Die oorlog teen die kloof en die koue… ‘n Skets van gebeure deur Jacomien Hauman
Woensdag, 12 Junie
Dis ‘n groep van 60 opgewonde studente wat vanoggend 6:00 by die Neelsie bymekaar kom, want glo dit of nie: dit is al nege maande sedert die BTK ‘n rugsaktoer gedoen het! Dié wat nog besig was om wakker te word van hulle post-eksamen-nagrus is vir seker nou wakker, nadat toerleier MD Greyling sy fluitjie geblaas het om almal te laat aantree. Net jammer die fluitjie was nie hard genoeg om Hendri Bruwer wakker te kry waar hy nog lekker warm slaap in sy bedjie nie.
Daar heers ‘n paniekerige chaos oor kossakke wat êrens tussen gistermiddag se pakkery en nou deurmekaar geword het en daar word rondgeskarrel om seker te maak elke groepie het darem ‘n bottel Marmite, ‘n sakkie suiker en ‘n brood of twee. Uiteindelik het elkeen sy kossak en word daar eintlik saggies gewroeg oor die kos wat wel gekry is, want waar moet mens nou plek kry vir hierdie Pick ‘n Pay sak?! Nietemin, jy druk die sak êrens in en hoop maar die brood bly heel, vat jou sak om gelaai te word en kom staan weer om volgende instruksies te kry.
Ons kon 7:13 vertrek het, en ons was ook sterk op pad a.g.v. adhoc toerleier Leroi de Wet se vertroue issues, maar ons kom op die ou end eers 7:20 weg toe Jana de Wet en Karen van der Linde ook veilig op die bus is, met hulle koppies koffie!. Gemeet aan BTK-standaarde is 7:20 nie te sleg nie!
Dis nie lank nie voordat die groter meerderheid van die toergroep hulle tweede slapie inkry, selfs die son wat in die mooiste kleure opkom, verander ook nie veel aan die situasie nie. Daar word “vinnig” gestop op Piketberg vir vyf minute, maar jy leer ook gou dat hiedie vyf minute maar net so goed soos die BTK se standaard 2,4 eenhede is. Dit is ook hier waar Jana voel dat sy dit verdien om die status van NNM te kan hê en dat sy nie van plan is om veel meer as dit te wees nie. Ek begin haar kok, Klara van Zyl, jammer kry en hoop van harte dat dit anders sal uitwerk…
Met almal wat nou vir die eerste keer weer wakker is sedert MD se fluitjie vanoggend, besluit Magriet Muller en Jacomien Hauman dit is die ideale tyd om hulself aan die toerlede voor te stel en ook hul toermaats se name te leer ken. Hierdie doel word bereik met die volgende rympie:
M: Goeie dag!
Indien jy so wonder – dit is nie meer nag.
J: Ek is Hans, dit is Mans
M: Ons is lief vir dans
J: En vir stront praat!
M: Noem ons eerder Jacomien
J: Of Magriet as jy ons sien.
Ons is al ‘n tydjie hier…
M: Maar om jou te ontmoet – is vir ons ‘n plesier
J: Vertel ons meer, ons wil graag leer
M: Maar net een naam op ‘n keer.
Nadat hierdie rympie by elke tweede ry banke herhaal is, claim hulle dat hulle nou die hele toergroep se name ken, of die meerderheid darem. Jana wil ook die name leer, maar is heeltemal verbouereerd oor hierdie Pieter… Peter Müller wat sy nie herken nie – minwetend dat dit eintlik een van haar beste vriende is wat nie kon kom saamtoer nie a.g.v. ernstige griep.
Die eksamen moes regtig uitdagend gewees het, want almal raak weer vaak soos wat die myle en die klein dorpies verbygly. Hier en daar is daar nog een of twee wat opgewonde gesels. Een van hierdie geselsendes is Reinhardt Venter wat heel rustig die volgende opmerk toe daar deur Vanrhynsdorp gery word: “Kyk, as die aalwyn jou nasionale plant is – dan moet dit droog wees hier.” Aangesien daar in elke tuin omtrent twee of drie van hierdie plante staan, is dit maklik om te glo.
Êrens naby Nieuwoudtville besluit Julian van Zyl, Leroi, Hendri, Naude van der Merwe en Reinhardt dat dit tyd is om weer die BBB, die gerugte BTK Boy Band, aan die gang te kry deur vir ons Save Tonight te sing…Ek hoop maar net dat dit beter sal gaan met môre se “Die son verrys met helder glans.”
Na die ry op die plaas se hobbelrige se pad, met blommetjies lang die pad en hekke wat net-net wyd genoeg is, kom ons by die beginpunt aan en almal is maar net te bly om uit die bus te kan kom. Sakke word afegelaai en die laaste toerusting word ook verdeel. Aangesien di took al goed na 12:00 is, word daar summier besluit om hier maaskaas middagbroodjies te e et, m.a.w meeste sakke moet weer uitgepak word. Wraakkaptein Reinhard besluit ook dat dit goed sal wees om te begin met die uitkyk van sy 34 eerstetoeriste. Minwetend van wat eintlik aangaan, reageer eerstetoeris konvenor, Jaco Delport, ook net met ‘n “ja” toe sy naam geroep word.
Klaar geëet word die sakke weer gepak en nadat daar weer ‘n kring gemaak is, word die “nie-te-lang-pad” na Brakwater aangepak. Met ‘n paar ompaaie en nie-bestaande bakens kom ons ook aan by eerste nag se slaapplek en ‘n paar benoude giggeltjies beantwoord die bobbejane se geroep vanaf die kranse. Leroi sukkel maar om sy sê gesê te kry met onderlangse opmerkings van ou toeriste. Daar word tyd gegee om te kan bad en die ouens maak solank hulle tente staan. Die meisies is baie bly omdat daar vanaand in die hut wat in wording is geslaap kan word.
Met almal relatief skoon en warm, begin die stokery. Saam met die son wat sak en ‘n kitaar wat getokkel word kan mens sommer voel hoe die stres van die semester en eksamen uit jou dreineer. Dit wil voorkom asof die kossakke toe nié vanoggend heeltemal uitsorteer is nie, aangesien groepies 4 en 5 nog steeds op soek is na hul smash ander bestanddele.
Toe almal se mae uiteindelik iets in het, vra Leroi dat daar in die slee geklim moet word, net jammer die meerderheid van die toergroep weet nie waarvan hy praat nie. Slaapsakke word gehaal en die eerstetoeriste kom maar so stil-stil nader terwyl ou toeriste sleepilblikke en sleesous – dankie Julian – uitruk. Gustav Wiid en Madilien Roos verduidelik wat skiet is, en Leroi volg met so ‘n halwe verduideliking van wat damesskiet en slee dan nou is, terwyl Julian van mening is dat jou sleedate ‘n moontlike husidansdate kan word. Die skerpskaap-item word gebruik as voorbeeld, met Klara, Daniël Nel, Pauline van der Nest, Marina Laubser, Nicholaas van Rensburg, Julian, Leroi as skape en Gustav as die wolf. Hekels is ook maar ‘n moeilike ding om te verduidelik, en Julian gebruik die volgende as voorbeeld: “Ek wil graag by Leroi weet, wat het hy bedoel toe hy gesê het hy is nie lus om 15 meisies te score nie.” Leroi reageer deur te verduidelik dat hy eintlik van stort gepraat het en hy moeg geword het daarvoor toe hy as eerste jaar Huis Marais se klip moes oppas.
Met hierdie halwe verduidelikings agter die rug, volg daar nog ‘n paar items. Wallie en haar agtervolger swem deur die diepe waters, en Hans en Mans mis net-net ‘n vrot vis. Troepe Leroi, Gustav, Jana en Magriet tree aan om vanaf Reinhardt, via Julian, te hoor dat hulle ma’s oorlede is. Met die hulp van Jolandie van Niekerk, Julian, Jaco Delport, Jacomien en Madilien ontklee Pauline ‘n kaboutertjie en Karen raas in die fabriek met gloeilamp Madilien en ‘n baie skerp blondine, Jacomien.
Daar is ook nie veel hekels vanaand nie, en warmer lê-plekke word gekry vir die nagrus en ook die reën wat later sal kom.
Nag Dames.
Donderdag, 13 Junie
Die son verrys nié met ‘n helder glans vanoggend nie, en ek probeer onthou wanneer laas die BTK gestap het wat daar nie reën was nie. Gelukkig het ons ook nou al geleer dat daar wel in die reën gestap kan word, so sakke word gepak met ‘n mistige reëntjie wat oor die vlakte val. Jy’s tog te dankbaar vir die hut en gaan skuil solank daar terwyl die res van die toergroep oppak.
Die toergroep word volledig met MD, Carel-Bart Viljoen en Lisé Marais wat na hul half-beskutte nag, by ons aansluit. MD gebruik sommer die geleentheid om iets te deel van God se genade en doen voorbidding vir die dag.
Sonder toerouers, is dit ‘n buitengewone ordentlikheidspraatjie, en met net 22 ou toeriste, is die Koning wat volg ook nie een van die mees suksesvolle nie. Met gemoedere gelig, val ons in die pad. Daar word sommer goed opgewarm deur met ‘n bult te begin, en nog beter – deur eers verby die afdraai te stap. Die reën word soos ‘n ekstra toermaat wat hier om jou beweeg, maar gelukkig kanselleer die ander toermaats dit uit en word daar so stuk-stuk in die nattigheid gevorder. Met kranse wat ‘n effense beskutting bied, word game break vinnig geniet, sodat rugsakke weer opgetel kan word en lywe weer warm gestap kan word.
Met die bystand van kettings, leertjies en helpende hande bereik ons die bopunt van die een krans, net om ‘n paar foto’s te kan neem, en dan weer af te beweeg in die mistigheid. Die reën kom en gaan en dit wil-wil begin lyk of die son dalk mag deurkom. Hambroodjies word sommer so in die paadjie geniet vir middagete, met Jana wat oor haar voete val om ‘n plat plek te kan maak vir Julian wat ‘n cuddle plek soek.
Die stap wat volg is omtrent ‘n op en af besigheid met die rivier wat sterk loop hier onder ons, en dit wil begin voel of jou arms en polse meer werk as jou bene. Toe die paadjie weer by die rivier verbygaan, word daar gestop vir die eerste en enigste toerfoto. Die reënboog in die verte lyk heel belowend en dit laat ons hoop dat die reën eers verby is …ons begin die laaste klim vir die dag.
Dit sukkel maar om teen die son te wen, en kort voor lank is die donker hier om ons, en daarby moet daar nog onderdeur ‘n waterval beweeg word. So word die boodskap maar van die een na die volgende aangestuur oor wanneer jy kan deurbeweeg, wanneer om jou sak af te haal en wanneer om te koes. Ongelukig gebeur dit ook dat jy, maak nie saak hoe goed jy luister nie, een of ander tyd onder die waterval staan. In jou agterkop vorm die besef dat: as daar dalk nog iets droogs in jou sak was … dit is nou nie meer droog nie. Met ‘n bietjie deursettingsvermoë en positiewe woorde is jy uiteindelik deur en baie dankbaar vir die pale wat die trappies stabiliseer om jou bo by Driefontein te kry.
Dit lyk omtrent soos ‘n miernes wat oopgeskop is soos wat almal met hul wit kopliggies rondskarrel om lêplek te kry en om droog te kom. Daar word skuiling gesoek onder die rotshange en die stokery begin. Wilmarie Gericke ontdek Groepie 5 se pakkie smash wat gisteraand soek was.
Toerlede kom een vir een kos haal en gaan skuil dan maar weer in tente. Daar word nog hier en daar gekuier, maar die idee van lê en gesels in die tent is ‘n groter aantrekkingskrag vir die meerderheid van die toer.
Met reën wat kom en gaan en die koue wat sny, probeer mens maar so na as moontlik aan jou tentmaat lê en toe Jaco Delport uiteindelik sy lê het word die kamp stil.
Nag Dames.
Vrydag, 14 Junie
Dit voel omtrent asof ons op vakansie is en nie wakker gemaak word nie, maar solank slaap soos wat jy wil, of… tot jy nie meer kan lê in hierdie een posisie nie. Soos wat almal wakker word, word daar sommer ‘n kledingstuk of slaapsak saamgebring na die vuur toe in die hoop om dit dalk droog te kry. Stories van die koue nag word uitgeruil, onder andere vertel Leroi dat sy voete ver is van sy lyf, daarom vat die hitte bietjie lank om daar uit te kom as hy met sy bene reguit lê.
Muesli word geëet en cappuccinos word gemaak om aan die gang te kom. MD probeer die planne van die dag (dat ons hier gaan bly) deurgee, maar word onderbreek deur die bewegende boom wat nader kom, wat toe al die tyd net Nicholaas is wat nog hout nader bring.
Oggendgodsdiens word gehou met Wilmarie wat vir ons Psalm 46 lees. Die meerderheid besluit om sommer net daar te bly en daar word nog vir ‘n hele ruk lekker saam gesing. Wraakkaptein, Reinhardt, probeer die eerste toeriste bymekaar kry sodat hulle kan oefen, maar Emily van der Merwe en Leonore Conradie het ander planne.
Die res van die dag heers daar maar ‘n lui atmosfeer. Daar word rondgekuier, kaart en kitaar gespeel en uitgekyk. Dit lyk omtrent soos ‘n skoenwinkel by die vuur met almal se skoene wat staan om droog te word, net jammer dat as jy nie self daar staan om dit te beman nie, jy gaan terugkom en een van die volgende situasies aantref: 1. Iemand het jou skoene agtertoe geskuif, en dit kry nou glad nie meer hitte nie, of 2. Iemand het jou skoene afgestamp en dit lê nou in die as en is dalk besig om te smelt. Leroi is al so moeg vir die reën, dat hy tot probeer om vir hom ‘n afdakkie te bou met ‘n seiltjie en paar takke, met die klem op probeer.
Soos wat MD die middagbroodjies nader roep, is dit asof hy ook die reën aanroep wat saggies weer begin val. Dit is omtrent ‘n rumoer wat losbreek terwyl daar weer heen en weer geroep word vir hierdie groepie se grondboontjiebotter, daai een se brood en ‘n ander een se stroop.
Met magies vol, word die gekuiery voortgesit en word daar weer saam gelag en gesels en om my sien ek hoe nuwe vriendskapsbande gevorm en oues versterk word. Geduld word ook beproef toe ‘n paar van die manne met groot gesukkel, en met billy deksels, pannekoeke wil bak.
Die middag gaan heeltemal te vinnig verby en kort voor lank word die stofies weer aangesteek om te begin stook aan vanaand se pasta-gereg, so ‘n mengsel van tuna- en basilpasta. Te bang om dit hardop te sê, word die boodskap huiwerig oorgedra dat dit besig is om oop te trek, en daar word met groot glimlagte opgekyk na die hemelruim bo ons.
MD gee die reëlings deur van môre en terselfdertyd word hekels ook oopgemaak. Wilmarie wil sommer ook dadelik by hom (MD) hoor wat hy bedoel het toe hy dié rondom hom probeer gerusstel deur te sê dat hy nog nie ‘n pa is nie. Jaco wil hoor hoekom Silja Kiessling sê sy’s gewoond daaraan om geslaan te word en Magriet vra vir Leroi en MD uit oor hulle denkrigting van pannekoek in ‘n pot te probeer bak. Madelé vra vir Mari hoekom sy juis vanaand maklik is en Julian vat Hugo aan oor sy eerlikheid oor die feit dat hy besig is om Game of Thrones te kyk. Gustav vra ook vir Reinhardt hoekom hy virJollie sou sê sy lyk soos die dood, waarop Reinhardt heel onskuldig antwoord: “Ek was baie eerlik.”
Met sterre wat bo ons verskiet word daar verder gekuier en dan ook aangeskuif bed toe. Net soos wat ‘n mens gemaklik lê en insluimer met die geluid van die paddatjies, skrik jy weer wakker van ‘n skaterlag uit Matty Scholtz, Anja Smit, Karen, Madilien en Jana se tent.
Nag Dames.
Saterdag, 15 Junie
Die stokers is vroegdag al aan die raas, en daar word sommer al in die donker opgestaan en die oppakkery begin. Kyk, as jy gedink het dis moeilik om na een aand op te pak, is dit ‘n heel ander prentjie om na twee nagte en een dag op te pak. Daar is omtrent chaos met ‘n hoop van verlore goed wat gevorm word van groepies se marmite en potte wat verskuif het. Die rommel word gebrand en die storie versprei selfs dat dié gasse al deel is van die eerste toeriste se wraak. Met sakke wat gepak is en tente wat nog aan die sak is, word daar nader gestaan om dalk eerste die hitte van die son te kan voel. Jana en Jacomien maak ook van hierdie geleentheid gebruik om die toergroep bietjie op te warm en reg te kry vir die dag se stap. Die dag se afdraend stap.
Daar was gerugte met eergister se opstap dat ons weer hier gaan moet af, maar iets in jou het tog gehoop dat dit nie waar is nie, maar jy’t verkeerd gehoop. Ons begin vandag met ‘n intense afklim. Net om onder te kom by ‘n rivier wat sterk loop. MD gaan vooruit met ‘n stok en Gerhard Rossouw sorg vir touwerk en so word daar ‘n heel veilige roete oor gevind. Die ouens gaan eerste om ‘n treintjie te kan vorm, waarna ‘n paar sakke volg en toe is dit die meisies se beurt. En sien, as jy teen hierdie tyd nog nie vertroue gehad het in een van die ouens nie, het jy nou. Dit is ‘n trein van stewige grepe wat oorhelp, met voete wat in die ysige water staan.
Toe almal uiteindelik aan die anderkant is, en sakke, bottels en skoene opgespoor is êrens in die paadjie, of daar verneem word dat dit in die water afgespoel het, word daar sommer besluit dat game break hier gehou gaan word. Fruit danties word heen-en-weer gegooi terwyl hare gewas word.
Met skoon hare, soveel as moontlik nat goed wat aan die buitekant van rugsakke hang om te kan droogword, begin ons die dag se stap. Daar word omtrent geklim, maar met die son wat vir die eerste keer op hierdie toer, lekker warm bak is die gemoedere vrolik en ek wil sommer net uitroep: “Nou toer ons!” Die spoed word egter gou weer gebreek as daar gewag moet word om deur noue skeure te kan klim en dan ook uiteindelik opgetrek te word déúr die skoorsteen. Net jammer dat vir party, soos Silja, net die rugsak vasgehou word met bene wat rondskop. Dit voel omtrent asof jy nuwe lug inasem as jy uiteindelik deur is, maar net om gou weer benoud te raak toe ons agtergekom dat die voorste deel van die toergroep so ver vooruit is dat ons nie eers weet watter kant toe. Toe almal uiteindelik weer bymekaar is en koppe getel is, word daar verder teen ‘n gemaklike pas en op ‘n gemaklike roete gestap.
Ons span uit op ‘n plaat klippe vir middagete en provitas en worsies word voorberei. Die tydjie van niksdoen in die son is heeltemal te vinnig verby en dis maar swaar om weer jou sak op te tel, veral as jy nie betyds was om ver voor die eerste toeriste te stap wat weer begin oefen vir vanaand se wraak nie.
Ons vorder heel goed oor die plat terein en daar word lekker gesing, gesels en gelag. Totdat daar weer ‘n stroompie oorgesteek moet word, vir die soveelste keer. Daar word sommer vinnig plan gemaak om van die begraafplaas se klippe te gebruik om oor te kom… dit daar gelaat.
Ons kom teen 16:00 by die kampterein (met water!) aan. Die dames kry eerste geleentheid om te gaan bad, terwyl die ouens probeer om die vuur aan die gang te kry. Alicia Bestbier vat voor met die kitaar en al die meisies staan om die vuur en sing met skoongewasde hare en honger magies, terwyl daar vir die ouens gewag word om skoon te kom. (Dankie Jana vir daai insetsel in die skets).
Met son wat aan die sak is, word die stokery vir die rysgereg begin. MD raak so verbouereerd dat hy sommer water op ‘n brandende stofie wil gooi. Na groot gesukkel en met oorversadigde mae, kom almal in die slee – reg vir die wraak!
Nadat die gehoor gegroet is, begin ‘n item in die padda-hemel, met Leentjie Visser as die engel en Anja Smit, Matty Scholtz, Coba Kellerman en Simonne van Eden as padda’s. Koggelmander, Johan Bllignault kom verby en loop oor die sandhoop, Emily van der Merwe. Febre van der Merwe, Jaco Delport, Emily, Janneman, Johan, Madalé Bezuidenhoud, Marie en Leonore Conradie ry deur die BTK se McDonalds drivethrough, daar’s sommer 12 bestuurders in een kar. Pauline wys bietjie watter moves ouens kan gebruik om ‘n BTK-meisie te beïndruk, met die hulp van Anja Conradie, Jana Meyer, Alicia, Engela en Kobie van Schalkwyk, Lise Marais, Marsy Olivier en Alta Zietsman.
Supersterre is volgende, met aanbieder Danielle Foot wat Patricia Lewis vertolk. Die deelnemers is: Cecilia Anderson (met ‘n goeie weergawe van: Cecilia, you’re breaking my heart), Annamart Laubscher en Karel-Bart. Silja is juffrou Rottemeier wat vir Heidi soek, terwyl die twee Barbies, Simon wawawawitz en Nicolaas van Rensburg baklei oor hul Ken Daniël Nel.
Voordat die voorgeskrewe liedjies gesing word, en deur Julian en Hugo onderbreek word, sing die eerste toeriste eers ‘n selfgeskrewe liedjie:
As die donker my kom haal
en MD my nie soek nie
as my droë klere vergaan
en in ‘n modderplas van water val
begrawe my hart op Oorlogskloof se boom
En strooi my as oor die Bosveld horison.
Ons het nog nie ‘n graad nie
en ons het nie ‘n studentekaart nodig nie
Om in die grond en reën soos ‘n kind te baljaar
en in die verte in van ‘n krans af te staar…
Die gelukkigste wat ek ooit was
op die naat van my rug in die natuurreservaat
Die wind sing my naam
en met die tentflap wat klap…
My naam is Carel-Bart
Met die soetheid gesmaak, kuier almal eers weer om die vuur en loop dan sleepvoet weg van hierdie hitte om weer in die slee te klim. Tradisionele items begin sommer dadelik met Gustav en Julian wat vir Leentjie in die donker vry. Hendri, Reinhardt en Julian plant ‘n groentetuin, met Cecilia, Esmy, Simon, Danielle, en Daniël. Magriet en Jacomien beeld ‘n samurai en ninja geveg uit, en probeer ook ‘n burger en tjips koop in die biblioteek. Laaste item van die aand sluit supplies en kano’s in.
Julian hekel vir Nicolene oor haar opgewondenheid dat sy nou high was saam met ‘n hele groep mense. Leroi word uitgevra oor sy soektog na sy onderbroek en Hendri vra vir Pauline hoekom sy sou sê: Ek het so seer, ek kan jou mascot wees. Alicia het blykbaar ook vroeër die aand vir MD gesê: Jy is geblom! En Wilmarie vra haar uit daaroor.
Vanaand is dit behoorlik koud en almal is gou in die tente, behalwe vir die paar brawes, of dalk malles, wat die koue trotseer deur buite te slaap.
Nag Dames.
Sondag, 16 Junie
Daar word weer vroegoggend opgestaan uit gevriesde tente, en dit is met groot verbasing dat mense een vir een gevriesde kledingstukke na vore bring wat veronderstel was om droog te word. Die son wat oor die koppies opkom, verskaf weer groot opwinding soos wat die kamp vir oulaas afgeslaan word. Nadat daar klaar oggendgodsdiens gehou is, gee MD die reëlings van die dag deur. Hy vra ons ook mooi om nie te skrik as ons ‘n ambulans sien nie, wat maar ‘n moeilike ding is om jou voor te stel na die paar dae in afsondering.
Rugsakke word vir oulaas opgetel en die dag se stap word begin. Kyk, vandag word daar net met een doel gestap en dit is daai Interkaapbus wat gehaal moet word. Die roete, wat veronderstel is om die noodroete te wees, is ook vol uitdagings van op en af, onderdeur tussen die klippe en bo-oor nóg stroompies.
Na ‘n lekker stuk op die tweespoorpad is ons weer by Brakwater. Daar word van die geleentheid gebruik gemaak om sakke ordentlik leeg te maak, en elke laaste pakkie provitas, jellybabies en suurwurms word gedeel. En natuurlik word daar groepiefoto’s geneem dat dit goedgaan.
Ons groet vir Jana en Silja wat agterin ‘n bakkie met ‘n hond of twee klim, en draai om, om sommer dadelik vir Janneman geluk te wens met sy verjaarsdag – op die BTK manier natuurlik.
Die laaste klim word omtrent uitgehardloop, en die wat braaf is stap sommer die laaste stuk kaalvoet nadat daar oor ‘n “gebruiklike” stroompie gespring moes word.
Terug by die beginpunt word daar onder die bome uitgespan terwyl daar vir die hele toergroep gewag word en laaste foto’s geneem word. Die kans om te kan stort, word ook sommer deur die meeste van die hand gewys, dis lekker by die BTK. Gentlemen’s challenge word gehou en dit is Febre van der Merwe wat met die louere wegstap.
Met sakke wat gelaai is, word daar op die bus geklim en ons begin die pad terug. Laaste geselsies word vir oulaas gesels, en ander wat nie meer kan uithou nie werk solank ‘n middagslapie in. Jacomien en Leroi besluit om ‘n bietjie tydtoetsie te doen deur op die sitplekke se rugleunings vorentoe en agtertoe te hardloop. Dis ook nie lank nie, of Leroi kry net ‘n kyk, gevolg deur ‘n kopskuddende glimlag, van die busbestuurder, ook maar goed – anders was sy ego dalk bietjie gekrenk. Met sneeu op die verste berge, en die son wat sak (en dan weer verskyn), kan mens nie help om sommer ‘n paar terugflitse van die afgelope toer se prentjies en situasies te kry nie.
By Piketberg gekom word daar dadelik aangesit vir die Spur challenge, wat deur Reinhardt goed bemark word met die geskiedenis (wat draai in die Visrivier, by Desmund Tutu en natuurlik die huidige rekordhouer, Daniël Kotzé) van hierdie geleentheid, terwyl Hendri die logistiek van die uitdaging behartig. Soos gewoonlik, veroorsaak Julian groot verwarring deur op die “roei” opdrag heel rustig en normaal te begin eet. Nicholas wen die titel van Oorlogskloof 2013 Spur challenge met ‘n tyd van 2:26:81.
Daar word sommer op die Spur se parkeerterein afsluiting gehou, met dankies en ‘n koning.
Daar word omtrent uitmekaar gespat met die stop by die Neelsie. Almal weer op hul eie koers vir die vakansie wat voorlê. Ons het die oorlog teen die kloof en die koue oorwin, en daarmee ‘n spesiale kameraadskap gesmee wat nog lank as ‘n soet herinnering by ons sal bly. Vaarwel toermaters, vaarwel – ons sien mekaar weer in die nuwe semester.