Groot Winterhoek “Die Hel”

Die naweek van die 18de en 19de Februarie het ‘n klein groepie BTK’ners getoer na Poterville om bietjie die Groot Winterhoekberge te gaan verken. Vroeg die Saterdagoggend kon ‘n mens reeds die hitte van die son op ‘n mens se vel voel en almal het geweet dat ‘n warm naweek vir ons voorlê. Omstreeks 09:30 het ons begin stap vanaf die hek van die Groot Wintershoek Natuur Reservaat na die oornaghut. Ons het vinnig die effek van die son gevoel, maar die koue water van die eerste bergpoel langs die roete het die warm liggame goed afgekoel. So het ons beweeg van bergpoel tot bergpoel. Later die middag het ons by die oornaghut aangekom, waar baie van ons eers ‘n goeie middagslapie benut het. Die sterre het die naglig opgehelder terwl ons buite die koelte van die nag geniet het. Die Sondag oggend vroeg het ons na “Die Hel” gestap en dit was regtig die hoogtepunt van die naweek. Dit is een van die grooste, diepste en beslis een van die mees indrukwekkende bergpoele in die Wes-Kaap. Van daar het ons begin met die roete terug na die voertuie met gereelde stoppe by verkeie poele. Ek wil net vir almal dankie sê wat die naweek die moeite werd gemaak het.

 Pieter Retief