Berghut-Werksuitstappie

Op die naweek van 25 tot 26 Augustus het ‘n groep van ses BTK’ners na die voltooide BTK Berghut by Crystal Kloof net buite Hermanus gegaan. Die opgewondenheid was groot, want hierdie was die eerste keer wat BTK’ners in die nuwe Berghut sou oornag.

Die doel van die naweek was om die bestaande watertenk wat in Desember in ‘n tydelike  posisie geplaas is hoër te skuif vir meer waterdruk binne die Berghut. Daar was hard gewerskaf en planne beraam oor wat die beste uitleg van die waterstelsel sou wees. Leroi de Wet het met ‘n saag die veld ingevaar om seker te maak dat daar geen uitheemse bome meer naby die hut staande is nie. Die reën het die werk darem net vir so ‘n uur gestaak en toe is daar sommer middagete geneem. Uiteindelik het almal hulle baie goed van hul taak gekwyt en teen Saterdagaand kon die vrugte van die dag se arbeid gepluk word toe daar gestort kon word in die hut.

Soos ek gesê het was hierdie ‘n naweek van eerstes en Saterdagaand is die braaiplek ingewy om die honger van ‘n dag se harde werk te stil. Daar is heerlik gekuier in die hut tot lank na aandete. Sondag middagete is geniet by een van die watervalle in die kloof en van die brawes, Leroi de Wet en Hugo Minnaar het selfs die koue water van die bergpoel onder die waterval aangedurf.

Baie dankie aan almal wat die naweek meegemaak het en ‘n bydra gelewer het tot die berghut.

Mag hierdie die eerste van nog vele genotvolle naweke by die hut wees en mag dié hut vir ons ook soveel beteken soos wat die vorige berghut vir die oud BTK’ners beteken het.

‘n Woord van dank ook aan die Oud Lede Bond onder wie se vaandel die bou van berghut val wat dit vir die BTK’ners moontlik maak om ‘n aandeel in die nuwe berghut te kan hê.

Die groep het bestaan uit.

Isak Bosman
Charl Ellis
Hugo Minnaar
Leroi de Wet
Dirk Alexander Ewer
Matthew Mayne

Isak Bosman 29/08/2012