Rockhopper

Op Saterdag 11 Febuarie het ‘n groepie van 20 brawe BTK’ners besluit om die reënweer aan te durf en in die Bainskloofberge te gaan stap. Na twee agtereenvolgende hittegolwe wat die Kaap so direk uit die oordeelsdag getref het, was koue weer die laaste van ons bekommernisse. Geluk sou dit egter hê dat dit juis die dag van die uitstappie van álle dae moes reën! Na ‘n demokratiese stemming voor die Neelsie se ingang is daar tog besluit om aan te gaan met die uitstappie. Die Rockhopper is ‘n roete diep binne die Bainskloofberge in die Limietberg Natuurreservaat. Daar word vanaf die Bainskloof Lodge al langs die Witrivier gestap en oor gladde klippe gespring. Die klamheid het die balans van die BTK’ners behoorlik getoets en menigde van ons het maar kwaai nat geword (en dit was nie net van die reën nie). Na ongeveer twee uur se rustige stap het ‘n paar van die manne en dames besluit om in die poele te swem en van rotse af te spring. Só ‘n bergswempie is iets om te beleef, met die reëndruppels wat sagkens op jou voorkop plons! Na die stap van ongeveer vier ure is daar behoorlik aan die Lodge se koffie gesluk terwyl twee oulike babahondjies ons geselskap gehou het. Uit en uit die moeite werd en volgende keer (ons sal beslis weer die roete doen) beloof ons beter weersomstandighede!

Diegene wat die uitstappie meegemaak het is:

Stella van Wyk
Julian Van Zyl
Daniele Toros
Charles Bongers
Marthinus van Niekerk
Willie Pretorius
BJ van der Walt
Anine Burger
J. Marais
L. Eigelaar
A. Thompson
J. Rich
A. Volkman
Jolandi van Niekerk
Ron De Villiers
Magdelene Barnard
Daniël Kotzé
Reinhardt Venter

Reinhardt Venter (11/02/2012)