronklike plan is om die nekdoekies op Ceres te laat stempel, maar na beraadslaging besluit Pieter, Thinus Bezuidenhout en Francois Smith dat Op die Berg die aangewese plek is. Vraag: Wat doen ‘n mens as Op die Berg se een en enigste poskantoor gesluit is juis wanneer jy hulle dienste benodig? Antwoord: Jy soek ‘n ander diens – soos die SA Polisie se aanklagkantoor. Ons arriveer laat-oggend by ons bestemming, en na sowat 45 minute van chaos waarin groepieleiers en kokke besig is met die verdeling van kos en toerusting, is ons gereed om te stap. Ons wandel rustig oor ‘n plat vlaktetjie, ‘n luukse wat van korte duur is, aangesien ons kort voor lank die plato begin bestyg. Opdraandes het nou maar eenmaal die manier om steil te wees, maar danksy ons toerleier se ruspouses en veral danksy die belofte van middagete bo-op die berg word ons aangespoor tot hoër hoogtes. Middagete is tussen ‘n klomp rotsstapels en ons sien die eerste van talle bewonderenswaardige uitsigte. Groep 3 en 4 sluit onder leiding van Francois S. ‘n konfytkontrak en daar word baie formeel vir ‘n foto geposeer. Na middagete wandel ons oor die plato na ons kampplek. Oppad stop ons vir die gebruiklike “veldmaniere praatjie” en Gerhard van Wyngaardt benut die geleendheid om vir sy nou al gebruiklike foto tussen die dames te poseer. Daar word sommer terselftertyd ‘n groepfoto geneem, waarna ons na die kampplek stap. Ons laat ons rugsakke agter en klim tussen unieke rotsblokke na die Sonbril waarvandaarn ons ook die “Vinger van God” kan sien . Die massas rotsformasies is ‘n verruklike gesig – dit lyk tegelykertyd georden en deurmekaar. Met die terugkomslag by die kamp, slaan ons tent op, geniet ‘n koue bad en na aandete trek ons saam in die sleekring. Al die items het ‘n nuwe dimensie – dit word in Engels opgevoer ter wille van Christian. Ons hou aandgodsdiens en Pieter sê dat ons Sondag lekker laat kan slaap – tot 7.00!
Sondag, 2 Oktober.
Opstaantyd word luidkeels aangekondig. Vir ontbyt eet sommige groepe muesli, sommige eet benzeen-gegeurde beskuit en die vraatsugtiges eet sommer van albei. Tannie Miems en Gerhard v.W. jaag mekaar met ‘n paplepel en tannie Miems besluit dat so ‘n mooi plat stukkie aarde nie onbenut verby kan gaan nie. Volkspele op ‘n Sondag is seker nie taboe nie, maar ter wille van die vrede verwys tannie Miems na “onskuldige kultuurspronge”. Onskuldig is dit gewis, maar of dit kultuurspronge is – wel, dit is debatteerbaar. Oom Flip Nel behartig oggendgodsdiens en herinner ons aan die Godgegewe voorreg wat ons het om in die natuur bymekaar te wees.
Ons stap oor geleidelike op- en afdraandes en laatoggend stop ons vir ‘n game break, wat later sommer middagete word. Tente en fly sheets word in die son oopgesprei om droog te word. Die paar kolletjies sneeu wek dadelik Etienne van der Poel se kreatiwiteit en hy begin bou aan ‘n miniatuur sneeuman. Jean Hendriks voorsien die wortel vir sy neus. Die tradisionele sneeuman voldoen egter nie aan Etienne se skeppingsdrange nie en hy werskaf met nuwe ywer. Die eindresultaat? ‘n Swanger sneeuvrou.
Voor middagete klim ons Turretpiek uit. Pieter se beskrywing op die toerprogram naamlik “stap met wandelgange langs na Turretpiek” is in konteks gesien ‘n bietjie onvanpas en sou vervang kon word met iets soos “klouter in nommervolgorde in ‘n doolhof van moontlike roetes na Turretpiek”. Van bo af het ons ‘n asemrowende uitsig na al vier kante.
Na middagete lê ons soos dassies in die son, terwyl die eerstetoeriste aan hul items oefen. Die wraakkomitee gebruik die geleentheid om die eerstetoeriste stelselmatig uit te kyk en Marliza Eloff wil by my weet: “Vir wat kyk hulle ‘n mens so uit – dis aaklig!” Die braafstes onder ons klim na middagete die Turret uit en tannie Miems voel oortuig dat haar swak hart dit nie sal hou nie. Met die dapper-stappers se terugkeer stap ons nog ‘n entjie na die kampplek. Dit raak skieslik koud en ons kyk met ongeruste harte na die vlietende miswolke. Koud alleen is immers hanteerbaar, maar koud en nat tegelyk kan nogal lastig raak. Almal slaan dus weereens tente op, behalwe tannie Miems wat nie “‘n tent van ‘n dag oud” het nie en Jaap de Lange wat ‘n klipoorhang verkies. Na aandete begin die eerstetoeriste met hulle items. Daar is ‘n groep-item gebaseer op ‘n klomp sprokies. Soos dit ‘n goeie sprokie betaam, is daar natuurlik ‘n feetjie. Karel Richter maak ‘n uitstekende Miems Fairy met ‘n paplepel vir ‘n towerstaffie en slagspreuke soos “jou nare ou vrou” wat teen baie desibels uitgebasuin word. Die wraak verloop soos gewoonlik vlot en ons geniet stomende Hot Chocolate en heerlike koekies. Christine Steinmann hou aandgodsdiens, waarna tannie Miems aandring oop hekeltyd. Onder bespreking is veral Gerhard van Wyngaardt se voor en afkeure en die feit dat Deidre Nagel byna versmoor het in hulle slee. Pieter waarsku ons dat Maandag ‘n lang dag is en dat opstaantyd derhalwe 5.45 sal wees. Met die oog hierop en omdat dit werklik koelerig is, gaan ons slaap.
Maandag, 3 Oktober.
Ons is vroeg op en aan die gang. Waterbottels word gevul omdat die pad lank en redelik droog gaan wees. Teen 7.30 stap ons al en ons word begroet deur ‘n sterkerige en kouerige wind wat ons vir die res van die dag sou vergesel as ongenooide gas. Pieter laat ons by ‘n steil afdraande halt, want dit is veiliger om tien om ‘n slag af te klouter. Die wind is nou stormsterkte en ysig – selfs tannie Miems en Retha Theron se samesang kan dit nie besweer nie. Ons daal verder teen die steiltes af en voel hoe ons een been langer word as die ander een. Ons stap al met ‘n rug langs – tussendeur die Bokkeveld se krapbossies en veral Marliza en Cecile Blake se bene ontgeld dit. Aan die voet van Schoongesichtpiek gou ons game break. Ek vra Pieter hoe ons roete hiervandaan loop. Hy sê ek mag dit nie hard verkondig nie, maar ons gaan nou op. “En daarna?” wil ek weet. “Dan gaan ons nog op. Ons begin dus ons stryd met die wind en met die steiltes. Soos gewoonlik is al die sweet die moeite werd – bo-op Schoongesichtpiek eet ons middagbroodjies en verwonder ons aan hoe ver ons kan sien. Ons sien die see, die Sederberge se Tafelberg en oom Flip oriënteer ons ten opsigte van die omliggende berge en dorpe. Na ete vertel tannie Miems aan almal wat wil luister van haar stapwedervaringe en haar stories laat ons harte warm klop vir al die berge waarin ons al gestap het en waarin ons nog wil stap. Hiervandaan is dit feitlik net afdraande na die Disavallei waar ons kampplek vir Maandag en Dinsdagaand lê. Die wind waai met ons aankoms by die kamp steeds onverpoos en ons begin besef dat die “koue” in “Koue Bokkeveld” en die temperatuur van die omgewing in ‘n een tot een verhouding staan . Aandgodsdiens word vroeg gehou sodat almal wat moeg is solank kan inkruip. Christoffel Snyman, Jean Clarence, Karel Richter en Riaan Riekert se weergawe van Papa Joe is histeries – veral omdat dit in die helfte doodloop na grootskaalse improvisasie. Jaap en Stoffel skitter in Pedro. In hekeltyd word tannie Miems gehekel oor haar massage garage, maar sy verontskuldig haarself deur te sê dat dit die enigste manier is om seer spiere reg te dokter. En Johanci Bingle verduidelik dat Gerhard van Wyngaardt net vir een eenvoudige rede “vas” was vir die aand: “Hy mag nie soos ‘n Jack in the Box in en uit die slee spring nie, want hy maak wind en dis koud.” Na ‘n lang en redelik uitputtende dag gaan slaap ons streep-streep, want more is weer ‘n lang dag.
Dinsdag, 4 Oktober.
Met die uitsondering van oom Flip en tannie Elsa, tannie Miems (wat haar siel en liggaam bymekaar wil bring ), Annemarie Olivier (wat ‘n seer knie het) ekself (wat my seer enkel wil laat rus) en Johanci (sommer maar net) vertrek die groep vroeg op ‘n daguitstappie na Olifantskoepel. Retha en Lizet Smith vorder nie baie ver voor hul ondersdeie beserings hulle kelder nie en hulle moet daarna noodgedwonge die heeldag sit en wag op die res van die groep se terugkeer langs dieselfde weg. Hulle het blykbaar ‘n intense studie van klippe, graspolle en skaduwees gemaak, geslaap, geëet en weer geslaap… Vir die res van die groep was die stap klaarblyklik ‘n taamlike uitdaging, met plek-plek moeilike rotse waarteen mens moes op of afklouter. Volgens Marliza het sy nog getwyfel of hulle dit betyds tot bo en weer tot onder sal kan maak en het hulle aanvanklik gedink Pieter se roetebeskrywing is net ‘n grap. Hy was toe al die tyd dood ernstig. Op sy rustige manier het Pieter die groep van 29 nie te ervare stappers tot bo-op di‚ besondere berg gebring. Bo gekom het almal hulle verwonder aan hoe geweldig hoog en hoe geweldig mooi dit is. Middagbroodjies is taamlik haastig aanmekaar geslaan en nadat almal hul name in die boekie geskryf het, is die terugtog begin. Die dagstappers bereik die kamp laatmiddag en die algemene gevoel is dat dit ‘n dag van uiterstes was: uiters warm, uiters ver, uiters hoog en ook uiters mooi en bevredigend.
Aandete word so vinnig moontlik voorberei en geëet sodat ons vroeg in die sleekring kan saamtrek. Jean en Retha maak hulself gemaklik (eerder ongemaklik!) in ‘n Karrimor waterdigte plastieksak. Christian se uitnodiging aan die twee om saam met hom te slee, veroorsaak ‘n gekruip en geskuifel uit ‘n ander wêreld: dit is blykbaar om weer uit die sak uit te kom. Karel openbaar talent as ‘n kelner – hy improviseer in bykans elke item met sy vadoek oor sy arm. Anton Bredel hou aandgodsdiens waarna verskeie van ons na die verskietende sterrehemel lê en kyk en vir oulaas na die stilte van die nag luister.
Woensdag, 5 Oktober.
Ons staan omtrent 6.30 op. Al die oorblywende muesli word met ontbyt aangeval – Soulby Jackson lyk eindelik versadig. Ons begin ons uittog uit die Disavallei en Olifantskoepel kry ‘n nuwe dimensie vir almal wat daarop gesit het. Kameras word uitgehaal om die gesig te verewig en ons neem nog ‘n groepfoto. Teen 10.00 se kant stop ons vir ‘n vinnige knieknakker om vir oulaas in die vallei af te kyk waarna ons voortstap na ons eindbestemming. Ons hou game break op ‘n lekker groot klip by ‘n mooi waterpoeletjie en tannie Miems onthou skielik dat sy eintlik veronderstel is om watergooier te wees. Francois S. maak sy verskyning as Kaptein Berghaan – gewapen met ‘n waterpistool. Tannie Miems hou egter veel meer van ‘n billie se kapasiteit en Eliza van Toorn moet dit ontgeld. Ons beweeg al nader aan die beskawing en wandel verby die dam wat ons van bo op die berg gesien het. Ons bereik ‘n klipperige jeep track en dit voel half vreemd om weer op ‘n pad te stap na vier en ‘n halwe dae se fyntrap tussen klippe en bosse.
Ons eet middagbrode op ‘n snikhete kol en Pieter versoek ons vriendelik dog dringend om aanstaltes te maak, aangesien daar nog ‘n af-, ‘n op- en weer ‘n afdraande voorlê. Hy het egter nie genoem dat ons op delikate wyse ook ‘n rivier moet oorsteek nie en Jean beland pens en pootjies in die water madat haar balans haar in die steek gelaat het. Die laaste nekkie wat ons moet oorgaan voel nimmereindigend, maar kort voor lank is almal bo en begin ons die laaste skof tot by die bus. Ons word luid toegejuig deur ‘n groep Voortrekkers wat ons bene se bruinheid (al dan nie) baie interessant vind.
Ons pak haastig al die BTK toerusting in die trommels en ons baie effektiewe stoorman se vorms word uitgedeel en geteken, tewyl hy op bulderende wyse vir almal vertel wat hy van hulle verwag. Ons klim maar tevrede en die bus, hierdie keer met ‘n nuwe verwagting naamlik om nog ‘n fantastiese toer in die Spur te gaan afsluit.
In my gedagtes sien ek nog steeds vir Francois en Hildegard wat hand aan hand oor die vlaktes en heuwels stap en skielik besef ek dat die berge oor liefde gaan. Liefde vir ons Skepper, liefde vir die natuur en liefde vir mekaar. En dit is hoekom ons op aarde is.
Christine Steinmann