Hottentots Holland Naweekuitstappie

Die naweek van 21 en 22 April het ‘n klein groepie BTKaners die kouer weer trotseer om bietjie in die berge van die Hottentots Holland natuur reservaat te gaan stap. Die groep het 07:00 die Saterdag oggend by die Neelsie ontmoet. Nadat almal mekaar se name leer ken het en die elkeen ‘n plekkie in ‘n voertuig gekry het, het ons die pad aangepak. By die reservaat is daar eers kos en toerusting onder die verskeie stappers verdeel en daar is gekyk dat die rugsakke gemaklik sit. Ons het daarna met die roete na die oornag hut begin. Die roete loop langs die grens van die reservaat met mooi uitsigte van die berge en  valleie. Die weer het goed gehou en ons het so 4h by die oornag hut aangekom.

Met die aankoms het van die groeplede het bietjie rus gesoek terwyl die ander die omliggend rotskoppies gaan verken het. So om en by half 6 is die stofies aangesteek om die water te kook vir aandete. Nadat almal klaar geëet het, is daar koffie en tee  met kondensmelk gedrink. Kort voor lank het daar ‘n ligte reënbui uitgesak en die geselskap het na die hut verskuif. Na die dag se lang stap het die groep min motivering nodig gehad om die aand aan die slaap te raak.

Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan om die langer roete terug na die motors aan te pak. Daar is ontbyt geëet en koffie gedrink en die sakke vir die dag se stap is reg gepak. Die weer het egter nie te goed gelyk nie, maar na ’n halfuur se wag het dit weer begin opklaar. Ons het kort daarna die roete aangepak. Die eerste deel van die dag se roete was ‘n steil klim gewees, maar nadat die ons Pofadder nek oorgesteek het, was die ergste verby. Van die bopunt van die kloof is daar mooi uitsigte na die omliggende berge. Ons het verby Suicide Gorge gestap waar ‘n paar brawe siele die ysige water met wetsuits aangepak het. Met middagete is daar gepeusel aan allerhande soetgoed en na ‘n lekker rus is die laaste deel van die roete aangepak. So om en by half 4 die middag het ons by die motors aan gekom en vandaar is ons terug na Stellenbosch. Dankie vir almal wat die naweek saam lekker gemaak het.

Pieter Retief