Die tweede naweekuitstappie van die jaar was ‘n onvergeetlike mini-toertjie van drie aanliggende bergreekse rondom Stellenbosch. Die Saterdag oggend het ‘n entoesiastiese groep van 11 die steil tog op in Duiwelskloof aangepak. Van die buitelanders wat saam was het wel benoud verneem dat daar nie trappe aan die bo-kant is nie. Bo is rugsakke eers agergelaat om Drakensteinpiek te bestyg. Daar is ons skielik omsingel deur miswolke en die aand se kampery (nadat ons die kompas moes geraadpleeg het voor ons dit gevind het) het in ‘n koue, nat dog geselige atmosfeer plaasgevind. Veral pogings om in gebrekkige Duits met die uitruilstudente te kommunikeer het vir baie humor gesorg…
Die volgende dag se stap deur die “Vallei van die Vlieënde miere” na die Banhoekberge het pragtige uitsigte opgelewer van plekke so ver uitmekaar as Gansbaai, Franshoek en Tafelberg. Easterkloof (parallel met Jonkershoek) is ‘n ongelooflike ravyn met steil kranse, grashange en watervalle. So ook Banhoekkloof. Luiperdgrot was nat en dus nie geskikte slaapplek nie – daar is wel lekker gestort! Die sonsondergang oor Bloubergstrand in die verte was ook iets besonders.
Maandag se roete af oor Banhoekpiek en die Katedraal was beide avontuurlik en skouspelagtig. “As jy hier val Jeanette, kom jy in die koerant by die huis” Teuns Kok aan Jeanette toe haar rugsak probeer het om haar teen die afgrond af te stamp. Die “birds eye view” op Jonkershoek het ons almal ‘n nuwe perspektief op Stellenbosch en omgewing gegee. Die vyfster uitstappie het op ‘n vreetsame noot geendig toe oom Dieter almal bederf het met koek in die teetuin.
Jeanette Wolhuter