Outeniqua 2018

Outeniqua September 2018 

 

Dag 1 – 8 September 

 

Dit was al heeldag besig om te reën toe die groot wit bus met die mense by die pad opgery kom. Dit het ‘n oomblik stilgestaan voor die deur oopgegaan het en hulle begin uitkom het. Party van hulle het groot sakke op hulle rûe gehad en hulle het so bietjie gelyk soos die skilpadjies waarmee ek partykeer speel. Ander het weer enerse groot sakke uit die maag van die bus gehaal. Maar hulle het almal so vinnig as moontlik onder ‘n dak gekom – helfte van hulle onder die dak waar die boer die groot trokke regmaak, en die ander helfte onder die dak waar die boer sy masjiene stoor. 

 

Hulle het hulleself studente genoem en gekla van hoe vroeg hulle al wakker is en dat die vyf ure op die bus nie veel gehelp het om hulle te laat uitrus na die besige kwartaal nie.  

“Maar dis mos hoekom ons BTK,” het een gesê en die ander een het hulle skouers gelig en met voorbehoud saamgestem. 

 

Na ‘n rukkie van die studente wat lyk of hulle almal hulle skilpad-sakke uitpak en weer inpak, het een van hulle, wat ek later geleer het se naam Louw van der Heever is, almal nader geroep en het hulle almal onder die masjien-stoorplek-afdak Middagbroodjies geëet, soos hulle dit noem. Dit het steeds gereën en ek het gewonder wat hulle hier maak. Sou hulle…? 

 

Toe hulle klaar was het hulle bus ook al lankal gery en het hulle al hul goed weer in die sakke gepak en ‘n kringetjie gevorm. Louw het gepraat en toe gaan ‘n meisie met die naam Suzaan Hobson in die middel van hulle sirkel staan en hulle sing vir haar “Lekker verjaar ou maat”. Toe vorm hulle twee rye – die meisies en die seuns aan aparte kante – en val mekaar aan. Ek kon nie anders as om ook aggressief te raak nie en byt ‘n paar hakskene in die proses. Dit was nie ‘n goeie besluit nie. 

 

Schalk Marais was slot en sy sleutel Mart-Marié Serfontein. Ek verstaan nie wat die punt was nie, want teen die einde van die dag het hy in elk geval vier ander sleutels bygehad in die vorm van Cecile “Toto” de Wet, Elsa Kriel, Chrisjan Wüst en Alex Nel. Die groep studente sit toe hulle sakke op hulle rûe en val in die pad (eers die verkeerde een, maar hulle het gou hulle fout besef), by die berg op. Eindelik het ek besef dat hulle hier was om te stap. Wel, in daardie geval was ek ook. 

 

Dit het nou en dan gereën, so hulle het maar almal hulle raincovers oor hul doppe gehou. Toto het opgemerk dat almal soos jellybeans lyk en Elsa het gelag en saamgestem. Halfpad teen die berg op het ek my halsband verloor, maar ek het glad nie gekla nie. Hoe minder gewig ek vir die staptog saamdra, hoe beter. Die studente het my hoeka vreemd aangekyk hoe verder ek saam met hulle stap en een het hardop gewonder hoe ver ek nog gaan saamstap, wanneer ek gaan omdraai. 

“Hierdie hond lyk of hy hierdie pad ken.” 

Hulle hoef nie te weet nie. 

 

Toe ons die laaste groot bult vir dag op is (en ‘n paar amper gesig eerste in die modder van die nat paadjie geval het), het dit begin hael. En in plaas daarvan dat dit hulle aanspoor (ons kon al die hut sien!), het meeste van hulle gaan stilstaan, hulle gesigte na bo gedraai, geglimlag en hulle monde oopgemaak en die hael uit die lug probeer eet. Mense is darem snaakse skepsels. 

 

Dit is darem nie te ver tot by die hut nie (vandag was in elk geval net 8 km) en dit is ‘n reguit stuk pad teen die kontoer langs. Almal trek in een van die vier kamers van die hut in, meisies en seuns weer apart. Hulle het ‘n vreemde digotomie, blyk dit. Maar ek moes maar alles van ‘n afstand af dophou. Mensekamers is nie vir honde nie.  

 

Kort voor lank het al 36 van hulle onder die lapa saamgedrom en het hulle ‘n vuur aangesteek, hulle nat skoene en sokkies in ‘n netjiese radius daarondom gepak en kos begin maak. Ek het iemand hoor sê hulle weet nie hoe sestig BTKners hier sou inpas nie. Ek ook nie. Ek was nog heeltyd nat gewees na die dag se slegte weer en van die studente besorg hulself toe oor my en probeer my by die vuur kry dat ek kan droog word. Min weet hulle dat ek al baie erger omstandighede sonder ‘n vuur oorleef het en het geweier om naby te kom. Maar, ek was nie dom genoeg om, toe die seuns my vir die aand innooi om agter ‘n toe deur te kom slaap, die aanbod van die hand te wys nie.  

 

Dag 2  9 September 

 

Die mense is die volgende oggend vroeg op en hulle het beter gelyk as die vorige aand, toe hulle almal om die vuur saamgedrom het en hulle wors, braaibroodjies en plaatkoekies gemaak het. Ek gaan nie jok nie, selfs op die afstand wat ek gehou het, het dit baie lekker geruik. 

 

Een van die studente kla dat die kamers baie klein was en die feit dat hier geen elektrisiteit is, nie eens vir kamer ligte nie, het nie so lekker by haar gesit nie. “En dan praat ek nie eens van die Eco-toilette of die feit dat daar geen wasbakke is nie.” 

Wat het sy verwag, wonder ek. 

 

Ek hoor dat Mart-Marié vir Louw sê dat ek nie kan saamkom nie. Sy praat van my as “Samuel”. Dis die naam wat Louw gegee het, omdat ek “saam” gekom het. Ek hou nogal daarvan.  

“Louw, Samuel kan nie saamkom nie, ons moet hom hier los.” 

“Hy het nou al sover gestap, ons kan hom nie hier los nie.” 

Sê haar, Louw! 

“Wie gaan hom voer?” 

Ek het nie daaraan gedink nie… 

 

Ons het teen 08:15 begin stap, en ek het seker gemaak dat ek heeltyd net-net agter Louw gestap het. Ek ken die berge, maar hy is ons leier. Dit reën weer ‘n bietjie, maar niks so erg soos gister se stortvloed nie. Maar dit beteken nie dat alles nie nog steeds druppend nat is nie. Die studente wonder of hulle nie op ‘n roeitoer is nie, want die paadjie waarin ons stap is meer stroompie as paadjie en hulle trap maar mooi om hulle voete so droog as moontlik te hou. ‘n Paar van hulle gly en val lekker hard en so oor die radio’s hoor ek dat Mari-Louise Vermaak haar enkel geswik het. Maar sy stap aan. 

 

Die eerste deel van die roete is bietjie op en dan baie ver af, na die eerste rivier toe. Ons verloor omtrent al die hoogte wat ons gister by opgeklim het. Ons kom by die eerste rivierkruising op die roete, maar ons kon die rivier al ‘n geruime tydjie hoor. Volgens Marianne Breytenbach reën dit al die afgelope twee weke in dié geweste, en dus is dit geen verbasing dat die rivier so sterk afkom nie. Die mans trek hulle skoene en hemde uit en vorm ‘n treintjie oor die rivier, elkeen wat vir hom ‘n stewige plekkie kry om op vas te staan. Toe stuur hulle almal se sakke oor en Christiaan en Hanno Lambrechts hardloop in afwisseling teen die oorkantste oewer uit om die sakke so hoog en droog as moontlik te kry. Die meisies staan almal op ‘n uitkykpunt en moedig die seuns aan deur te sing en krete uit te skree. Ek het ‘n paar van die seuns hulle borste sien uitpof, ‘n geheime glimlag op hulle gesigte. Toe volg die skoene, baadjies en bottels (ons het slegs een bottel verloor) en toe die meisies. Mathilda Smith het die slegste van almal van die kruising afgekom toe sy verkeerd beduie is en dog sy trap op ‘n klip maar dit eintlik ‘n gat was en sy net so nat soos die ouens geword het – met baie meer klere aan. 

 

Ek is ook oor, sonder hulp van iemand af. Ek is ‘n sterk swemmer gebore, maar die yskoue water slaan steeds my asem weg. En die manne het vir amper 40 minute hierin gestaan? Dalk is mense tawwer as wat ek gedink het. 

 

Die res van die roete was redelik eners: Na elke af is daar ‘n stroompie of rivier wat oorkruis moet word (darem nie weer so groot een soos vroeg die dag nie), en dan kom die groot op, om weer hoogte te kry. Dan is dit ‘n rukkie op gelyke grond langs die suidekant van die berg langs,  voor daar weer afwaarts geneig word in die volgende vallei af. Die studente staan elke nou en dan stil en kyk terug op die pad wat ons al gestap het, met Windmeulnekhut wat heeltyd in hulle visier bly. Al wat verander is dat dit kleiner en kleiner raak, maar mens kan steeds die drie vormpies in die saaltjie, tussen die twee pieke, sien. 

“Dit maak nou sin hoekom dit Windmeulnek genoem word. Dit sit in ‘n nek waar die wind die heeltyd waai,” merk Jacques Theron op.  

 

As die paadjie nie modderig is nie, dan is die mosbedekte klippe glad, of die ruigte varings steek weg hoe styl die afgrond is. Heeltyd kan ons die see sien, asook die berge rondom ons. Die plante is dig, maar daar’s nie groot bome wat ons uitsig belemmer nie. Na middagete, waar Mart-Marié, tot afgryse van haar groepie, vir my twee halwes van haar tuna-broodjies gegee het om te eet, neem Schalk oor as leier en is ek eers bietjie verward, voor ek maar besluit om saam met hom voor te stap. Mens kan mos nie diskrimineer nie. Maar een mens waarteen ek baie graag wou diskrimineer was Mari-Louise. Vir iemand wat vroeër die dag haar enkel “geswik” het, het sy baie goed voor bygehou en het heeltyd agter Schalk gestap. Weet sy nie dat die tweede plek myne is nie? Na ‘n rukkie het sy haar plek besef en het opgehou om voor my in te druk. Haar payback was dat sy saam met Elsa en Toto heel partykeer lekker in die modder gegly het, soveel so dat hulle na ‘n tydjie ophou tel het. 

 

Op ‘n stadium loop die enkelspoor paadjie vas in die Jeeptrack wat al die hutte met mekaar verbind en ek wéét sommer ons is naby Platbos. Ons stop en toe Jannie du Toit en Ernelene Bothma (slot en sleutel vir dag) met hulle bossie 1ste toeriste wat besig was om Die Liedjies te leer, ook eindelik daar aankom, roep Louw “skiet is oop”. Wat toe gebeur was amper so erg soos de vorige dag toe hulle “De Machtigie Koning” gesing het. Skielik begin al die seuns die meisies te jaag en daar was ‘n paar minute van absolute chaos, voor almal weer begin stap het. Ek dink nie ek moet hierdie BTKners meer bevraagteken nie. 

 

Die hut verskyn skielik so tussen die bome deur en almal gaan lê op die grasperk rondom die hut. Die laastes kom ook daar aan, betraand of nie, na die dag wat as 18,5 km begin het, maar nader aan 19,5 km geëindig het. Vanaand het die toeriste, soos hulle van hulself praat spoeltoilette, twee wasbakke (met seep) en ‘n stort per geslagsgroep, maar steeds nie warm water nie. Maar, dit weerhou hulle nie van toustaan vir die storte nie en gou is die lekker kuier eintlik daar. Ek hoor Schalk sê dat hulle geen van dit wat daar gesê word kan hekel nie, omdat dames- en manskamp so naby aan mekaar is. Dit het gesorg vir ‘n paar los tonge wat almal laat lê het van die lag. 

 

Waar dit warmer was, is in die lapa, waar daar ‘n groot vuurmaakplek is en waar almal weer hulle sokkies en skoene rondom die vuur uitstal. Dit het vir party nie té goed geëindig nie, omdat ‘n paar van die skoene se rubber begin smelt het en vir ‘n paar ander weer, soos Jakobus Smit, het die elastiese drade in hulle sokkie gesmelt en was hulle sokkies nou hard en minder gemaklik. Maar, all in all is dit gesellig rondom die vuur soos die kos voorberei word en is almal bly dat die weer beter as gisteraand is. 

 

Mart-Marié het my van hulle oorskiet pasta gegee as aandete en toe gaan sit almal in die slee en wag vir die eerste toeriste se item. Ek is mos maar eintlik ‘n buite hond en het nie menseliefde vreeslik nodig nie, so ek het duskant die slee gelê, langs die mooi helder liggies. Toe kom staan die eerste toeriste almal langs my en begin met mekaar te praat. 

 

Mias Marais was die storieverteller en die storie wat hy gehad het om te vertel was vreemder as vreemd. Ernelene was die basterkind van ‘n vlermuis en ‘n vlieënde hoop-hoop wat ‘n identiteitskrisis deurgemaak het. Sy kan nie vlieg nie en hop-hop toe deur Afrika, Engeland toe, na die dokter wat haar sal kan help. Op pad gaan sy verby Marike Wilkens die nonnetjiesuil, maar al wat Ernelene kan doen is om vir Marike te lek. Volgende op haar tog kom sy vir Colene Bosman die Outeniqua Loerie tee, maar die kan haar ook nie help met ‘n identiteit nie. Ansophí Madsen-Leibold is ‘n houtkapper wat net knock-knock grappies kan vertel en toe Ernelene nie ook self ‘n snaakse een kon vertel nie is sy daar ook weg. Joch Thielen is ‘n vlieënde volstruis en sê vir Ernelene dat as sy kan vlieg sy by hom kan bly. Maar sy kan nie en moet toe maar verder aan, Engeland toe. Sy kom toe by Nicholas Trivella, die wyse Professor Uil uit en wys toe uit dat sy groot tande en ‘n stert het en dat sy daarvolgens ‘n hond is. 

“You are Samuel’s half cousin, and your true call is not “woo-woo”, but “woof-woof.”  

Hulle sing ook toe vir ons Die Liedjies, maar dit is nie goed genoeg vir Chrisjan, wat Wraakkapetein is nie. Hulle word toe die opdrag gegee om weer te gaan oefen en hulself more te redeem (beter woord? afr??) 

 

Na die Wraak moes almal van die vuur weggetrek word terug slee toe. Hulle slaapsakke het natgedou, maar sit het hulle bly sit. 

 

Items 

 

Hanno open die aand met Ballade vir ‘n Sterwende Bok 

Janneman Gericke en Jannie is Mario en Luigi en moet aanskou hoe Maria stuk-stuk verbydryf. 

Louw is Meneer Nelson Mandela wat heeltyd gepla word deur Cheng Lee (Hanno) wat frendi-lee auto parts vir hom probeer aflewer. 

Troepe en die raaisel van die poef, met Louw as Sersant, en Christiaan, Chrisjan en Mias as die troepe. 

Hanno, Mias, Chris en Chrisjan is boesmanne wat sukkel met die SAWD. 

 

Hekels 

 

Mart-Marié wil by Mias hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek suig graag daaraan.” 

Jacques wil by Mart-Marié hoor wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Wie wil ‘n suigie hê?” 

Janneman wil by Hanno hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Jy vryf so bietjie aan hulle dan leer jy hulle ken.” 

Gina Loedolff wil by Schalk hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Die roete vorentoe is soft en fluffy.” 

Jacques wil by Louw hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “My GPS sê dis nog so 400m.” 

Schalk wil by Daniël hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Nee julle, Carina is mos maklik.” 

 

Dag 3  10 September 

 

Die studente is weer sesuur op, nes gister, maar dinge loop baie vinniger. Dis asof hulle gewoond raak aan die ritme. Die roete begin met ‘n skerp afdraande en vir die eerste keer stap ons deur die woud. Die lig is groen soos dit sukkel om deur die takke tot op die grond te skyn en elke nou en dan stop Louw en dan raak hulle almal stil en luister na die klanke van die bos. Daar is soveel verskillende voëls en die rivier se geruis raak ook stelselmatig harder soos ons aanstap. Maar, ons stap nie heeltyd deur die ruigtes nie, en plek-plek klim ons op die bospad vir ‘n wyle, voor ons weer afdraai op die enkelspoor. Die voetjieteken wat oral ons pad aandui is Louw se god en ons volg hom asof ons lewens daarvan afhang. In ‘n mate dink ek dit het. 

 

Op 4,5 van 15km kry ons ons eerste rivierkruising. Dis op ‘n plek net voor die rivier draai en verder in ‘n klofie afspoel. Soos gister is die stroom steeds sterk, maar vandag is daar gelukkig ‘n tou van boon tot boom gespan waaraan die toeriste kan vashou. Dis skoene uit en oor. Vandag kan die sakke op die rug bly. Arme Mathilda was weer die ongelukkige een na sy nie weer val nie, maar hierdie keer haar balans verloor en mooi netjies in die rivier gaan sit. 

 

Ek was besig om die olifant se spoor langs die rivier te volg omdat ons al heeldag lank verby groot klonte mis gestap het, toe Jannie en Jakobus my optel en my saam oor die rivier dra. Die een het my voor vasgehou, terwyl my agterent in die ander een se arms was. Dit was baie nice van hulle om my te probeer help, maar ek was nie klaar aan die spoor geruik nie en spring toe weer bietjie stroomop in die rivier en swem terug.  

 

Hulle het my eers nie gesien soos ek heen en weer hardloop om te probeer vasstel in watter rigting die ou koei gegaan het nie, maar toe hulle agterkom dat ek nie meer saam met die res van hulle is nie, kon hulle dit nie glo nie. Jakobus roep vir Jannie: 

“Ou, gaan ons hom gaan haal?” 

Dit sou nie nodig wees nie, want ek was klaar rondgesnuif en besluit toe om weer by my mense aan te sluit. Voor hulle oë spring ek terug in die rivier en swem oor. Ek is bietjie stroomaf gespoel en moes mooi swem om nie verder in die klofie af te gaan nie, maar ek was oor. Dat hulle nou dink ek het hulle nodig vir ‘n rivierkruising. Ga! 

 

Die studente het sommer net daar ook Gamebreak gehou, om hulle weer krag te gee vir die Groot Bult wat voor hulle lê. Daar was baie Groot Bulte op die roete, maar die een was definitief een van hulle. Die grond is al droëer, met minder stroompies as gister, maar steeds moet jy plek-plek versigtig trap. 

 

Die bos is magies, met sy eie persoonlikheid. Oral bewe dit van die lewe. Bo ons, met al die voëls wat kwetter, rondom ons met al die insekte wat net-net buite sig rondkruip, en onder ons, met die gees van wysheid van die Groot Oues wat van boom tot boom vloei. Ek dink nie die studente was van hierdie dimensie van lewe bewus nie, anders dink ek nie sou hulle so hard en sorgvry voort geploeter het nie. 

 

Op ‘n stadium merk Mart-Marié op dat sy heeltyd verwag dat ‘n bosfeetjie agter ‘n geelhoutboom gaan uitrippel. Toe die mense rondom haar haar bietjie vreemd aankyk lag sy en sê: “Of, dalk bietjie nader aan realiteit, ‘n gouddelwer met ‘n volbaard en wyerandhoed, ‘n pik oor sy skouer.” 

Moenie worry nie Mart-Marié, ek verstaan jou. 

 

Op ‘n stadium klim ons weer van die enkelspoor af en volg die bospad. Ons kan hoor hoe die rivier naderkom en toe ons onsself weer kom kry het ons in ‘n piekniekarea ingeloop, kompleet met ‘n geparkeerde kar onder ‘n boom. Ons stap oor ‘n laagwaterbrug (is dit 11,5km se rivierkruising?) na die groen gras en skadubome toe en elke groepie kry vir hulle ‘n tafel en die broodjies word gesmeer. Hierdie mense is fancy en ek kry sommer ook middagete – verkrummelde brood met sweet chilli tuna sous oor. Waar in jou lewe eet ‘n hond drie keer ‘n dag? 

 

Na middagete was daar tyd dat almal eers ‘n bietjie kon slaap, en nes ek ook begin wegsluimer het, het Louw weer geskree “skiet is oop!” en toe is my rus en vrede ook daarmee heen. 

 

Na middagete klim ons weer op ‘n enkelspoor in die bos in en hierdie keer is daar baie meer inligtingbordjies rondom ons, wat verskeie boomsoorte en ou mynskagte uitwys.  

“Hierdie is duidelik vir die civilians,” grom iemand. 

Op ‘n stadium kom ons langs ‘n rivier en die paadjie raak effe dof. Louw stop en roep na die agterstes of hulle kan sien of die paadjie oor die rivier loop en of hy aangaan. Hy stuur toe “sy beste mense” vooruit om te kyk of die paadjie aanhou. Dit was Hanno. Vir Chrisjan vra hy om asseblief oor die rivier te gaan en kyk of hy die Heilige Voetjie kan sien. 

Dis nie lank nie of Hanno se stem kan oor die radio’s gehoor word: 

“Bosvark, dis Squeeshy Jingles hierso. Ek het nou net agter die slot aangekom. Die pad maak ‘n lang draai en eindig in ‘n sirkel.” 

Iemand lag en roep: “Ons loop Kringe in ‘n Bos!” 

Die hele groep grinnik en ‘n paar lag hardop. Waarvan praat hulle? 

Louw roep toe weer oor die rivier: 

“CJ, kan jy iets sien?” 

“Ja!” Kom die stem terug. “Hier’s ‘n voetjie!” 

“Okay julle, skoene uit en oor die rivier!” Kom die opdrag. 

 

Maar nie almal was lus om vreeslik gehoorsaam te wees nie. Dis toe dat die koring van die kaf geskei word in die BTK. 

Daar was van dies wat besluit het dat hulle vandag klaar eenkeer te veel hulle skoene uitgetrek het en stap toe sommer met skoene en al oor die vlakste deel van die kronkelende riviertjie loop. Hulle sou nooit sê of hulle dit berou het of nie. ‘n Ander groep het ‘n gevalle boomstomp wat perfek oor die rivier lê gesien en besluit dat vandag die dag is waar hulle hulself bewys. En hiermee volg dan ook die ere rol van dies wat die stomp aangedurf het: 

Chrisjan, Mari-Louise, Schalk, Suzaan, Jannie, Hanno, Ansophi, Toto, Jacques, Ernelene, Joch, Daniel, Daniel, Carina, Dané, Christiaan, Mias, Jakobus, Marike, Louw.   

 

Hulle is almal is daaroor, teen aanskouing van die ander wat in afwagting hulle asems ophou. As jy daar afval is jy, jou sak en jou skoene nat. En nie net dit nie, maar jy sal seerval op pad ondertoe. Die derde groep is dies met (lyk my) die minste lus vir die lewe. Hulle het hulle skoene voor die rivier uitgetrek, gemaklik oorgehuppel en toe weer aan die anderkant netjies aangetrek. Geen moontlikheid van val of nat word nie. Better safe than sorry, ek kan dit begryp. 

 

Dit was nie die enigste rivierkruising daardie dag nie. Die ander een of twee was eners in die sin daarvan dat jy net van droë voete verseker kon wees as jy regtige lang bene gehad het. Anders moes jy maar uitrek om jou skoene en sokkies nog ‘n aand langs die vuur te spaar. 

 

Die laaste paar kilometer van die dag was teen die noordekant van ‘n berg se hang. Nie net het dit ‘n konstante opwaartse neiging gehad, met die rivier wat ver onder voortdruis nie, maar die paadjie was nou en jy sou baie hard en ver val as jy nie mooi gekonsentreer het nie. En die son wat op jou neerbak het ook geen genade gehad nie. het  ‘n Paar van die stappers het rooier by die hut aangekom as toe hulle die dag begin het. 

 

Die laaste ent op die Jeep track is tartend, want jy kan die hut sien waar hy onder op die bult lê, maar dit voel nie of jy vinnig genoeg daar uitkom nie. Ek dink nie Louw het die res van die groep se sentiment gedeel nie, want sodra ons by Milwood aangekom het, het hy sy sak neergesit, ‘n paar slukke water gevat en toe die pad teruggedraf, al die pad na die slot toe. Ek moes maar aan sy sy bly, seker maak hy val nie om van sonsteek of iets nie. 

 

Toe ons met die laastes nog voor vieruur terug by die hut kom, het almal op die groen grasperk rondom die hut uitgesprei gelê. Die meisies het al ‘n ry vir die warm storte gevorm, en alhoewel niemand die ry fisies kon sien nie, het hulle die seuns belowe dat daar method tot hulle madness was. Die Van der Heevers se stofie het geraas soos hy water vir koffie gekook het en Hanno het springmielies gespring wat, nes die vyf brode en twee vissies, op die ou end die hele skare ook gevoed het. Dies wat nog krag in hulle bene gehad het, het die frisbee rondgegooi. Ek was nie een van hulle nie, en het tussen my lawwe studente ‘n ogie geknip. 

 

Items 

 

Christiaan vind uit hoekom Ansophí se naam eintlik Blommetjie is, Colene se naam eintlik Sneeutjie is en hoekom Louw se naam eintlik Baksteen is. 

Janneman en Christiaan as Hans en Mans daag ook daar op. 

Alex wys vir joernalis Marietjie sy mobiele-psigiatriese-trein-instituut met Ernie die 1993 snoekerkampioen en Mart-Marié die 1986 tafeltennis kampioen wat altwee nervous breakdowns gehad het. Toe hy by Janneman kom raai sy verkeerd toe sy sê dat hy die 1975 dartgooi kampioen moes wees. 

Louw het rooi hare, Janneman het blou hare en Christiaan het groen hare. Nicholas wil weet hoekom. 

Christiaan probeer toe ook ‘n menstafel bou met Nick, Louw, Janneman en Mias. 

Oupa Hanno vertel vir kleinseun Christiaan van die keer toe hy ‘n leeu gejag het. 

Hanno en Petron is Mr&Mrs Wong. 

Hanno maak weer sy toerlikse roomyswinkel oop met counters Ansophí en Marike. Louw kom soek pomelo en piesang roomys en Schalk die Amerikaner soek watermeloan roomys. 

Schalk en Christiaan speel I Spy, maar voor hulle sover kan kom, probeer Louw eers naartjies aan hulle verkoop en toe wil hy weet watter kant Graaff-Reinet toe. 

 

Hekels 

 

Christiaan wil by Hanno hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “My oorwas word al hoe stickier.” 

Carina wil by Jacques hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek word hoog op Deep Heat.” 

 

Dag 4  11 September 

 

Terwyl ons wag om te begin stap, probeer die BTKners almal op die ronde vuurpit se randsteentjie inpas. Al 36 van hulle, minus Alex wat gekontrakteer word om die spektakel af te neem. Dit het omtrent so goed gegaan soos jy jouself kan voorstel. Toe dit sirkeltjietyd om die gras is, het ons ‘n verassings verjaardagmaatjie in Jannie, wat toe eers deur die ouens in die lug opgegooi word. En eeiindelik, toe die huisie se deure en vensters almal toe is en almal reg is om hulle sakke op hulle rûe te sit, skree Chelaine Maree, van alle mense, dat skiet oop is. Toe hardloop al die meisies skielik agter die ouens is. Ek dink dis daardie vreemde dichotomie wat ek die eerste aand opgemerk het wat weer hier te voorskyn gekom het. 

 

Ons klim weer op die Jeep-track en volg hom vir ‘n tydjie voor ons afdraai, af in die bos in. Dis nuwe bos, glad nie so dig soos gister nie. Daar’s nie so baie herinneringe en wysheid wat onder my voete pols nie. 

 

Hoe verder ons afstap, en ons stap baie baie styl af na die rivier toe, hoe digter word dit, tot ons by die rivier kom en moet kruis. Die plan is eers om, soos gister, skoene uit tet rek, dat elkeen dan met sy sak oor sy rug oorstap, maar gou sien Louw dat dit nie gaan werk nie, en toe is die reëling soos die eerste dag, waar al die sakke, bottels en skoene eers oorgegee word en dat die ouens dan die meisies oorhelp (Alhoewel ons weer ‘n bottel verloor het met al die aangee). Maar voor dit het Chelaine met haar sak oorgestap. Dít het ‘n paar wenkbroue in aangename verassing gelig. 

 

Ek is ook oorgegee. Letterlik, soos ‘n baie waardevolle sak aartappels moes ek maar gedwee toelaat dat ek van een paar arms na die volgende aangegee word. Maar hierdie keer kon selfs ek sien dat ek nie hier kon deurswem nie, al het Dané Eloff en Toto veilig deur die water geseil, moeg gewag vir die ander 16 meisies voor hulle en glad nie bang vir die koue water nie. 

 

Hulle Gamebreak toe oorkant, tussen al die rotse. Toe hulle almal weer vol suiker en water is en almal begin regmaak om aan te stap, geskied die Groot Soek na Skoene. Almal se sakke word opgelig omdat die soeker se skoene dalk onder daardie spesifieke sak kan lê, en elke nou en dan hoor jy net ‘n “hey, wees versigtig!” of “Hier’s niks hier nie.” Dis maar seker wat gebeur  as almal ‘n paar Hi-Tec I-shields besit. 

 

Op die ou end het ons nie net ‘n bottel verloor nie, maar altwee Mias se stapskoene. Na hy hulle nie kon kry nie het hy gewag dat almal eers aan die stap kom en het toe weer tussen al die rotse gesoek. Darem het hy geweet dis aan dié kant van die rivier, want daar is ooggetuies wat hom die skoene sien oordra het. Maar dit was als tevergeefs. Die skoene was weg en tien teen een in die rivier af toe hy, soos hy self gesê het, bietjie gestruikel het halfpad oor en die skoene seker toe, waar dit agteraan sy sak vasgemaak was, toe in die water beland het en deur die sterk stroom meegesleur is.  

 

Ons stap aan, maar eintlik moet ek sê klim en klouter, want daar is heeltyd toue en leertjies wat ons moet gebruik om op en af teen die berg te kom. Alhoewel Louw my nie altyd geredelik gevoer het nie, was hy baie getrou in die feit dat hy my baie mooi versigtig by al die lere op gedra het en seker gemaak ek gly nie op die gladde lysies. ‘n Baas wat enige hond gelukkig sou wees om te hê. En as hy my nie gedra het nie, het hy, Elsa en Marko spinnerakke uit die pad gekap. ‘n Entjie aan besluit hulle om te swem. Ek sweer dit kon nie meer as ‘n paar honderd meter stroomop gewees het nie. Ek hoor hoe Marianne die ander aanpor en sê dat jy nie eintlik geswem het as jou kop nie ook nat is nie. Daar is toe ‘n oomblik se stilte en toe ‘n paar gille soos ‘n paar van die meisies kop eerste in die rivier duik en toe baie vinnig weer opkom en uitklim. 

 

Toe is dit die groot klim van die dag. Vir my was dit natuurlik glad nie ‘n probleem nie, maar ek hoor later hoe Mart-Marié sê “In the bigger scheme of things was dit seker nie eers so lank of ver nie, maar jy voel die hoogte wat jy klim in jou bene en die sweet wat jou gesig aftap”. Louw het belowe dat ons halfpad teen die berg op kan stop vir Middagbroodjies, en hy bly toe getrou aan sy woord en ons geselskap stop net na ‘n fraai stroompie waar ‘n paar weer by wou inspring. Mens sou sweer hulle is die Labrador en nie ek nie. 

 

Toe ons weer begin stap is ons nie halfpad teen die bult op die, maar eintlik al amper bo en toe onsself weer kom kry is ons weer op ‘n bospad wat laaank voor ons uitstrek, baie gelyk. Die stappers se bene het die effense rus baie waardeer. Soveel so dat Dané vir Janneman tot ‘n sprint challenge en daar trek hulle. Hanno het vir ‘n oomblik vir hulle domgeid gelag voor hy self begin hardloop het, agter hulle aan. In baie opsigte is Hanno nog soos ‘n klein hondjie, en die opsig wat hier van belang was, is sy oorgroot, lomp voete. Waaroor hy na ‘n paar tree baie hard val, maar nie voor hy eers vir Dané verbysteek nie. Met ‘n swaar sak op sy rug. Die hele toer moes stop sodat die Tone sy knieë kon dokter. Mense kon darem nie tot op die been sien nie, maar al wat ek wel kan sê, is dat die grond uit die wond gekrap moes word. 

 

Toe Hanno ‘n mooi skoon verband om gekry het en ons verder kon stap, het die bos net mooier geword. Op ‘n stadium het almal gaan staan en in die takke van die boom opgekyk. Daar was ‘n Knysna loerie! 

“Vir so mooi voël maak ‘n maar ‘n baie lelike geluid,” laat Schalk hoor. 

Ek is genoop om saam te stem. 

 

Die laaste deel deur die bos is op ‘n enkelspoor voor ons eindelik by Rondebossie uitkom. Daar aangekom, word ons gegroet deur Karel Mswati, Bobaas Olifantkenner van die Knysnawoude, wat daar op sy quadbike sit, sy helm onder sy arm. Hy vertel vir ons van die een Olifantkoei wat nog oor is in dié woude, die luiperde wat nog in die bome wag vir niksvermoedende stappers, en die bobbejane wat kos steel. Hy vertel vir ons van die dennebome wat op die oorkantse heuwels staan, maar nie meer vir lank nie.  

“Hulle moet almal teen die einde van die jaar weg wees.” 

“Gaan julle dan nuwes plant?” 

“Nee, die natuurlike fynbos gaan teruggroei.” 

Hy het my bietjie vreemd aangekyk en gevra of ek die studente se hond is. 

“Meneer… dis bietjie gekompliseerd. Hy is met ons maar hy is nie ons hond nie. Hy het net saamgekom, van Karatara af.” 

Karel het net onoorreedte sy kop geknik en verder gesels met die studente wat almal rondom hom op die gras gesit het en hulle skoene uitgetrek het. 

 

Die vuur word gemaak, die studente begin vroeg stook, party speel op die guitar en die twee ukeleles wat hulle saamgedra het. Die BTK hospitaal, nou al met sy eie grondseil, is baie besig met almal, van spiere, knieë en tone wat geïnspekteer word. Arme Marko Kiessling  het êrens op die toer sy been seergemaak en hink-en-pink al heeldag. Hy het die meeste aandag by Carina van der Watt en Toto gekry. Dis ook iets wat hulle “Damesskiet” noem en ‘n paar van die meisies het polkadot-rompies met BTK-hempies aan en van die mans het kraaghemde en dasse aan. Hulle het almal ‘n photoshoot gehou. 

 

Hanno dra al van vanoggend af ‘n baie groot klip in sy saak saam, maar ons vind nooit uit wie dit was nie, alhoewel Hanno vir Janneman beskuldig, sonder enige bewyse.  

 

Na aandete het die hele groep rondom die groot vuur gesit en worship liedjies sing en die opstaan na Items toe was maar traag.  

 

Items 

 

Voor items begin verduidelik Marianne vir ons dat die rede hoekom sy en ‘n paar van die meisies die polkadot-rompies en BTK-wifeys aanhet was om ‘n ou, uitgestorwe BTK-tradisie weer bietjie lewe in te blaas, naamlik dat ‘n meisie op haar laaste toer mooi aantrek en hoëhakke saambring. 

Marianne, Suzaan, Chelaine, Toto, Carina, Petro en Dané vertel vir ons wat ‘n BTK-meisie soos is – en die ouens, hulle like it! 

Hanno redeem homself na Seweweekspoort se haat-lied met ‘n herskrewe weergawe, baie meer liefdevol. Janneman en Chrisjan wat hom begelei met guitar en ukulele. 

Hanno koop ‘n cheap perd by Ricardo (Christiaan). 

Hanno, Jakobus, Dané, Chelaine, Petro en Janneman is almal pikkewyne in ‘n ry. 

Toto het ‘n kop nodig, haar man Alex kom saam en help, maar hulle sukkel om ‘n gepaste een te kry. Chrisjan probeer hard om aan hulle ‘n kop te verkoop. Maar nie Gina, of Elsa of Mart-Marié se koppe is goed genoeg nie. Maar Ansophí? 

Jannie en Christiaan in Fourie se Bottelstoor. 

Marianne as Suzelle en Suzaan as Marianne wys vir ons hoe om ‘n sleedate te kry vir Damesskiet. Is Jannie die gelukkige of die ongelukkige date? 

Hulle gee weer die vliegtuig item ‘n kans, en die keer is dit net Hanno as die piloot, Mart-Marié die skot en haar blou tuimeldroër en blou yskas. Sy probeer in Glasgow kom, maar die charter vliegtuig gaan net Edinburgh toe. 

Frikkie en Sarel vang die laaste olifant in die Knysnawoude met Chrisjan as die kosverkoper tussenin, wat deur Janneman geblouyskas word. 

Chrisjan is ‘n barman, Janneman is Superman, en Ernie en Mias is mede-drinkers wat nie kan uitfigure hoe om te vlieg nie. 

Jannie en Ernie steel vis en steek dit weg. 

Louw en Christiaan jag saam, maar daar’s leeus en hulle moet altwee gou ‘n draai loop. 

Toto het ‘n Gedroggie, in die vorm van Marietjie. Elsa en Matilda maak dit nie, tot Ernie ook die gedroggie wil sien. 

 

Hekels 

Louw wil by Janneman hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Jannie, nou’s jy myne.” 

Jacques wil by Hanno hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek hardloop nie, net omdat ek onfiks is.” 

Hanno wil by Marianne hoor wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek erken nie sy stem nie, maar die res van Mias ken ek alles.” 

Louw wil by Marianne hoor wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek hou nie daarvan om mense se rûe te krap nie, net seuntjies s’n.” 

Chelaine wil by Schalk hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek is mos basically ‘n bergbok.” 

Schalk wil by Jacques hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Carina het my gecorner in my kamer.” 

Gina wil by Hanno hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek skiet net met damesskiet.” 

Louw wil by Hanno hoor wat hy gedink het toe hy agter Dané en Janneman losgetrek het? 

Dag 5  12 September 

 

Vandag was baie vreemd want die groepie wat begin stap het was maar bra klein. Van wat die studente gesê het kon ek aflei dat Mias, Marietjie, Ernie, Colene en Ernelene almal vroeër huistoe moes gaan en dat hulle “rygeleenthede” hulle al die vroeg die middag by Diepwalle sou kom haal. Eers toe verstaan ek dat die res van die groep ‘n uur of twee later sou volg. 

 

Schalk, my leier vir die dag het vir Mari-Louise en Alexander Flemming saamgevat as ondersteuning. Ons is al dou voor dag weg, maar nie in stilte nie. Nee, die groepie het seker gemaak dat die res van die groep definitief weet dat hulle op pad is en het vir een of ander rede die temalied van Phineas and Ferb gesing. Chelaine het nie gedink dis snaaks nie en ek het vanuit haar bed hoor skree. 

 

Ek en Mari-Louise is steeds nie vriende nie en ek dink nie ons gaan ooit wees nie. Sy verstaan net nog steeds nie dat ek tweede loop agter Die Leier, en sy tweede. Dit is die manier hoe die wêreld werk en as sy dit net sou snap sou haar lewe baie makliker wees. 

 

Ons het lekker vinnig gestap en ek moet sê dit was ‘n lekker uitdaging teen al daardie bulte uit. Die denneplantasie wat ons gister gesien het was ons voorland. Die hoogste en steilste deel was teen ‘n kaal, ontdenn-de bult op. Ons het nie op grond getrap nie, maar oor ‘n bed van denne-naalde en -bas geloop. Dis die eerste keer dat ons ook heeltyd bewus is van mense – en nie net van ‘n afstand af nie. Groot monstertrokke wat die afgekapte dennebome vervoer wirts heeltyd heen-en-weer teen die heuwels oor ongeteerde paaie. En met die afgelope reën is dis ‘n modder-gemors om daardeur te kom. 

 

Gelukkig is ons voor die hitte van die dag daar verby. Ek dink die groter groep wat na ons gestap het, het bietjie swaarder gekry. Die laaste deel van die bult van teen Jonkersberg op en van die baken af het die mense ge-oe en -aa oor die “dik sneeukombers op die Swartberge”. 

 

Toe kry ons ‘n afdraande wat ons so vat dat ons kon terugkyk op ons hut van die vorige aand, voor ons weer in die bos in is en nie meer ver kon sien nie.  

 

Diepwalle is teen ‘n heuwel geleë, en, soos meeste van die hutte voor hom, spring hy skielik voor jou uit soos jy uit die bos kom. Dit is ook die besigste hut van almal, met ‘n restaurantjie, ‘n ranger-stasie en ‘n ontvangs kantoor. Die mense wat moes gaan toetsskryf is weg en toe ontspan Schalk, Alexander en Mari-Louise lekker op die hut se dek elk met ‘n lekker groot stuk meltert in die hand. 

 

Die res van die groep het later die middag so stuk-stuk ook aangekom. Ek dink dit was daardie laaste bult wat die koring van die kaf geskei het. ‘n Paar van hulle is dadelik af na die restaurant toe waar hulle vetkoeke en melktert op Schalk se aanbeveling bestel. 

 

Die sonsondergang is pragtig (of so hoor ek), terwyl ‘n paar frisbees rondgooi, ander die warm water goed benut. Die kospotte prut en almal is baie opgewonde vir Hanno se Klapperys. Ukelele- en guitarklanke trek vir oulaas deur die lug en skiet word ook êrens tussenin oopgemaak. My studente is almal bly hulle is klaar gestap, maar hulle is ook hartseer om hierdie bos te moet verlaat. 

 

Items  

 

Jannie is Klippies, met Juffrou Toto, en leerders Mart-Marié, Gina, Marike, Elsa en ek. 

Louw, Chris en Alex wys vir ons hulle rolle op die itemverhoog. 

Christiaan is Fritzie Jimanji van Hluhluwe, koop hoenders by Alex, die eienaar van Kekkel en Kraai, vir sy hoenderplaas. 

Samajoor Hanno en Kaptein Janneman moet vir hulle arme troepe Jakobus, Schalk, Jannie en Christiaan stelselmatig vertel van hulle huise wat vergaan. 

Alex het ‘n bar en Janneman die eendjie soek brood. 

Kêrel en kys Petro en Janneman ry êrens heen toe die kar breek, en dinge raak nie beter toe Pa Louw daar opdaag nie. 

Mamma Toto waarsku vir dogter Gina om nie op die Outeniqua skandes op die huis te bring nie. 

Hanno en Toto is ‘n pasgetroude paartjie wat by ‘n hotel aankom waar Alex die rol van die herbergier Pieter vertolk. Ongelukkig van Hanno nie die punt van ‘n wittebrood nie. 

Alex en Toto kan nie besluit of hulle gekom het om today te sterf nie. 

Hanno, Louw en Christiaan sing vir ons die Minion-lied. 

Daar is ‘n trop bobbejane in die vorm van Toto, Elsa en Ansophí, wat snaakse mens geluide hoor, of so vertel Alex die storie. Eintlik is dit net mens Marike. 

 

Hekels 

 

Elsa wil by Schalk hoor wat hy bedoel het toe hy vir Mart-Marié gesê het: “Jy moes in ‘n seunsskool gewees het.” 

Hanno wil by Alex hoor wat hy bedoel het toe hy gesê het: “I have child bearing hips.” 

Louw wil by Suzaan hoor wat sy bedoel het toe sy vir Hanno gesê het: “Hou net op asemhaal.” 

 

Dag 6  13 September 

 

Hulle het my mense opgespoor. Ek gaan terug huistoe. 

 

Die BTKners pak op, stadig maar seker. Vir die hoeveelste keer roep Schalk “Sak’ie tente!” en die mense wat saam met hom lag is maar min, die grappie nou al koud. Party is opgewonde om terug te gaan, ander sien op na Die Vierde Kwartaal. Ek hoor hoe ‘n paar weddenskappe op Die Burger Challenge plaas. 

“Bra, daar’s net twee van hulle – Nicholas versus Joch. Wie dink jy gaan wen?” 

“Bra, my geld bly op die underdog.” 

 

Terwyl hulle vir die bus wag, maak hulle vir die laaste keer ‘n sirkel op ‘n oop stuk gras. Louw begin vertel van sy pa wat sê hoe tyd soos water is – hoe meer jy dit probeer vashou, hoe vinniger loop dit uit. Hy sukkel om sy sin klaar te maak soos die trane oor sy en amper die hele groep se wange loop. Toe roep hy sewe individue vorentoe. Alex, Carina, Petro, Chrisjan, Marianne en Janneman. Hierdie toer was hulle laaste gewees. Een vir een staan hulle op en vertel ons van hulle beste herinneringe saam met die BTK. Dis mooi om te hoor hoe lief hierdie kinders is vir die BTK. 

 

Hulle word maan toe gestuur, hulle sing en soen vir Janneman vir sy verjaarsdag en toe tel hulle vir die laaste keer hulle sakke op en stap die finale paar honderd meter van die toer na die bus toe, wat onder op die bult staan en wag. 

 

Ek bly bo-op die bult sit en kyk hulle agterna, elke laaste een. En soos die laaste een om die draai verdwyn hoor ek die bekende gebrul van my mense se kar soos hy aan die teenoorgestelde kant van die bult opgery kom, reg om my te kom haal. 

 

My naam is Simba en ek is van hier af, nes die studente vermoed het. Hierdie was die derde keer dat ek die roete stap en dit sal nie die laaste keer wees nie. Tot volgende keer BTK, ek sien julle weer. 

 

 

 

 

 

 

 

n/a