Die Ashton-Ceres Fietstoer Junie 1996

Die eerste BTK fietstoer ooit!!!!! Op die ou einde is ons 14 fietsryers wat die nuwe weg baan met ‘n ondersteuningspan van Andries de Villiers, wat die bakkie bestuur, en die jonge Vernon. Ons is ‘n verskeidenheid mense – van die ernstigste fietsryers tot die siele wat ‘n week voor die tyd nog iewers ‘n fiets moes huur of leen – maar ons is almal baie opgewonde oor die vooruitsigte.

DONDERDAG – 27 JUNIE

Ons kom 13h00 bymekaar en dit neem ‘n rukkie om alles gelaai te kry – maar dit is immers die eerste keer en dus is die leerkurwe nog nie heeltemal in werking nie. Ons vertrek met die bakkie en sy waentjie plus 2 kombi’s en nog ‘n waentjie en ry bo-oor die Du Toitskloof pas na Ashton. Die weer en die uitsigte is pragtig – ons hoop maar almal dit sal hou.

JP du Plessis en Christiaan Terblanche wat die toer enkele weke terug gereccie het is al wat weet waar ons eerste bestemming is. Andries, Vernon en Wim Morris, die insittendes van die bakkie, moet maar agter een van die kombi’s aanry. Iewers draai JP-hulle egter af by ‘n vulstasie om fietswiele op te pomp en Andries-hulle jaag onwetend verby.

Die resultaat is dat ons by die bestemming opdaag en besef dat die bakkie soek is. Christiaan-hulle vertrek na Montagu om hulle te soek, maar intussen sluit Andries-hulle vanuit die teenoorgestelde rigting by ons aan en nou is die kombi weer weg. Dis ‘n deurmekaarspul, maar nie te lank nie of ons is almal weer bymekaar en daar word vinnig kamp opgeslaan op die plaas. Daar het intussen ‘n koel aandbries opgekom en ons maak maar vuur om warm te word.

Ons braai heerlike vleis vir aandete en bonop kry ons almal ‘n groot porsie – blykbaar was daar nog geld oor op die begroting en ons is bly Christiaan se prioriteite is reg, maar een ding is seker : ons gaan hierdie vleis mis op die res van die toer!

Dis donker en koud en ons is reg om te gaan slaap, maar die aand is nog jonk en die groot gevaar is dat as ons te vroeg gaan slaap ons in die koue vroee oggendure gaan wakkerle!

VRYDAG – 28 JUNIE

Ons is voor son-op uit die vere en pak op en kyk weer vinnig na die fietse om seker te maak alles is nog reg. Ons verkyk ons aan tannie Anneli en oom Gerrit van Zyl se fietse wat alles het wat nodig is om selfs hul bagasie saam te ry (gelukkig hoef ons nie!!) Ons vertrek geesdriftig op die 10km se ry voor ontbyt. Ons is egter skaars 5 min op die pad of ons maak reeds kennis met die wind wat ons op die res van die toer sou vergesel: dis gelukkig nie koud nie, maar ongemaklik sterkerig.

Ontbyt word geeet by die ou engelse fort van 1899 en gelukkig draai die wind. Ons kan nie te lank stop nie, want ons soek nog na die oggendsonnetjie. Kort voor lank is ons in Montagu, maar raak ietwat verdwaald en kry ‘n kort sirkelroete toer van die dorp voordat ons uitendelik uitdraai op ‘n lieflike grondpad.

Bome is blykbaar nogal skaars vir gamebreak, maar die breekkans vir lemoene en game is baie welkom om die dors te les.

Sommiges voel al bietjie moeg, maar min weet ons dat die ergste eers baie later kom. Die terrein begin ietwat opdraand raak en bestaan uit steil dippies wat aan die bene vreet. Heidi Jordaan tel bietjie moeilikheid op en ry saam met die bakkie. Vernon is egter gou om op haar fiets te spring en die steiltes saam met ons uit te ry. Andries kry ook ‘n beurt om te ry net voor middagete toe Heidi die stuur van die bakkie oorneem. Middagete word gehou onder ‘n paar 5-ster koeltebome en almal probeer die lang steil bult van Oubergpas wat voorle miskyk.

En was die bult steil!?!?!?!? Vir sommiges moes die toer se naam eerder verander word na die fiets-STOOT-toer. Die probleem met die pas is hy gee geen skiet nie – hou net aan met steil opgaan. ‘n Paar brawe mense ry darem die ongeveer 5km pas heeltemal uit : JP, Christiaan en Johan Erasmus. John Eigelaar het dit ook uitgery, maar was druk besig om sy “wheelies” te oefen en het meeste van die tyd net met sy agterwiel gery!

Andries kom ‘n ent op die maklike manier op : hou aan die bakkie vas. Sonja Nel probeer later dieselfde, maar beland vir ‘n benoude oomblik amper tussen die waentjie en die bakkie voor sy wel ‘n ent saamry. Almal kom wel bo : te voet of te fiets en word op die kruin begroet deur ons offisiele fotograaf , Johan, wat die moee uitdrukkings een vir een op film vaslê!

Na ‘n vinnige ruskansie spring ons weg op die laaste sogenaamde makliker been van die dag se ry. Die terrein is egter toe nie so afdraand soos voorspel nie – daar is ‘n paar lastige opdraandes en plek-plek sand wat die bene totaal en al tap van alle oorblywende krag. Toe ons besef een van die hekke is per abuis oopgelaat was daar beslis nie ‘n stormloop van fietsryers wat gejaag het om dit toe te maak nie : Andries moes maar met die bakkie gaan!

Na 55km bereik ons uitendelik die kraal waar ons slaap : ‘n lywige eerste dag vir die fietstoer. Johan-Pieter Terblanche le egter so paar ekstra meters af nadat hy vooruit teen ‘n heuwel uitry en later stoot – net om agter te kom almal het voor die heuwel afgedraai na die kraal!

Daar is heerlike strooi bale vir die ouens om beddens van te maak. Die meisies slaan tente op, maar dit is ‘n nagmerrie aangesien die grond vol rotse is en die gevolg is vele misvormde tentpenne. Vernon en Andries slaan ‘n tent op wat dit nie maak nie – die wind kry hom onder.

Daar is ietwat drama wanneer een van die stofies te geesdriftig brand tussen die bale. Christiaan gryp die vuurwarm billie met sy kaal hand om dit van die vlam te verwyder en brand sy vingers lelik in die proses.

Die eerstetoeriste bied hul konsert aan en daar word reeds besluit dat slee nie van toepassing is op hierdie toer nie aangesien daar ‘n gebrek aan meisies is : sonder tannie Anneli slegs 4!

SATERDAG – 29 JUNIE

Ons kan bietjie laat slaap : tot 8h00!! Vir die wat dit gesien het was daar ‘n pragtige sonsopkoms – die ouens het nie veel van ‘n keuse gehad nie aangesien hul bale-bed daarop uitgekyk het.

Daar word vinnig opgepak, maar vandag voel dit kompleet asof die bakkie voller is as gewoonlik – hoe dan nou : die kos word dan minder? Ons hou kringetjie en gee vir Toffee Turner wat verjaar die volle BTK behandeling. Ongelukkig is die miesies bietjie min vir baie soene!

Voor ons ry ontdek ons ‘n rooi straal sap wat by die bakkie uitloop en met nadere ondersoek stel ons vas dat Carina du Plessis se Energade uitgeloop het oor die bagasie. Dit blyk ‘n daaglikse verskynsel te wees aangesien my Energade die vorige dag gelek het.

Ons begin ry deur die sand, teen Johan-Pieter se bult op en tel die fietse oor ‘n draadheining voordat die pret begin! Ons is die anderkant van die berg af oor 4×4 terrein waar die bakkie ons nooit sou kon volg nie : dis rowwe terrein met groot stukke sand en hope rotse, wat nie goed is vir die fietse en arms nie, maar beslis wel vir die adrenalien!!

Toffee se dag verloop minder goed en hy val van sy fiets af tot in ‘n donga. Wanneer ek en Sonja egter by hom verby ry en hom gebukkend oor sy fiets vind hou hy net vol : “ Nee, my ketting het net afgeval!” Heidi val ook, maar dis gelukkig niks ernstigs nie. Johan, wat agter gery het en na ‘n pap wiel weer die groep moes inhaal, het blykbaar goed afgekom : bo-oor ‘n bos, maar gelukkig sag geval.

Die volgende deel tot waar die bakkie vir ons wag is ‘n heerlike geleidelike afdraand en ons vlieg teen ‘n spoed daaraf. By die bakkie moes daar eers gedokter word: Heidi en Sonja se bene is lekker gekrap en Wim se handvatsels vreet sy hande.

Verder bly die terrein heel vriendelik en afdraand, maar ons word ietwat geteister deur ‘n paar pap wiele. Na middagete ry ons af tot in die riviervallei en weer ( hoe verrassend! ) wind op! By die plaashek laat Christiaan ons moed tot in ons skoene sak deur te se die slaapplek is nog 8km aan – gelukkig was dit net ‘n siek grap.

Ons het selfs badgeriewe alhoewel JP en Carina eers daar moes invaar om dit skoon te maak. Daar word gewag vir die water om warm te raak, maar na ‘n ruk raak ek en Carina ongeduldig en spring sommer in die koue badwater in – die ouens vind ook ‘n kraan om by te was en almal voel weer vir ‘n slag skoon. Terwyl Sonja en Heidi bad, klim daar egter twee plaaswerkers op en af teen ‘n leer buite die venster. Tannie Anneli hou kuiwie en waarsku wanneer die meisies moet toehou.

Die ouens gaan haal hout by die rivier en kom terug met berigte van ‘n Kanaan van ‘n slaapplek – geen wind, sagte sand en heerlike atmosfeer. Nie almal is beindruk met die besluit om soontoe te gaan nie, want dit beteken alles moet opgepak word en afgeskuif word rivier toe. Die meisies is baie skepties oor alles en skiet gate in al die ouens se bemarkingsveldtogte. Die uiteinde is toe dat almal wel om die vuur kosmaak en eet by die rivier, maar die meisies slaap in die skuur.

SONDAG – 30 JUNIE

Die pad is min of meer gelyk en ons handhaaf ‘n goeie spoed van so 18km/h. Christiaan kry egter reeds 1km van die begin af fietsprobleme en die groep breek stuk vir stuk op : die meisies ry stadig ‘n paar km vooruit, later volg meeste van die ouens en uitendelik sluit JP by ons aan met die nuus dat Christiaan maar met die bakkie sal inhaal. Soos gewoonlik is die wind van voor, maar ons ry agtermekaar en vorder vinnig.

Naby Touwsrivier ry ons langs ‘n skaapkamp verby en die verwarde diere dink ons jaag hulle aan. Dis potensieel ‘n gevaarlike situasie aangesien hulle roete 90’ met ons s’n kruis. Gelukkig draai meeste skape om en die wat deurkom kies gapings om dit te doen.

Ons gaan aan by ‘n kafee in Touwsrivier vir kos en aangesien niks anders oop is nie ( dit is immers sondag! ) druk ons maar deur Ultra City toe voor ons ‘n blaaskans vat. Dit was beslis die moeite werd aangesien daar heerlike sagte gras met stoeltjies en tafeltjies tot ons beskikking is. Enkeles maak van die geleentheid gebruik om telefoonoproepe te maak. Die gemoedere word effens gelig alhoewel daar nog so 45km voorle en die weer ietwat bewolk is ( sal dit reen? )

Groep 2 wys hul ware kleure : die klomp aasvoels wat hulle is! Hulle wag skaars vir groep 1 om klaar te eet voordat hulle op die se kos toesak. Dis egter te verstane aangesien die groep uit heelwat van die groot eters bestaan. Daar bestaan hoeka ‘n gespottery oor “die domste vraag wat jy op die toer kan vra nl. ‘ Jaap (de Lange), wil jy nog kos he?’”

Voordat ons verder kan ry moet ons eers weer die besige N1 oorsteek en daar word besluit dat ons maar eerder moet oorloop as ry. Ons trek weg op die teer en draai af Ceres se kant toe. Teen die tyd is die wind egter ongelooflik sterk van voor en ons moet erg inspan om 12km/h te handhaaf op die gelyke teerpad! Die ouens “slip” ons – Christiaan, JP en Johan. Toffee bied ook aan, maar hy le so plat dat hy omtrent niks wind afkeer nie! Die wind kom by tye van die kant af en waai enkeles onverwags van die pad af.

Teen die tyd dat ons gamebreak hou is menige se moed in hul skoene en ons probeer skuiling soek teen die ysige wind onder ‘n bruggie. Almal is al skouerseer en agterentseer : alles is seer, maar die einde wil net nie kom nie. Carina laai haar fiets op die bakkie, Heidi bestuur en Andries ry in Heidi se plek.

Ons het skaars 100m gevorder na gamebreak of ek ry teen John se agterwiel vas en neem blykbaar ‘n vlieende duik in die gruis in. My rit vir die dag is ook maar verby en my fietsie word ook opgelaai. Heidi, Carina en ek word voor in die bakkie ingedruk en arme Vernon moet maar saam met die bagasie agter in.

Dit voel egter goor om saam met die bakkie te ry : dis asof ek nie die volle ding deurgemaak het nie. Om te sien hoe almal teen die koue wind trap, om hul moee uitdrukkings te aanskou en sien hoe die moegheid in hul houdings deurslaan laat my baie eenkant van die groep voel. Wim deel my egter later mee dat hy die hele res van die pad probeer dink het aan ‘n manier om van sy fiets af te val sodat hy ook maar kon ophou trap.

Oom Gerrit kry bietjie swaar en ons probeer hom “slip” met die bakkie, maar dis nie te suksesvol nie. Toffee klim egter op die waentjie en ry sy fiets langsaan saam.

Gelukkig draai die pad en die laaste 3km of so van die 80km been is saam met die wind. John vertel hoe verbaas hy was om op die laaste opdraand op te hou trap net om te vind dat hy nie stadiger gaan nie, maar inteendeel teen die heuwel opgewaai word! By die skuur waar ons slaap skree die wind om die hoeke en waai alles deurmekaar. Jaap probeer die plek uitvee, maar hoe meer hy vee hoe meer blare waai in van buite af!

Na die uiters beproefende dag kry Jaap kompetisie met die uitlek van die billies : Christiaan dring daarop aan dat die billie vanaand syne is!

MAANDAG – 1 JULIE

Christiaan maak heerlike mieliepap vir ontbyt! Die reen het ons toe uiteindelik ingehaal, maar gelukkig slegs die een aand wat ons onderdak in die skuur geslaap het! Alles is skoon gewas en ons voorspel poele water op die pad. Wim is egter voorbereid en praktiseer vir homself modderskerms uit ‘n ou plastiek bottel. Die pad is weer gelyk en ons vorm ‘n bus – vorder teen ongeveer 21km/h. Ons hou middagete net voor die begin van die Katbakkiespas en almal verwag maar weer om die staptog aan te pak.

Die pas was egter nie so aaneen steil soos Ouberg nie, maar wel ‘n faktor om mee te reken aangesien dit net nie wou end kry nie : om elke draai was daar eenvoudig net nog ‘n steilte. Die eerste gedeelte was ietwat steil en Toffee en Johan-Pieter is ewe lui op die waentjie van die bakkie daar uit.

JP, Johan en Jaap ry heelpad vooruit tot by die slaapplek. Sonja het ook die respek van die ouens gewen deur enkele minute na die eerste ouens daar aan te kom en sy het net ‘n klein gedeelte geloop! Die ander probeer allerhande maniere om teen die bult uit te kom : Christiaan draf selfs van tyd tot tyd net om ‘n slag ander spiere te gebruik!

Ek, Carina, tannie Anneli en John ry die pas steilte vir steilte uit. John ry vooruit en stop iewers wat vir ons ‘n mikpunt stel om na te ry, waarna ons asemskep totdat ons begin koudkry en dan weer verder ry – so kom ons ook daar sonder om te stap. Onwetend net voor ons bestemming vir die dag spot Heidi ewe dat sodra sy ophou ry en haar fiets oplaai – die einde daar sal wees en dit is ook wragtig so. Ons stuur darem die bakkie die laaste ent vooruit omdat die arme siele wat reeds klaar is teen die tyd al verkluim.

Ons slaap by ‘n bouvallige murasie – dit gaan koud wees en almal slaan maar tent op. Gelukkig kry ons op die koudste aand ‘n multigang maaltyd wat skrik vir niks : eers sop, toe die hoofgereg, toe tee en koekies, toe marshmallows oor die kole gebraai en laastens hot chocolate. Dis ‘n wolklose aand en ons kry geleentheid om die mooi bykans volmaan te aanskou.

DINSDAG – 2 JULIE

Die nag was toe heel koud gewees! Die bakkie se ruite het skoon toegeys en die tente is sopnat. Ons moet in die koue vroeg opstaan – blykbaar Wim se skuld aangesien ons moet klaar ry sodat hy sy 17h00 vlug te Kaapstad kan haal. Ons suiker is byna op en die laaste bietjie word saam met die melk gemeng vir die Weetbix. Ons koffie was maar bitter, tog immers warm!

Wanneer ons begin ry besef ons al te goed dat die pas nog lank nie end gekry het nie en berg hou aan opgaan! Toe le die afdraand egter voor…

Die adrenalien pomp weer en ons vlieg daar af : 3km in 3min. Dis sinkplaatpad en alles skud, ons oe traan en ons kan skaars fokus op die pad, maar dis ‘n onbeskryflike ervaring. Gelukkig het JP ons gewaarsku van die skerp byna 180’ draai op pad anders het ons heelwat van die groep se stukkies daar teen die muur gaan optel! Onder op die brug oor die rivier hou ons eers ‘n fotosessie, maar almal spring omtrent uit hul velle van opgewondenheid en almal is dit eens : hulle sal enige tyd weer teen Katbakkies opswoeg, net om weer af te kom!!!

Verder is dit net geleidelik op en af en ons vorder weer eens vinnig. Ons ry verby pragtige plase en landgoedere soos Morester en Bo-plaas ens. Vir eens is die wind min en teen 12h00 val ons,ons eindbestemming, Op-die-berg, binne. Dis seker die meeste fietsryers wat die plaaslike inwoners nog ooit die dorp sien binnekom het en ons word behoorlik toegejuig.

Ons staan by die NG Kerk se terrein vir middagete en om die einde aan te toon koning ons mekaar geesdriftig ten spyte van seer bene, skouers, agterente ens. Ons wag dat die 2 kombi’s ons kom haal en koop kos by die Spar terwyl ek en Christiaan die nekdoekies laat stempel by die poskantoor.

Ons is bly om klaar te wees, maar terselfdetyd hartseer dis verby. Dit was ‘n uiters geslaagde toer en alhoewel dit sy tawwe oomblikke gehad het geld die algemene reel dat hoe meer jy swaarkry, hoe meer onthou jy die toer. Hierdie fietstoer was onvergeetlik: wel ‘n eerste, maar beslis nie die laaste nie!

Darienne Rossouw

Leave a Reply