Haelkop uitstappie

Ons het half agt Saterdag oggend van Paradyskloof af begin stap en was tienuur op Stellenboschberg. Daar het ons ons rugsakke gelos en die lang pad Haelkop toe aangepak. Die afwesigheid van water en ‘n paadjie het dinge nog ‘n bietjie moeiliker gemaak. Uiteindelik op Haelkop aangekom, word die hotdogs aanmekaargeslaan om die innerlike te versterk. Die 360 grade uitsig is ongelooflik en die weer was perfek sodat ons Kaappunt duidelik kon sien. Op die terugpad het ons ‘n pen mishandel sodat ons dit kon gebruik om bietjie water uit ‘n poeletjie op te suig. Terug op Stellenboschberg het ons kamp opgeslaan en toe die sonsondergang met ‘n glasie sjampanje in die hand besigtig. Aandete is gemaak sonder sout of botter, maar dit het heel goed uitgekom. Die res van die aand is gebruik om stories te vertel, grappies te maak en die pragtige liggies te besigtig. Sondag oggend het ons gekyk hoe die son se eerste strale oor die berg uitkom voordat ons ontbyt geëet het. Daarna het ons na die baken gestap om die uitsig vir die laaste keer te waardeer. Na kampafslaan en ‘n vinnige bad in die yskoue water, is ons die berg af en terug na die Neelsie.

— Anton Kraemer (17/10/2010)