Matroosberg Abseil

Na die laaste klas vir die week afgehandel was op Vrydag, 2 Maart 2012, het ‘n groep van 14 ywerige Maties mekaar by die Neelsie ontmoet met rugsakke, toue en harnasse. Ons was ook bevooreg om vir twee internasionale studente van Noorweë die ongerepte kant van ons land te wys. Daar was ‘n gevoel van afwagting soos almal kennis gemaak het, die bussie vol geprop het en in die pad geval het Heksriviervallei toe. Ons was in die veilige en ervare hande van MD Greyling (BTK bestuur: Avontuuruuitstappies) en Hendrik Smith (BTK bestuur: Rotsklim) vir die twee dae wat voorgelê het.

Ons is deur die Hugenote tonnel, Worcester en de Doorns voor ons op oom Retief Jordaan (oud-BTK lid) se plaas, Tweespruit, aangekom het. Hy en sy vrou het ons baie vriendelik ontvang, waarna ons onsself tuisgemaak het op hulle stoep vir die aand. Terwyl ons bederf was deur ‘n helder kaasgeel maan was daar geswem, koffie gedrink en geëet tot laat. Hendrik het weereens betower met sy kitaar terwyl Jolandi van Niekerk se goue ser-stem en Daniël Kotzé (BTK bestuur: Daguitstappies) se bekfluitjie die klanke ingekleur het. Na ‘n vinnige inligtingsessie oor ons klimtoerusting het ons onder die sterre aan die slaap geraak.

Francios du Plessis (BTK bestuur: Sketsskrywer) het die volgende oggend vir ons die naweek reg begin deur ons te begelei in lofprysing. Ons was ook aangenaam verras toe oom Retief se vrou vir ons heerlike pap gekook het voor ons almal met sak en al in oom Retief se trokkie gelaai is. Op pad na Ceres se kant van Matroosberg (die tweede hoogste piek in die Wes-Kaap, 2249m bo seevlak) het Aina-Marie Svendsen, die een Noorweër, ons baie beïndruk met haar amper vlot Afrikaans na slegs ses maande in Suid-Afrika! Ons het ook tyd gekry om Johann Swart se avontuurkamera, die nuwe GoPro®, van nader te bekyk.

Dit was ‘n warm dag en ‘n waterpoel halfpad teen die berg uit het vir ons lafenis en ons eerste Game-break verskaf. Op pad na bo het ons ook verby die Suid-Afrikaanse Ski Klub se berghut gestap en ‘n uitsig gehad op hul primitiewe ski kabel. Dit lyk na groot pret as die sneeu eers hier geval het! By die bo-punt het MD ons bekendgestel aan Grootkloof, ons tuiste vir die naweek. Die kloof ‘n reuse stuk van die aarde voor ons voete ingesluk. Die indrukwekende prentjie het vir ‘n paar goeie foto’s gesorg. Met die inleidende krans het baie stappers hul eerste blootstelling aan abseil gekry en alhoewel dit aanvanklik stadig gegaan het, het almal hulself gate uit geniet. Sewe abseils en ‘n paar middagbroodjies later was almal op hul gemak. Daar het nou net ‘n baie lang skof van klouter, spring en gly vir ons voorgelê om by ons kampplek uit te kom. Die kloof het lewend geword rondom ons met paddas, slange en nuuskierige witkruisarende.

Ons het die tyd gebruik om vir Elisabeth Prestgard, die ander Noorweër, ‘n paar Afrikaanse uitdrukkings soos “fyn pikkewyn”, “plesier my dier” en “haai daar slaaiblaar” geleer. Sy het gesukkel om sin te maak uit ons vreemde taal. Daniël en Francois het ook die tyd gebruik om met die resep vir ‘n nuwe drankie, wat hulle “A-Game” gedoop het, vorendag te kom. Hierdie mengsel van sjerrie en Game (wat met oormatige gebruik ook as ‘Shame’ bekend kan word) beloof om nog as voorkeur sleesous vir die volgende paar generasies te dien. Skuins voor 21h00 het MD al die skape in die kraal gehad en ons was verbaas met hoe goed die kampplek uitgelê was. Anton Kraemer (BTK bestuur: Sekretaris), Rainer Graefe, Steven O’Conner en Rigardt Hoving het gesorg dat die vuur aan die gang gekom het terwyl ander die ysige rivier aangedurf het om skoon te kom. Ons was gelukkig om ook vir Magriet Muller (BTK bestuur: Kosma) in die geselskap te hê. Sy het gesorg dat die Bacon Kips, Biltong en rys gereg tot sy volle glorie geniet kon word. Na beertjiepoeding en koffie was dit tyd om met “A-Game” te eksperimenteer-‘n reuse sukses! Almal het met moeë lywe slaapsakke toe gemik en, alhoewel die termometer nie saamgestem het nie, het sekere partye dit noodsaaklik gevind om liggaamshitte as teenvoeter vir die bittere koue te benut. Op die naat van ons rug het ons verwonderd na die uitspansel gestaar voor ons drome ons oorrompel het.

“Die son verreis met helder glans, hoera hoera hoera!”. So het die manne die dag begin om die dames uit die bed te kry (alhoewel hulle self uit die bed gesing het). Ons het in die pad geval met die vooruitsig van ‘n dag vol avontuur. Ons was nie telleurgestel nie. Die kloof het baie nou geraak en kristal helder poele, watervalle en reuse rotse wat bo ons koppe in die kloof ingewag was het die weg gebaan vir ‘n paar onvergeetlike abseils. Die water was ongemaklik koud, maar gelukkig kon die Noorweërs vir ons ‘n pikkewyn-dans aanleer om warm te bly. Anton het ons ook vermaak met ‘n paar interessante abseil tegnieke. Die kloof het soos ‘n storie verloop en ons deur eeu-oue waterboom woude geneem wat hulself so sterk in die oewer vasgeanker het dat Christiaan Rabie (BTK bestuur: Voorsitter) hulle nie eers sou kon skuif nie. Ons was selfs gelukkig om plek-plek ‘n paar verdwaalde sonstrale op ons vel te kon voel. Na die abseils moes daar nog baie geswem, gegly en gespring word voor ons kon dink aan droog raak. Ons moes soos ‘n trop bobbejane gelyk het soos ons die natuurlike struikelblokke probeer oorkom het. Ydi Coetzee, die ‘pocket rocket’, het ‘n harde stamp op haar knie gekry, maar haar deursettingsvermoë tot aan die einde sou vir haar ‘n medalje in ‘n oorlog gewen het. Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kon ons die romerige pienk sonsondergang van die Heksriviervallei voor ons sien soos die kloof begin oopmaak het. Na ‘n laaste paar kilometer deur digte oewerbos was ons verlig om die blaf van oom Retief se hond te hoor.

Hy het ons by ‘n berghut ontmoet wat hy en sy broers eiehandig gebou het en daarna met sy bakkie tot by die plaashuis geneem. So tam soos ons was het die manne nogsteeds uit volle bors ‘So vat hom vas op ons klipharde gras..” en “Hier sit die manne in die Royal Hotel” agter op die bakkie gesing. Daar aangekom het die reuk van vars gebakte brood ons wese gevul en oom Retief en vir ons die goeie nuus meegedeel dat sy vrou vir ons potbrood gebak het. Sulke opregte en oorbodige gasvryheid het ons nog nooit ervaar nie! Die potbrood is met vars heuning, korrelkonfyt, koffie en goeie geselskap afgesluk. Ons hemelse Vader het darem vir ons as Suid-Afrikaners bederf met ongerepte natuurskoon en opregte mense.

Dankie aan die volgende mense wat die uitstappie kon meemaak:

MD Greyling
Hendrik Smith
Daniël Kotzé
Francois du Plessis
Anton Kraemer
Magriet Muller
Johann Swart
Ydi Coetzee
Jolandi van Niekerk
Elisabeth Prestgard
Aina-Marie Svensen
Rigardt Hoving
Rainer Graefe
Steven O’Conner

Daniel Kotze