Keerom Junie 2012 Skets

Keerom, Junie 2012, ‘n Skets van gebeure deur Jacomien Hauman

Dinsdag, 12 Junie:

Of jy nou hiernatoe gery, ge-hitch-hikehet, dalk selfs ‘n draai in Robertson gemaak het of al die pad van Israel af gestap, soos Hugo Minnaar, het, jy is by toerleier Christiaan Rabie se huis en jy kan uiteindelik jou asem uitblaas na die (hopelike) afgehandelde eerste semester. Jy stap verby die vuur wat lekker knetter, en soos wat jy in die huis kom hoor jy net orals die vrolike gelag van studente, jy weet nie by watter geselskap om aan te sluit nie.

Soos wat dit die BTK betaam, dankie Magriet Muller, word ‘n gereg vandie boonste gestoeltes voorberei. Gebraaide ribbetjies, ‘n mengelslaai en jou minder tradisionele aartappelslaai.

Terwyl die kokke en groupie-leiers almal se kossakke pak word daar solank ‘n paar algemene reëlings in die sitkamer deurgegee. Soos die feit dat daar more-oggend 5:30 geroer gaan word, wat’s eksamen nou? Dis moeilik om die ou toeriste in toom te hou soos wat tradisies verduidelik word en die eerste toeriste lag maar net ongemaklik saam. MD Greyling en Kara Muller verduidelik skiet deur ‘n wonderlike obsticlecourse.Anton Kraemer, Manrich van Greunen, Charlie de la Harpe, Isak Bosman en MD verduidelik items, net jammer hulle vang self nie die grappie nie. Johan Wiid stel himself aan as die AA, algemene aandassistent, en lig die toergroep in dat die AA net uitsleep en nie insleep nie.

Kossakke word uitgedeel en êrens ingedruk in die rugsak terwyl koffie en pannekoeke, danksy Anien Burger, in die kombuis geniet word. Mense begin een vir een inkruip op plekke waar dit stil en warm is, terwyl ander weer so opgewonde is en nog nie reg is vir bed nie. Hugo probeer ordentlik wees deur te vra of iemand al die bank gekleim het, Johan dwarsboom sy plan deur uit te roep: “Shotgun!”

Nag dames.

Woensdag, 13 Junie:

Die nag is heeltemal te vinnig verby, maar jy weet dit gaan ook nie help om te stry nie enloop maar sleepvoet kombuis toe, jou gemoed word darem gelig deur die potmieliepap. Laaste verstellings en aanpassings word gemaak aan sakke terwyl daar na die sitkamer beweeg word. Jy’s verlig dat jy nie in groepie twee is nie, wanneer hulle kok Anna-Marie Muller verward vra: “Waar’s my menu”, nie ‘n goeie vooruitsig nie. Gepraat van vooruitsig, klink dalk asof Dagbreek se ser ook in ie moeilikheid is as Peter Muller erken dat hy net vocals doen, terwyl hy met die kitaar sit.

Anna-Marie lees vir ons uit Psalm 29 en vra God se seen vir die toer.Tone-dienste word bemark deur Kara.

Laaste verstellings word gemaak aan rugsakke en daar word stadig uitbeweeg om op die trok te klim wat ons vat na die beginpunt. Jy klim agter in met jou kombersie in die hand en wonder waarom jy dit aan jouself doen om die Junie-vakansie met so vroeë koue oggend te begin, veral as jy na die mense rondom jou kyk. Soos byvoorbeeld Daniel Schoomwinkel met sy manlike pienk hoed. Jy draai maar jou lyf na die anderkant en geniet die pragtige uitsig geraam deur die trok se seile of jy skuif nog nader aan iemand en probeer kyk of jy nog so laaste bietjie kan slaap, net om weer onderbreuk te word deur ‘n poging tot ‘n Mexican wave.

Kom by die Reynecke se plaas, Mooiplaas, aan, laaste draaie word geloop en eerste foto’s word geneem. Janneke Lotter sê sy’t per ongeluk in die seun se kamer ingegaan, maar niemand kan seker wees nie.

Christiaan skree die eerste keer “sakke op!”, en met ‘n gekreun kom die sakke wat later soos ‘n dop gaan pas, op die rug en ons begin met ‘n stewige pas. Nee kyk, bergklim is nie vir sissies nie, maar gelukkig was daar mos ‘n keuringuitstappie en die vooruitsig van ‘n game-break wat ook nie vinnig genoeg kan kom nie. Ons hou ordentlikheidspraatjie, en hierdie toer was vir seker ‘n bevestiging van die feit dat as daar gekoning moet word, dan word daar gekoning! Sommer so in die klein spasie en tussen en oor die klippe. Oom Hannes en tannie Erna staan eenkant en raak bietjie bekommerd oor die idée dat Christiaan elke vakansie weggaan na hierdie mense.

Beskutting teen die wind word gesoek en fizzers word uitgedeel. Die deftige stoeltjie, wat net by Worcester se GAME gekoop kan word is vir R75 is toe ook nie meer sy sout werd nie. Aina Marie Svendsen is verstom oor hoe ons altyd die verkleinende vorm gebruik in Afrikaans om iets beter te laat klink en probeer ook deur te sê sy’s gatjievol. Christelle Leuvennink wens dat Peter haar broer was vir sy hande.Christelle spreek ook vir Anton aan: “Anton, antwoord jou calculator”, Anton staan met die radio in sy hand, kyk na haar en skud net sy kop,op die Anton-manier.

Ons begin weer stap, of eerder klim. Jy bederf jouself elke nou en dan met ‘n mini-Kersfees deur te gaan stilstaan en terug te kyk na die pragtige Hexriviervallei en kan klaar voel hoe jy besig is om die deur van die besige wêreld toe te maak en reg te maak vir ‘n herlaaide gemoed. Mens begin wonder of Anton die begrip van slot reg verstaan, darem is Leroy de Wet daar om sy sleuteltjie, Kara, geselskap te hou. Leroy kom agter dat hy nogals goed is met multitasking en dat hy dus ‘n woh-man moet wees, onbewus van wat hy erken.

Darem nie te lank na dit nie, stop ons darem vir middagete en die koue vingers probeer so gou as moontlik die roomkaas op die broodjies kry. Terwyl die uitkyk begin onder leiding van Reinhardt Venter, soek die res soos dassies ‘n kolletjie in die son met die hoop dat dit sal help. Johan wat teen hierdie tyd seker al klaar 200 foto’s geneem het, is weer agter die lens. Christiaan, aan die anderkant van die lens, “sê” dat hy per ongeluk pout op Johan se foto’s… Ek wonder.

Nadat die oggend begin is op 600m eindig ons die dag op die hoogte van 1700m – nie sleg nie! Die tente staan skaars en die dames skiet af water toe om hopelik te kan bad in die laaste bietjie son, min wetend hoe vriesend die water gaan wees, maar… dame is dame. Koppies koffie word geniet en ons skuif na ‘n meer waardige uitkykpunt om die sonsondergang oor die vallei te waardeer. Natuurlik word die geleentheid ook aangegryp vir die eerste groepfoto, gelukkig is dit makliker om 30 mense stil te kry, hoekom mens altyd ook moet stil wees vir ‘n foto, weet ek ook nie.

Anna-Marie spreek haar begeerte oor ‘n latex-suit uit vir hierdie koue, bietjie vreemd, maar nie so vreemd soos Isak se opmerking: “Ek sal dit gebruik om banke te beroof” nie. Miskien moet ons dalk Bonnievale se polisiedienste kontak?

Almal stook sommer saam vanaand en daar word ‘n nuwe gereg voorberei met cous cous. Om te dink… ons was daar! Peter is baie ernstig oor sy blikwasser-status, seker omdat hy weet as hy dít verloor, hy nie veel oorhet nie. Johan is baie trots om te sê dis die koudste aand, ek wonder of dit dalk ‘n lokval is vir ‘n blondine, want… is dan die eerste aand? MD probeer baie hard om ‘n gaslampie aan die gang te kry, maar dis te vergeefs en Julian van Zyl roep uit: “roep uit: “You’re doing it wrong!” Min wetend dat hierdie sê-ding nog sinoniem gaan word met die toer. Jy besef dat mens kan die mens uit die dorp uithaal, maar jy kan nie die dorp uit die mens haal nie soos wat Christiaan en die meerderheid van die toergroep in ekstase is oor sy disco-horlosie.

Ons beweeg na die sleekring toe en jou rug knak sommer van die gaan lê na die heeldag se rondstaan en sit, oja, en natuurlik die stap. Daar word net twee items opgevoer, Isak vertel waar die Heksriviervallei sy naam gekry het en Hugo rol so lekker deur ‘n rooi brandweerlorrie-grappie. Die items is nie te wonderlik vanaand nie, hopelik is dit maar nog die bomskok van die eksamen, of die koue wat stadig opkruip in die vallei en sommer veroorsaak dat daar ys op die tente is toe ons vroegaand al gaan slaap. Gelukkig sal dit seker nie moeilik wees vir die eerste toeriste om dit te oortref môre-aand nie.

Die toergroep kry weer ‘n tweede asem toe edelagbare Rabie hekels oopmaak en sommer ook hanteer. Om net ‘n paar te noem: Manrich van Greunen vir MD: “Ek het ook ‘n blaas”. Elnari Potgieter vra vir Rita Dreyer hoekom sy so bekommerd was dat iemand haar en Manrich se gesprek sou hoor en hulle dan daaroor sal hekel. Dit was ook ‘n dag van erkennings, soos Kara wat erken dat sy lelik loop, Julian wat môre-oggend 04:00 gaan opstaan. Peter wat dink dat eerstens, Hugo baie mooi oë het en tweedens dat Christelle haar hande op baie beter maniere kan warm maak as op sy bene. MD het iets te sê vir Tanja… Ingenieurswese doen snaaksse goed aan ‘n mens.

Elnari lees vir ons Habakuk 3:19 en mens kan net in verwondering staan oor hoe ons vandag soos ribokke oor die klippe is tot hierdie hoë hoogte.

Nag dames.

Donderdag, 14 Junie

Soos wat die meisies wakker word kan dalk verwarring ontstaan aangesien dit klink asof die stokers sommer hier in dameskamp stook en dan sommer daar hulle liedjie oefen ook. Maar dit word gou vergeet en vergeef soos wat jy jou tent ooprits en ‘n prentjie voor jou sien wat so onbeskryflik isdat jy weet net die mense wat by die BTK is, sal kan verstaan. Die uitsig help ook om vinniger uit die tent kom, na ‘n yskoue nag.

Die tente sak vinnig, maar nog nie na wense nie.Ons begin bymekaar kom vir oggendgodsdiens en wag in spanning vir die son om tot in die vlakte te kom. Christelle lees vir ons Psalm 121 en ons leer sommer ‘n nuwe weergawe van Ek kyk op na die berge, want ons leer graag.

Laaste verstellings word gemaak en as jy gedink het dat ons dinge op hierdie toer met matigheid doen, of ten minste die dag so begin, dink weer. Soos wat ons met die berg opstap, is ek so uitasem dat daar net een ding op ‘n slag deur my kop kan gaan, en dit is: Môre doen ons opwarming, want as my bene weer so brand…

Maar gelukkig doen ons mos dinge saam by die BTK, en jy sluit gou aan by ‘n groepie om saam te gesels, of miskien net om ‘n “ja” saam met jou asem uit te blaas. Groot opwinding ontstaan ook toe daar ys rondom ons lê. Jy loop maar so koes-koes deur die vlieënde voorwerpe, maar dis ook nie so maklik nie, aangesien die meeste van agter kom. Dit neem ‘n rukkie om te besef dat ons nie naby aan die pad is en dat daar êrens ‘n groot ongeluk was nie, maar dat dit die alarm bo-op die piek is wat so skreeu. Daar word heen-en-weer oor die sirenes geskree, en ja – ons is nou op die Ben Heatly piek, ja – daardie is die Brandvleidam wat jy daar onder sien, en ja- ons gaan game-break hier hou. Weereens is dit ‘n kwessie van oorlewing van die sterkstes soos wat die groepies skarrel om ‘n relatiewe windbeskutte plekkie te kry in die wind wat sommer om elke klip sny, maak nie saak aan watter kant jy sit nie. ‘n Groepfoto word blitsvinning geneem en verbasend genoeg, gee jy nie eintlik om om weer die rugsak op jou rug te kry nie.

Ons stap verder tot by die Keerompiek waar daar ‘n bietjie meer ordentlike tipe sneeu lê. En natuurlik word die geleentheid aangegryp om ‘n paar sneeuballe te gooi, profile-foto’s te neem en ‘n sneeuman te bou. Nadat die sneeuman se kort, maar genotvolle lewe deur Leroy beëindig word, word daar verder gestap om laer af middagete te eet, want ook hiér sny die wind van alle kante.

By middagete gekom, is daar ‘n pragtige uitsig na álle kante toe, en verwarring ontstaan oor watter kant nou beter is om na kyk. Die bonus is dat jy maar enige kant toe kan kyk, jy sal weet waar die kos is, want ja… vanmiddag eet ons kerrievis, heerlik. Middagete loop maar sy normale gang, groepies wat ching-chong-cha speel vir laaste blokkies sjokolade, game drink, ‘n plekkie gesoek word vir ‘n vinnige middagslapie, en eenkant, op hulle eie, staan die uitkykkring waar MD wys wat ware vriendskap is en Reinhardt se marmite-besmeerde wang vir hom skoonlek.

Ons stap af na vanaand se kampplek,wat bietjie vreemd is, want môre stap ons dan weer op? Gelukkig hou ons daarvan om te leef in die hede en nie te bekommer oor môre nie. Peter besef dat die eerste toeriste nog nie reg is vir die soetheid van die wraak nie.

Stuk-stuk kom almal onder op die vlakte en ook die kampplek vir vannaand. Tente word opgeslaan en voorbereidings vir die aand word gemaak. Sakkie spreek Johan aan om nie so in dameskamp in te kyk nie.

Kos word gemaak, terwyl groepies een en twee rustig sit en sing met die kitaar, is Julian van groepie drie besig om ‘n ding laf te stook, amper soos Usain Bolt, hy kompeteer eintlik maar teen homself. Rensa Pronk ontwerp ook die eerste smash catapult, en die eerste skoot is sommer raak. Die gevolg van die Bolt-stokery is dat groepie drie al klaar poeding geëet is en nader skuif aan die vuur teen die tyd wat die ander groepies bakkies aangee vir pasta. Ongelukkig, vou ‘n groepie twee-lid eerste deur oor te stap na die anderkant… welkom Janneke! Nie te lank daarna volg Ydi Coetsee, nog ‘n groepie twee-lid, en erken teenoor groepie drie: “Julle is ‘n lekker groepie.”

Toe almal uiteindelik klaar geëet is, word die slaapsakke uitgegooi vir die groot WRAAK-aand! Peter, conveiner, open die aand met ‘n sogenaamde one liner, wat toe meer klink na ‘n paragraaf, maar nie te min… die bal is aan die rol. Maar blykbaar is dit ook nog nie ty nie, oom Hannes is nie lekker seker vir wat hulle wag nie, en Gustav Widd wag net om sy sleesap te drink, tsk tsk… eerste toeriste. Jy verstaan waarom Christiaan sy, en ek haal aan: “stukkie dans geniet” met Oom Hannes en tannie Erna wat ‘n hele paar bewegings demonstreer, byvoorbeeld: Sny, smeer,saai, pluk, maak die boksie toe en vlieg. Verder hou hulle parade, en vaar goed in hulle kamoefleersessies.Tussendeur word daar kaas en jellytots geëet by die vroue leer en Carien du Toit maak ‘n paar ouens skaam met haar opstote vermoë.

Weereens, is ons bevoorreg om nog ‘n eerste te ervaar op hierdie toer met die Koning wat sommer ‘n nuwe wysie en woorde kry. Hulle kan ook bly wees dat hulle Daniël betyds geïdentifiseer het, anders sou hy sake net nog moeiliker gemaak het. Gelukkig is Charli de Vos heel nootvas.Peter raak so mee gevoer dat hy sommer sing: “Maar jy’s ‘n vabond…” En soverklaar nog ses mense dat hulle baie dinge opreg weet en word deel van die BTK en ons groet hulle met die soetheid.

Terug in die slees laat Anna-Marie en Anton nie op hulle wag nie, en plant sommer gou vir hulle ‘n groentetuin met groente en vrugte soos: Peter, die pofferige papaja. Gustav, die goodstuff guava.Karien, die cuming chilly. Rita, die rasende radish. Anien, die aantreklike aarbei en Charlie, die charismatic cucumber. Hulle is goed geplant en begin groei en Peter neem sommer bietjie inisiatief en vertel die storie van die groentetuin verder, well played.

Die ou toeriste val ook in met Charlie de la Harpe en Christiaan wat ‘n gebed opstuur, en ‘n ninja en summurai speel ook bietjie om die vuur. Magriet besluit dat sy nog altyd al die aandag op haar wou hê en doen sommer haar eie kort en kragtige item waar sy doelbewus in die miershoop vasloop en verder rol. Verder sukkel blondines om te werk in die donker, is Cyril ook baie trots op sy 2nd hand shoes en Anton, Ydi, Rita en Gustav bied ‘n Who’s line is it anyway aan, wat darem bietjie opwarm na ‘n tydjie, met woorde soos: baby, en hele paar ander interessante woorde van die gehoor.

Daniël open hekels deur vir Christiaan hoekom hy sou sê dat Anton beeldskoon is. Die Who’s line is it anyway kom ook vir Anton duur te staan, aangesien Julian graag wil weet waarom hy vir Ydi baby sou noem. Karien vra ook vir Rita hoekom sy so gewillig sou wees om vir Daniël ‘n tand te gee. En Elzaan Bouwer word aangehaal deur Elnari oor die feit dat dit ‘n op en af toer is.

Leroy lees vir ons uit Psalm 1.

Dis moeilik om jouself weg te skeur van die lekker warm vuur, maar jy maak vir oulaas warm en stap dan maar sleepvoet tent toe.

Nag dames.

Vrydag, 15 Junie

Jy kan dit amper nie glo nie, maar ja – die son verrys wél met ‘n helder glans en jy sien sommer meer uit na die dag. Maar moenie laat die son jou flous nie, dis nogsteeds bitterlik koud en groepie drie, onder leiding van Anton, geniet ‘n Amarula-koffietjie.

Peter lees vir ons uit Prediker 4:9-12 en hoe gepas is dit nie in hierdie dae wat ons so afhanklik raak van mekaar, en juis makliker jou hand uitsteek na iemand toe.

Tannie Erna gee die raaisel dat mens moet probeer 25 kry met die getalle 2,4,6 en 8 deur elkeen net eenkeer te gebruik. Min weet sy hoe baie dit van die mense vandag gaan pla, dat hulle omtrent nie eers kan gesels met die rondom hulle nie.

Christiaan kondig aan dat ons vandag nét tot in die nekkie gaan stap en dan weer af, verligting is groot onder die groep en dis aansienlik makliker om aan die gang te kom. ‘n Hele paar ure later, nadat jou bene stukkend gekrap, ‘n paar waterstroompies oorsteek is en jy nie meer kan onthou hoe dit voel om op gelyke grond te stap nie, is jy nogsteeds nie by die “nekkie” nie, en begin wonder of hy een of ander grappie probeer maak het. Maar daar word nie gekla nie, want oor jou linker skouer kyk jy uit op die Nonna-vallei wat mooi uitgesprei lê en in jou kop elimineer jy die kragpale, of jy dink hoe goed dit sal werk vir ‘n foefie-slide. MD maak die opmerking dat Reinhardt nie krapmerke nodig het om rof te lyk nie, aangesien hy kuite het, dus dra hy wat MD is maar ‘n kortbroek.

Uiteindelik, na ‘n paar uitkykpunte, is ons toe in die langverwagte nekkie wat eenkant uitkyk na Worcester se kant toe, en middagete word voorberei. ‘n Poging tot ‘n middagslapie word aangewend, maar as dit nie onderbreuk word deur Kara se klokhelder lag nie, is dit Christiaan wat dit kortknip deur die “Stap oor ‘n halfuur” verander na “Stap oor tien minute”, dalk is daar fout met daardie disco-horlosie.

Nie te min, ons begin weer stap met ‘n stewige pas op die Jeep-track en daar word weer gesing en gesels soos in die ou dae met die son wat helder begin skyn dat jy weer hoop kry en dit begin oorweeg om maar daardie diep weggepakte sonbrandroom uit te haal.

In ‘n japtrap is ons weer onder in die vallei en moet ons ‘n rivier oorsteek wat nie daar was tydens die recce nie, want blykbaar het die boer besluit: “Djy ry nie!” Magriet vang ons omtrent omkant met damesskiet en die laaste entjie word al geselsend klaar gestap na die nuwe kampterein onder akkerbome en sommer by die water. Jy’s dalk bly oor die gerieflikheid vir jou beplande bad, maar dink net hoe bly is die waterdraers!

Die koue water word aangedurf en hare word gewas, wat natuurlik groot opwinding vir ‘n paar hair flip foto’s veroorsaak.

Met ‘n skoon lyf, ‘n vars gemoed en ‘n geurige aroma reuk word daar begin met die kosmaak, al drie groepies is sommer saam om die vuur vanaand. Jy besef dat jy maar die reuk van laventel bio-afbreekbare sjampoo gou gaan verloor met hierdie vuur, maar hoe kan jy dan nou wegbly van hierdie mense af?! Rensa en Julian is weer blitsig vinnig vanaand en groepie drie sit weer en kyk hoe die ander eet – gelukkig met vol mae. Reinhardt is baie ernstig daaroor om die laaste bietjie pastasous uit die pakkie te kry, want… ons mors nie graag nie.

Met só soet poeding is die idee van items vir die aand nogals vreesaanjaend, soveel suiker kan gevaarlik raak. Maar vir eers kuier en sing ons rustig verder om die vuur en absorbeer soveel moontlike hitte. Christiaan se horlosie is darem ‘n bietjie meer op tyd as vanmiddag, en die laaste halfuur gaan darem nie te vinnig verby voordat daar in die slees geklim word nie.

Christiaan en Babes sit in die klas met meneer de la Harpe wat wiskunde vrae vra oor kabeljouse en afstande tussen Paarl en Worcester. Daarna kom Anton, ag skuus, Klippies laat vir klas. Vanaand word daar ook ‘n paar sing items gedoen, met Daniël, Manrich, Janneke, Aina, Rita, LeRoy, Anton en Ydi wat Walzing Matilda uitvoer met ‘n paar uitbeeldings en nog sing ook The Pianoman, min gepla dat die liedjie ‘n héle paar versies het.

Reinhardt verkoop koppe sommer in Koran, die Russiese geldeenheid, aan Anna-Marie en Rensa wat ‘n nuwe kop soek vir ‘n blonde vriendin, of is dit dalk Moksie? Daar’s ‘n wye verskeidenheid van koppe, Peter, Anien, Rita en Karien is ook baie trots op hierdie oomblik.‘n Paar ouens vaar in die vreemde met hulle kanoes en Anton is so angsbevange oor die inboorlinge wat hulle gevangenis geneem het dat hy skoon die punch line vergeet. Anien word ‘n arme teiken van hedensdaagse tegnologie, naamlik die koplampie wat vry in die donker aansienlik verander het.

Hekels begin op ‘n hoogtepunt met Peter wat wil weet wat Anton bedoel het toe hy vir Christiaan gesê het hy het nogals trampoelienlippe. Elnari vra vir Daniël hoekom hy vir Rita gefluister het dat hulle nog nie onwettigs doen nie en ook dat hy alles weet, en Isak wil by Ydi weet waarom sy so graag wou weet of dit sy tent was. Peter het ook êrens deur die dag vir Christelle gevra om haar been hoër op te lig, minwetend dat Leroy staan en luister. Anton het ook ‘n paar vrae, eerstens vir Charlie wat vir Jacomien sê dat hy die man jammer kry wat haar bos toe moet vat en tweedens vir Rensa wat vir Peter verduidelik dat sy hande groter is as hare en dat dit beter werk.

Jacomien lees uit Psalm 139 oor die besonderse manier hoe ons aan mekaar geweef is en die wonderwerk wat dit is dat ons veilig afgekom het vandag.

Laaste hitte word weer opgebou, en die buite-slaap word vanaand deur ‘n hele paar aangepak.

Nag dames.

Saterdag, 16 Junie

Jeugdag word begin met ‘n minder jeugdige gesing deur Sakkie, Reynhardt, Jullian, Rigardt en Anton, of dalk juis meer jeugdig omdat so baie van die woorde ontbreuk of verander is. Oom Hannes veroorsaak dat daar hoë verwagtinge is van Christiaan as hy ‘n koppie koffie vir vroulief in die tent vat.

Jy kan amper begin dink dat dit ‘n sauna is by die vuur soos wat die stoom opstyg uit almal se handoekies, matrassies, slaapsakke en selfs ‘n hemp of twee wat buite vergeet is. Met die kamp opgeslaan kom ons bymekaar en MD lees vir ons uit Jesaja 42 en herhinner ons daarop dat dit nie soveel moeiliker is om in die dorp ons gedagtes op God gevestig te hou as wat dit hier is nie.

Jy weet jy moet opgewonde wees oor die dag wat voorlê, maar dit bly moelik om weg te gaan van hier af en te sien hoe die vuur doodgegooi word, aangesien jy nog nie heeltemal ontdooi het nie. Ons stap met die grondpad en besluit om ‘n uistappie na die forelplaas te maak. Gelukkig sonder rugsakke wat oom Hannes meer as gewillig is om op te pas, seker omdat hy wee twat kom. Die forelplaas is interessant, maar ook nou nie om oor huistoe te skryf nie, behalwe miskien die klein vissies en eiertjies, veral omdat die twee bewaringsekoloë ook nie veel het om te vertel of te verduidelik nie.

Terug by die rugsakke, word ‘n vinnige groepfoto geneem, maar sonder sakke, want as iemand nog nie vir jou gesê het nie, ons is eintlik die Berg en Foto Klub.

Ons bly op die grondpad en stap al langs die dam en kyk kort-kort terug om weer ‘n merker of idee te kry van waar ons gister was, daar doer bo, en ja… jy voel nogals goed oor jouself! Bo by die damwal gekom, word provitas uitgeruk en die smeerdery begin vir middagete. Kara maak tone oop met die Bybel in haar hand, miskien vir die meer ernstige kwale?

Hugo, ahem, groepie drie-lid, kom met die oplossing vorendag van die 25 raaisel van tannie Erna. Die oplossing is as volg: . Tannie Erna is dadelik reg met haar volgende uitdaging en vra dat bereidwilliges moet nader staan. Hierdie uitdaging is meer fisies waar ‘n sigaretaansteker wat ‘n armlengte van jou af geplaas word opgetel moet word met die mond terwyl jy op jou knieë bly. Johan is dadelik op grondhoogte om Christelle, Reinhardt, Hugo, Elnari, Magriet, Elzahn, Leroy, Ydi, MD, Anton, Kara en oom Hannes se probeerslae te dokumenteer. Party kry die vinniger reg en ander sukkel maar nog. Die opmerking word gemaak dat dit vir seker iets is wat almal die vakansie gaan oefen.

Nadat al die foto’s geneem is, ‘n draai onder gemaak is, ‘n middagslapie probeer is, en ‘n hele paar ouens verbaas is deur ‘n jong dame se bestuursvermoë, word die rugsakke opgetel en ons val weer in die pad.

Ons stap uit die vallei uit en sien darem daar in die verte die slaapplek vir vanaand, dis nou nadat dit nie die eerste huisie was nie. Skielik is daar klomp honde om jou, en jy besef: ons is nou naby! By die kampterein gekom, met sy grasperk, akkerbome, ‘n swaai en vreemde iglo-struktuur word daar ‘n hele paar keer op en af gestap en gewik en weeg oor wie waar slaap, maar die sagte gras pla nie.En met so mengelmoes van Afrikaans en Engels verstaan Christiaan en die oom mekaar darem oor die reëlings en geriewe.Christiaan doen die voorspelde en maak skiet oop, en dis net stofstrepe waar jy kyk soos wat daar gejaag word – die oopte moet mos benut word!

Met die opwinding verby, word die tente opgeslaan en seep word uitgehaal om vir oulaas te bad en warm aan te trek. Die ouens pak die padjie aan na die groot, volgens die engelsman, poel aan, en kom ongelukkig teleurgesteld terug. Daar word ook ordentlike vuur gemaak, want vanaand, hier in die middel van die berge, braai ons forel eerstens en tweedens is dit die laaste aand. Jy kry amper ‘n traan in jou oog as jy dink dis die laaste aand, maar niemand waag dit om dit hardop te sê nie. ‘n Entjie weg van die vuur, so tussendeur die akkerblaar geritsel hoor ek hoe die lag aangewaai kom, en ek besef: hierdie mense is spesiaal, en ons… ons deel iets uniek!

Mens vergeet amper dat die vis net ‘n voorgereg is, en teen die normaal word daar maar gesukkel om die bekende Bacon kips en biltong gereg te eet vanaand.

Kara spreek uiteindelik vir Johan aan oor die feit dat dit Leroy is, en nie Leeroy nie. Johan verdedig deur te noem dat dit meer Hillbilly-rig klink, waarop MD antwoord dat Leroy nie ‘n Hillbilly is nie.

Klaar geëet skuif die meerderheid weer nader aan die vuur en stories, grappies en lewenservaring word gedeel so met ‘n liedjie tussendeur terwyl Johan almal maan om stil te sit vir ‘n fotografie eksperiment.

Die “laaste aand”-koors loop hoog met items vanaand en mens voel amper asof jy in ‘n tou moet staan met Jan van Riebeeck wat leiding neem, en Sipho, Jan, Piet, Koos en Sarel, maters van verskillende kraters, kort op sy hakke. Selfs oom Hannes speel ook saam en doen ‘n item as die Ringmaster. Anien is die ligtoring wat aangesteek word en sy gooi lig in die biblioteek waar ‘n blondine ‘n burger en tjips soek. En natuurlik gaan maak ons ook ‘n draai in die dieretuin met mamma en Pokkel wat ‘n troeteldier soek, so tussendeur die kameelperd, nagapie, seekoei en hadida. ‘n Bus word ook verby gevat, of altans, daar word probeer om ‘n bus verby te vat.

Hekels word begin deur vir Kara te vra waarom sy so graag vir Christiaan op sy knieë in ‘n stort te sien. Anton word uitgevra oor wat sy ma sou sê oor die tee wat so snaaks is, dat hy met elke slukkie aan die lag gaan. Magriet wil graag by Jacomien hoor hoekom sy soos ‘n hond voel en Gustav vra vir Kara hoekom sy dink haar anderkant nie so stout is nie.

Natuurlik moes daar voldoen word aan die Berg en Trou-klub stereotipe, so ‘n paar trougesprekke is gevoer en gevolglik ook aangehaal. Eerstens, Anna-Marie wat erken dat sy maar met ‘n pakkie suurwurms die groot vraag gevra kan word, Christelle haal oom Hannes aan deur te uit te roep: “Cheap, cheap!” Tweedens het Rensa ook vroeër erken dat sy maar met een vir die span sal vat en met Christiaan sal trou, maar daar word vasgestel dat dit eintlik Christelle was.

Laastens word daar vir die edelagbare gevra wat hy self bedoel het toe hy, met die “dag van môre”-praatjie gesê het dat ons môre “net tot in die nekkie stap”.

Kara vertel dat ons ons roeping moet soek, dit vind en dan ook vrede daarin kry deur te verwys na Efesiërs 4:1-12.

Vir oulaas, word daar nog tyd spandeer rondom die vuur met jou gedagtes diep in die vlamme en die kitaar en bekfluitjie in die agtergrond, en weerlig wat in die verte flits gevolg deur die sagte klap van die donderweer.

Nag dames.

Sondag, 17 Junie

Die donderweer van gisteraand het toe nie ver gebly nie en om en by 02:00 ontsaan daar omtrent chaos toe die reën hier by ons is en meeste van die ouens moet skuiling soek. Maar nie te min, ons slaap verder om ‘n paar ure later wakker te word in ‘n nat wêreld, maar darem reën dit nie meer nie.

Met kamp opgeslaan sing ons vir ou laas en lees Christiaan Psalm 27, wat vertel oor hoe afhanklik ons van God kan en moet wees vir beskerming en leiding.

Laaste papiertjies word opgetel en bottels word volgemaak en ons begin met die klim. Vandag se nekkie kom darem gemakliker en vinniger as nou die dag, miskien omdat jou rugsak, wat aan die begin so vreemd gevoel het, waarlik nou soos ‘n skilpaddop sit, en natuurlik die kos wat uit is. Bo gekom, kyk jy vir oulaas terug en probeer dit op in jou geheue inbrand. Ons beweeg maar so sit-sit, gly-gly af in die mooi klofie, met uitsigte wat net aanhou om te verbaas.

Ons beweeg so heen-en-weer oor die klippe al laer en laer en van die voorste ouens moet solank hulle skoene uittrek om deur die rivier te beweeg. Peter – what-a-champ-Muller is tog so gaaf om ‘n paar mense droogvoets oor te dra.

Jy wil eerder nie terugkyk nie, want die idee dat jy ‘n paar minute daar bo was, en dit tot hier gemaak het, slaan jou asem weg. Aangesien Peter eerskomende Dinsdag verjaar, word hy sommer gekies as verjaarsdagmaatjie en word op die BTK-manier geluk gewens.

Die laaste ent word heel vinnig met die jeep-track aangepak, maar die spoed word ook so nou en dan gebreuk met die rivier-oorkruisings, gelukkig leef ons mos vir avontuur, en kan jou skoene nou maar natword.

By die trok gekom, skarrel die ouens rond om die ligste sak moontlik te kry, maar dit is Hugo wat almal uitoorlê met die gentlemen’s challenge, wonder of hy dit dalk geoefen het in Israel êrens tydens die 1000km?

Ons word bederf met pakke tjips, bier en koeldranke. Nadat Aina en Ydi maan toe gestuur is, word daar heel jolig op die trok geklim en die singery begin sommer dadelik. Sakkie vat voor met Royal Hotel se woorde en die res val maar weer in by die koor. Aina wil graag help, net jammer sy’s aan die verkeerde kant van die hek en vir die soveelste maal herklink Julian se uitroep: “You’r doing it wrong!” MD erken dat as hy nou nog ‘n bier sou drink, hy sal slaap soos ‘n vet seuntjie. Daar word ook besluit dat dit dalk eerder Kara-lag-is-snaakser-as-die-grappie Muller moet wees. En met nog vele skaterlagte, liedjies en geselsies is ons ‘n japtrap weer by die Rabies se huis.

Daar word groepies ingedeel om op die verskillende plekke te gaan stort en ons kry mekaar skoon en vervris weer op die plaas. En klim in die karre om na dié Worcester Mall toe te gaan, want dis waar dinge gebeur op ‘n Sondagmiddag. Dit voel heel vreemd om nie in jou stap-klere en stoakies in te stap vir die terrash nie en skielik is jy meer selfbewus as gewoonlik.

Reinhardt vertel eers die lang storie van waar die burger-challenge begin is en Johan wil net laat hoor van sy rekord. Soos verwag, is ons dié opwinding van die gemiddelde Sondagmiddag Worcester Mall-ganger en word groot aandag gevestig op hierdie studente wat op die banke klim en opgewonde gesels. Maar ja, die challenge is ook nie wat hy kan wees as almal klaar skoon gewas en geklee is nie. Nie te min, die vier roeiers, Gustav, Julian, Peter en Anton spring met ‘n stink spoed weg, behalwe dalk Julian wat rustig terugsit en tjippie vir tjippie begin eet. Anton is heeltemal te uitgeslape vir die twee eerste toeriste en wen loshande met ‘n tyd van 1:54.

Na die opwinding, skuif almal terug na hulle tafels en geniet hulle eie burger, dis nou as jy die beeld van Anton uit jou geheue kan wis.

Een vir een word daar gegroet, sonder om te veel van die tradisionele gewoontes te hê val jy ook maar in die ry en wens almal ‘n goeie en veilige vakansie toe. Mens kom ook agter dat daar twee tipe mense is, die wat groet sonder om te loop en die wat loop sonder om te groet.

Soos wat die tafels leëer word, sit ek maar terug en glimlag oor die spesiale oomblikke van die afgelope paar dae se herlaaiing na ‘n eerste semester. Die grappies, die uitsigte en die geselsies het voorwaar snel verby gegaan, en die toer met sy heerlike dae is verstreke. Maar tot ek julle weer sien, vaarwel toermaters, vaarwel.