Victoriapiek Daguitstappie

Op Saterdag, 18 Augustus 2012, het die son geskyn en die voete laat juk na ‘n lang week van gure weer en reënbuie. By Jonkershoek se hek het 19 ywerige studente hulself reggemaak vir ‘n heerlike dag in die berg. Die doel was om die hoogste piek in Jonkershoek, Victoriapiek (1591m bo seëspieel) op die kerfstok te kry. Na die Skepper bedank is vir sy handewerk het Daniël Kotzé (BTK bestuur: Daguitstappies rustig) die groep met die Panorama roete uitgelei tot by die kontoerpad. Naudé van der Merwe (BTK bestuur: Daguitstappies rustig) en Francois du Plessis (BTK bestuur: Sketsskrywer) het om die beurt slot gevat om die bokke van agter in die kraal te kry. Aan die oorkant van die vallei kon ons die Eerste- en Tweede watervalle uit hul nate sien bars na die reën! Op Bergriviernek kon almal ‘n blaaskans vat en in die prentjiemooi Assegaaiboskloof se keelgat afkyk. Van die Dwarsberg plato kon ons dit vir die eerste keer duidelik sien: sneeu! Van die stappers het nog nooit voorheen met sneeu in aanraking gekom nie. Victoriapiek en baie van die ander hoogliggende pieke in die omgewing was goed gepoeier.

Die groep het opgewonde verby die reënmeter wat die hoogste reënval in die land meet gestap met die fokus op die piek wat nou nie meer te ver was nie. Die laaste klim was steil, maar uit en uit die moeite werd. Victoriapiek het spierwit soos in ‘n sprokie voor die groep gele en almal het die laaste 100m resies gejaag tot bo. Almal was nie so voorbereid vir die kniediep sneeu nie en moes maar naby aan mekaar sit tydens middagete, terwyl Francois ‘n paar koppies rooibostee gestook het. Daniël en Jacques le Roux het hul survival bags uitgehaal en toe was daar geduik (dit was immers naweek) en gegly asof dit pouse was in Alaska! Na almal hulself bederf het met Powerade (ja jy hoor reg, hierdie uitstappie behels nie Game nie)slush puppy, is die afdraendes aangepak. Kukrtrekker was die laaste groot uitdaging en daarna het die groep rustig verby die watervalle gesuiker tot by Witbrug.

Terwyl daar uit volle bors saamgesing is op Evita se ‘Don’t cry for me Argentina’ oppad terug, het die laatmiddagson die wit lagie op Victoriapiek laat glinster in die truspieeltjie. So hou mens naweek!

Baie dankie aan die volgende mense wat deel gehad het in die stukkie hemel:

Daniël Kotzé
Francois du Plessis
Naudé van der Merwe
Jacques le Roux
F.G. Adriaanse
Roné McFarlane
Lisa Kruger
Francis Gohier
Robert Taferner
Arno Pack
Christiaan Scholtz
Linda Zietsman
Marsy Olivier
Lise-Marie Coetzee
Lize-Marie Huisamen
Caity Wessels
Claire Gordon
Richard Rachlitz
Cyrielle Metz

Daniël Kotzé (24/08/2012)