Son, see, berge (wind, reën) en meer…
‘n Skets van gebeure deur Jacomien Hauman
Donderdag, 22 November:
Vir ‘n gewone rugsaktoermeisie, is dit vir my ‘n heel vreemde gevoel om net met my dagsakkie na die Neelsie toe te stap met die gewone pre-toeropgewondenheid. Dan praat ek nie eers oor die vreemdheid dat nie 3:30 die oggend is nie, maar dat die son al lekker warm bak, beslis hoe ek my Desembervakansie wil begin!
By die Neelsie gekom, word die gewone roetine gevolg, krat na krat wat uitgedra word en toermaters wat een-een aankom en bekendes wat gegroet word en nuwes wat voorgestel word.
Die ou met die maroon hoed roep almal nader om in ‘n kring”etijie” te staan, jy verstaan nie lekker hoe hy kan verwag dat 120 mense ‘n kringetjie moet maak nie, en die feit dat hy ook nie homself voorstel nie, maak sake net meer verwarrend. Nietemin, dit is die toerleier MD Greyling, wat almal verwelkom en ‘n paar reëlings deurgee. Christelle Leuvenink maak seker dat almal hier is, en vind sommer ook uit dat party glad nie meer kom nie. Seën word gevra vir die pad en toer en met dit word daar geskuif na die busse vir die vinnige rit tot by Palmietkampterein – nog ‘n vreemde gevoel. Dit is maklik om agter te kom dat die eksamen se uitwerking nog nie klaar is nie, met meeste mense wat nog ‘n vinnige uiltjie probeer knip.
Ons arriveer 12:30 by die kampterein, verwarring oor die tente ontstaan, maar o.l.v. tentopslaan-convenors Leroi de Wet en Hugo Minnaar kry Peter Muller, Rainer Graefe, Charl Cillie, Chris Coetsee, Andrew Boys, Eduardt Rühling, Johannes Leuvennink, Ben Cilliers, Nico “Shaiker” Lochner, Daniel Malan, Johannes van Dyk en Derick Coetsee wel die tente gelig. Die meisies is heel gelukkig om die besigheid van ‘n afstand af dop te hou en sit of staan en gesels rustig voort in die koelte.
Met die tente op en die kampterein wat stadigaand begin ge-orden word spring die middagbroodjies ook aan die werk om ‘n groot verskeidenheid van broodjies op die tafel te bring.
Aangesien daar nooit ‘n beter tyd as die hede is nie, gebruik Toervader, Oom Francois Loedolff en Chaperone, Tannie Marié du Toit, sommer die kans om ordentlikheidspraatjie te hou. Na ‘n ge-heen-en-weer laggery kom almal weer bymekaar om te Koning. ‘n Vreemde affere, nie net omdat daar 72 meisies teenoor 43 ouens staan nie, dat 65 van die 115 nog nooit hierdie gedoente aanskou het nie, maar nou is daar nog die boom in die middel van die grasperk wat nou ook kan spog daarmee dat hy ook al ge-Koning is.
Maar my maggies, ons is dan by die see! Die kans om af te stap see toe word ten volle aangegryp en gewapen met handoek, sonbril en sonbrandroom beweeg die meerderheid van die groep na die strand. Soos wat jy op die sand lê en die paar (dalk mal?) mense dophou wat die water aandurf, sink dit by jou in dat GALA uiteindelik hier is en dus ook dat die akademiese jaar oor en verby is – wat ‘n vreugde. Ander kan nie lank genoeg stilsit nie, en daar verskyn ‘n sokker- en rugbybal of twee uit die niet.
Nie lank daarna nie en almal skuif weer terug na die kampterein waar daar nog hier en daar ‘n bietjie touchies of handtennis gespeel word. Die stokers, Ian Smuts, Pieter “Armstrong” Retief, Isak “Liriekeraai” Bosman, Francois “Buzz Lightyear” du Plessis, PJ van Rensburg en Julian “Alleenslee” van Zyl en kokke spring aan die werk om aandete, heerlike snoek en soetpatats, te maak. Terwyl die res uitspan op die gras en die beskikbare opblaasmatrasse en buitebande. Die eerste toeriste wil egter nie te gemaklik word nie, want wraakkaptein Julian het sommer dadelik ‘n paar van die “senior” manne nader geroep om te begin met die uitkykproses, aangesien die lysie nogals lank is.
Môre gaan die toergroep verdeel word vir die stap in die berge of die rivier en indelings daarvoor begin. Dis maar ‘n moeilike ding om te besluit, want woorde soos mooi, rustig, swem, uitdagend, lank, klim en water word deurgangs gebruik en jy probeer agterkom watter een die regte kombinasie vir jou het.
So word dit ook tyd om te eet en almal staan nader vir die feesmaal. Voelers word uitgesteek om die nuwe gesigte te leer ken.
Toe die blikke uiteindelik gewas is, word daar gebondelslee. MD verduidelik die dag van more en staan dan terug dat van die tradisies en lingo vir die eerste toeriste en mense wat bietjie lanklaas getoer het te verduidelik kan word. Karen “Spielberg” van der Linde en PJ verduidelik skiet. PJ so opgewonde om sy teorie oor windop en windaf van die dame staan, en Karen so opgewonde dat sy nie net een keer nie, maar twee keer te vroeg wegtrek nog voordat PJ enigiets vra. Anna-Marie Müller en Jacomien Hauman wys ‘n voorbeeld van ‘n item deur die ninja en samurai uit te beeld so goed as wat hulle kan. Laastens verduidelik Hugo wat hekels is, hy is wel onseker of hekels aan oom Francois of oom Loedolf gerig moet word. En so word items dan ook oopgemaak:
Ons gaan draai eerste in die weermag waar Anna-Marie nie seker is watter titel sy moet gebruik vir Jana “FOMO” de Wet nie na afloop van ‘n kamoefleersessie nie. Daarna word daar (nogsteeds in die weermag) begrafnis gehou met troepe Jacomien, Jana, Magriet, Anna-Marie en Pieter wat die hartseer nuus vanaf Johan Wiid via Francois hoor van hulle ma’s wat afgesterf het. ‘n Nuwe stel troepe, Gustav Wiid, Johannes, Charl, Francois, Johan, MD en Leroi beweeg na ‘n ander slagveld waar ons die belangrike les van mind over matter leer. Jana maak asof sy mal raak in die fabriek en verander in ‘n gloeilampie waaraan Jacomien haar vingers brand terwyl Marguerite le Roux baasspeel. Ook nie vir lank nie, want net daarna probeer sy (Grietjie) die legkaart van die Corn Flakes uitwerk, Liefie Francois kom tot sy Poeksie, woeksie, worsie wapsie redding in uur van nood. Hy kom via die trein, waarop Ernst Kleynhans, Carla Portwig en Martin Nortier al vir die afgelope drie stasies lank melk drink. Laastens kuier Charl, Johannes en Helen Kroes in die kroeg saam met twee aliens.
Hekels word oopgemaak en Magriet Muller vra Megan Viljoen uit oor ‘n stok wat ‘n lelike ding is. Tobias Johan Coetsee wil by Carli Loubser hoor hoekom sy so bang is dat haar boude in sy bord val en Johannes vra vir Charl uit oor sy smaak in meisies: Soos koffie, sterk, soet en met baie melk.
Aandlied word gesing.
Nag dames.
Vrydag, 23 November: Berge
Ons word wakker gesing na die eerste nagrus en staan nader met papbordjies, net jammer dat die oggendbroodjies en stokers nie een weet watter pap ons vanoggend moet eet nie. Party staan sommer al vroeg reg met hulle rugsakkies, minwetend van al die goed wat wel nog moet gebeur.
Ons kom onder die boom bymekaar om die dag te begin met lofprysing waarna MD vir ons Jesaja 58:7 lees en ons herinner aan hoe ryklik geseënd ons is en dat ons moet let op hoe ons ons seëninge gebruik.
Die groter meerderheid van die toergroep klim op die busse om tot by hul verskeie beginpunte vir die dag se stap geneem te word.
Hier is wat elk van die uitstappie-leiers (onafhanklik van mekaar) oor hulle onderskeie stappies te sê gehad het:
Leroi: ‘n Goeie streksessie het gehelp dat die kuite mooi kon ontwikkel terwyl ons geklim het om middagete saam met die beste geselskap op die berg met die mooiste uitsig te geniet voor ons begin verken het om by die brug te gaan rus en swem. (Ek wens ek kon ook net my kuite strek om dit te ontwikkel!)
Francois: Ons het vir Hugo geluister en toe is ons by die berg af sonder ‘n pad – en hy was nie eers in my groepie nie.
Pieter en Ian: Ons het gestap en geswem en van klippe afgespring.
Johan: Lekker lui rustige stappie op in die rivier, met ‘n prettige waterkaskenades tipe dryf oor rapids tot onder.
Magriet: Ons lekker rustige dagstappie (met klem op die rustig) het ons deur die pragtige Herald Porter botaniese tuin gelei tot bo by die waterval waar daar heerlik geswem is en ons die uitsig oor die uitgestrekte kuslyn besigtig het. Met die afstap het ons onderandere luiperde, zebras, rooikatte en uile gesien; sommige claim daar was ‘n feetjie en ‘n dwergie ook. Soos enige ordentlike stapper betaam, het ons darem ook roomys in die hande gekry en ‘n middagslapie op die gras gevang voordat ons teruggekeer het. – Net ‘n goeie vooruitsig van Magriet Muller se uitstappies vir die jaar.
MD: Die ouens het soos players gevoel met al die meisies op die strand. – ‘n Meer interessante (?) vooruitsig van hierdie jaar se toere.
Terug by die kampterein word daar uitgespan onder die bome om lekker saam te kuier, party gaan swem, ag die sonskyn dag word sommer net geniet! Die kosmakery word aan die gang gesit, en stoker, PJ van Rensburg, is baie verbaas oor die feit dat spinasie gebràài kan word. Skielik daal daar ‘n stite oor die toergroep, mens wil so effe begin bekommerd raak oor die verlate kampterein, maar dan besef jy dis net die eerste toeriste wat weg is en gesels rustig verder.
Die kos is ook in ‘n japtrap klaar en MD wag sy kans rustig af totdat almal mooi in rye staan voordat hy skree: “Skiet is oop!” Eerste toeriste is nog bietjie verward oor wat nou regtig móét gebeur en daar word laat spaander in alle rigtings. Braam Snyman moet omtrent sy staal wys soos wat hy agter Petro Visser aannael oor die grasperk. Met al die opwinding nog vars in die geheue word daar weer ‘n poging aangewend om aan die eet te kom.
Vanaand is dinge maar bietjie traag, en “kom in die slee” word ‘n hele paar keer uitgeroep dat dit net so bietjie wil begin klink soos ‘n plaat wat vashaak. Die planne vir môre word deurgegee en dan word tannie Miems, en later ook oom Stefan verwelkom. Tannie Miems bedank ons en wens die jeug geluk dat ons (nog) nie verander het om soos die meerderheid van studente te wees nie, of ly aan LSD, soos wat sy dit noem: Die Lam, Siek en Dooies. Sy groet ons met die bekende Hello, hello, hello en ‘n paar “Lekker – – – ONS!”-uitroepe.
Die aand se items begin vanaand in die natuur, eerste is dit Francois en MD wat probeer verduidelik hoe die blommetjies en bytjies werk, en daarna skakel ons oor na 50/50 saam met Anna-Marie en Jacomien wat ons vertel oor die interessante vlieggewoontes van ‘n pou. Ons roei saam met Peter, Francois, Pieter, Julian en Isak in ‘n onbekende streek, sommer so op die maat van die musiek wat uitbasuin word deur die ander mense op die kampterein.
Ons maak ‘n draai in die strate van Stellenbosch met Ernst as Moksie, Mechiel en Herman Nieuwoudt, Felix Bekker, Christiaan, Johan Coetsee en Martin Nortier as Mr Price. Jy’s nog besig om te lag vir die vorige item, of dit nou eers te snap toe daar twee onbekende kort, fris manne opstap met rugsak en al, dit is Jaco-Chris Koorts en Neall Visser wat vir ons kom kuier! Hulle spring sommer dadelik in die slee en kyk saam na die rympies gameshow wat aangebied word deur Ernst en deelnemers Mechiel en Johan vanaf Oxford en Herman en Martin van Benoni kompeteer oor wie die beste rympie kan maak met Timbaktoo. Ook ‘n toneel uit ‘n sepie waarin ‘n vrou haar man, Isak, verneuk en die twee verdagtes, Francois en Peter, opdaag by Dokter Johan en seketaresse Babes.
Hekels word geopen deur MD wat vir Peter uitvra oor sy ontsteltenis dat hy die kos in sy eie mond moet sit. Francois wil by Anieke hoor hoekom sy vir Charlotte sou sê om anderkant toe te kyk aangesien dit beter is so, en ook by Hugo wat hy bedoel het met die duidelike, reguit pad. Nina wil ook graag weet hoe Charl verwag iemand anders moet kan verduidelik hoe sy ma fluit. Dit sukkel maar vandag om die hekels te onthou en daarmee is dit ook die einde van die dag. Ons gaan slap met die musiek wat nogsteeds sterk aan die gang is.
Nag dames.
Saterdag, 24 November: Reën
Êrens in die middel van die nag het dit begin reën, maar vir die meerderheid is dit geen probleem nie en die slaapsakke word maar net hoër opgetrek en daar word rustig verder geslaap. Ander was minder gelukkig en ervaar ‘n bietjie van ‘n mini-sandstorm. Met die son wat hier en daar deurbreuk begin die kamp lewe kry en word daar gesmul aan oats en broodjies. Die dunk van die stokers verhoog aansienlik aangesien hulle dit reggekry het om die koffie warm te hou in hierdie gure weer. Vanoggend word daar nie veel omgegee oor ordentlik wees nie, en almal skarrel om soos dassies in die paar sonkolletjies ‘n plekkie te kry.
Die oppakkery word begin, en beweeg aansienlik vinniger toe die reën weer begin dreig. Van die ouer toeriste gebruik sommer die kans om ‘n goeie dans-in-die-reën sessie in te kry. Busse is so te sê gelaai en ons begin met die lofprysing, met ‘n sug van verligting as die son tussendeur weer begin skyn. Kara Muller lees vanoggend vir ons Jakobus 4:8 en Efesiërs 3:18.
Die hitte en die droogte van die busse word baie geniet tot by Kleinmond se strand waar die gemoedstoestand aansienlik daal wanneer toerlede agterkom dat daar definitief gestap gaan word vandag ten spyte van die onweer. Na ‘n paar terugkeerslae is almal uiteindelik op die strand en begin ons die dag se stap langs die branders wat omtrent maal, kolk en raas, darem met die wind van agter – ‘n pluspunt behalwe vir die paar keer wat dit die druppels ook hard van agter stuur.
Stapplanne word egter ‘n bietjie gekniehalter toe ons by die mond kom met hoogwater en ‘n ander plan moet gemaak word. Daar word besluit om inwaarts te stap tot by Rooisand, waar die busse ons sal oplaai. Dit is egter nie so maklik om die padjie te kry nie, so terwyl Peter vooruit hardloop opsoek na die padjie, word die moedere gelig met treffers soos Looking back on where we first met, Mama Mia en natuurlik ’n Positiewe houding. Die detour sorg egter ook vir opwinding toe ons verby die wilde perde wat bekend is in hierdie area gelei word, beskutting word gevind in die uitkykskuiling wat ook sal sorg vir ‘n hele paar hekels. Die pad word gekry te danke aan ‘n ander stapgroep wat verby kom, dit lei ons na die grondpad en kort voor lank sit jy weer op die sagte en snoesige bussitplek oppad na Onrus en die windlose omgewing wil amper jou ore begin seermaak.
By die kampterein gekom, beweeg die meerderheid van die meisies na die badkamer, party bly sit in die warm bus terwyl die tentopslaners aan die werk spring. Die kostent staan skaars en die middagbroodjies begin die produksielyn om die magdom brood te smeer met ‘n verskeidenheid van maaskaas en komkommer.
Met die mae vol, kies party mense die magies vol, ogies toe-opsie terwyl ander nogsteeds die veilige hawe van die bus geniet en ander die strate invaar opsoek na ‘n plek waar daar ‘n koppie warm sjokelade of ‘n biertjie geniet kan word terwyl hulle die toets kyk tussen die Springbokke en die Rose. Na ‘n minder opwindende wedstryd word die laaste (of eintlik eerste) bietjie sonskyn van die dag geniet deur te gaan stap langs die see terwyl die vure aan die gang kom, want vanaand braai ons! Ou toermaats, Christiaan Rabie en Charlie de la Harpe, kom kuier terwyl die eerste toeriste in die bus oefen vir die wraakaand wat môre plaasvind. Eduard is baie geskok om iemand anders as sy ouma, dis nou Anna-Marie, te sien brei. Ali Paramani glo vas dat na vandag se stap, dit net die duiwel kon gewees het wat gesê het hy moet kom BTK. Die mismoedigheid bly darem nie lank nie, ons geniet boereworsrolle en kuier verder om die vuur en in die tente.
Nag dames.
Sondag, 25 November: Son
BTK-Sondag! Ontbyt word geniet en almal staan nader vir kerk. Francois en Peter lei die lofprysing en oom Francois behartig die boodskap. Hy lees vir ons Psalm 121, Spreuke 22:1, 27:10 en 17. Hy vertel dat dit wat jy glo jou gedrag bepaal, dat jy ‘n keuse het oor hoe jy wil reageer en dat positiewe bevestigings ‘n noodsaaklikheid is. Tannie Miems herinner ons hoe belangrik ‘n positiewe houding is deur haar eie getuienis te deel. Sy lees Jesaja 58:11.
Na afloop van die diens, word ‘n tradisie of twee eers behartig. Ja, dit is die oorhandiging van die kosma en kosdogter rompe en lepels, en ook die voorsitter leerbroekie. Magriet en Rensa Pronk, uittredende kosma en –dogter, vertel die storie van die rompe wat gekom het op Jan van Riebeeck se skip, die lepels wat gebruik is as wapen in die oorlog en ook ‘n bron van hoop was in die kaalvoet-trek oor die Drakensberge. Hulle oorhandig dit aan Nina Keyser en Madilien Roos en Jaco-Chris en Neall neem dadelik die twee dames vir ‘n (dans)draai in die kring.
Hierna vertel die Christiaan die storie wat doerietyd, toe bome nog verkeerd om gehang het, begin het en van al die dames wat die manne verlei of ‘n merkwaardige verskil êrens in die wêreld gemaak het met die leerbroekie. Onder andere Cleopatra wat vir Caesar verlei het, Pocahontas vir John Smith, Rose vir Jack op die Titanic, Marilyn Monroe, Florence met haar lampie en ook op eie bodem Racheltjie de Beer. Anna-Marie verklee vinnig binne-in die kring van meisies en soek vervolgens verward (en met rooi gebloosde wange) na haar katjie.
Met die hulp van die groenteskillers, Carla Portwig, Elzette Louw, Megan Viljoen, Anemieke van der Merwe, Elbie Booysen, Liezl van Rooyen, Petru Malan, Llisa Ferreira, Chelsea Lotter en hulle convenor Janneke Lotter kry die kokke en stokers die middagete aan die gang en die res van die toergroep beweeg af strand toe om te lê in die son, volleyball of sokker te speel.
Die ete wat omtrent die tafels laat kraak, word geniet saam met ‘n glasie wyn te danke aan oom Francois.
Ons skuif oor na die pad waar die wel-bekende pitspoegkompetisie plaasvind met Jaco-Chris wat sommer as seremoniemeester waarneem. Ian Smuts, of is dit nou Muller?, wen vir die tweede keer in sy loopbaan die deksel(se) trofee, met Johannes, Neall, Francois en Felix Bekker kort op sy hakke. Sunel Jacobs en Charlotte Botha haal die finaal vir die meisies en moet (soos met meeste dinge by die BTK) eers ‘n rondte ching chong cha speel om te bepaal wie eerste mag gaan. Na die sudden death gespoegery, is Sunel die een wat met die eer mag wegstap.
En dan, as jy nuut is by die Gala, jy het al gehoor mense praat van Elsa-poeding, maar is nie seker wat dit behels nie. Francois lig ons wel in en warm ons sommer ook op vir die geleentheid. Monde en mae word voorberei en die regte tegniek vir inskep word ook gewys en ingeoefen, net om te hoor: Wie eerste is, sal laaste wees, en te kyk hoe die tafel verby jou gedra word na die agterpunt van die ry.
Met die versadigde en oorsoet maag beweeg jy af strand toe vir die res van die middag om daar te gaan lê, of as die suiker te vinnig inskop, sluit jy aan by ‘n sokker, touchies of Frisbee spel.
Jy kan amper nie glo dat daar weer kos gemaak word nie, maar die braaibroodjies en aartappelslaai word tog verwelkom.
En nou is sulke tyd – WRAAKtyd. Met die sleekring wat maar klein is word die items begin. Jan Kriel is dokter Hoogenboesem, ‘n psigiater, wat ‘n verskeidenheid van berading doen, met Ben as sy betroubare skuifdeur. Sy meubels is saamgestel uit Chrisna Kellerman, Talitha Cronje, Megan Hutton-Squire en Carina Greeff en Alta-Marie Bekker sy pligsgetroue ontvangsdame, mejuffrou Poerstamper. Sy eerste kliente is Petro Uys en Christiaan van der Walt wat kom vir huweliksberading. Talita van der Merwe en Natalia Bührnmann het probleme met New Balance, Mari Scott en Lize Draaijer kla oor bad en Sunlight-seep, Lezanne Lotter en Ingrid Lambert is twee blondines wat ‘n probleem het met Fear Factor kos en Klara van Zyl en Lisa Opperman kom lê ook ‘n besoek af. Peter, of altans Jacob Zuma, sien die geleentheid raak om met twee van sy vrouens, Magriet nommer drie en Grietjie, nommer een, ook te kom vir berading.
Eunice de Bruin, Caro Nel en Carmin Jansen van Vuuren doen ‘n item oor ‘n kaktus. Vervolgens is ons in appelboorde met boer Lourens van der Linde en dominee Eliznica Roux en die drie werkers, Petro Visser, Anja Greyling en Ilne Pretorius wat die kruiwa, Braam Snyman, (wat meer soos ‘n voël as ‘n kruiwa klink) moet vat om appels te gaan pluk.
Ali praat afrikaans! Hy dra vir ons ‘n gedig voor van Persië, met Kim Whitmore wat dit in engels herhaal terwyl Felix hulle begelei met kitaar. As sportwetenskaplike is opwarming vir my uiters belangrik, en is ek net te bly as daar ook ‘n opwarmingssessie deur Inge Hambridge, Nelmari Harmzen, Sarah Niewoudt, Charl Ellis, Mia Viljoen, Johannes van Dyk, Heinrich Stapelberg, Marnelia Scribante en Helen Kroes aangebied word.
Ons maak ook ‘n draai in ‘n klas of twee. Eerstens, ‘n mediese klas waar daar gekyk word na ‘n super-kadawer, saam met Kim Whitmore, Charoltte Botha, Francisca Heese, Viktoria Fineide, Lynette de Jager, Heinrich Staelberg, André Swanepoel en Sarah Otto. Dan beweeg ons na ‘n engelse klas waar opstelle geskryf word met Amadea Alberts, Jana Taljaard, Nina van Rooyen, Marina Laubser en Sunel Jacobs. In die filosofie klas leer Helen, Charl, Lize, Nelmarie en Marnelia ons van die pessimiste, optimiste en opportuniste.
So is dit ook die einde van die eerste toeriste se items en gee ons vir hulle die kans om die verskeie liedjies te sing, met Ernst, Peter en Julian wat dinge omver gooi.
Dit is omtrent ‘n gesukkel om in die donker die eerste toeriste uitmekaar te ken, maar almal kry tog ‘n boekie en word ook verwelkom met ‘n Hello, hello, hello.
Die eerste toeriste se tuin bestaan uit die volgende groente:
-
Nina die naughty nartjie
-
Nelmari die nauseous nartjie
-
Lourens die lieflike lekker lam lemoen
-
Johannes (van Dyk) die yummy jelopeno
-
Carmyn die creepy cabbage
-
Anja die adventurous aarbei
-
Ali verstaan nie lekker wat hy moet doen nie, en sing vir ons ‘n liedjie
-
Braam die blinde beet
-
Michael die mean mushroom
-
Chris die crunchie, crazy, cool, charismatic carrot
-
Mia die magic mauritica mango
-
Johannes (Schribante) die jittery jellebean en
-
Inge die incredible litchi.
Megan doen ‘n “item” wat eintlik as meer van ‘n tradisie gesien word op Gala waar sy die koningin is en die proefkonyn alles wat moet doen wat sy doen. Daar’s ‘n paar interessant ppprrrrr, shimi shimi shimi, en gangnamstyle-bewegings, om net ‘n paar te noem. Die grap kom eintlik in wanneer die kandidaat in water gaan sit wat onwetend op hulle stoel geplaas word. Jana en Mia is van die slimmeres wat eers kyk voordat hulle gaan sit. Helen, Heinrich, Ich bin Jan, en later ook Megan is egter nie so gelukkig nie.
Hierna volg daar ook nog ‘n paar tradisies vir items saam met die eerste toeriste, Peter vry sy goose, cherry, chick, skilpampoentjie, ook bekend as Sarah in die donker en Francois lig die saak vir hom uit. Alma en Lize is die twee vuurtorings wat na groot gesukkel met roltrappe, en name wat oor berge gefluister is, gesaangesteek moet word vir Francois, Isak, Julian (die Sjinees), Leroi, MD en Peter wat sommer van ‘n boegbeeld na ‘n mens verander. Tussendeur word Captain Obvious ook deur Peter gesalueer.
Items word afgesluit met ‘n interessante storie van dagga wat uitgebeeld word deur Mechiel en Ernst, met Johannes van Dyk as die akkedis, Michael as die dealer en Eduard as die krokkedil hoog in die boom.
Hekels wat uitstaan is Francois wat verward in die slee gevra het: “Waar’s my onderbroek”, Jana wat gister opgemerk het: “Dit sal net beter wees as ons almal kaal is” en Carli wat dink dat die Outiniqua-berge êrens naby Wellington is.
Dit is al 01:00 en ons beweeg bed toe.
Nag dames.
Maandag, 26 November: Meer
Vanoggend bak die son reeds vroegoggend almal uit die tente uit en ons staan nader vir ontbyt. Omtrent ‘n vreemde gevoel om gefotografeer te word soos wat jy jou pap eet, maar teen hierdie tyd is die meerderheid van die toergroep ook al gewoond aan Johan se lens wat orals opduik.
Anna-Marie lees vanoggend vir ons uit Johannes 1.
Ons klim op die busse en zinc-salf word versprei en as jy om jou kyk herleef jy weer die dae van legende Allan Donald. Nadat ‘n roomys gekoop is begin ons stap vanaf Grotto-strand en nou voel dit soos ordentlike Gala met die son wat bak en branders wat egalig breek. Seker ook omdat almal nou mooi met hulle nekdoekies getooi stap. Ons is skaars in ritme en MD versoek dat on seen van sy bekende kring”etjies” maak, want ons het ‘n verjaarsdagmaatjie in ons midde! Jan Kriel, die man van die Vrystaat, verjaar vandag.
Ons beweeg oor ‘n duin net om weer opgejaag te word vir die eerste groepfoto, dis nou nadat almal hulle spring- en tekkelfoto’s ingekry het. Nadat daar op tone geloop is om verby die knypperige miere en dorings te kom, word ‘n grondpad dieper in die melhoutbome in gevolg tot by Wortelgatkampterein.
Daar aangekom, word broodjies gesmeer met Melrose kaas en worsies waaraan daar heerlik gesmul word, totdat dinge bietjie ongemaklik word a.g.v. die oom wat die “persoon wat inbeheer is” soek. Die res van die middag word onder by die water geniet. Daar word volleyball gespeel, geroei (nou nie Oranje-rivier nie, maar roei nietemin) en op die ferry gery (nadat jy vir 100m met opgetrekte handoek en top gestap het – vet pret!) en ook ‘n seegras en kanoe-tiep geveg of twee breek uit. Van die toermaats gebruik eerder die kans om die stil kampterein te benut en geniet ‘n middagslapie onder die bome.
Stokers moet eerste weggeskeur word van water om te gaan begin met die aandete, lekker maalvleis en kerrie. Kitare word ook uitgehaal en daar word lekker saamgesing.
Vanaand word daar nie geslee nie, maar ons dans ons sokkies af, toegerus met ligte en musiek wat net eenkeer onderbreuk word of andersins word daar sommer informeel rondom die vuur gekuier. Hoogtepunt van die aand is toe die meerderheid, indien nie die hele toergroep nie, in die klein saaltjie inprop om saam te sing en dans op Special Star.
Ons sluit nogsteeds die dag af met die Magaliesbergse aandlied en gaan lê met die naggeluide sag in ons ore.
Nag dames.
Dinsdag, 27 November: Wind
Vanoggend word ons sommer uit die tente gewaai en kom staan windverwaaid weer reg om te posseer met die pakkie Jungle B-fast in die hand. Jy besef opnuut weer die mooi-heid van die kampterein, en word sommer by voorbaat opgewonde oor die vooruitsig van die BTK se 85 jaar reunie wat volgende jaar oor Paasnaweek hier gaan plaasvind. Onder leiding van Daniele Toros en Naude van der Merwe, laai Christian Truter, Mechiel Niewoudt, Braam, Johan Coetsee, Martin, Herman Niewoudt, Ernst, Lourens en Charl Ellis die busse terwyl die res begin met lofprysing. Leroi lees Romeine 12:1.
Voordat die (lang) pad terug na die strand aangepak word, wens ons eers vir Kara geluk met haar 21ste verjaardag op die BTK-manier. Terug by die branders, is die wind weer sterk aan die gang en ons kry koers Gansbaai se kant toe. Vandag se roete lei ons verby interessante rotskastele, ‘n uitgespoelde walvis en ‘n rob of twee verras ‘n hele paar toeriste onverwags. Ons neem ‘n tweede groepfoto waartydens die hele toergroep se asem opgehou word wanneer daar ‘n baie groter as verwag brander kom en breek teen die rots waarop Johan se kamera staan.
Ons vat ‘n lekker breuk vir die Kerrie-vis middagete terwyl daar geswem word in die helderblou water of skuiling gesoek word teen die wind. Daar word verder langs die blou see gestap en vir oulaas geswem voordat die roete skuif na ‘n Jeep-track, en jy probeer in jou agterkop hierdie plek onthou want jy sal vir seker weer terugkom hiernatoe, maar dalk eerder met ‘n voertuig wat jou maklik oor hierdie warm duine sal vat.
Die busse kry ons by Die Kelders en daar is groot vreugde oor die kraan langs een van die huisies, en bottels word volgemaak, leeggedrink en weer volgemaak. Die arme kamptereinwinkeltjie by Ulienkraalsmond weet ook nie wat hom tref toe 115 studente daar instap om ‘n verskeidenheid van roomys, slaptjips, koeldrank, lekkers en nog baie meer te koop. Te lui om terug te stap tot by die tente, word daar sommer eers op die klein grasperkie gekuier.
Een vir een begin die mense terugstap om hopelik ‘n kans te kry om eerste in die storte te kom, terwyl die kokke en stokers begin met die aandete en ander stap eers weer af strand toe om die sonsondergang te gaan kyk. Dit is omtrent ‘n mooi prentjie om aan die eenkant te sien hoe die son sak in kleure van rooi, pienk en oranje, en dan aan die anderkant die maan, nou al volrond, te sien opkom teen die pers-blou agtergrond. Kitare word uitgehaal en daar word lekker gesing uit die nuwe sangbundels! Nadat damesskiet aangekondig is, word daar omtrent aangesit, of eerder, aangestaan vir ‘n ordentlike maaltyd, en net toe jy dink dat jy versadig is kom jy agter dat elkeen omtrent ‘n kwart bak roomys kry vir poeding met lekker warm sjokeladesous.
Net toe jy lekker snoesig en gemaklik lê in die slee, kondig MD aan dat daar ‘n eerste toeris in ons midde is wat nog nie gewraak is nie. Dit is Andrew Boyes. Die wraak word afgehandel en hy word ook met ‘n Hello, hello, hello gegroet.
Terug in die slee gebruik Anna-Marie en Grietjie die kans om ook vir Dries ordentlik welkom te laat voel deur met hom ook die bekende vry in die donker te doen, gevolg deur nog ‘n koninginsessie wat hy ook voor val en verleë opstaan met sy nat boude. Geïnspireer deur al die see-lewe wat ons vandag gesien het, doen Magriet en Jacomien hulle voor as twee seemeeue, Hans en Mans, wat hoogs ontsteld is oor die moontlikheid dat hulle in vrot vis kon getrap het. Dis asof die ouer toeriste besef dat dit die laaste aand is en dat daar nog ‘n hele paar items is wat nie gedoen is nie, en na dit word daar ook nie veel kans vir die res gegee nie. Hier en daar probeer daar nog iemand, anders as die item-groepie, die item volg en saamlag maar daar word sommer net lekker gesels of solank ‘n bietjie geslaap. Treffers wat wel op die verhoog verskyn, is die volgende: Die nuutgetroude paartjie wat inboek by ‘n hotel vir hulle wittebrood, die eend en hasie wat die bar besoek, ‘n eggo, die Rooi-oskoslorrie, Give her another chance, die wiskunde klas wat uitwerk hoe ver dit is van die Paarl tot in Worcester en ook ‘n blondine wat ‘n burger en tjips soek in die biblioteek.
Hekels is ook maar afgewater vanaand en die manne word omtrent uitgehaal. Julian wil onder andere by Ernst hoor hoe hy hom “nie daar gesien het nie” nadat hy aan sy boud gevat het. Magriet wil hoor by Johan hoekom iets so gay, maar so lekker kan wees, en dan sommer ook by MD wat opmerk dat ‘n bietjie gay okay is.
Vanaand is die laaste aand, so daar word nog ‘n bietjie gekuier in die slee voordat daar na die tente toe beweeg word om uit te rus vir die laaste stuk wat more gestap moet word.
Nag dames.
Woensag, 28 November: See
Op die laaste oggend word dit goed gedink dat die toergroep eerder wakker gesing moet word met Simon Streicher se bekende Oi oi, stoom stoom, gelukkig het jy die herinnering van sy ronde gesiggie wat dit sing en kan jy die paar foute ignoreer.
Aangesien almal bymekaar is, gebruik Francois en Peter die kans om die Spur-burger challenge te bemark. ‘n Kompetisie wat net deur die ware manne aanedurf en voltooi kan word; die een wat die koring van die kaf skei.
Ons prys vir oulaas die Here lekker saam, en MD lees Openbaring 12:10.
‘n Glasie sjampanje word geklink op die mense, Sarah, Sakkie, Jana, Anna-Marie, Karen, PJ, Ben, Ian, Jacomien, Kim, André, Elzette, Julian en Carli wat eers die kratgemaakte podium moet uitklim om trots grad te vang hierdie jaar. Ons vier ons derde verjaarsdagmaatjie van die toer en ook Derick word op die BTK-manier geluk gewens.
Ons beweeg af na die strand en begin die laaste dag se stap. Kort voor lank word ons tot stilstand geroep om ‘n paar mense maan toe te stuur. Vaarwel Isak, Francois, André, Ben en Andrew. Party wat al veertien toere kaf gedraf het, en ander wat nog net een aand as ‘n ware BTK-ner ervaar het.
Ons stap verder langs die hemelblou en kristalhelder water, met stukkies strand en rotse en ook ‘n hele ent op spoelklippe. Diegene wat oppad plaas of bosveld toe is vir die res van die maand probeer hul bes om die laaste bietjie blou in te drink.
By die busse gekom, word daar gewag vir die groep wat so min lus is vir teruggaan dat hulle sommer verby gestap het. Laaste foto’s word geneem en daar word benoud gevra wat die polisie hier maak.
Die rit tot in Hermanus vir Terrash is maar ‘n stil een, dalk omdat elkeen probeer om die herinneringe in te brand of maar net hoop dat die res van die vakansie sal voldoen aan hierdie hoë standaarde.
By die Spur gekom is die spanning tasbaar en die volgende manne sit aan vir die challenge: Derick, Julian, Heinrich, Lourens, Charl, Andrew, Braam, Jan, Ernst en Johannes Schribante. Die kompetisie (sonder Julian) is tight en dalk nie so aptytwekkend nie, maar dit is Braam Snyman wat met die eer van die Gala 2012 Spur-burger challenge-titel wegstap met ‘n tyd van 1:54. Die Spur ken hulle klante en ‘n lekker country liedjie, gesing deur die Campbells, word gespeel. Soos wat dit die lekker mese van die BTK betaam, is die meerderheid op hulle voete en word daar saam gedans en getiekiedraai. Hulle speel spesiaal ook vir Derick ‘n verjaarsdagliedjie.
Aangesien die teorgroep nou al geskei gaan word, word daar sommer afgesluit op die grasperk buite die Spur. Dankie’s word gesê, ‘n veilige reis en vakansie word toegewens, Nog ‘n toer is verstreke word gesing en vir oulaas word daar ge-Koning (omtrent ‘n vreemde ding om te aanskou vir die gewone Hermanus-gangers wat verbystap).
Ek het net begin om die gewone post-toerdepressie te ervaar, toe ek besef ons het darem nog die busrit tot in Stellenbosch. Ongelukkig gaan dit ook te vinnig verby.
Terug by die Neelsie, heers die algemene chaos om sake te kry, BTK-toerusting terug te besorg in die stoor en mede-toeriste te groet. Ja, ons tyd van son, see, berge (wind, reën) en meer is verby. Vaarwel toermaters, mag julle ‘n geseënde Christusfees ervaar saam met julle geliefdes.