Berghut-Werksuitstappie

Op die naweek van 9 tot 11 Maart het ‘n groep van ses BTK’ners na die terrein van die nuwe Berghut by Crystal Kloof net buite Hermanus gegaan. Die doel van die naweek was om die pyp wat die berghut van water gaan voorsien, wat in Desember aangelê is, te begrawe om dit te beskerm en om  die afvoerpyp te verleng.

Die groep het laer af in die kloof kampeer waar daar in die aande gekuier en stories uitgeruil is. Vir die werksessies is na die berghut-terrein gestap op ‘n paadjie wat ‘n pragtige uitsig oor die stroom onder in die kloof en die berge bied. Daar is hard gewerk met pik en graaf  om ‘n sloot te grawe tussen die klippe en wortels deur, maar die koel water van die waterval verder op in die hoofkloof het lafenis gebied tydens Saterdag middagete. Die afvoerpyp en ‘n deel van die toevoerpyp is begrawe.

Saterdag aand is daar lekker gekuier by die kampplek, maar almal het vroeg gaan inkruip na ‘n dag se harde werk.

Sondag oggend is Hermanus se kuslyn roete wat deel vorm van Fernkloof natuurreservaat aangepaak waarna daar by Grotto-strand geswem is en middagete geniet is.

Baie dankie aan almal wat die naweek meegemaak het en ‘n bydra gemaak het tot die berghut.

‘n Woord van dank ook aan die Oud Lede Bond onder wie se vaandel die bou van berghut val wat dit vir die BTK’ners moontlik maak om ‘n aandeel in die nuwe berghut te kan hê.

Die groep het bestaan uit:

Isak Bosman
Tina Mayer
Charl Ellis
Alisa Volkman
Liesa Brand
Benjamin Larin

Isak Bosman